Die Evangelie volgens Lukas: Moenie oordeel nie (Luk 6:37-42) – Francois Malan
6:37-38 Die barmhartigheid wat gevra word, word hier verduidelik met ’n samevattende sin aan die einde: Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word. Twee soorte maatstawwe word teenoor mekaar gestel: oordeel en barmhartigheid, elk met twee dele: oordeel en veroordeel; vergewe en gee.
Die Jode het geglo God gebruik die twee soorte maatstawwe, oordeel en barmhartigheid. Maar Jesus vra dat ’n mens mense volgens die maat van barmhartigheid sal behandel, omdat dit die enigste manier is om die gebroke gemeenskap te heel. Die oordeel word aan God alleen oorgelaat, Rom 14:10-13. Die maat wat die mens teenoor sy medemens gebruik, gebruik God weer teenoor hom/haar. As jy nie jou naaste oordeel nie, sal God jou nie oordeel nie; as jy nie jou medemens veroordeel nie, sal God jou ook nie veroordeel nie. As jy vergewe, vergewe God jou (vgl. Mat 6:14-15); as jy gee, sal God aan jou gee, in oorvloed. Aan sulkes gee God ’n volle gawe wat in die besonder beklemtoon word: ’n ryke maat, saamgepers, ingeskud, wat daarby oorloop; dit word in jou skoot gegee, in die vou van die los klere bokant die gordel (vgl. Rut 3:15 se tjalie). In sy barmhartigheid skenk God aan sy volgelinge om burgers te wees van sy koninkryk, en vra van hulle barmhartigheid teenoor hulle medemense, ook teenoor hulle vyande; daarop antwoord God met nog meer barmhartigheid. Die volheid word geskenk en uitgewerk in die mense se kindskap van God. Hy sorg vir hulle as hulle Vader (Luk 12:7=Matt 10:30; Luk 21:18).
6:39 Die volgende gedeeltes handel oor Jesus se volgelinge se verantwoordelikheid om mense na Jesus toe te lei (vgl. Luk 5:10). Die vers gaan oor leierskap wat in vers 40 op die dissipels toegepas word. Volgens Matteus 15:14 het Jesus die woord op die Fariseërs toegepas, as blinde leiers van blindes vir wie sy volgelinge moet oppas (vgl. Rom 2:17-24). As Jesus se dissipels mense na Jesus toe moet lei, moet hulle die waarheid verkondig en lewe soos mense wat die lig van die koningskap van God sien, anders lei hulle die mense die afgrond in, soos die Fariseërs. ’n Leier kan alleen lei as hy die pad kan sien. Jesus beveel streng selfondersoek voordat ons begin oordeel (vgl. Luk 6:37).
6:40 Om ’n leier te word moet die leerling by sy leermeester leer hoe om ’n bekwame leier van ander mense te word. Daarom is dit so belangrik om die regte leermeester te kies. In 6:47 spel Jesus dit uit dat hulle Hom as leermeester moet kies. In Ps 119:99 het die digter reeds gesê: Ek is verstandiger as al my leermeesters, want U bepalings is vir my stof tot nadenke. Dit beteken dat Jesus se dissipels die blinde Fariseërs moet los as hulle leermeesters. Jesus se volgelinge moet Hom navolg sodat Hy die goeie boodskap na ander bring deur hulle woord en lewe. Die leermeester kan slegs onderrig gee in wat hy self geleer het en dit toepas.
6:41-42 Vir die eerste keer in Lukas word die woord ‘broer’ vir Jesus se dissipels gebruik. Die christenleier moet los- kom van sy skuld en verstrengeldheid in boosheid en sonde. Dit kan egter nie geskied in ’n hoogmoedige neersien op ander nie; maar slegs in solidariteit met ander, bewus van almal se skuld en sonde, en van die vergewing daarvan deur Christus. Slegs die een wat homself onder die oordeel van die Here se woord stel, kan ’n ander op sy tekortkomings wys. Die beeld wat gebruik word vergelyk die klein splintertjie hout van jou broer se oortreding met die groot balk van eiegeregtige hoogmoed in jou eie oog. Jesus herinner gelowiges, as volgelinge van Hom, hulle nederige leier, dat hulle mekaar se broers is. As jy op jou broer of sy geringe oortreding neersien, soos die Fariseërs op die tollenaars, word die eenheid en solidariteit van Christus se kerk bedreig. Christus moedig sy volgelinge aan tot nederige selfondersoek om eers die balk van selfbelang en selfversekerdheid in hulle eie oog, te verwyder. Dan kan hulle mekaar se sonde laste dra, soos die broer se splinter in die oog, en om mekaar se voortreflikhede te verdra (die twee Griekse woorde in Gal 6:2 het elk twee betekenisse: báre laste & voortreflikhede; bastazo dra & verdra: laste en dra pas by 6:1, en voortreflikhede en verdra by 6:3).
6:43-46 Die volgende beeld van die eenheid tussen die boom en sy vrug verwys na die soort woorde wat uit die mond kom van die goeie of slegte mens (soos in Matteus 12:33-37; terwyl Matteus 7:15-21 na dade en woorde verwys). Die gevaar van huigelary (vgl. skynheilliges in vers 42, en die splinter en die balk) word oorwin deur die eenheid tussen jou mond se uitinge en jou innerlike aard. Jou mond openbaar wat in jou hart is.
Die Jode sê ’n mens wat goeie dade verrig is ’n goeie mens. Jesus sien die goeie woorde van ’n goeie mens as uitinge van sy hart wat aan sy woorde en werke kwaliteit gee. Niemand soek vye aan ’n doringstruik of druiwe aan ’n doringbos nie. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer van sy hart, dit is die sentrum van sy persoon, die goeie woord wat ‘n mens van die Goeie Leermeester geleer het (6:40) en in die skatkamer van sy hart gebêre het. Die hart word ook vergelyk met ’n fles wat oorloop in jou woorde, as goeie woorde of slegte woorde, afhangende van die goeie of slegte wat in die mens is.
Lukas skryf sy Evangelie aan gemeentes waar daar valse leraars optree, soos die Fariseërs in Jesus se tyd, en 6:39-42 waarsku gelowiges met ’n humoristiese oordrywing teen sulke blinde leiers wat ’n balk in die oog het (vgl. 2 Tim 3:13-17). Dit is gelykenisse oor persoonlike verhoudings. Valse godsdiens, wat Jesus skynheiligheid noem, is altyd besig om sekere mense beter as ander te maak; en die genesing daarvan is ’n spieël om na jouself te kyk.
6:47-49 Vir die slotgelykenis van sy rede op die gelykte (in Luk 6:17-49) gebruik Jesus ’n beeld uit die boubedryf om die erns van sy onderrig te beklemtoon. Dit is lewensbelangrik om daarvolgens te lewe teenoor jou medemens. Matteus sluit sy weergawe van die bergrede met dieselfde waarskuwende gelykenis as Lukas af (Matt 7:24-27). Om aan te pas by sy lesers se omstandighede, omskryf Lukas die lê van die fondament in meer besonderhede van hoe die slote vir die fondament gegrawe word tot op die rotsbodem.
Dit gaan oor die groot groep dissipels en die menigte uit die volk wat na Jesus geluister het. Almal noem Hom ‘Here, Here’ – die verdubbeling versterk die aanspraak, maar vir party beteken dit slegs ’n eerbiedige aanspreekvorm, vir ander dat hulle Hom aanvaar as die Here volgens wie se woord hulle gaan lewe. Dié wat nou gaan doen wat die Goeie Leermeester hulle geleer het, word vergelyk met die man wat sy huis op die rots bou, en dié wat nie gaan doen wat Hy hulle geleer het nie, met die huis sonder fondament wat gebou is op die grond (ge ‘grond’ of ook ‘aarde’ om die aardse wyse van lewe te suggereer); Matteus 7:26 op die sand (ámmos met verwysing na bou in die sand van ’n wadi/stroom). Die vloedwaters van ’n rivier wat sy walle oorstroom en die twee soorte huise tref, verwys na die oordeel van die Here oor die lewe van die twee soorte mense wat Hom ‘Here, Here’ noem. Die soort lewe wat die Here van sy hoorders verwag, is beskryf in die voorafgaande gelykenisse wat almal handel oor die verhoudings tussen mense; mense wat praat en lewe vanuit die goeie woord van hulle Leermeester in hulle harte. Daarom lewe hulle soos hulle Leermeester (6:40) in broederlike solidariteit met verloste mede-sondaarskuldiges en in noue geloofsverbintenis met Jesus as die Here wat die seggenskap het oor hoe hulle lewe.