Die Evangelie volgens Lukas: Wie is die belangrikste? (Luk 9:46-48) – Francois Malan

9:46 Hoewel God die betekenis van Jesus se lydensweg vir sy volgelinge verberg het, wys die derde kort berig na hulle aandeel aan hulle onbegrip. Hulle kon Jesus nie verstaan nie, want vir Jesus is die enigste ware grootheid die grootheid van nederige diens, selfs aan mense wat dit nie verdien nie. Hulle denke, wat nie van die algemeen menslike denke onderskei kan word nie, was gerig op erkenning en voorrang. Hulle lê elkeen redes voor oor wie van hulle die belangrikste is en argumenteer oor elkeen se eie voortreflikhede. (Mat 18:1 voeg by die grootste ‘in die koninkryk van die hemele;’ volgens Mark 9:33-34 was dit hulle onderlinge gesprek op die pad waaroor Jesus hulle uitvra). Jesus het pas gepraat oor sy soendood, maar elkeen van hulle soek nog die beste ereposisie. Hulle dink elkeen net aan hulleself; Hy dink aan ander mense. Daarom kan hulle Hom en die koninkryk van God nie verstaan nie, en waarom Hy moet ly nie.

9:47 Jesus weet wat die begeerte in elkeen van hulle se hart is, en antwoord nie direk op hulle onderlinge argument nie, maar neem ’n kind en laat hom langs Hom in die ereposisie staan. Die kind verteenwoordig die hulpeloses en die onbelangrikes (Luk 10:21; 17:2; 18:16).

9:48 Wie die kind in Jesus se Naam ontvang, ontvang Jesus, en wie Jesus ontvang, ontvang vir God wat Hom gestuur het. ‘In Jesus se Naam’ verwys na Homself en na alles waarvoor Hy staan as die Christus, die Gesalfde koning-priester-profeet, Seun van die Mens, en lydende Dienaar van God. Om ’n kind in Jesus se Naam te ontvang beteken om op te tree as Jesus se verteenwoordiger, om te doen wat Jesus self sou doen en om agent te wees van die Vader se liefde. Die sekerste pad na die teenwoordigheid van God toe, is om dié mens lief te hê vir wie die Vader lief is. Om ‘aan te neem’ beteken om te dien en te help.

Die kleinste onder julle almal, hy is groot – nie die grootste nie. In God se koninkryk word mense nie met mekaar vergelyk nie. Ware grootheid bestaan uit nederige diens, om klein te wees voor God en teenoor mense (vgl. Flp 2:3-5).

 

Wie nie teen julle is nie, is vir julle (Luk 9:49-50)

9:49 Die vierde kort berig wys dat as iemand selfbelangrik is, is jaloesie en onverdraagsaamheid nie ver nie. Johannes beantwoord Jesus se antwoord, oor wie die grootste is en ’n kind ontvang in sy Naam, met ’n vraag oor ’n vreemde duiweluitdrywer in Jesus se Naam. Die man dryf duiwels uit in Jesus se Naam, wat hulle nie kon doen nie omdat hulle gedink het hulle het mos die vermoë gehad met hulle Galilese bediening (9:40). Maar omdat die man nie saam met die dissipels vir Jesus volg nie, het die dissipels probeer om hom te keer om Jesus se Naam te ‘misbruik.’  Dié tipe onverdraagsaamheid teenoor ander gelowiges wat nie saam met ons is nie, het deur die eeue die eenheid van die kerk van die Here gekniehalter.

9:50  Jesus sê vir Johannes om nie die man te keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle – Markus  9:40: want wie nie teen ons is nie, is vir ons. In Lukas 11:23 sê Jesus: ‘wie hulle nie by My skaar nie, is teen My…:  Die mens wat die duiwels teengaan in Jesus se naam behoort verwelkom te word, nie teengestaan word nie. Hy staan aan Jesus se kant, al volg hy nie Jesus saam met sy dissipels nie. Soos hulle kindertjies in sy Naam moet ontvang (9:48), dryf die man duiwels uit in Jesus se Naam.

Met die vier kort berigte oor die dissipels se verkeerde verwagtings oor Jesus, ná sy aankondiging van sy aanstaande lyding, ná sy bestraffing van die onreine gees wat op sy verheerliking op die berg gevolg het, word Jesus se bediening in die Noorde afgesluit, in Galilea en daarna in die gebied van Filippus. Nou is Hy op pad Jerusalem toe (Luk 9:51-19:48) om daar te gaan ly en sterf.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n seun wat ’n onreine gees het (Luk 9:37-43) – Francois Malan

9:37 Toe die son opkom ná die nag van verheerliking, kom Jesus en die drie dissipels ’n skare mense aan die voet van die berg teë, wat vir Jesus inwag (soos in 5:1,15; 6:17; 7:11; 8;4,40; 9:11). Toe Jesus afdaal, golf die ellende van die mensewêreld weer om Hom heen.

9:38 Die vader van die kind noem Jesus ‘Leermeester’ (didaskalos) en smeek Hom om sy kind te help (epiblepo, spesiale aandag gee aan, help). Lukas is die enigste Evangelie wat aandui dat dit ’n enigste kind is (soos met die weduwee van Naïn, 7:12, en met Jaïrus, 8:42), waarmee die kosbaarheid van die pasiënt vir die ouer onderstreep word, sowel as die dringendheid van die saak.

9:39 Die seun se toevalle lyk baie na epilepsie, maar word veroorsaak deur onrein geeste. Lukas beskryf die vader se lang verduideliking van wat die onreine alles met sy seun aanvang: hy laat hom skielik skreeu, stuiptrekkings kry, skuim om die mond, hy verniel hom, en los hom nie maklik nie (Mark 9:17 maak hom stom, skuim om die mond, kners op die tande, stuiptrekkings; Mat 17:15: erge maansiek, val in die vuur en in die water).

9:40 Al drie die Evangelies vertel van die onvermoë van die nege agtergeblewe dissipels om die seun te genees. Hulle was op die proef gestel as leerlinge van die groot Geneser, maar het jammerlik misluk. Vir hulle veldtog in Galilea was hulle met mag en gesag oor demone en siektes toegerus, en met vreugde het hulle van alles wat hulle gedoen het kom vertel (Luk 9:1,10). Maar nou het hulle geloof in en vertroue op Jesus gewankel, en kon hulle niks vir die kind doen nie (in Joh 15:5 oor die lote in die wynstok sê Jesus: sonder My kan julle niks doen nie). Hulle het vergeet dat dit alleen God is wat kan genees, en dat dit ’n gawe is wat slegs geskenk kan word (in Mark 9:29 sê Jesus: hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie).

9:41-42 Jesus antwoord met ’n kreet ‘O ongelowige en ontaarde (diastrefo misleide, weggedraai van die regte pad) geslag!’ en vra met smart: ‘Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra?’ Die ‘geslag’ verwys waarskynlik na al die mense wat al na Hom kom luister het. Hy treur oor die mense se gebrek aan geloof in Hom en in wat Hy verkondig. Hulle sien die wonders wat Hy doen, maar erken dit nie as tekens van die teenwoordigheid van God by hulle nie, en as ‘n oproep om bekering tot God as vereiste vir hulle lewe nie (vgl. Num 14:27).

Jesus sê vir die pa: Bring jou seun hier. Die demoon laat vir ’n laaste keer die seun val en stuiptrekkings kry om Jesus se mag voor die skare te toets. Jesus bestraf egter die onrein gees en gee die kind gesond aan sy pa terug. Die hele skare sien hoe die onrein gees die kind beheer, hoe Jesus die gees uitdryf, en beleef hoe Jesus se heerlikheid, sy Godheid, wat op die berg geopenbaar is, in barmhartigheid toegepas word.

Lukas skilder die skrille kontras tussen die drie wat hulle verheug in die lig van God op die berg, en die nege wat oorwin is deur die magte van die duisternis in ’n wêreld sonder Christus. Maar die heerskappy van Jesus is in altwee gevalle helder duidelik.

(Die Italiaanse skilder Rafael het hierdie toneel soos Markus dit beskryf in 1516-1520 geskilder met Jesus se stralende heerlikheid verhewe in die lig, Moses en Elia weerskante onder Hom, die drie heilige dissipels wat op die berg slaap, en onder in die duisternis die stuiptrekkende kind, omring deur hulpelose dissipels en spottende nuuskieriges. Dit verbeeld die harde wêreld, die magtelose heilige apostels en die hoë heerlikheid van Jesus Christus, wat na onder afstraal in die duisternis).

9:43a Almal is verstom oor die grootheid (megaleiotês magtige krag) van God (’n opmerking slegs in Lukas), wat deur Jesus se daad bewys word. In Jesus word die groot krag van God geopenbaar. Jesus trek nie die aandag na Homself toe nie, maar bring die verheerliking van God na die mense om God te prys.

 

Jesus se tweede aankondiging van sy lyding (Luk 9:43-45)

9.43b Almal, die groot skare volgelinge wat Hom ingewag het (9:37), is nog verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Dit verwys na alles wat Hy in Galilea gedoen het.

9:44 Jesus druk dit op sy volgelinge se harte om goed te luister na wat Hy gaan sê (letterlik: plaas hierdie woorde in julle ore). Die woorde van Jesus, onder andere oor sy aanstaande lyding wat deur Hom vooruit aangekondig word, kom soos ’n skok na die skare. Dit is bedoel om hulle geloof in Jesus te dra deur die duister dae wat gaan kom in die wete dat Hy dit al vooraf gesê het (vgl. Jes 41:16; 44:7; 45:21). Waar die eerste aankondiging aan die twaalf gedoen is, is hierdie tweede aankondiging van sy lyding voor al sy volgelinge: ‘want die Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word. Hierdie Mensekind gaan deur mense verwerp en vertrap word. Op hierdie oomblik van lig en algemene bewondering van Jesus, antwoord Jesus met die verwysing na sy eksodus in hierdie duister wêreld, om die lig te bring, soos met die genesing van die kind. Lukas verwys egter nie na Jesus se opstanding, soos met die eerste aankondiging nie (Luk 9:22; Mark 9:31 en Mat 17:23 het dit wel by hulle tweede aankondiging). Die voorspelling van sy opwekking in 9:22 word deur Lukas omraam met twee aankondigings van die lyding van die Seun van die Mens  (9:22 deur die leiers, en 9:44 deur die mense).

9:45 Die skare verstaan egter nie die betekenis van Jesus se lyding nie, want die betekenis daarvan was vir hulle verberg  sodat hulle dit nie kon begryp nie. Die perfektiewe passiewe deelwoord ‘was verberg’ (parakekalumménon) beteken dat God dit vir hulle verberg het, en dat dit verborge gebly het tot Hy dit vir hulle sou openbaar (vgl. Luk 24:26-27,33). Volgens die wil van God bly Jesus eensaam met sy lydensgeheim, en die eensaamheid is deel van sy lydensweg. Jesus se dissipels/volgelinge was te bang om vir Jesus uit te vra na die betekenis van ‘dat Hy oorgelewer gaan word.’ Dit was so teen hulle verwagting van Hom, en hulle ideale oor Hom (Luk 19:11; 24:21). Hierdie was die tweede kort berig oor die stadige begrip van Jesus se volgelinge.




Die Evangelie volgens Lukas: Die verheerliking van Jesus (Luk 9:28-36) – Francois Malan

9:28 Ongeveer 8 dae later (Mat 17:1 en Mark 9:2 sê 6 dae later) neem Jesus die drie van sy binnekring saam berg op (Matt & Mark praat van ’n hoë berg in die gebied van Caesarea-Filippi, moontlik die berg Hermon, en dat hulle alleen was). Net Lukas meld dat Jesus hulle saamgeneem het om daar op die berg te bid. Die tydsaanduiding verbind hierdie gebeure met Jesus se aankondiging van sy aanstaande lyding. Jesus bid telkens voor ’n belangrike gebeurtenis en beslissing in sy lewe (Luk 3:21; 6:12; 9:18; 22:41,44,45).

9:29 Terwyl Hy bid, het sy voorkoms verander en sy klere helder wit geskitter (nadat Hy gedoop was, het Hy ook gebid en die hemel het oopgegaan, Luk 3:21). Die biddende Jesus se voorkoms word anders (heteron; Matt & Mark  metamorfothê) en sy klere skitter wit (eksastrapto skitter, om ’n baie helder lig deur te gee of te weerkaats;  Mark: blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie; Matt: sy gesig het gestraal soos die son, en sy klere het skitterend wit geword soos die lig). Jesus se goddelike aard skyn deur sy menslike vorm sodat selfs sy klere geskitter het in ‘n wit gloed (eksastrapto wat ’n baie skerp lig reflekteer). Terwyl Hy bid verander sy gestalte voor sy dissipels. Die wit gloed van die klere herinner aan die engele se glansende klere  (Luk 24:4; Mark 16:5 wit stola Grieks vir ’n lang kleed, soos Openb 6:11 se wit stolas lang wit klere, vir die martelare) en aan die gesig van Moses wat telkens geblink het wanneer hy terugkom van ’n gesprek met God (Eks 34:29,35). In sy biddende gesprek met sy Vader oor sy aanstaande lyding en dood vir die sonde van die ganse wêreld wat voorlê, het iets van sy goddelike heerlikheid uit sy gesig en deur sy kleed gestraal. Vir Lukas is die goddelike wêreld lig (Ps 104:21-2 sê: U is met luister en glans beklee, U wat U met lig omvou soos ’n mantel). Aan die drie besonder vertroude dissipels word iets van Jesus se Godheid geopenbaar (soos in Johannes se gesig in Openb 1:13-16) om hulle geloof in Hom te versterk en is dit ’n visie van die heerlikheid wat kom.

9:30-31 Die dissipels sien meteens twee mans wat met Jesus in gesprek is, Moses en Elia. Hulle verskyn ook in hemelse heerlikheid, en kom so uit God se ryk. Hulle gesprek gaan oor Jesus se eksodus/uittog wat Hy in Jerusalem gaan vervul. Slegs Lukas vertel van die gesprek oor Jesus se eksodus. Hy teken dit as ’n bevestiging van Jesus se kennis oor sy lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart, wat Hy in Luk 9:21-22 aan sy dissipels geopenbaar het as die doel van sy koms na die aarde. Hier word bevestig dat Hy moet ly, dat sy dissipels bereid moet wees om deel te word van sy lyding (Luk 9:23-24), en dat sy lyding en hulle lyding gesien moet word teen die agtergrond van die toekomstige lig van die hemelse heerlikheid. Moses verteenwoordig die wet van die Here (soos bv. die boeke Genesis tot Deuteronomium) en Elia al die profete van die Ou Testament. Almal is heenwysings na die uittog wat Jesus in Jerusalem gaan vervul as ’n vervulling van al die Here se woorde en dade in die Ou Testament. Vir ons is dit ’n uittog uit die slawehuis van sonde en dood na die hemelse heerlikheid van ons Vader. Oor Moses se sterwe, vgl. Deutr 34:5-6; oor Elia se hemelvaart: 2 Kon 2:11.

9:32-33 Voor die verskyning van die twee mans het die drie dissipels aan die slaap geraak, moeg na die moeisame opklim teen die berg en dit was waarskynlik reeds nag (vgl. 9:37). Hulle word wakker van die glansende heerlikheid van die biddende Jesus en van die twee manne wat by Hom staan. Toe die twee manne besig was om van Jesus af te vertrek dink Petrus dit is goed dat hulle drie hutte bou, een elk vir Jesus, Moses en Elia. Petrus wil hulle glansende teenwoordigheid behou met ’n aardse tentwoning (skênê tentwoning of tabernakel-heiligdom). (Mark 9:6 sê hulle was heeltemal verskrik en Petrus het uit verleentheid nie geweet wat hy moet sê nie). Petrus is onbewus  daarvan dat sy plan om die heerlikheid van Jesus so te behou ’n versoeking is om Jesus weg te hou van sy kruisdood, soos die duiwel Jesus in die woestyn versoek het (Luk 4:2-13).

9:34 Die wolk wat op die berg neersak en die groep oorskadu dui die teenwoordigheid van die Here aan (soos met die uittog uit Egipte; Eks 13:21;40:34;  2 Kon 8:10-11). So neem die hemelse Here dié mense wat aan Hom behoort in sy teenwoordigheid op. Dit vervul die dissipels met vrees/ontsag, maar hulle is ook die uitverkorenes wat ’n vervulling van Luk 9:27 sien.

9:35 Die stem uit die wolk herhaal die woorde by Jesus se doop (Luk 3:22 ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’) aan die begin van sy openbare bediening, toe Hy deur die Heilige Gees toegerus is om die Christus/Gesalfde profeet, priester, koning in God se koninkryk te wees (vgl. Jes 11:2; 9:5-6). Hier word die woord oor Jesus ‘Dit is my geliefde Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom!’ aan die drie dissipels gerig om te bevestig dat die nuwe fase van Jesus se bediening aangebreek het, dat Hy op pad is om sy eksodus te gaan vervul op die pad van lyding, sterwe en opstanding, as die Lydende Kneg van die Here (Jes 52:13-53:12). Die woord ‘uitverkorene’ kom slegs in Lukas voor, en ook net hier. Voorheen is bespiegel wie Jesus is (Luk 9:7-9; 18-19). Hier verklaar God self wie die Seun van die Mens werklik is. Sy lyding en dood is juis sy verheerliking as God se soenoffer vir die sonde van die wêreld, wat deur God as die volmaakte soenoffer uitgekies is. Petrus se belydenis namens die twaalf in Luk 9:20: ‘Die Christus van God’ word hier verder verduidelik, dat God juis sy geliefde Seun as offerande gekies het (vgl. Gen 2:2,17) as die Gesalfde van God en die Lydende Kneg van die Here. Luister na sy woord oor sy eksodus en al sy woorde waarmee Hy hulle onderrig het oor die lewe in die Koninkryk van God. En dié opdrag van God geld vir elke gelowige om te luister na God se geliefde Seun.

9:36 Die hemelse ervaring eindig skielik nadat die stem uit die wolk gepraat het, en net Jesus bly by hulle. Lukas meld net dat hulle, terwyl Jesus nog gelewe het, ‘in daardie tyd,’  vir niemand van hulle hemelse ervaring vertel het nie (Matt 17:9 sê dat Jesus hulle beveel het om dit vir niemand te vertel voordat die Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie. Lukas het ook nie Matteus 17:6-7 dat hulle op die grond neergeval het en Jesus hulle kom aanraak en beveel het om op te staan nie. Mark 9:10 het ook nog: hulle het onderling bespiegel oor wat ‘uit die dood opstaan’ beteken).

Lukas het, ná die verheerliking van Jesus voor drie van sy dissipels, vier kort berigte wat die dissipels se gebrek aan geloof in Jesus skilder, hulle stadige begrip om te leer, hulle hoogmoed en hulle onverdraagsamheid. Dit is ’n treurige afsluiting van Jesus se Galilese bediening. Die dissipels het nog baie om te leer van Jesus.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Luk 9:21-27) – Francois Malan

9:21-22 Die rede vir Jesus se  opdrag om Hom nie as die Christus van God bekend te maak nie, word hier gegee met die aankondiging dat Hy, die Seun van die Mens, eers baie moet ly, verwerp word (apodokimazo na ondersoek as nikswerd of oneg verwerp word) deur die Joodse Raad met sy drie groepe: die oudstes (familiehoofde), die leierpriesters (die dagbestuur van die Raad wat slegs uit Sadduseërs bestaan) en die skrifgeleerdes (waarvan die meerderheid Fariseërs was); dat hulle Hom gaan dood gemaak en dat Hy op die derde dag deur God opgewek gaan word. Hy is die lydende Gesalfde van God. Die Ou Testament en die Jode verwag die koms van ’n Gesalfde van God – ’n profeet soos Moses, Deutr 18:17-19;  veral ’n koning soos Dawid, 2 Sam 7:16 (vgl. 2 Sam 7:11-12), Ps 132;11; Rom 1:3; ’n priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek, Ps 110:4 (vgl. Hebr 5:6; 6:20; 7:17). Die verwagting van ’n Gesalfde word nou deur Jesus verbind met die lydende kneg van die Here in Jesaja 52:13-53:12, en met die Seun van die Mens van Daniël 7:13-14. Eers deur sy lyding word Hy as die Messias van God geopenbaar. Dit is ’n ‘moet’ want sy messiaanse opdrag is om die dood en ellende van die skepping en van die mensdom te oorwin volgens God se raadsplan (vgl. Hand 2:23-31). Sy kruisdood is sy roeping.

Lukas laat die gedeelte in Markus 8:32-33 uit, oor Petrus se bestraffing van Jesus en Jesus se verwerping van die Satan se verleiding deur Petrus se woorde.

9:23 Jesus verwys na almal wat Hom wil volg – dit sluit mense deur alle eeue in. Almal moet weet die pad na verheerliking loop deur lyding. Die rabbynse Jodendom sien egter lyding as straf van God en kyk God se versoenende krag mis. Die lewe van die volgeling van Jesus word met drie begrippe geskilder: jouself verloën – (1) nie jou wil nie, maar sy wil, (2) jou kruis daagliks opneem – soos Christus teen die stroom op moes praat en optree, anders as die mense, om al minder te word, en nie al belangriker nie, en dan die smaad van die wêreld te dra. (3) Om Christus te volg is om soos Hy te dink en op te tree (vgl. 2 Kor 3:18 om al meer soos Christus te word); Hy is ons maatstaf (vgl. Flp 2:3-8). Dit is die wese van ons dissipelskap dat ons lewe sy liefde sal weerspieël (Matt 5:42-48).

9:24 Die volgende drie verse begin elkeen met ‘want.’ Daarmee word drie redes aangegee waarom ’n gelowige geroep word om soos Jesus te lewe en te ly: (1) Die paradoks van die lewe is: wie sy eie lewe wil red, verloor dit; wie sy lewe ter wille van Christus verloor sal dit red. Dié mens wat die beste in die lewe net vir homself toeëien, verloor dit omdat hy die sin van die lewe verloor, die doel wat die Here spesifiek vir hom/haar het is om soos Hy, ander mense te dien (Mark 10:42-45; Flp 2:4).

9:25 Die tweede  ‘want’ volg negatief op die eerste. ‘wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of skade aandoen?` Jesus stel dit as ’n vraag waarop elke mens self moet antwoord, ook die onverskilliges wat  te vol is van hulle eie sake, en die vraag laat verbygaan omdat hulle nie belangstel in Jesus of sy verskyning nie. Markus 8:37 voeg nog by: wat sou ’n mens gee as losprys vir sy lewe?

9:26 Die laaste ‘want’ is in die toekomstige tyd: Wie hom vir Jesus en sy woorde skaam, sal Jesus Hom ook skaam as Hy in sy heerlikheid kom… (Markus 8:38 sê: wie hom vir My skaam in hierdie owerspelige en sondige generasie…).

Deur sy lyding verkry Jesus sy heerlikheid. Sy lyding is sy heerlikheid; sy offer aan die kruis is die toppunt van sy liefde vir die wêreld deurdat Hy die sonde van die hele wêreld uit genade op Hom  neem (Joh 12:32-33: ‘as Ek van die aarde verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf). Sy liefdesoffer trek mense na Hom toe. Sy heerlikheid is ook niks anders as die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele nie, wat intens betrokke is by sy lyding en sy genadige verlossing van mense se sonde.

Wanneer ’n mens hom tussen ander mense skaam vir Jesus en sy woorde, bang word vir homself, en ontrou word deur meegesleep te word, is dit ’n breuk met Jesus (vgl. Petrus by die vuurtjie tussen die soldate wat vir Jesus gevange geneem het, Luk 22:55). Vir wie egter ontrou bly, sal Jesus Hom skaam.

Hier rig Jesus hulle oë op die heerlikheid van die Seun van die Mens (Lukas se byvoeging by Markus 8:38), van die Vader en van die heilige engele. Op die skok van sy aankondiging van sy dood volg die aankondiging van sy koms in heerlikheid as regter, wat vir sommige mense gaan sê; Ek ken jou nie (Mat 25:12; 7:23), en vir ander: ‘Julle geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af’ (Matt 25:34).

Oor die heilige engele sê Jesus in Matteus 25:31-32: Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit om die skape van die bokke te skei. In Lukas 2:13 het ’n hemelse menigte engele God geloof met die aankondiging van die geboorte van Jesus aan die herders.

9:27 Die koningsheerskappy van God is volgens Handeling 2:32-36 gesien en gehoor nadat Jesus gaan sit het aan die regterhand van God, die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, en die Gees uitgestort het. God het die Jesus wat die Jode doodgemaak het, Here (die Ek is, die teenwoordige God) en Christus (die Gesalfde Koning) gemaak. Die sigbare teken van die aanvang van die koningsheerskappy van God was die tonge asof van vuur, en was hoorbaar in die spreek in ander tale soos die Gees dit aan hulle gegee het (Hand 2:3-4). Hulle hoor oor die groot dade van God in hulle eie tale die boodskap, sodat hulle dit kan verstaan. Dit is die heerskappy van God se liefde, wat aan die kruis sy hoogtepunt bereik het met Jesus se sterwe vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29). Nou word dit geglo, uitgeleef en verkondig deur sy kinders, sy getuies in die wêreld (vgl. Gal 2:20; 2 Kor 5:18-19; Luk 17:20-21: die koninkryk van God is in julle midde; Luk 11:20). Die eerste van die mense wat na hierdie belofte iets van die koningsheerskappy van God gesien het, was Petrus, Johannes en Jakobus, toe hulle saam met Hom op die berg van verheerliking was (Luk 9:28-36); daarna die groepe wat Jesus ná sy opstanding en met sy hemelvaart gesien het (o.a. Luk 24:1-53).