Die Evangelie volgens Lukas: Jesus begin met sy prediking (4:14-30) – Francois Malan

4:14-15 Nadat Jesus vir 40 dae in die woestyn van Judea versoek is, gaan Hy terug na Galilea in die krag van die Heilige Gees. Galilea (van die Hebreeuse woord ‘galil’ vir ’n sirkel) is die provinsie in die noorde van Palestina, ongeveer 65km van noord na suid en 33km van oos na wes, omring deur nie-Joodse volke. Die Galileërs was bekend vir hulle vooruitstrewende denke deur hulle kontak met die ander volke, maar daarom deur die ortodokse Judeërs as onrein beskou deur hulle kontak met die heidene. Dit is ’n vrugbare, waterryke gebied met baie vrugtebome en sierbome. Die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei, deurdat Hy die mense in hulle sinagoges onderrig het tydens sy toer deur Galilea.

Volgens Lukas bly Jesus in Galilea werk tot aan die einde van hoofstuk 9:50. In 9:51 begin sy reis na Jerusalem vir 10 hoofstukke tot by sy intog in Jerusalem in 19:29. Die werk in Galilea en sy reis na Jerusalem word deur Lukas aangebied as die inleiding tot sy eintlike taak in Jerusalem deurdat Lukas telkens daarna verwys dat Jesus op pad is na Jerusalem (9:51,53; 13:22; 17:11; 19:11,28).

Na sy doop is Hy met die Heilige Gees toegerus vir sy taak en is Hy deur die Heilige Gees na die woestyn gelei om getoets te word en sodoende versterk en voorbereid te wees vir sy openbare optrede in die krag van die Heilige Gees. Op omtrent 30 jarige ouderdom (3:23) begin Jesus se optrede met onderrig in die sinagoges in Galilea.

Sinagoges (die Griekse woord vir ‘vergadering,’  vir die Hebreeuse Beth ha-Kenesset ‘huis van vergadering’) het waarskynlik tydens die Babiloniese ballingskap ontstaan toe daar geen tempel meer was nie, en die godsdienstige Jode bymekaargekom het in verskillende stede en dorpies van die Babiloniese ryk. Na hulle terugkeer het die gereelde byeenkomste voortgegaan en het die sinagoge ook die leerhuis geword in elke dorpie waar daar tien mans was. Daar is geen offerandes gebring nie, wat slegs in die tempel gebring word.

In die twee inleidende verse 14-15  gee Lukas ’n algemene inleiding tot Jesus se optrede in Galilea, wat oor  6 hoofstukke strek van 4:14-9:50. Hy vertel spesifiek van die sensasie en ontsteltenis wat deur Jesus se optrede gewek is. Jesus se optrede in Galilea word soms beskryf as sy lente-tydperk, maar by sy tuisdorp Nasaret blyk die teenstand teen sy prediking, wat impliseer dat  Hy nie-Jode durf insluit in God se koninkryk.

 

Jesus se preek in Nasaret (4:16-30)

4:16-17 Ná sy toer deur Galilea kom Jesus weer in sy tuisdorp Nasaret. Op die Sabbat gaan Jesus na die sinagoge soos Hy grootgeword het en met die gewoonte voortgegaan het. As lid van die volk Israel neem Jesus soos ’n vrome Jood deel aan hulle godsdienstige byeenkoms. Die boekrol van Jesaja word aan Hom gegee om voor te lees. Hy rol die boekrol oop tot by Jes 61:1-2 en 58:6 (Lukas haal hoofsaaklik uit die Griekse vertaling, die Septuaginta, aan). Die grootste deel van hierdie berig en die aanhaling uit Jesaja kom nie in die ander Evangelies voor nie. Markus 6:1-6 en Matteus 53-58 het net ’n opsomming van die reaksie van die inwoners van Nasaret op Jesus se preek, en ook nie hulle moordpoging nie.

4:18 By Jesus se salwing met die Heilige Gees ná sy doop, het die vervulling van Jesaja 61:1 begin. As draer van die Heilige Gees is Jesus Israel se verwagte Messias. Hy is God se Gesalfde koning-priester-profeet. Sy sending openbaar die profetiese woord (vgl. 4:24). Deur sy afwysing van die versoekings vanuit die Skrif word sy gesag as koning sigbaar (vgl. 6:20). Hy is aan die armes toegewy as priester (vgl. 7:22). Aan die minderbevoorregtes waarvan die Psalms (10:14; 72:4,12,-14; 82:3-4) en Jesaja 61 praat, verkondig Jesus as profeet die goeie boodskap van verlossing uit hulle ellende. Die vrylating van gevangenes en bevryding van onderdruktes is die egte godsdiens wat die Here wil hê, volgens Jesaja 58:5-6.

4:19 Die genadejaar van die Here wat nou permanent aangebreek het, word in die Ou Testament gesimboliseer deur elke 50ste jaar as die groot hersteljaar  (Lev 25:8-17). Die genadejaar is vir Lukas ’n samevatting van die werk van die Messias wat in vers 18 genoem is. Lukas noem dit die era van God se welbehae (dektos die era wat vir God aangenaam is omdat dit aanvaarbaar is; Die Hebreeuse teks van Jesaja 61:1 praat van die jaar van God se ‘razon,’ sy guns). Die Jubeljaar (Hebreeuse ‘jobel’ ramshoring, vir die hersteljaar, ‘Jubilee/Jubileum’),  God se Genadejaar wat nou aangebreek het, is die kern van die goeie boodskap van verlossing; dit is die inhoud van die koninkryk en koningskap van God, waar mense vrygemaak word van hulle sondeskuld en ellende en elke dag en elke jaar in gelowige gemeenskap met God lewe volgens sy wil. (Luk 22:42)

4:20 Nadat Jesus die gedeeltes uit Jesaja staande gelees het, het Hy gaan sit. Die mense sit met gespanne verwagting oor hoe Jesus die teks vir hulle gaan uitlê.

4:21 Met een sin word sy uitleg saamgevat: ‘Vandag! is hierdie Skrif in julle ore vervul.’ Die Verlossingsjaar van die Here het aangebreek met Jesus se optrede; Hy, wat as die Verlosser gebore is (2:11, soos deur die engel aan die herders aangekondig is), is as God se Seun aangewys, oor wie die Here Hom verheug (3:22, die stem uit die hemel met sy doop). Hy bring met sy koms die dag van Versoening (Hebreeuse Lev 25:9 – Kipurim – vgl. die hedendaagse Jom Kippur) tussen die mens en God.  Die Griekse vertaling van Lev 25:9: hilasmos, verwys na Jesus as die middel waarmee sonde vergewe word.  Lukas 4:19 haal Jesaja 61:1 se Griekse vertaling met dektos aan; die Direkte vertaling noem dit die genadejaar.

Jesus verduidelik dat Jesaja 61-2 en 58:6 in hulle ore vervul is, die goeie nuus waarvan die profeet gepraat het. Jesus het dit nie slegs voorgelees nie, maar as boodskapper van die Koning word dit ’n koninklike verklaring van amnestie en vrylating. Hy is die Dienaar van die Here wat na Israel gestuur is om aan te kondig: Jou God is Koning (Jes 52:7), en die  koninklike heerskappy van God word uitgeoefen soos in 4:18 uitgespel: deur vergewing, genesing en bevryding (vgl. Jes 53:4-5).

4:22 ‘En almal het oor Hom getuig, en was verwonderd oor die woorde van genade wat uit sy mond uitgekom het, en het gesê: Is dit nie die seun van Josef nie? (die Afrikaanse Bybels vertaal die eerste neutrale sinsnede ‘het oor Hom getuig’ positief met ‘het instemming met Hom betuig,’ wat nie pas by hulle aangehaalde neerhalende vraag oor wie se seun Hy is nie; Markus  6:2-3 en Matt 13:54-57 beskou hulle reaksie ook nie as positief nie). Sy aanbod van heil word egter deur hulle verwerp. Hulle ken sy afkoms; seun van die plaaslike timmerman Josef. Waar kry Hy dié genadewoorde (charis) vandaan? Op wie se gesag kan Hy dit aanbied?

4:23 Jesus voorsien en verwoord hulle antwoord op sy prediking, dat hulle eintlik ’n bietjie sensasie soek, wonders en wondertekens vra, soos die duiwel in die tweede versoeking van Jesus in die woestyn (vgl. 1 Kor  1:22).

Jesus weet in hulle harte leef die spreekwoord ‘Geneesheer, genees jouself’ – die betekenis daarvan word verduidelik: hulle het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het (ook van die wonders). Doen dit ook in jou tuisdorp! (patris wat sinspeel op Josef as sy vader, pater). As Hy iets aan te bied het, behoort sy vaderstad eerste aanspraak daarop te hê. Maar mense wat op hulle regte staan en voorkeurbehandeling eis, kan nie die Man begryp wat die pad oopmaak vir diens aan ander nie, en ’n evangelie (goeie nuus) wat geen plek het vir bevoorregting nie, soos sal blyk uit die voorbeelde uit die geskiedenis van Israel wat Jesus aanhaal, van Elia en Elisa se optredes (4:25-27).

4:24 Jesus vereenselwig Hom hier met die profete in Israel se geskiedenis. Soos hulle deur hulle eie mense verwerp is, word Jesus ook deur sy tuisdorp se mense verwerp – geen dokter genees die mense wat hom ken nie, want hulle vertrou hom nie, ook nie die profeet wat aan hulle die woord van die Here bring nie.

4:25-26  Aan die lot van die profeet in 4:23 word die profete se onbegryplike optredes onder die leiding van die Here, in die volgende verse bygevoeg. Met die groot droogte en hongersnood in Elia se tyd, was daar baie weduwees in Israel wat honger gaan slaap het, maar die Here stuur vir Elia om ’n weduwee en haar seuntjie te gaan voed in die stadjie Sarfat (1 Kon 17:12-16) in die gebied van die heidense koning Etbaäl van Sidon, nl. Agab se skoonvader, Isebel se pa

(1 Kon 17:31). Lukas sê die droogte het drie en ’n half jaar geduur (soos in Jakobus 5:17; 1 Kon 18:1 verwys na ’n lang tyd van omtrent drie jaar).

4:27 Elia se opvolger Elisa, die profeet van die Here, het Naäman, die Siriese  hoof van die leër, van sy melaatsheid genees, maar nie een van Israel se melaatses nie (2 Kor 5). Jesus se antwoord op sy verwerping deur die inwoners van sy tuisdorp maak die pad oop vir heidene om deel te word van God se uitverkore volk, terwyl die deel wat Hom nie wil aanneem nie, verwerp word en nie meer deel is van God se volk nie. Hy doop met die Heilige Gees en met vuur, wat die kaf, wat van die koringkorrels uitgewan is, verbrand (3:8-9). Die Here se belofte aan Abraham ‘in jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (Gen 12:3) word nou ’n werklikheid.

4:28-29 Van die Here se seën aan Abraham sluit die onwillige Nasaret hulleself uit, deur nie in Jesus as hulle Verlosser te glo nie. Hulle is woedend oor sy identifisering met Elia vir wie die Here na heidene gestuur, en Elisa na wie ’n heiden gestuur is vir genesing. Dit toon aan dat die Here vry is om ook aan heidene ’n opdrag te gee. Hulle meen Jesus maak asof die Here vir Hom, die timmerman van Nasaret se seun, gestuur het. Dit is vir hulle lasterlik en daarom wil hulle Hom vermoor. Die suggestie dat heidene tot God se koninkryk toegelaat kan word het ’n uitbarsting van nasionalistiese ywer laat ontbrand wat alle redelikheid verdoof het, sodat hulle net die godslasteraar wou uitwis (Lev 24:10-16; vgl. Joh 10:30-31; Joh 5:16). Die rand van die berg waar hulle Hom wou afgooi, kan verwys na die 8 meter hoë rand 1 km van die stad af, of na die 60 meter hoë rand 2 km van die stad af.

4:30 Jesus is egter vir sy teenstanders onaantasbaar omdat sy uur nog nie aangebreek het nie (vgl. Joh 7:30, 44;  8:59). Die skare is in bedwang gehou deur die majesteit van sy teenwoordigheid (vgl. Joh 7:46). Jesus gaan weg van Nasaret af en ons lees nie dat Hy ooit weer daarheen teruggaan nie.

Na Jesus sy stryd teen die bose magte in die eensaamheid van die woestyn volbring het, verskyn die bose magte in sy tuisdorp Nasaret in die vorm van sy medeburgers. Die hele gedeelte laat Jesus se lewe, sterwe en opstanding deurskemer: Die Here het Hom na sy volk gestuur; die profesie oor Hom word vervul;  maar sy mense het Hom nie aangeneem nie.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word versoek (4:1-13) – Francois Malan

Na sy doop word Jesus deur die duiwel versoek. By sy doop het Hy gehoor ‘Jy is my geliefde Seun…’ (3:22). Nou hoor Hy ’n stem wat daaroor wil twyfel saai.: ‘As jy die Seun van God is…’

Soos ons, word Jesus oor drie dinge versoek: om die goeie toe te laat om die beste te verdring; om God se doel te soek met middels wat vreemd is aan God se karakter; om God se arm te draai deur kort paaie te kies na sukses. Omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word te help (Hebr 2:17-18).

Markus 1:12-13 meld net dat Jesus dadelik, ná die stem uit die hemel, deur die Gees uitgedryf is (ekballo  uitgooi, uitstuur, uitlei) die woestyn in, 40 dae lank deur die Satan versoek is, dat Jesus met die wilde diere was, en dat die engele Hom versorg het.

Matteus 4:1-11 versag die uitdryf met ‘Hierna is Jesus deur die Gees na die woestyn gelei (anago) om deur die duiwel versoek te word. Matteus het niks oor die wilde diere nie, en plaas die diens van die engele ná die versoekings;  die 40 dae word as vasdae aangedui en dat Hy later honger geword het. Matteus stel die versoeking op die tempelspits tweede, en Lukas derde.

 

4:1 ‘Vol van die Heilige Gees…’ – Nadat die Gees in sigbare vorm soos ’n duif op Jesus neergedaal het om Hom toe te rus vir sy taak (3:22), keer Jesus terug van die waterrryke groen Jordaangebied, en word deur die Heilige Gees gelei na die onherbergsame woestyngebied. Dit is ‘n beeld van sy taak in die deurmekaar wêreld wat deur die duiwel beheer word deur middel van die mense se verwaandheid en selfsug. Matteus en Markus se ‘Gees’ word in Lukas spesifiek die Heilige Gees genoem, en dat Jesus vol van die Heilige Gees was. Dat Hy deur die Heilige Gees gelei is, dui aan dat Hy voor sy openbare optrede duidelikheid moes kry oor watter soort Messias Hy sou wees. By sy doop is sy Seunskap van God bevestig met Ps 2:7: ‘Jy is my seun;’ maar ook sy lydende dienaarskap met Jesaja 42:1: ‘Daar is my Kneg in wie Ek ’n welbehae het, op wie Ek my Gees laat kom.’ Hier in die woestyn moes Jesus besluit hoe Hy, as die Vader se lydende Dienskneg, sy Seunskap van God gaan uitlewe.

4:2 Vir veertig dae word Hy deur die duiwel versoek. Die Griekse woord  diabolos ‘duiwel’ beteken ‘lasteraar’ maar word vir die vader van alle sonde gebruik (Joh 8:44). Hy probeer die verhouding tussen die mens en God met verleidings omkrap. In daardie dae van versoeking het Jesus niks geëet nie. Toe die dae beëindig is, was Hy honger (Matteus sê dat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, daarna honger was, en toe versoek is). Lukas skep die indruk dat die drie versoekings eintlik die drie sake is waarmee Jesus dwarsdeur die veertig dae mee geworstel het om klaarheid daaroor te kry.

Versoekings probeer die mens tot sonde teen God verlei, maar dien ook as toets om geloof en vertroue op God te versterk (Jak 1:2; vgl. Ps 26:2; 139:24-25). Die 40 dae sluit aan by Moses se 40 jaar in die woestyn (Hand 7:30,36), en sy 40 dae en nagte op Sinai by die Here (Eks 24:18), Elia se 40 dae en nagte in die woestyn (1 Kon 19:8). Dat dit in die woestyn geskied sluit aan by Johannes die Doper wat in die woestyn grootword (Luk 1:80) en Paulus se 3 jaar afsondering in Arabië na sy bekering (Gal 1:17-18).

Met sy honger ontdek Jesus wat honger aan ’n mens kan doen. Dit vestig jou aandag op jou onmiddellike materiële behoefte en neem jou aandag weg van die groter eise van die lewe. Daarby het Jesus simpatie geleer met mense wat daagliks honger ly. Die vraag is of God dan nie vir sy honger kinders sorg nie. Jesus kon vra of sy hooftaak as die Messias/Christus nie is om in die mens se primêre behoefte te voorsien nie, soos in die tyd van Moses met die manna in die woestyn. Later sou Jesus ’n skare voed (Luk 9:10-17); vir Martha wat bedrywig alles klaargemaak het, sê Hy egter: Jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria, wat na Jesus se woorde luister het die beste deel uitgekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Luk 10:41-42). Met sy honger word Jesus versoek om die goeie te kies bo die beste (vgl. die derde bede om elke dag se brood vir ons, ná die gebed om die heiliging van die Vader se Naam en die koms van sy koninkryk in Luk 11:2).

:3 Jesus se honger word die aanknopingspunt vir die duiwel om Jesus te laat twyfel oor sy Seunskap van God. As Hy die Seun van God is sou Hy mos vir hierdie klip kon sê om brood te word om sy honger te stil! (Matteus het die meervoud: dat hierdie klippe brode word). Kan Jesus nie sy mag as Seun van God gebruik om Homself aan die lewe te hou nie? In Lukas 12:23 sê Jesus vir die dissipels: Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere; in 12:29-31: Die Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder na sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

4:4 Jesus antwoord met ’n aanhaling uit Deutr 8:3 wat verwys na die Here se woord aan Israel oor hulle 40 jaar swaarkry, toe Hy hulle laat honger ly het in die woestyn, en hulle toe met manna gevoed het om hulle te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie (Matteus voeg die res van Deutr 8:3 by: ‘maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom). Dit gaan om die verhouding tussen die Seun en die Vader uit wie se woord Hy lewe. Hy gebruik nie sy Seunskap om Homself te help en sy honger te stil nie, maar bewaar sy unieke Seunskap van God deur elke dag getrou sy lewe uit sy Vader se hand te ontvang. So behoort elke gelowige te lewe. Sy voedsel is om die wil te doen van sy Vader wat Hom gestuur het om sy werke te voltooi (Joh 4:34). Sy Seunskap handhaaf sy hoogheid deur sy gehoorsaamheid aan sy Vader volgens sy woord. Adam het in sonde geval deur te eet; die tweede Adam oorwin deur nie te eet nie.  (Matteus 4:11b en Mark 1:13 vertel dat daar nadat Jesus al die versoekings oorwin het, engele gekom het om Hom te versorg).

4:5 Lukas plaas die versoeking op die tempelspits derde en die een om die gesag van die koninkryke van die wêreld oor te neem tweede (wat Matteus derde plaas en die tempelspits tweede; in die Latynse vertaling, die Vulgata, deur Hieronimus, is Lukas se tweede versoeking ook derde geplaas).

Letterlik: ‘en hy (die duiwel) het Hom (Jesus) opgelei (boontoe)…’  – die 1953-vertaling voeg by: op ’n hoë berg, soos in latere manuskripte; die 1983-vertaling: op ’n hoogte; die Direkte vertaling: na ’n hoë plek; Matteus 4:3 die duiwel neem Hom na ’n baie hoë berg) ‘…en vir Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die bewoonde aarde (oikomene) gewys’ –  (Die uitdrukkings  ‘opgelei,’  ‘in ’n oogwink’ en ‘al die koninkryke van die aarde’ skep die indruk dat Lukas bedoel dat Jesus dit alles in sy gedagte gesien het). Om al die koninkryke van die aarde te beheer kon ’n versoeking wees wat in Jesus se geestesoog opgekom het, om die korrupte politieke mag in die wêreld oor te neem. Ps 2:8 sê juis vir die nuwe koning: Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting,

Volgens Deutr 3:27; 34:1-4 het die Here vir Moses op Pisgaberg in die Neboberge die hele beloofde land gewys.

:6 Die duiwel maak aanspraak op besit van die hele aarde, dat dit in sy mag gegee is. Hy oefen sy regeermag uit deur sy agente, onder andere die keiser van Rome, wat optree soos die dier uit die see van Openbaring 13:1-8, wat die sinnebeeld is vir aardse regerings wat vir die draak werk (terwyl Rom 13:1 sê: ‘Daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie, en dié wat daar wel is, is deur God ingestel.’). Ps 24:1 sê: Aan die Here (Jahweh) behoort die aarde en alles daarop, die wêreld en dié wat daar woon (aangehaal in  Kor 10:26: die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here). Die duiwel se aanspraak dat die mag en prag van die wêreld aan hom gegee is (pssiewe werkwoord) suggereer dat God dit vir hom gegee het. Die die sonde van die mensdom is dat hulle hulleself aan die bose oorgegee het deur te begeer om self god te wees (Gen 3:5).

4:7 Die voorwaarde waarop die duiwel die mag aan Jesus aanbied, is om met die duiwel se metodes van geweld en politiekery ’n kompromie te maak, om so die politieke mag in die hande te kry. Johannes 12:31; 14:30; 16:11 praat van die duiwel as die owerste van hierdie wêreld. Die versoeking is om God se doel te bereik met middele wat vreemd is aan die karakter van God; om vir Homself die koningskap oor die wêreld te bekom. Ps 2:8 sê dat Jesus die gesag van sy Vader moet ontvang en nie van die duiwel nie. Jesus sê later vir Pilatus: my koningskap is nie van hierdie wêreld nie, anders sou my dienaars geveg het (Joh 18:36). Jesus het egter gekom om met liefde, deur lyding en ’n kruis, die mag oor die wêreld en oor die mensdom uit die hand van die duiwel te verlos (Luk 10:18). Jesus het ook nie die gesag oor die wêreld uit die hand van die duiwel ontvang nie, maar uit die hand van sy Vader (Mat 28:18; Joh 17:2; Rom 13:1; vgl. Dan 4:17).

4:8 Jesus antwoord die duiwel met ’n Skrifwoord wat deel geword het van elke Jood se daaglikse gebed: Luister (shema), die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien  (Deutr 6:4, 13-14). Daarmee wys Jesus die versoeking af om’n politiese messias te word, om kompromieë met die wêreld se metodes te maak, en wag Hy op die vervulling van die Here se uitspraak oor Dawid se heer in Ps 110:1. Dit gaan oor Jesus se wêreldregering uit sy Vader se hand: ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak (Ps 110:1; ook aangehaal in Luk 20:42-43; 22:69; Hand 2:32-36). Dit gaan vir Jesus nie om sy koninkryk nie, maar om sy Vader se koninkryk (Luk 11:2). Met onbegrensde vertroue op God is Jesus ten volle gehoorsaam aan Hom. Hiermee verwerp Jesus die Jode se idee van ’n aardse messias. Daarom het die meeste Jode Hom ook verwerp. Die paaie van hierdie wêreld lei nie na die koninkryk van God nie. Om jou geloof te vestig op wêreldse wysheid of gesag is om iets te aanbid wat nie God is nie. Om God in waarheid te dien beteken om Hom te vertrou en jou toekoms in sy hande te laat.

4:9  Vir die derde versoeking neem die duiwel vir Jesus na Jerusalem, laat Hom op die toppunt van die tempel staan, bo op die koninklike balkon in die stadsmuur wat uitkyk op die Kedronvallei, 450 voet onder toe, om voor die oë van die volk ’n wondertoertjie uit te voer. Die duiwel haal ’n Bybelteks aan sodat Hy sy Seunskap as God se Messias vir Israel kan bewys met iets wat gesien kan word deur die godsdienstige leiers en die Joodse gemeente. Deur af te spring en deur engele gedra te word, kan Hy kortpad vat na sukses onder die Jode en hulle leiers, en ook die kruisdood systap. Volgens ’n ou Joodse oorlewering sal die Messias Homself openbaar op die dak van die heiligdom.

4:10-11 Die duiwel haal aan uit Ps 91:11-12 en suggereer dat Jesus ’n skoupelagtige wonderwerk moet doen. Dit is iets wat tot ’n wondergeloof kan lei, wat gou weer oorwaai. Hy haal Ps 91:11 net halfpad aan sonder die laaste deel: Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm op al jou weë. Sonder die laaste deel lyk dit of God vir Jesus sou beskerm al sou Hy sy lewe eiemagtig in gevaar stel om mense te beīndruk. In die woestyn het die Israeliete, toe daar nie water was nie, ook die Here op die proef gestel  deur te sê: Is die Here by ons of nie? Toe het Moses, in opdrag van die Here, die rots geslaan en daar het water uitgekom. Nou wil die duiwel hê dat Jesus op sy bevel, die Here op die proef moet stel met ’n wonderredding om te bewys dat Hy die Seun van God is. Die versoeking is om Hom as Messias aan die mense bekend te stel met ’n sensasionele gebaar. Maar sensasie bedaar gou.

Jesus antwoord met Deutr. 6:16: julle mag die Here julle God nie op die proef stel nie. Om God te toets is die teenoorgestelde van Hom te vertrou. Wie nog vra om bewyse, het nog nie geleer dat geloof  ’n bewys is van die dinge wat nie gesien word nie (Hebr 11:1). Om jou geloof te bou op wêreldse wysheid en gesag beteken om iets te aanbid wat nie God is nie. Om God te dien is om Hom te vertrou en die gevolge in sy hande te laat. Met die teks uit Deuteronomium wys Jesus alle selfsug, eiewilligheid, vertoon en fanatiese optrede af as onversoenbaar met God se woord en sy wil.

Elkeen van die drie versoekings fokus nie op Jesus se swak punte nie, maar juis op sy sterkste punte: sy barmhartigheid teenoor hongeriges en behoeftiges, sy toewyding aan sy Vader, sy vertroue op sy Vader. In elkeen sien Hy dat dit nie God se wil is nie, maar die listige verleidings van die duiwel. Telkens antwoord Jesus met ’n woord uit Deuteronomium (6:13,16; 8:3), wat verwys na die ondervindings van Israel, die volk van God, op hulle woestyntog. Dit loop saam met Jesus se ondervinding in die woestyn. So vereenselwig Hy Hom ook met die belewenisse van die volk van God.

Hy word herinner aan sy Godheid om dit vir Homself te misbruik en Hy beklemtoon sy mensheid:  ‘As jy die Seun van God is…’ – die mens leef nie net van brood nie.’  Hy plaas Hom onder die gesag van die Skrif en sodoende onder die gesag van God. Sy rol is om te aanbid en te dien, om werklik die Dienaar van die Here te wees. Hy sal egter ’n baie groter sprong die dieptes in maak aan die kruis, deur Homself in vertroue op God in die dood oor te gee om die straf vir die sonde van die hele wêreld te dra, ‘Vader in u hande gee Ek my gees oor’ (Luk 23:46; Ps 31:6).

4:13 Jesus het die eerste rondte gewen, en die duiwel het Hom vir ’n tydjie gelos, maar die versoekings sou telkens deur sy hele bediening terugkom as toets vir sy barmhartigheid (7:13; 17:13; 18:38); sy reaksie op die entoesiasme om Hom ’n nasionale held te maak (19:38); die suspisie wat van Hom ’n wonderteken uit die hemel gevra het  (21:7; 23:8). Tot aan die kruis spot die soldate met sy Messiasskap: As jy die koning van die Jode is, red jouself (Luk 23:37).




Die Evangelie volgens Lukas: Die geslagsregister van Jesus (Luk 3:23-38) – Francois Malan

Lukas verbreek die samehang tussen Jesus se doop en sy versoekings. soos Markus plaas hy dit direk na sy doop.  Lukas voeg eers die stamboom tussenin. Daarmee verbind Lukas die nageslagregister van Jesus aan sy doop. So lewer Lukas vyfvoudig kommentaar op die verhaal van die doop: hy wys dat Jesus ’n egte mens is met ’n stamboom; hy bevestig Jesus se messiaanse afkoms van koning Dawid (Rom 1:3; Mark 10:48); die geslagregister wat teruggaan tot by Adam, verbind Jesus aan die ganse mensdom na wie toe Hy gestuur is; Adam word die seun van God genoem. Die hele menslike geslag spruit uit God as hulle Vader. Met Jesus se doop word God se doel met die skepping aangedui, dat hulle  in’n intieme kindskap met God sal lewe. Daaraan kry Jesus se volgelinge deel. Volgens Matteus, wat vir Christene wat veral uit die Jode kom skryf, behoort Jesus aan die geslag van hulle voorvader Abraham. Vir Lukas, wat hoofsaaklik vir Grieke skryf, behoort Jesus as seun van Adam aan alle mense, en behoort Jesus en alle mense aan God as die Vader van die mensdom wat Hy na sy beeld geskep het. Met Jesus aan die begin en God aan die einde van die geslagslys, word Jesus as die Seun van God bekendgestel.

Lukas begin sy geslagsregister by Jesus en gaan terug tot by Adam, die eerste mens. Matteus begin by Abraham met wie God sy verbond gemaak het, en eindig by Jesus (Mat 1:1-17). So word Jesus in Lukas as die tweede Adam aangewys (Rom 5:14-21; 1 Kor 15:22,45-49; Hand 17:26,31). Terwyl Matteus 5 vroue in sy lys opgeneem het, het Lukas geen vroue in sy lys nie.

Matteus het 3×14 geslagte van Abraham tot Dawid, tot die ballingskap, tot by Jesus. Lukas het 77 geslagte (ander Bybels het 72 name). Terwyl Matteus die koningslyn van Dawid deur Salomo volg, volg Lukas ’n ander lyn van Dawid deur Natan tot by Jesus. Bronne vir die lyste is bv. Gen 5:1-32 van Adam tot Noag en sy seuns; Gen 11:10-26 van Sem tot Tera; Rut 4:18-22 van Peres tot Dawid; 1 Kron 1:1-34 begin by Adam; 2:1-15 eindig by Dawid; 3:5-19 die nageslag van Dawid.

3:23 Lukas sê: Jesus ‘was ongeveer 30 jaar oud toe Hy begin het.’Dit beteken begin het met sy eintlike taak, nadat Hy eers vir 18 jaar sy gesin as timmerman versorg het. Volgens Numeri 4:3 het ’n Leviet tussen 30-40 jaar as priester in die tempel begin werk. Josef het op 30 jaar by Potifar as slaaf begin werk (Gen 41:46). Dawid was 30 toe hy koning geword het (2 Kon 5:4). Esegiël het op 30 profeet geword (Eseg 1:1). Jesus, in die gestalte van ’n slaaf (Filp 2:7; dienaar volgens Mark 10:45), word met die Heilige Gees gesalf as koning, priester en profeet.

Die geslagslys van Jesus begin met Hom as ‘seun, soos veronderstel is, van Josef.’ Volgens Joodse reg was Josef sy wettige vader. Lukas, wat in 3:23-38 Jesus se afkoms teruglei tot by God as sy Vader, skryf hier dat Jesus die seun van Josef is, soos veronderstel is (nomizō soos aangeneem is, soos gedink is). Lukas weet dit is nie die hele storie nie (vgl. Luk 1:34-35; 2:5,16). Sommige verklaarders wil die verskil tussen Matteus se lys wat deur Salomo loop tot by Josef en Lukas se lys wat deur Dawid se ander seun Natan loop tot by Eli wat dan sou verwys na Maria se pa, wat Jesus se oupa aan moederskant sou wees. In Matteus 1:16 is Josef se pa Jakob en nie Eli nie, en al die geslagte tot by Dawid anders as in Lukas.

In die lig van ‘Jy is my geliefde Seun’ by Jesus se doop (3:22) sluit Lukas se geslagslys af met ‘Adam die seun van God.’ So onderstreep Lukas Jesus se middelaarskap met sy menslike voorgeslag en sy goddelike oorsprong en word die Nuwe Testament  se herskeppingswerk van Jesus aan die Ou Testament se skepping en geskiedenis verbind. Jesus is die tweede Adam, ware God, en ware mens.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gedoop (Luk 3:21-22) – Francois Malan

3:21-22 Hoewel Luk 3:20 reeds vertel dat Johannes opgesluit is, vertel Lukas hier van Jesus se doop deur Johannes. Dit sluit aan by 3:3 se berig, nog voordat Johannes in die tronk gegooi is. Lukas skryf  nie wat Johannes of Jesus voor die doop gesê het, of dat Johannes Hom met water gedoop het, soos Markus en Matteus nie, maar oor wat God na die doop gedoen en gesê het.

Lukas plaas Jesus se doop saam met die ‘hele volk’ met wie Jesus Hom kom identifiseer. Met die massabeweging van die volk na Johannes toe, verlaat Jesus sy timmermanswerk vir sy taak waarvoor Hy gekom het. Johannes doop Jode wat tot bekering wil kom met die oog op die vergewing van sondes wat Jesus kom bewerk (Luk 3:3). Deur Johannes se doop word Jesus ‘soos ons in alle opsigte versoek, en dit sonder dat Hy gesondig het (Hebr 4:15). Hy vereenselwig Hom met ons swak en sondige lewe en gaan met ons en vir ons onder die oordeel van God (Jes 53:5,8,11,22; Rom 4:25) vir die vergewing van ons sondes.

Die hemel het oopgegaan (vgl. Jes 64:1 se versugting) terwyl Jesus gebid het, met sy Vader in gesprek was (Dit staan nie in Mark 1:10 en Mat 3:16 nie; hulle vertel net wat gebeur het toe Jesus uit die water opkom). Dwarsdeur Lukas se Evangelie en Handelinge word gebed beklemtoon.  Hier word die neerdaling van die Heilige Gees die antwoord van sy Vader op sy gebed. So word Jesus die eerste wat met die Gees gedoop word as beeld van die doop met die Heilige Gees wat Jesus vir ons bewerk (vgl. Luk 3:16). Hy wat deur die Gees ontvang is (1:35) ontvang die Gees as Leier en Gewer van die krag om te verkondig (Luk 4:1,14,18). Die Gees kom in die gestalte van ’n duif (opreg/onskuldig soos duiwe, Mat 10:16; vgl. Noag se duif wat die goeie nuus bring, Gen 8:11).

Die stem uit die geopende hemel verseker vir Jesus van sy Seunskap en sy ampswerk as Seun van God. Hy is die Messias, d.w.s. Gesalfde, tot Hoëpriester, die Middelaar tussen die Vader en die mensdom (vgl. Hebr 4:14-16). Die stem is ook deur die skare gehoor sodat die wêreld sal weet dat Hy God se geliefde Seun is, oor wie die Vader hom verheug (Ps 2:7 praat van die inhuldiging van die gesalfde koning as God se seun; Jes 42:1 en Jes 53 van die dienaar van die Here wat verbrysel word oor ons sondes). Die stem uit die hemel verbind Jesus se koningskap en sy knegskap. Hy kom as God se gesalfde Koning wat in God se koninkryk regeer, wat ook die lydende Kneg van die Here is om ons sonde op Hom te neem. Die Jode verwag ’n koning wat hulle sal verlos uit die hand van die Romeine, maar nie ’n Kneg wat vir hulle ly nie. Die heerlikheid van sy Seunskap gaan juis op die pad van die lydende Kneg van die Here as bewys van die liefde van God vir die mensdom.

Jesus is ontvang deur die Heiige Gees (1:35) en is deur die Gees gelei in sy ontwikkeling (2:49,51), maar met sy doop wrd Hy toegerus vir sy taak (4:1,14,18). Die stem uit die hemel is nie slegs ’n aanstelling vir sy taak nie, maar ook die goddelike goedkeuring van die lydensweg wat Jesus gekies het om homself deur die doop te verbind aan die sondaars wat vergifnis soek vir hulle sonde. Die stem sê: ‘Oor jou verheug Ek My,’ dat Hy sy lydensweg reeds deur sy doop aanvaar het.

Soos die Kind in die krip ’n teken was van die geboorte van die Verlosser (2:11-12), is die Gees in die gestalte van ’n duif die teken van die genadejaar van die Here wat aangebreek het (4:18-19), en van die koms van die Seun van die Mens wat vir ewig sal regeer (Dan 7:13-14)  om diegene wat verlore is te soek en te red (Luk 15). Hy bring die vergewing van sondes waarvoor Johannes die volk oproep tot bekering (metanoia verandering van denke en optrede, 3:3). Die Gees wat op Hom neerdaal is die Vader se openbare verklaring van sy Messiasskap, met die Gees toegerus vir sy taak om die genade en liefde van God te kom verkondig en te bewys. Vir dié wat in Hom glo het Hy die hemel kom oopmaak en kom toerus met die Heilige Gees vir hulle diens aan God in die wêreld (vgl. 11:13).