Die Evangelie volgens Lukas: Johannes die Doper vervolg (Lukas 3:7-20) – Francois Malan

3:7-9 Johannes se oproep tot bekering

3:7 Lukas praat van ’n groot skare mense wat gekom het om deur Johannes gedoop te word.  Oor hulle motiewe spreek hy hulle aan as ‘addergeslag’ (volgens Matteus 3:7 word slegs die Fariseërs en Sadduseërs so aangespreek). Hulle het die gesindheid van hulle vader, die duiwel, wat vir Eva as ’n sinkse slang verlei het. Hulle wil net die dreigende oordeel ontkom, en besef nie dat God hulle tot bekering wil bring nie, deur sy goedheid (vgl. Rom 2:4-5).

3:8 Johannes verkondig bekering (metanoia) ’n verandering van lewenswyse as gevolg van ’n totale verandering van denke en gesindheid teenoor sonde en geregtigheid) ’n lewenswyse wat die vrug van bekering dra. Die Joodse skare glo dat hulle die uitverkore volk van God is deur die Here se verbond met Abraham en sy nageslag (vgl. Joh 8:39). Hulle vertrou op hulle ritusse, wette en wetswerke, en nie op God en sy verlossing nie.

Johannes se3 vir hulle: ‘God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.’ So het God So het God uit Sara se moederskoot , wat reeds dood was, vir Abraham ’n nageslag verwek (Rom 4:19; Gen 17:17). So is Johannes gebore uit die ou ‘onvrugbare’ Elizabeth (Luk 1:36). So kan die Here ook uit die ander nasies kinders vir Abraham verwek (Rom 4:5,11; 16:18; Gal 3:6-8,14). In Aramees, at Jesus gepraat het, is hier ’n woordspel tussen klippe (abnajja) en kinders (benajja).

3:9 Die byl van God se oordeel is alreeds teen die wortel van elke boom aangelê. Die passiewe werkwoord beteken dat God die byl/oordeel aangelê het met sy koms in Christus na die mensdom. Die maatstaf waarvolgens God oordeel is of die mens vrug dra deur bekering van jou denke en lewenswyse. Elke boom wat nie vrug dra nie, word in die vuur van God se toorn gegooi.

3:10-14 Die vrug van bekering.

Die gedeelte kom slegs in Lukas voor.

3:10 Die skare vra ’n uiteensetting van wat die vrugte van volledige bekering tot God behels. Johannes antwoord met drie voorbeelde wat deur elke mens gevolg moet word, in hulle lewe en beroepe. Om die Here te dien beteken dat jou bekering daagliks voor God  uitgelewe moet word, in jou huis, werksplek en ontspanning.

3:11 Vir Johannes gaan dit nie om die Jode se wet en gebede en offerandes nie, maar oor God se wil oor verhoudings tussen mense. Bekering gaan oor raaksien van behoeftige mense, oor sy gebrekkige klere in die koue en jou tweede kledingstuk; oor die mededeling van die kos wat jy gebring het vir die lang reis om deur Johannes gedoop te word; om aan ander te gee van die gawes wat jy van die Here ontvang het; oor jou liefde vir jou naaste.

3:12-13 Selfs ryk tollenaars het gekom om gedoop te word. Hulle was tol- en belastinggaarders vir Rome en vir hulle eie sak. Hulle spreek Johannes aan as ‘leermeester’ (didaskalos). Hulle word nie deur Johannes beveel om hulle beroep te verander nie, of bloot weggewys soos die Fariseërs met hulle doen nie. Maar hulle word gewaarsku teen inhaligheid en korrupsie, om nie meer in te vorder as wat aan hulle voorgeskryf is nie.

3:14 Vir die Fariseërs is tollenaars en soldate sondaars, vanweë hulle beroepe wat hulle gedurig in kontak met heidene bring, en omdat hulle in diens is van Rome. Johannes sluit hulle nie uit nie, maar waarsku hulle om nie hulle posisie te misbruik om hulle medemens met geweld te beroof nie, en nie hulle misbruik van mag te verontskuldig met valse beskuldigings nie. Die vrug van bekering tot God lei tot goeie en regte optrede in die konkrete situasie van die lewe en van jou beroep, en tevredenheid (arkeomai) met jou loon.

3:15-17 Die belofte van Hom wat kom

 3:15 By baie van die volk was daar ’n gespanne verwagting oor die koms van die Messias. Baie het begin wonder of Johannes nie die beloofde Gesalfde van God is nie. Johannes gebruik die geleentheid om dié valse verwagting onder die volk en onder sy volgelinge reg te stel.

3:16 Johannes antwoord dat hy die Doper is wat mense tot bekering roep en hulle doop om hulle voor te berei vir die Een wat kom. Hy is so nederig onderworpe as die slaaf van die Een wat aan kom is, dat hy nie eers werd is on die riempies van sy sandale los te maak nie (so ook in Mark 1:15; Mat 3:11 om sy sandale te dra nie). Teenoor Johannes se doop met water, sal Hy hulle doop met die Heilige Gees. Volgens Joh 14:16 verklaar Jesus dat die Vader die Heilige Gees sal stuur as die gelowiges se Parakleet (Helper, Advokaat, Trooster) wat by hulle sal bly. Hy sal hulle oortuig van sonde, dat Jesus hulle verhouding met God regmaak, en van oordeel vir diê wat nie in Jesus glo nie (vgl Joh  16:8). Johannes sê die Een wat kom sal ook met vuur doop, die oordeel van God oor dié wat nie in Jesus glo nie (vgl. vers 17).

3:17 Jesus word geskilder as ’n boer wat koring dors en daarna die koringkorrels van die kaf skei deur die getrapte koringare met ’n houtskopgraaf in die wind op te gooi. Die eintlike doel is om die koring gereed te maak om in God se skuur versamel te word. Die kaf word met ’n onblusbare vuur verbrand as teken van die ewige straf. Die mense wat Johannes se bekeringsprediking ter harte neem, sal geskei word van dié wat ’n uiterlike doop en godsdiens beoefen.  Lukas gebruik wind en vuur as beelde vir die eindoordeel  van die Here (Luk 3:9,16; 17:29-30; vgl. Jes 66:15). Die koring wat in God se skuur versamel word is ’n beeld van die hemel waar God is. Die koring wat met die skopgraaf in die lug gegooi word, veronderstel dat die wind die koring van die kaf skei. Die wind verwys na die werking van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige om hom van die verkeerde af te skei.

3:18 Met baie ander ernstige oproepe (parakaleõ ernstig vra, uitnooi, bemoedig) het Johannes die goeie nuus aan die volk verkondig. Die goeie nuus is dat die Een wat kom, die mense wat hulle van hulle verkeerde lewenswyse tot God bekeer, salopneem in die koninkryk van God. Dit behels die vergewing en verlossing van hulle sondes (3:3,6), en die gawe van die Heilige Gees van God (3:16).

3:19-20 Soos Elia vreesloos teen Agab en die volk opgetree het (1 Kon 18:21; 21:17-29; ), krtiseer Johannes  die openbare sede van sy tyd (sy opdrag is om krom paaie reguit te maak, 3:5), en wys Hy Herodes Antipas tereg oor al sy booshede.

Herodes die Grote het die seuntjies van Betlehem laat doodmaak om Jesus as ’n koning van Israel uit te wis (Mat 2:2,16). Sy seun, Herdes Antipas, is een van vier seuns wat ’n kwart van sy pa se ryk geërf het. Hy word in Rome deur die keiser aangewys as sy verteenwoordiger om te regeer oor die provinsies Galilea en Perea (oorkant die Jordaan). Hy ontmoet Herodias in Rome waar haar man Filippus, ’n halfbroer van Antipas, as gyselaar aangehou word. Sy oortuig haar inskiklike man om van haar te skei, sodat sy met ntipas kan trou. Antepas was toe nog getroud met die dogter van koning Aeetas van Arabië, van wie hy toe skei om met Herodias te trou. Aretas tree op teen Antipas en Antipas se leër verloor in die veldslag teen Aretas se starfekspedisie.

Johannes spreek Herodes Antipas aan oor sy huweliksake en al sy ander booshede. Herodes vrees Johannes se groeiende invloed onder die mense, en daarom sit hy Johannes slegs in gevangenis in sy bergvestig Magaerus aan die oostekant van die Dooie See nadat Johannes hom aangespreek het oor Herodias. Lukas vertel nie die besonderhede van Johannes se dood nie (soos Mark 6:17-29; Mat 14:1-12), Lukas vermeld hier slegs die einde van Johnnes se bediening deur sy opsluiting in die tronk. In Luk 9:9 verwys hy bloot na ’n woord van Herodes dat hy Johannes doodgemaak het (Luk 9:9). Met sy dood is Johannes ook die voorloper/voorspeller van Jesus se dood. Met sy prediking en dood het Johannes die pad in die woestyn vir die Here reguit gemaak (Luk 3:4).




‘n Sondige lewe en vergifnis – Hermie van Zyl

Vraag  Ek het in ‘n huis groot geword met ‘n oop Bybel. Is 40 jaar gelukkig getroud, dienswerker en pa van ‘n pragtige dogter. Ek is bi-seksueel en het met die koms van internet begin om fisiese kontak met mans te hê. Ek het ook gereeld na pornografie op internet gekyk. Het altyd baie skuldig hieroor gevoel, maar net voortgegaan. Nou is ek met blaaskanker gediagnoseer en ewe skielik besef ek dat elke mens ook net soveel genade kan ontvang. Ek het Sondag vir Sondag vroom in die kerk gesit, en dan huis toe gegaan en net met my sondige lewe voortgegaan.

Ek glo dat Christus ook vir my sondes gely en gesterf het, maar het toegelaat dat die versoekings van die wêreld my lewe regeer. Nou het ek berou en wil wegbreek van my verlede, pleit vir vergifnis, en ‘n nuwe begin maak. Ek voel egter dat ek die vergifnis nie verdien nie, want nou eers dat die dood my in die gesig staar, wil ek ewe skielik ‘n ommekeer maak. Het ek nie die onvergeeflike sonde gepleeg teen die Heilige Gees nie? Is God se genade so groot dat ek wat behoorlik in die varkhokke van die wêreld geploeter het, vergifnis kan kry?

 

Antwoord

Die kort antwoord op ons vraagsteller se vraag is ‘n onomwonde en oortuigende: “Ja, God se genade is vir seker so groot dat ons vraagsteller ook vergifnis kan kry!” Maar kom ons brei bietjie hierop uit.

Die probleem met ‘n leefstyl wat opsigtelik nie in ooreenstemming met God se wil is nie, is dat dit jou vervreem van God. Dit gevolg is die opstapeling van skuldgevoelens wat later soos ‘n berg tussen jou en God staan. Mens voel dat God jou op geen manier kan vergewe nie. En so beland mens in ‘n geestelike doodloopstraat. Dan vat die oortuiging ook pos dat jy nie vergifnis verdien nie; jy het te ver gegaan; jou sonde het net te veel en te groot geword. Maar dis nou juis die opspraakwekkende van die evangelie, die goeie nuus van God se genade. Niemand verdien vergifnis nie. Paulus sê baie duidelik in Romeine 3:23-24: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Niemand verdien dit om van ‘n ontsaglike en onbetaalbare skuld wat ons by God het, vrygespreek te word nie.

Hierdie punt word treffend geïllustreer deur die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar (Matteus 18:23-35). Die man het ‘n onbetaalbare bedrag wat hy sy baas skuld en word dan alles kwytgeskeld. Wat verder gebeur, is natuurlik laakbaar – dat die man dit toe nie oor sy hart kon kry om sy mede-amptenaar, wat hom ‘n geringe bedraggie geskuld het, ook so te vergewe nie. Maar die punt is, ons is almal tot ons ore toe by God in die skuld, daar is geen manier waarop ons God se vergifnis kan verdien nie, en tog skeld Hy ons alles vry omdat Iemand anders klaar daarvoor betaal het – Jesus Christus. Vergifnis is dus per definisie iets wat jy nie kan verdien nie; daar is niks wat ons eers iets kan doen of ‘n “handjie wat ons moet bysit” om dit vir God “makliker” te maak om ons te vergewe nie. Indien God eers ‘n teenprestasie van ons sou verlang, dan was genade nie meer genade nie. Nee, God se genade is radikaal en onverdiend. Hy vergewe omdat Hy genadig is, en ons kan dit alleen in die geloof aangryp en daaruit lewe. Dus, die oomblik as jy naak voor God staan en jy voel jou sonde is te groot om vergewe te word, dan is jy by die regte adres. God spesialiseer daarin om groot sondes te vergewe. Luister wat sê Hy in Jesaja 1:18: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (1933/53 Vertaling). En Jesaja 55:7: “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan … hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; … Hy vergewe altyd weer.” En lees gerus die hele Ps 103 om God se hart te beluister. Wat hier uitstaan, is dat God ons sondes van ons verwyder omdat Hy barmhartig en genadig is, lankmoedig en vol liefde. Hy weet maar te goed dat ons broos en stof is, daarom ontferm Hy Hom oor ons.

‘n Mens hoef dus nooit te voel dat jy te sleg is vir God nie. God se hart is oop en Hy ontvang jou net soos jy is. En van daar af begin Hy weer ‘n pad met jou loop om van jou ‘n nuwe mens te maak. Ja, God jou aanvaar net soos jy is, maar Hy los jou nie soos jy is nie. Hy wil van jou uiteindelik iemand maak wat Hom liefhet, van harte dien, en volgens sy wil lewe, uit  dankbaarheid vir die groot verlossing wat Hy jou deel gemaak het.

Waar begin ‘n mens weer die drade met God optel, ná ‘n lewe van sonde, soos ons vraagsteller bely? Jy begin waar jy berou het oor jou sonde, soos wat die verlore seun ervaar het toe hy daar in die ver land tussen die varke gesit en verlang het na sy vaderhuis (Lukas 15:18-20). Hy het opgestaan en teruggegaan en vir sy pa gesê: “Pa, ek het gesondig teen God en teen pa, en is nie meer werd om pa se seun te wees nie.” En wat gebeur toe? Die pa het hom innig jammer gekry (= was hom genadig), en het hom met ope arms verwelkom en weer as seun in sy huis herstel. So werk God se genade. God is nie haatdraend of verwytend nie. Hy gaan jou nie voor stok kry oor jy nou dat jy swaarkry jou ewe skielik tot God wil bekeer nie, maar toe dit goed gegaan het en jy die sonde “geniet” het, toe het jy jou rug op God gekeer. Al wat God raaksien, is ‘n opregte hart en opregte berou en ‘n opregte begeerte om Hom weer te dien. Daarom kon Jesus selfs vir die geharde misdadiger aan die kruis wat sy hele lewe weggesmyt het in misdaad, sê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Hierdie man het ter elfder ure tot inkeer gekom, maar God het hom nie verwyt en gesê dat dit nou te laat is nie. Vir God is dit nooit te laat om redding te gee nie.

Ons vraagsteller is verder bekommerd dat hy dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Hy hoef hom egter nie daaroor te bekommer nie. Die blote feit dat hy berou het oor sy sonde, wys al klaar dat hy nie die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. (Hierdie sonde word ook soms die “onvergeeflike sonde” [Matteus 12:31] of “sonde tot die dood” [1 Joh 5:16-17] genoem.) Hierdie sonde gebeur egter net wanneer iemand uit moedswilligheid die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matt 12:22-32) of wanneer iemand volhardend die Here verwerp en so die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:17; Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. En in elk geval, dis nie vir ons om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Want dis die gevolg van die sonde teen die Gees.) Dis nie vir ons om vas te stel nie. Net God, die hartekenner, weet dit. Ons as mense kan alleen maar die evangelie verkondig en waarsku teen totale afval. En dit is duidelik dat ons vraagsteller kennelik nie daar is waar hy nie meer omgee of hy vergewe word of nie, want hy het berou oor sy sonde en het die verlange om weer met God verenig te lewe.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die sonde teen die Heilige Gees gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God bespotlik maak (Hebreërs 6:6), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ‘n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. Maar, soos reeds gesê, ons as mense moet ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak. Net God kan daaroor oordeel.

Dit is duidelik dat ons vraagsteller die vergifnis van God begeer. Hy hoef dus nie te vrees dat hy die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Evangelie volgens Lukas: Die optrede van Johannes die Doper (Lukas 3:1-20) – Francois Malan

Lukas verkort Markus 1:2-8 se berig en brei die gedeelte uit met sy eie materiaal in Luk 3:13,10-14. Die gedeelte in Lukas 3:15-22 kom tot ’n mate ooreen met Matteus 3:1-14.

3:1 Plasing in die wêreldgeskiedenis.

Keiser Augustus sterf op 19 Augustus 14 n.C. Hy is in Luk 2:1 met die geboorte van Jesus genoem. Hy word opgevolg deur sy erfgenaam, die 52 jarige Tiberius wat nog minder luuks as Augustus geleef het. ’n Streng en bekwame regeerder wat die hele ryk ontwikkel het, maar deur baie Romeine gehaat is, en wat die Jode verplig het om militêre diens ook op hulle Sabbat te verrig.  Hy was nog aan bewind met die sterwe en opstanding van Jesus.

Herodes die Grote wat in Matteus 2 genoem word tydens die geboorte van Jesus, is deur Augustus as koning oor die hele Palestina aangestel. Herodes is in 4 v.C., ná die geboorte van Jesus, dood (Mat 2:19). Na Herodes se dood is sy ryk in vier dele verdeel. Sy seun  Argelaos word regeerder oor Judea en Samaria (vgl. Mat 2:22), maar word in 6 n.C. afgesit en met prokurators, wat die keiser verteenwoordig, vervang. Tydens Tiberius se vyftiende jaar was Pilatus die prokurator van Judea. Herodes se ander seun, Herodes Antipas, word regeerder (tetrarg – regeerder oor ’n kwart) oor die tweede kwart van sy pa se ryk, oor Galilea en Perea. Nog ’n ander seun van Herodes, Filippus, word tetrarg oor Iturea en Tragonitis in die noorde, waar Betsaida (Luk 9:18) Sesarea-Filippi geleë is (Mat 16:13; Mark 8:27). Lisanias was tetrarg van Abilene aan die Hermonberg.

Die 15e regeringsjaar van Tiberius is 28/29 n.C. Hy het kort tevore deels afgetree op die eiland Capri, en Sejanus as regent aangestel, vir wie hy in 31 n.C. afgedank het. Dit was die begin van die agteruitgang van die Romeinse ryk en die begin van die uitbreiding van die koninkryk van God met die dood en opstanding van Christus, die gesalfde Koning in ongeveer 33 n.C. ( vgl. Luk 4:18 vir sy salwing met die Heilige Gees; 11:20 vir die koms van die Koninkryk; Hand 1:3).

Vir Teofilus (Luk 1:3; Hand 1:) en vir al sy lesers, plaas Lukas die geskiedenis van die heil wat Christus vir die wêreld bring op ’n bepaalde tydstip in die wêreldgeskiedenis, binne die raamwerk van bepaalde politiese en hiërargiese magte. Paulus sê dit was toe die tyd daarvoor vervul is het God sy Seun uitgestuur (Galasiërs 4:4).

 

3:2 Plasing in die Joodse godsdienstige hiërargie.

In die tyd van die hoëpriester Anna en Kajafas – na die enkelvoud ‘hoëpriester’ volg twee name!  Annas (die bronteks lees Hannas) is in 6 n.C. deur die pokurator Quirinius as hoëpriester aangestel, en in 15 n.C. deur die prokurator Valerius Gratus ontslaan. Hy het egter die mag agter die bedryf van die tempel gebly (vgl. Joh 18:13 vir Jesus se verhoor voor Annas; daar was gesê dat die stalletjes op die tempelplein, wat Jesus omgegooi het, aan Annas behoort het, vgl. Mark 11:15). Sy seun Eleasar is toe deur die regering aangestel en in 18-36 n.C. Annas se skoonseun Kajafas. Omdat Annas ’n groot sê in sy skoonseun se priesterskap gehad het, word hulle hier onder een prieterskap genoem. Ook die godsdienstige lewe van die Jode was in chaos deurdat die Romeinse regering hoëprieters aangestel en afgedank het na mate hulle Rome goedgesind was of gekritiseer het, of weens korrupsie (die stalletjies op die tempelterrein met hulle opgeblaasde pryse, wat Jesus omgegooi het, Mark 11:15, is die stalletjies van Annas genoem).

In hierdie verwarrende tyd in die Romeinse regering en in die Joodse tempelbestuur het daar ’n woord van die Here tot Johannes gekom in die woestyn waar hy gebly het (1:80). Dit was ’n opdrag om met sy prediking te begin. Die inhoud daarvan is ook aan hom gegee (soos in Jer 1:2). Daarmee word Johannes met die profete-tradisie verbind  (vgl. ook Luk 7:26). Die Here praat deur Johannes. Dit is ’n boodskap van velossing wat vir die hele wêreld bedoel is.Daarom word dit in die konteks van die wêreldregering en van die Joodse godsdienstige heersers gestel. Verse 3:2-3, die verband met die wêreldgeskiedenis, kom slegs in Lukas voor).

3:3 Johannes beweeg op en af in die omgewing van die Jordaanvallei (Matteus 3:1,5 praat net van die omgewing van Jerigo. Mark 1:4: in die woestyn; Joh 1:28 verwys na ’n Betanië oorkant die Jordaan). Johannes kon die mense, wat op sy prediking gereageer het, in die Jordaanrivier doop. Hy het die Jodeopgeroep  tot bekering (metanoia verwys na ’n totale verandering van jou denke en gesindheid). Hulle bekering deur die Here word bevestig deur die doop as teken van die Here se vergifnis van hulle sonde, wat deur Christus se offer aan die kruis moontlik word.

Die Jode het proseliete gedoop as ’n afwassing van  an die Here hulle heidendom voordat hulle in die verbond met die Here opgeneem kon word en die besnydenis as die teken van die verbond kon ontvang. Maar hier word Jode wat besny is, en gereken het dat hulle deel is van die verbondsvolk, deur Johannes, soos die profete van ouds, opgeroep om hulle te bekeer van hulle sondige lewens tot opregte lewens in diens van ander (Luk 3:10-14), en hulle laat doop as teken en seël daarvan. Dit word gedoen ter voorbereiding vir die die koms van die koninkryk/koningheerskappy van God oor hulle lewens (Luk 3:16; 1:77).

3:4 Soos Markus 1:3, haal Lukas aan uit Jesaja 40:3-5. Jesaja kondig die verlossing aan wat die Here vir die Joods ballinge in Babel gaan bewerk. Die belofte word hier andermaal vervul met die aankondiging van die Christus se koms. Johannes is soos die stem wat in Jesaja 40:3 uitroep om ’n pad in die woestyn te berei. Johannes is ’n stem in die woestyn waar hy gewoon het (Luk 1:80), as beeld van die dorre lewe van Israel. As die Heilige Gees se stem maak hy met sy boeteprediking die pad gereed vir die Here se koms. Die paaie wat vir die Here gereedgemaak moet word, is om mense die ongekende pad te laat aanvaar, wat Christus kom loop om ons te verlos. Dit vereis ’n omkering van ons denke oor God en ons gesindheid teenoor ander mense; nie op jouself vertrou nie, maar op die Here en sy genadige verlossing.

3:5 Jesaja 40:4 sê klowe moet opgevul (plêroõ volgemaak) word, berge en heuwels moet plagemaak word (tapeinõ, verneder word), skronkelpaaie (skolios, ook beginselloos) moet reguit gemaak word, en rowwe plekke (tracheia) moet tot gelyk paaie gemaak word. Lukas haal dit aan as beeld van Johannes se werk. So koet hy die weg berei vir die Here en sy heerskappy wat aan kom is. Dit sluit aan by Maria se loflied wat die Here loof dat God, haar Verloser, die geringes kom verhoog (klowe opvul) , hoogmoedige magtiges van hulle trone afruk (berge platmaak, verneder). Bekering word vereis, om hulle hoogmoed en selftevredenheid te laat vaar, en die Here se pad te volg met nederige berou, belydenid en wag op die Here. Baie valse verwagtinge oor die Messias moet verander, dat Hy hulle bv. polities sal verlos uit die Romeinse onderdrukking en vir hulle ’n lewe van voorspoed bring. Die Jode het egter geen besef van hulle eie sondigheid en behoefte aan verlossing daarvan nie.

3:6 Die vers sluit aan by Jesaja 40:5 en verbind die verlossing, wat die ganse mensdom (letterilik: alles vlees) sal sien,  aan die Here se woord aan Jesaja: ‘alle vlees sal die heerlikheid van die Here sien.’ Die ganse mensheid sal die heilshandelnge van die Here sien. Simeon het gepraat van ‘U verlossing wat U ten aanskoue van al die volke berei het’ (2:31).Johannes moet al die voke voorberei vir die koms van die universele Verlosser. Hy kom om dié wat daarvoor voorberei is, te verlos, maar om sy teenstanders te oordeel (3:7-8). Vir Lukas is die woord in Jesaja ’n voorspelling van die wêreldsending van die kerk, wat hy in Handelinge verder uitwerk.




Die Evangelie volgens Lukas: Die twaalfjarige Jesus by die tempel (Lukas 2:41-52) – Francois Malan

Die storielyn van Lukas loop van die baba (brefos, 2:12,16) deur die Kindjie (paidion, ’n verkleinwoord, 2:27,40) tot die Kind (pais, 2:43); van die gebruik van die naam ‘God die Allerhoogste’ (hupsistos) deur die engel in 1:32,35, en in Sagara se loflied in 1:76 tot ‘Vader’ in die eerste woorde wat Jesus in hierdie Evangelie praat (2:49).

2:41 Soos die wet voorskryf, gaan Josef en Maria elke jaar vir die Paasfees na Jerusalem. Dit is die fees waar die gesin die Here se verlossing van Israel uit die slawehuis met die uittog uit Egipte herdenk (Eks. 12; vgl. Deutr 16:16 vir die drie jaarlikse feeste. Soms was dit moeilik vir mense wat ver bly om al drie die feeste by te woon).

2:42 Toe Jesus twaalf jaar oud was gaan Hy oudergewoonte saam, maar nou om ondersoek te word oor sy kennis van die wet van die Here. Tot op 12 jaar was ‘n Joodse pa verantwoordelik om sy seun touwys te maak in die wet van die Here. Maar voor hy 13 word, wat beskou is as die tyd van geslagsrypheid, word hy ’n bar-mitzvah (seun van die wet). Van nou af is hy self verantwoordelik vir sy lewe voor die Here volgens die Here se riglyne, en is hy lid van die sinagoge.

2:43 Na afloop van die weeklange fees (Eks 13:6), vertrek Jesus se ouers sonder Hom, en sonder om dit agter te kom. Die jonger kinders stap gewoonlik saam met hulle moeders en die ouer kinders saam met die vaders. Saans oornag een dorpie se groep gewoonlik op ’n voorafbepaalde plek. Die kinders loop ook in groepe saam. Die saamstap is ook ’n beveiliging teen aanvalle op pad. Josef en Maria het groot vertroue in hulle voorbeeldige Kind dat Hy sal wees waar Hy behoort te wees. Toe hulle egter tot ruste kom, vind hulle tot hulle konsternasie dat Jesus nie by die groep familie en vriende is nie.

2:45-46 Op die derde dag vandat hulle uit Jerusalem vertrek het (een dagreis ver, een terug, en een om Hom te soek en te vind) vind hulle Hom in die tempel tussen die leermeesters van die Woord. Hy is besig om te luister en vrae te vra. In die sale op die tempelterrein is die leermeesters met gesprekke besig om die wet en die toepassing daarvan te deurvors en onderrig daaroor te gee. Jesus is ’n leerder aan hulle voete (Hand 22:3 soos Paulus aan die voete van Gamaliël). Die lering het gewoonlik met vrae en antwoorde geskied om opvattings te toets, reg te stel en vas te lê, om so die leerder se gees op te skerp. Jesus se antwoorde en vrae toon ’n ywer om te leer.

2:47 Jesus se vrae bewys sy insig in die Woord. Saam met sy antwoorde op wedervrae, is al die hoorders daaroor uit die veld geslaan (eksistamai soos deur die donderweer) en uitermate verbaas. Jesus is tuis in die tradisies van sy volk en is nie teen die leermeesters nie. Dit kom eers later. Die toets of Hy ’n bar-mizvah kan word, word met verbasing oor sy kennis en rypheid geslaag.

2:48 In dié omstandighede kry sy ouers Hom en hulle is oorstelp van verbasing (eksplessomai). Maria spreek Hom aan as Kind (teknon); die woord word ook as troetelnaam gebruik: my liewe Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Jou pa en ek het vreeslik bekommerd (odunaomai) na jou gesoek. Die swaard het reeds begin om deur Maria se siel te gaan (Luk 2:35).

2:49 Jesus kom vir die eerste keer in Lukas aan die woord met twee retoriese vrae: Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet (deī) wees nie? Hy moet wees waar God teenwoordig is, in sy Huis en in sy Woord. Met sy eerste woorde in hierdie Evangelie noem Hy God sy Vader. So openbaar Hy Homself by implikasie as die Seun van God, soos die engel aan Maria gesê het (Luk 1:35), hoewel Maria na Josef verwys as ‘jou pa.’  Jesus moet Hom begin losmaak van Maria en Josef ter wille van sy taak op aarde. Hy moet besig wees met die dinge van sy Vader, sy kennis van sy Vader, die openbaring van sy Vader, en sy diens aan sy Vader. Dit is sy prioriteit waaraan sy intieme aardse verhoudings ondergeskik moet wees. Ook dit is deel van Maria se via dolorosa.

2:50 Sy ouers kon egter nie begryp wat sy unieke verhouding met sy hemelse Vader is nie, en dat die vyfde gebod, om vader en moeder te eer, ondergeskik is aan die eerste gebod om die Here jou God alleen te dien.

2:51 Jesus se band met sy Vader het egter nie die band met sy ouers verbreek nie, want ook die vyfde gebod kom van sy Vader af. ‘En Hy was gehoorsaam aan hulle.’ Nederig onderwerp Hy Hom aan hulle, maar sy toekomstige weg, wat Hom uit sy ouers se huis sal neem, begin deurskemer (vgl. Luk 4:16-30). Soos in 2:19 bewaar Maria al hierdie dinge gelowig in haar hart. Na Jesus se hemelvaart is sy deel van die dissipelgroep (Hand 1:14). Maria het nie verstaan nie, maar wel gelowig onthou.

2:52 Wat in 2:40 van die Kindjie gesê is, word in 2:52 uitgebrei oor die jongman Jesus (soos van Samuel in 1 Sam 2:26). Die jongman neem toe in wysheid en in liggaamlike gestalte, ook in guns by God en onder mense (vgl. Spr 3:3-4).  Soos 2:40 ’n opsomming is van Jesus se eerste 12 jaar, is hierdie vers ’n opsomming van sy ontwikkeling in sy ouerhuis vir die daaropvolgende 18 jaar, totdat Hy, omtrent 30 jaar oud, in die openbaar begin optree (Luk 3:23). Wat in dié tyd gebeur het, word nie uitgespel nie. Markus 6:3 vertel van sy vier broers en van sy susters, en dat Hy ’n skrynwerker was. Waarskynlik het Hy vir Josef gehelp en ná Josef se dood die rol van voorsiener van die gesin saam met sy broers oorgeneem. Volgens Mat 4:13 het Jesus, nadat Johannes die Doper in hegtenis geneem is, Nasaret verlaat en in Kapernaum gaan woon (vgl. by die huis, in Mark 2:1). Sy moeder en broers is saam daarheen (Joh 2:12), want in Markus 6:3 word slegs gesê dat sy susters nog in Nasaret woon.

Die Bybel sê Hy was sonder sonde (2 Kor 5:21; Hebr 4:15; 7:26; 1 Petr 1:19; 2:22). Vandaar sy toename in guns by God en onder mense. Hy sê self ‘Ek is sagmoedig en nederig van hart’ (Mat 11:29), wat reeds wys in sy gehoorsame onderwerping aan sy ouers (2:51).