1:39-40 Die wenk oor Elisabet se swangerskap word deur Maria opgevolg. Sy gaan kyk wat die Here aan haar bekendgemaak het (sooos die skaapwagters, 2:15). Sy vertrek uit Nasaret in Galilea na die dorp in die berge van Judea waar Elisabet woon, ’n reis van 4-5 dae, soos sy later saam met Josef na Betlehem in Judea sal reis (2:4), en Jesus die reis uit Galilea na Jerusalem toe sal onderneem om verwerp en doodgemaak te word en opgewek te word (9:22,31,44,51).
1:41 Met die groet van Maria begin die baba in Elisabet beweeg. Lukas noem dit ‘opspring van vreugde’ (skirtao, vgl 6:23; Ps 114:4,6). Elizabeth word met die Heilige Gees vervul soos die profete van die Ou Testament met die oog op haar lofprysing. Dit is ook ’n vervulling van 1:15,17 se belofte oor die kindjie Johannes, wat voor die Christus moet uitgaan en van Hom getuig. Hier doen hy dit reeds in die moederskoot.
1:42 Die harde uitroep wys na die profetiese aard van haar lofprysing (die ‘Benedicta’):
‘Geseënd is jy onder die vroue – en geseënd is die vrug van jou moederskoot’
Elisabet herken reeds Maria se nog onsigbare swangerskap. Saam met haar ongebore kind verheug Elisabet haar oor die grootheid van die Verlosser se koms.
1:43 Sy noem reeds die ongebore kind ‘my Here’ – die eerste verklaring in Lukas dat die Kind die Here is, en die erkenning dat Hy ‘my Here’ is. Elisabet buig voor Maria, die oue voor die jonge, wat die verhouding tussen die ou verbond en die nuwe verbond verbeeld; Hy is ook die Here waarop die ou verbond gewag het (vgl. 7:28; 16:16).
1:44 Die gebeure verloop soos volg: Maria groet Elisabet – die ongebore kind in Elisabet groet die ongebore kind in Maria met uitbundige blydskap – dit lei tot Elisabet se profetiese uitspraak oor Maria en haar kind (vgl. Johannes se uitspraak oor sy verhouding met Jesus in Joh 3:28-31).
1:45 Die grond vir Elisabet se seënende lofprysing van Maria is Maria se geloof. Sy het geglo dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. Haar geloof vertrou die waarheid en werksaamheid van God se woord. Daarom is sy, deur die Here, geseënd. Lukas beklemtoon telkens haar geloof as die grond van haar seëninge (vgl. 2:19,51; 8:15; 11:27-28). Die saligspreking van Elisabet oor Maria is so algemeen gestel dat dit vir enige persoon geld; ‘geseënd is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.’
Die lofsang van Maria (die Magnificat – ‘maak groot’ 1:46-56)
Die Latynse vertaling van die lofsang begin met die woord magnificat, vir die Griekse megalunei – ‘my siel maak groot/loof die Here. ‘Vandaar die naam vir hierdie lofsang. Liedboek nr 318 is Andries Breytenbach se omdigting van die lofsang van Maria (Luk 1:46-55). Liedboek 333 is Lourens Strydom se vertaling van die eerste vier Latynse verse (Lk 1:46-49). Maria se lofsang is vol Ou Testamentiese uitdrukkings wat deur die Jode gesing is, maar met ’n dieper betekenis en ’n hoër toepassing. Dit volg tot ’n mate die lofsang van Hanna toe sy Samuel by die tempel gaan afgee (1 Sam 2:1-10). Maar waar Hanna se lof haar triomf oor haar vyande besing, is Maria se nederige lof ’n gereserveerde toewyding aan die Here. Sy besing alleen die Here se wonderlike handelwyse met haar. Elisabet se lofprysing kom met ’n luide stem; Maria se lofsang adem ’n groter majestueuse kalmte. Geleerdes meen die lofsang is deur Lukas of iemand anders gedig en hier ingevoeg. Maar die hele lofsang gebruik woorde en sinne wat in die Ou Testament gebruik word, veral in die Psalms, wat Maria as kind kon saamgesing het.
1:46 Soos Miriam, ná die deurtog deur die Rietsee (Eks 15:21), antwoord Mariam (soos Lukas haar Hebreeuse naam weergee) op Elisabet se groet, en seën met haar loflied: psuche mou ‘my siel’ is my binneste – gedagtes, wil, gevoel, my hele wese, loof die Here.
1:47 Met ’n tipiese Joodse parallellisme word dieselfde gedagte in ander woorde uitgedruk en aangevul: ‘my gees jubel oor God my Verlosser…’ (soos in Hab 3:18 se twee sinne). Die gedagte van ’n verlosser hang saam met die naam Jesus wat sy vir die kind moet gee (Lk 1:31). Jesus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse Jehosjua, ‘die Here verlos,’ na Josua wat Israel die beloofde land ingelei het. Dat God ‘my Verlosser’ is, wys haar bewustheid dat God haar kom verlos uit haar nederige staat tot ’n geseënde deur God. Die term ‘verlosser’ word ook in Luk 2:11 deur die engelesang gebruik; in Hand 5:31 deur die apostels voor die Sanhedrin; en in Hand 13:23 deur Paulus in Antiogië se sinagoge. Matteus en Markus het nie die term nie; Joh 4:4:42 wel). Verlosser kom 12x in Paulus se briewe voor, en 6x in die algemene briewe. Die term ‘verlossing’ word in bogenoemde boeke genoem in die sin van verlossing van sonde.
1:48 Die nederigheid van Maria verwys na haar status as slavin van die Here (1:38), dat die Here so ’n onbeduidende ou meisietjie raakgesien en uitgekies het as die moeder van die Seun van die Allerhoogste (1:32); die onverstaanbare en ondenkbare dat die Here spesiale aandag skenk aan en bemoeienis maak met die nederige posisie van sy slavin, sodat alle geslagte van mense van nou af haar die geseënde van die Here sal noem. Omdat haar kind vir ewig oor die nageslagte sal regeer (1:33) is vir haar ’n verwondering. Dit gebeur al in 11:27.
1:49 Die groot dinge wat die Here vir haar gedoen het is ’n naklank van die pelgrims se vreugdesang op pad na die paasfees van Galilea af na Jerusalem, tydens die fees, en op pad terug (Ps 126:2-3; vgl. Deutr 10:21). Met dié psalmwoorde beskryf sy die groot dinge wat die Almagtige vir haar gedoen het om haar as sy slavin vir die geboorte van die Seun van die Allerhoogste te kies.
‘ja, heilig is sy Naam’ – in die antieke tyd het die Naam vir die hele persoon en sy reputasie gestaan. Heilig verwys na sy goddelike eienskappe, maar het ook die gedagte van toewyding. Benewens sy godheid is die Here ook toegewy aan hierdie nederige maagd en haar kind.
1:50 Ps 111:5, die inleiding tot die bundel Halleluja-psalms (112-118), besing die Here as genadig en barmhartig. Hieruit besing Maria die Here se ontferming van geslag tot geslag tot by haar en verder, vir dié wat vir die Here ontsag het (vgl Ps 103:13,17). Ps 111 praat ook van: die Here loof, die opregtes (v 1), die Here se wonders (v4), verlossing, heilig is sy Naam (v9). Dit is die bronne vir Maria se loflied, wat sy van kindsbeen af sing.
1:51-53 Die kragtige dade van die Here keer die magsverhoudings om, dit tref die hoogmoediges en help die geringes (v51-52) en keer die besittingsvermoë van hongeriges en rykes om (v53; vgl. Ps 107:9; Job 12:19). Ook op dié wyse is Hy Verlosser, wat mense uit die greep van hulle magshonger en sug na rykdom verlos, en geringes en hongeriges uit hulle ellende, om op Hom te vertrou soos Maria. Die insigte kom reeds in Hanna se lofsang voor (1 Sam 2:7-10; vgl. Job 5:11-12). Jesus sit dié soort verlossingswerk voort (Luk 4:18-19; 6:20-26). Dit het reeds gebeur met die keuse van die onvrugbare veragte Elisabet vir die voorloper en die nederige arm Maria as God se uitverkorenes. Maar dit beteken ’n algehele ommekeer van die gewoon menslike maatstawwe vir grootheid en prestasie. Hoogmoediges wat nie met die Here rekening hou nie, en verdrukkers van mense, word deur die Here omvergewerp (vgl. Jer 13:15-17; Deutr 8:14); maar diegene wat hulleself verneder voor die Here en op Hom vertrou, word verhoog tot groot dinge (1:49). Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jes 40:31).
1:54 Ps 98 sing van Israel se terugkeer uit die ballingskap as die wonders wat die Here gedoen het deurdat Hy sy troue liefde en getrouheid teenoor die huis van Israel onthou het. So sing Maria hier dat die Here sy dienskneg/seun Israel gehelp het om deur haar sy Seun as Verlosser te stuur om die verhoudinge in die samelewing te kom regmaak. Dit het Hy gedoen ter herinnering aan sy barmhartigheid – ’n Semitisme vir sy barmhartigheid as die grond vir sy bystand aan Israel (vgl, Ps 98:3; Miga 7:20).
1:55 Die Here het sy seën vir ewig beloof aan Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag. Die Here se belofte aan Abraham het ook die Here se seën vir al die volke van die aarde ingesluit (Gen 12:3; 18:18; 22:18; 26:24; 28:14; Ps 105:7-11). Met die skakel na Abraham word die Nuwe Verbond gesien as die vervulling van die Ou Verbond van die Here met Israel en Abraham. Maria sing oor die koms van haar Kindjie wat die Here se ewige beloftes van ontferming aan Abraham en sy nageslag kom vervul.
1:56 Maria keer na drie maande na haar huis terug, dit wil sê na haar ouerhuis. Sy is nog nie in Josef se huis opgeneem nie. Sy beleef waarskynlik nog die geboorte van Johannes voor haar vertrek.
Die volgorde in Lukas se samestelling van die gebeure is: die aankondiging aan Sagaria (1:5-24), die aankondiging aan Maria (1:26-38), en omgekeerd: Maria se lofsang (1:46-56), Sagaria se lofsang (67-79). Daarmee getuig Lukas oor die geloof van Maria nadat Elisabeth haar as geseënd geprys het, die teken wat die Here aan haar ongevraagd gegee het. Sy vertrou dat die woorde van die Here sal doen wat dit sê. Die groot dinge wat aan haar gedoen is en wat die Here aan sy volk gaan doen, kom uit sy barmhartigheid en sy krag (1:49,51,54). Op Hom vertrou sy onvoorwaardelik.