Die Evangelie volgens Lukas: Aankondiging van Johannes die Doper se geboorte (Luk 1:5-17) – Francois Malan

1:5 Lukas lê eers die verband tussen Johannes se geboorte en die wêreldgeskiedenis, met Herodes (die Grote, van 37-04 v.C.) koning van Judea as verteenwoordiger van die hele Palestina. Herodes het die titel ‘koning’  van die Romeinse keiser ontvang. Die Romeinse owerheid het Jesus aan die kruis  ‘die koning van die Jode’ genoem (Lk 23:38, so in alvier die Evangelies).

In dié gedeelte gaan dit oor die priesterlike afkoms van Johannes die Doper as verteenwoordiger van die hele Ou Testament en oor die tempeldiens, om die verband tussen God se ou verbond met Abraham en Israel en die nuwe verbond met Jesus en sy kerk te lê. Dawid het aan die einde van sy lewe die priesters in 24 afdelings ingedeel vir diens in die tempel  (1 Kron 24:1-6). Die agtste afdeling, waaruit Sagaria kom, was van Abia, uit die geslag van Eleasar, seun van Aäron. Elke afdeling het twee maal per jaar vir ’n week die diens in die tempel kom waarneem. Die afkoms van Johannes se moeder word aangedui as direk uit die geslag van Aäron wat by Sinai as priester aangestel is, 250 jaar voor Dawid se indeling.

Die naam Sagaria beteken ‘die Here onthou’ en Elizabeth ‘my God is ’n eed’ wat beteken ‘my God is die absolute getroue.’  Hulle name verteenwoordg die getrouheid van die Here (aan Jahweh ‘die Ek is’) die God van die Ou Testament wat sy beloftes onthou (vgl. sy verbondsbelofte aan Abraham in Gen 12:1-3, 1600 jaar voor Christus).

1:6 Die ouers van Johannes ontvang hier die hoogste lof volgens die priesterlike kode en van die vroomheidsideaal van hulle tydgenote: in die oë van God (volgens sy beoordeling) is hulle albei regverdig (dikaioi  – reg volgens wat God vereis, soos Noag, Gen 7:1; en Abraham Gen 26:5; vgl. Mal 3:16) en is hulle onberispelik (volgens die mense se oordeel; vgl. ook Jesus, 2:52), leef hulle volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here. Dit beteken nie dat hulle sonder sonde was nie, maar dat hulle God getrou gedien het, anders as die algemene gees van hulle tyd.

1:7 Die algemene verwagting was dat God ’n getroue dienskneg sal seën met kinders (Ps 127 & 128), en dit maak die twee ou mense se kinderlose toestand vir hulle ’n onverstaanbare tragedie. Vir die egte Jood was elke seun wat gebore word ’n stap nader aan die koms van die Messias. Priesters het nooit afgetree nie, en kon baie oud word in die priesterdiens. Hulle ouderdom (letterlik: hulle albei was reeds gevorderdes in hulle dae – ’n Aramese uitdrukking in Grieks weergegee) het verder gemaak dat hulle nie meer gehoop of verwag het dat ’n kind vir die onvrugbare Elizabeth gebore sou word nie. Dit het hulle nie laat afwyk van hulle toegewydheid aan die Here nie. Die Here se pad met onvrugbare Sara (Gen 17:17; 18:13-14); Simson se ouers (Rigt 13:2-3); Samuel se moeder (1 Sam 1:2), het teen die algemene verwagting en geloof ingegaan. God is die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur (vgl. 1:36; Ef 1:11).

1:8-9 Daar was ‘n paar duisend priesters en toe die beurt van die Abia-groep aanbreek was daar ook baie van hulle vir die een van hulle twee weke per jaar diens by die tempel. Die lot het op Sagaria geval om die dag se môre- en aand- reukoffer op die goue altaar in die heilige van die tempel te bring, nadat ’n ander priester kole en as vanaf die brandoffer op die groot altaar wat buite die heilige gestaan het, op die goue altaar gegooi het (Eks 30:7-8). So ’n voorreg het maar eenmaal in sy lewe ’n priester te beurt geval en baie het nooit so ’n geleentheid gekry nie.

1:10 Die reukoffer-altaar staan tussen die tafel met die toonbrode en die 7 lampe. Die wierook wat opstyg in die tempel is die simbool van die hele gemeente wat buite in die voorhof van die volk by die offer op die groot altaar, besig is om te bid: ‘Barmhartige God kom in die heiligdom en neem met welgevalle die offer van U volk aan.’ Die groot menigte bidders veronderstel dat dit by die aandoffer was (Dan 9:21; wat reeds teen 3nm begin het). Hulle wag op die priester se terugkeer en seën nadat hy die brandoffer van versoening vir hulle sondes met die geur van die wierook aan die Here aangebied het. Die reukoffer is ’n teken van die selfoorgawe van die bidders aan die Here (Ps 141:2).

1:11-12 ’n Engel van die Here (Gabriël, volgens 1:19) verskyn aan die regterkant van die altaar (die ereplek vir ‘n regter; vgl Hand 7:55) aan die kant van die tafel met die 12 toonbrode – letterlik: brode van die aangesig –  met ’n bakkie wierook op elkeen van die ringbrode as dankoffer aan die Here wat aan elke stam sy daaglikse brood gee. Die priesters eet die brood op ’n heilige plek (Lev 24:5-9). Sagaria is nog alleen in die stilte van die heiligdom toe skrik hy, ontsteld oor die skielike verskyning van die engel, en vrees oorval hom, want die sondige sterflike mens verwag die Here as sy Regter.

1:13 Hy word dadelik deur die engel gerusgestel: Moenie bang wees nie Sagaria. Hy kom as ’n vreugdeboodskapper, onverwags en onverdiend. ‘want jou gebed is verhoor’ – op daardie oomblik was Sagaria besig om te bid vir sy volk se verlossing, en dié gebed word verhoor, en ook hulle jarelange gebede om ’n kind. Hulle kinderloosheid word nou onthul as die Here se uitverkiesing van hulle twee as ouers van die voorloper van die Messias, die versugting van elke egte Jood.

Jou vrou Elizabeth sal in haar ouderdom ‘n kind in die lewe bring – ’n wonderwerk want sy is by die jare van kinders kry verby.  Maar met die herhaling van die wonderwerk aan Abraham en Sara, kondig die Here die vervulling aan van sy belofte aan Abraham in Gen 12:2-3. En jy moet hom Johannes noem (deur Jahweh begenadig/Die Here is genadig/genadegawe van die Here). Deurdat die Here die naam vir die kind gee, neem die Here die verantwoordelikheid vir hierdie kind op ’n besondere wyse op Hom, en die kind kry ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor die Here. Hy is die voorloper (1:76) van die Een wat die genadejaar van die Here gaan inlei en aankondig (Luk 4:19).

1:14 Vir Sagaria en Elisabet sal die kind ’n bron van vreugde (chara) en intense blydskap (agalliasis)) wees, en baie mense sal bly wees (chairo ’n toestand van vreugde en welwese) oor die geboorte van ‘Die Here is genadig,’ want hy gaan die koms van die Verlosser (soter 1:47; 2:11) voorberei. Lukas is ook die Evangelie van vreugde wat hier met drie Griekse woorde beklemtoon word. Johannes moet as wegbereider van heil beskou word en nie as boodskapper van oordeel nie (1:76-79).

1:15  Die taak wat die Here vir die beloofde kind het, word in 1:15-17 uitgespel. Eers hoe hy sal wees: groot in die oë van die Here (vgl. 7:28), die grootste van alle profete wat tot dusvêr in die Naam van die Here opgetree het. So word die heilstyd vir Israel met woord en daad ingelei.

Soos ’n Nasireër (Num 6:2-3) sal hy geen wyn of bier drink nie (sikera word gebruik vir alle dwelmdranke wat van graan gemaak is. In die Bybelse tyd was dit bier – whisky, gin, vodka was toe nog nie bekend nie).

Anders as ’n Nasireër, word nie gesê hy mag nie sy hare of sy baard skeer nie (Num 6:5; Rigt 13:5). In plaas daarvan word gesê: hy sal met die Heilige Gees vervul word reeds van sy moeder se swangerskap af. Van voor sy geboorte tot met sy dood sal hy aan die Here gewy wees en in diens van die Here wees.

1:16 Hy word soos ’n hoëpriester die man wat mense, baie van die kinders van Israel, met God sal laat versoen word, deur hulle terug te lei na die Here as hulle God. Hy is die wegbereider van God en van God se heerskappy. Johannes en Jesus  is volledig in die Ou Testament en die Ou Verbond gewortel, en die oorgang van Jodendom na Christendom is vir Lukas sonder die nodigheid van ’n brug. Johannes berei die koms van God voor, wat met Jesus vervul word. Terwyl Johannes die prediker is oor die verwagte Christus/Messias/Gesalfde, is Jesus die Joodse verwagte Messias gesalf as koning, priester en profeet, wat die Here se verbond met Abraham kom vervul. Johannes kom herstel die vrede tussen die Here se volk en hulle Here, deur bekering uit hulle ongehoorsaamheid te verkondig. Baie van die kinders van Israel sal na die Here hulle God terugkeer deur sy prediking. Daarvoor is Johannes toegerus met die Heilige Gees.

1:17 Lukas maak seker Johannes die Doper word nie gesien as ’n reïnkarnasie van Elia nie. Daarom sê hy Johannes sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan; anders as in Markus 9:15 en Mat 11:10. Lukas wys op Johannes se optrede wat soos Elia s’n is. Lukas is die enigste van die drie Evangelies wat Mal 4:6 aanhaal.

In Lukas 1:17 stel die engel Johannes voor as Jesus se voorloper, wat die wêreld vir Jesus se bediening voorberei. Soos aan Elia sal vir Johannes die regte woord gegee word om te praat, en die krag van die Heilige Gees stel hom in staat om die bediening waartoe hy geroep is, te volbring.




Die Evangelie volgens Lukas: Voorwoord van Lukas (1:1-4) – Francois Malan

In klassieke Griekse styl begin Lukas sy verhaal (diégesis verhaal, berig, verslag) deur sy werk op te dra aan iemand, en deur te verwys na sy navorsing en bronne, om geloofwaardigheid daaraan te verleen. Dié inleiding geld ook vir die boek  Handelinge. Die twee boeke moet as ’n eenheid gesien word, vgl. Hand 1:1-2 oor wat Jesus begin doen het, en Hand 1:8 julle sal my getuies wees, deur wie Jesus sy werk voortsit, nadat Hy hulle toegerus het met die krag van die Heilige Gees wat op hulle kom.

Lukas plaas sy Evangelie in die wyer wêreldsituasie: 1:5 verwys na die tyd van Herodes as koning van Judea; 2:1-2 na die volkstelling, toe Sirenius prokurator van Sirië was; 3:1 tydens keiser Augustus se opdrag van die sensus.

1:1 Die verhale wat ‘baie mense’  begin saamstel het, gaan oor ‘die gebeurtenisse (pragmata) wat onder ons volbring is’ – die passiewe vorm van die werkwoord dui aan dat dit God is wat die gebeure volbring het, en die perfektum vorm daarvan dat die gevolge daarvan nou voortduur en voortwerk (pepleroforemenon). Daaroor het Lukas se voorgangers berigte in verhaalvorm saamgestel. Die samestelling van die gebeure kon mondelings geskied en dele daarvan kon ook skriftelik neergeskryf wees.

Lukas het blykbaar o.a. van die volgende bronne gebruik gemaak:

Die Evangelie van Markus is blykbaar deur Matteus en Lukas as bron gebruik. Dit word die M-bron genoem. Let op in Lukas, waar daar na Matteus en Markus verwys word (bv. by Luk 4:1-13, waar verwys word na Mat 4:1-11 en Mark 1:12-13).

Daar is ook gedeeltes in Lukas wat nie in Markus voorkom nie, maar wel in Matteus (bv. by Lukas 6:20-42). Dit lyk of Matteus en Lukas albei nog ’n ander bron as Markus gebruik het (dit word Q genoem volgens die Duitse woord vir bron, nl Quelle).

Daar is ook dele in Lukas wat nie in Markus of Matteus voorkom nie, wat Lukas by ander mense gekry het, wat dit vir hom vertel het (bv. van die apostels, moontlik Maria die moeder van Jesus self of iemand wat haar goed geken het oor bv. Gabriêl se aankondiging aan haar, Luk 1:26-38), dit word dan die L-bron genoem.

Die M-bron het Markus in Rome geskryf op versoek van die gemeente om Petrus se vertellings aan hulle oor Jesus se bediening, neer te skryf. Die Q-bron is waarskynlik in Antiogië saamgestel uit woorde van Jesus. Die L-bron se gegewens het Lukas waarskynlik tydens Paulus se twee jaar gevangenisskap in Sesarea versamel, vgl. vir ‘ons’ by die verblyf by die evangelis Filippus op pad na Jerusalem, in Hand 21:8, die onderhoud met Jakobus in Jerusalem (Hand 21:18) en ‘ons’ vertrek na Rome, ná Paulus se twee jaar in gevangenis in Sesarea (Hand 27:1).

Die dele wat slegs in Matteus en Lukas voorkom (Q-bron beslaan 250 verse in elkeen van die twee) is, wat woordgebruik betref, nader aan mekaar as dié tussen Lukas en Markus (Luk kom in 350 verse tot ’n mate ooreen met Markus; Markus word in 600 verse van Matteus as bron gebruik). Dit lyk of Lukas eers Q en sy eie bronne gebruik het en later Markus daarby ingewerk het. Lukas het ook, in die dele wat hy van Markus ingewerk het, Markus se Grieks verbeter en die gedeeltes verkort.

1:2 ‘…soos dié mense wat van die begin af ooggetuies was en dienaars van die Woord geword het, dit aan hulle opgedra het…’ – die ooggetuies is vertroubaar as hulle dienaars van die Woord word; en as hulle die Woord vertroubaar oordra is hulle ook vertroubare ooggetuies. Die twee hang wederkerig saam. Sommige mense het Jesus gesien, maar nie sy dienaars geword nie; ‘… van die begin af…’ verwys na die geskiedenis vanaf Jesus se voorloper wat sy koms aangekondig het, naamlik Johannes die Doper.

In Hand 20: 29-31 waarsku Paulus die ouderlinge van Efese dat wrede wolwe die kudde sal binnedring en manne uit hulle geledere sal verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. Daarom wys Lukas-Handelinge die vertroubare pad aan waarop hulle moet volhard, deur die genade van God, wat die mag het om hulle op te bou.

1:3  Die boek word aan Teofilus opgedra(sy naam kan beteken: vriend van God, of geliefde van God). Die aanspreekvorm Eksellensie (kratiste) beskryf hom as ’n vername persoon met ’n rang (soos bv. goewerneurs Felix, Hand 23:26; 24:3 en Festus 26:25 aangespreek word). Teofilus is waarskynlik ’n hoë Romeinse staatsamptenaar. Volgens pseudo-Clemens is hy ’n burger van Antiogië (soos Lukas blykbaar ook ’n Antiogiër was). Van ’n persoon aan wie ’n werk opgedra word, word verwag om te sorg vir die verspreiding van die opdragwerk deur afskrywers daarvoor te huur.

Lukas het dit goedgedink om, nadat hy self elke ding van die begin af ondersoek het (parakoloutheo), vir Teofilus ’n noukeurige verslag daarvan in volgorde (kathekses; een vir een/ordelik) as ’n aaneengeskakelde geheel neer te skryf, nie noodwendig in streng kronologiese orde nie, maar  as ’n logiese en kunsvolle geheel. Daarmee bied Lukas homself aan as ’n vertroubare geskiedkundige.

1:4 ‘…sodat u verseker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie ‘woord’ (logos woord, gebeure) ontvang het, betroubaar is.’  Lukas wil Teofilus en alle lesers van die vertroubaarheid van die boodskap oor Jesus en sy woorde en dade, verseker. Hy is ’n geskiedskrywer van God se woord. Dit blyk dat Teofilus nie onkundig is oor Jesus nie, en dat hierdie boek bedoel is om dit wat hy reeds gehoor het, te bevestig. Dit is moontlik dat verdraaiing van die evangelie reeds begin kop uitsteek het, en dat hierdie tweeledige boek (Lukas-Handelinge) die boodskap oor Jesus se woorde en dade aan gelowiges en ongelowiges wil bevestig en weer nuut onder hulle oë en in hulle harte bring. Wat die mense van dié tyd van Jesus geweet het, was hoofsaaklik van hoorsê. Daar was nog nie ’n volle beskrywing van Jesus se woorde en dade opgeteken nie. Markus se Evangelie het toe pas in die gemeente Rome begin sirkuleer met kopieë wat met die hand oorgeskryf is. Daar was ’n behoefte om die los berigte en boodskappe op ’n sistematiese wyse beskikbaar te kry vir die wyer kerkgemeenskappe.

Die inleiding wil bevestig dat die Christusgebeure waar is en wel geskied het. Jesus is nie deel van ’n mite nie, maar van werklike gebeure, wat deur geskiedkundige navorsing nagegaan word. Lukas gebruik ’n taal wat vir almal duidelik en verstaanbaar is, en kontak met die mense buite die geloofsgemeenskap kan bereik deur na die menslike kant van die evangelieboodskap te verwys. Die dinge (pragmata) wat onder ons plaasgevind het, is ’n algemene en wye opmerking wat die sekulêre karakter van die gebeurtenisse beklemtoon sonder om Jesus se naam pertinent te noem. Maar die lang klankryke woord peplêroforêmenon onderstreep die belangrikheid van die gebeure en die passiewe vorm suggereer dat dit deur God voltooi is en voortwerk sonder om God te noem. Die apostels en die evangelie word nie uitgespel nie, maar daar word net van ooggetuies gepraat wat bedienaars van die woord is. Die ‘baie’ wat al daaroor gepraat en geskryf het wys na die geweldige belang van die dinge wat deur God voltooi is.

In dié proloog wys Lukas op die feitelikheid van die ‘dinge’ wat onder ons vervul is, en in die res van die Evangelie uitgespel word. Dat dit dinge is wat God gedoen het, kan nie as ’n feit bewys word nie. Daardie deel van Jesus se verhaal  kan alleen deur geloof raakgesien word. Die geloof kan wel deur die menslike kant van die storie bevestig word. Dit alles bly die taak van die kerk deur die eeue en vir vandag met sy veranderde verstaan van die wêreld.




Die Evangelie volgens Lukas: Inleiding – Francois Malan

Die skrywer

Lukas se naam is waarskynlik reeds in die eerste helfte van die tweede eeu skriftelik aan hierdie Evangelie verbind. Die oudste getuienis daarvan kom van Ireneus, biskop van Lyon in 178-180 n.C. in sy Weerlegging van die Dwalings (Contra Haereses) dat Lukas, die metgesel van Paulus, die evangelie wat Paulus verkondig het, neergeskryf het. Die Kanon van Muratori uit dieselfde tyd sê:  ‘Die derde Evangelieboek volgens Lukas. Hierdie dokter Lukas het dit ná die hemelvaart van Christus onder sy naam geskryf volgens die algemene opinie, omdat hy Paulus se weg aanvaar het. Maar hy het ook nie die Here na die liggaam gesien nie’.

Lukas word drie keer in die Nuwe Testament genoem: Kol 4:14, Lukas die geliefde dokter, wat groete stuur vir die Kolossense; Filem 24; 2 Tim 4:11: ‘Net Lukas is nog by my.’ In Handelinge, Lukas se tweede werk, dui die ‘ons’ gedeeltes, 16:10-17; 20:5-15; 21:1-18; 27:1-28, op Lukas as metgesel van Paulus op dié dele van die reise wat daarin genoem word (Lukas se Evangelie en Handelinge is saam meer omvattend en langer as elkeen van die ander NT skrywers se totale werke (meer bladsye as al Paulus se briewe saam, ook meer as al die Johannese geskrifte saam).

Die anti-Marsionitiese proloog tot die Derde Evangelie (160-180 n.C.) sê dat Lukas van Antiogië in Siriē afkomstig is. Hy was nie ’n Jood nie (hy is die enigste nie-Joodse skrywer in die Nuwe Testament) en sy goeie Grieks suggereer ’n Griekse afkoms. Daar is heelwat Semitiese elemente in sy taal waar die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament, die Septuaginta, aangehaal word, wat aandui dat hy, meer as die ander Evangelies die Septuaginta aanhaal om die besondere band met die Ou Testament te bewaar.

 

Tyd van ontstaan

Omdat Lukas waarskynlik vir Markus gebruik as een van sy bronne, is ’n datum ná Markus, wat moontlik in die vroeë sestiger jare n.C. geskryf is, waarskynlik. Die tempel was toe waarskynlik nog nie deur die Romeine in 70 n.C. verwoes nie. Die groot vuur in Rome was in 64 n.C. Nero het die skuld daarvoor op die Christene gelê en hulle kwaai begin vervolg. Lukas is waarskynlik voor 64 n.C. geskryf. Handelinge 28:30-31 sluit af met Paulus na twee jaar onder bewaking in sy gehuurde huis in Rome as ’n vergunning (Hand 28:16; 30). Paulus was volgens Handelinge  24:27 vir twee jaar gevangene in Sesarea (Junie 56 – September 58 n.C.) en twee jaar in Rome (Maart 59-61 n.C.). Lukas kon moontlik gedurende Paulus  se gevangenisskap in Sesarea sy stof versamel en opgeteken het en gedurende die twee jaar in Rome die Evangelie en Handelinge geskryf het.

 

Indeling van die boek

  •  1:1-4 Inleiding (proloog of voorwoord)
  •  1:5-2:52 Geboorteverhale van Johannes die Doper en van Jesus.
  •  3:1-4:13 Voorbereiding vir Jesus se openbare bediening
  •  4:14-9:50 Jesus se bediening in Galilea
  •  9:51-19:27 Op pad na Jerusalem
  • 19:28-23:25 Jesus se bediening in Jerusalem
  • 23:26-49 Die kruisiging van Jesus
  • 23:50-24:53 Begrafnis, Opstanding, Hemelvaart.

Tradisioneel word die volgende simbole aan die vier Evangelies gegee:

  • Markus die Mens omdat hy die mens Jesus realisties uitbeeld
  • Matteus die Leeu wat Jesus uit die stam van Dawid skets;
  • Johannes die Arend wat die verste sien en hoogste vlieg;
  • Lukas die Kalf, met Jesus as die offerkalf wat geslag word vir die sonde van alle nasies.

Lukas beklemtoon Jesus as die Verlosser, wat verlossing vir alle nasies bewerk, ook vir gevallenes en mense wat uitgeskuif is, soos tollenaars en sondaars. Hy beklemtoon dissipelskap, gebed, met 9 gebede van Jesus teenoor 2 in die ander Evangelies; die werk van die Heilige Gees; die armes in teenstelling met die rykes, vreugde en lofprysing, die wil en plan van God, vroue en kinders.




Vrees vir die Here as bron van wysheid? – Kobus Kok

As mens so na die jong vrou op die foto kyk kan mens jouself vra wat sy eendag sou word? Sommiges antwoord dan dat sy ‘n sangeres sou word. Ander antwoord dat sy ‘n moeder sou word en sien haar met haar vier kindertjies vir wie sy kos in die borde aan die tafel skep. Meeste mense is verras as mens vertel dat hierdie jong dame later bekend sou staan as ‘n moeder van ‘n ander aard – Moeder Teresa. In die skatkamers van haar gebedshart sien mens hoe God haar ‘n hart gegee het vir ander mense. Ons ken haar immers as die ou vrou in die vuil strate van Calcutta.

Wat presies bedoel die Bybel met die woorde in Psalm 111:10 en op ander plekke dat vrees vir die Here die begin van wysheid is? Wel, dit is die wegspringplek en eindstreep van die geestelike lewensresies, die bron van ware wysheid.

So paar jaar gelede moes ek besluit of ek regte en bedryfsielkunde sou studeer of teologie. Ek was by ’n kruispad in my lewe. Daardie dag (1997) preek Prof Jan van der Watt in my vader se gemeente in Mondeor in Johannesburg. Hy preek die dag oor hoe ou Job alles verloor en hoe God in Job se verhaal met diepe wysheid na die mens kom. Uiteindelik gaan jou lewe nie oor jou nie, maar oor God. Dit gaan oor die ontdekking van God se wysheid en God se plan vir jou lewe. Rondom dieselfde tyd gee my pa vir my die boek van Bob Buford oor “Success to Significance”. Dit is ‘n uitstekende boek wat gaan oor die wysheid wat suksesvolle mense ontdek het wat in die tweede helfde van hulle lewe van sukses na betekenisvolheid beweeg het en ‘n verskil in die wêreld gaan maak het. In die eerste helfde van die lewe het hulle die resies van die lewe met vlieënde vaandels gewen, en nou gee hulle weer terug. Net daar het ek besluit om dit nie op 55 of 60 te begin doen nie, maar op 19. In vele opsigte het ek op ’n jong ouderdom dus hierdie vrae begin vra. Wat is die verskil tussen sukses en betekenisvolheid? Uiteindelik sou ek toe besluit om teologie te gaan studeer in 1998 omdat teologie vir my op daardie stadium die veld was waar jy jou ten volle kon wy aan God en dit nie oor jou gaan nie, maar oor God. Tien jaar later maak ek my doktorsgraad klaar en word ek aangestel as die opvolger van Jan van der Watt by die Universiteit van Pretoria. Hoe ironies dat God so werk? God het wysheid gehad wat ons daardie tyd nie kon sien of eers van droom nie.

Intussen het God ons gesin op verskeie reise geneem. Ons het, soos baie ander mense, die sukses en krisistye van die lewe op verskillende vlakke beleef. So het ons as gesin na sewe jaar in die bediening en sewe jaar in die akademie die roeping aanvaar om alles in ons Vaderland (familie, my vrou se besigheid, etc) op te gee en na België te verhuis vir ’n onseker toekoms in ’n fakulteit wat skaars kop bo water hou. Ons weet letterlik nie of ons oor ’n jaar of twee nog hier sal kan wees nie. Ons is in liminaliteit en op God se klok, terwyl ons harte soms (amper elke tweede dag) draaie na die Suide maak as ons die son en ons mense mis. Nou die dag wou ons kleinste seuntjie Heinrich (4 jaar oud) nie skool toe gaan nie. Onder sy krokodiltrane heen vra ons hom waarom hy nie wil gaan nie. “Vandaag is opa en oma dag, en ik heb geen opa of oma…,” sê hy in sy Afri-Flaamse aksent. Hy voel skaam en alleen, anders as die res van sy maatjies, want hy is ‘n oupa en ouma-weeskind. En al sy maatjies weet dit ook – want toe hulle in die vorige week geskenkies vir oupa en ouma moes maak het almal alreeds verneem dat sy oupa en ouma nie gaan kom nie omdat hulle vêr in Afrika woon. By die skool gekom sê een van die juffrouens vir my vrou: “Geen ouders mogen het concert bijwonen, alleen opa en oma’s”. Soos enige ander ouer huil my hart saam as my kind se hart pyn – veral as my keuses sý lewe raak.

Maar in die proses van ons oorgee aan God en wat ons glo Sy plan is met ons, het Hy deure oopgemaak wat ons nooit in ons wildste drome kon indink nie en kan ons jongmense oplei wat Europa se Christelike wortels gaan vernuwe. Ek word voorgestel aan ministers van buitelandse sake en dien as persoonlike raadgewer vir ‘n ander minister. Terselfdertyd is daar vir ons ’n reuse verlies in ons wegbeweeg van familie, in ons onsekerheid oor ons finansiële toekoms, ensomeer. Kort nadat ons na België gekom het is my vrou se vader onverwags oorlede kort voordat hy vir ons sou kom kuier. Min het ons geweet dat toe ons op die vliegtuig klim dit die laaste keer sou wees wat ons hom sou sien. Kort daarna is ons oudste seun met autisme gediagnoseer, maar ontdek ons die wonder dat hy hier kan skoolgaan in ‘n skool wat spesialiseer in autisme. Teen dusketyd is my ouma oorlede en ons kon nie op die begrafnis wees nie, het my vader ‘n hartaanval gehad en kon ons nie daar wees in die krisistyd in die hospitaal nie. Maar meer as ooit is ons as gesin ‘n hegte eenheid in die vreemde. So is die pad van God ‘n pad wat kom met liminaliteit – ‘n proses van gestroop wees en afhanklik wees – ‘n pad van verlies. Dis nie altyd maanskyn en rose vir die wat ‘n lewe van betekenisvolheid wil leef of wat besluit het om uit die boot te klim en op water te loop in die geloof nie. Geen wonder dat Jesus vir sy dissipels gesê het dat as hulle hom volg, hulle eintlik hulle familie moet groet en dat die dooies hulle eie dooies moet begrawe nie. Dis makliker gesê as gedaan vir ’n mens van vlees en bloed – maar gelukkig is ons ook vol van Sy gees.

So paar dae terug ontmoet ek een van Suid Afrika se mees beroemde besigheidsmanne se dogter wat ook al die ouderdom van my eie ouers is. Sy is baie lief vir die Here. In die motor op pad na hulle hotel in Brussels praat ons oor die hele kwessie van die lewensreis van sukses tot betekenis. Sy noem toe die volgende: “In hierdie geestelike roete ontdek mens dikwels die verskil tussen ‘from success, to significance’ to ‘beyond success and significance to renewed Significant submission to Him’.” Daarmee bedoel sy dat daar ‘n punt kan kom waar mens al die geld in die wêreld kan hê, dit opsy skuif en dit gebruik om werklik ‘n verskil te maak in ‘n poging om werklik “betekenisvol” te leef. Maar sy het ontdek dat mense wat van “success to significance” leef, dikwels nog steeds ‘n sterk ego-sentriese dryf tot “significance” het. Vir haar en ander wat werklik die pad saam met God enduit wil stap het die wysheid deurgebreek dat anderkant sukses en betekenisvolheid, daar nog ‘n fase is wat mens moet deurloop, en dit is dat mens weer moet buig op ‘n tweede naïewe manier voor God as die betekenisvolle Ander (Significant Submission). Dit behels die wysheid wat begin met die vrees van die Here. In die Hebreeuws word die woord Yir’at (יִרְאַ֣ת) gebruik om die gedagte van gesonde vrees of “reverence” mee uit te druk. In Spreuke 9:10 lees ons dat wysheid begin met die vrees van die Here. Wysheid en ‘n betekenisvolle lewe begin daar waar mens jouself weer en weer in die verskillende seisoene van die lewe ondergeskik aan die outoriteit van God stel (Spreuke 111:10). Sulke mense ontwikkel ‘n allergiese spirituele reaksie tot arrogansie en boosheid (Spreuke 8:13) en volgens Spreuke 16:6 vlug hulle graag van mense en dinge wat hulle aflei van God se wysheid – en doen dit in ‘n gees van liefde vir en getrouheid aan God (Spreuke 16:6).

Ons kan dus met vrymoedigheid saam met moeder Teresa en ander wyse mense sê:

“Reverence (yir’at in Hebrew) is the beginning of wisdom (Ps 111:10), implies an allergic spiritual reaction to anything arrogant and evil (Prov 8:13), departing therefrom in a spirit of love and faithfulness (Prov 16:6).”

Bob Buford se boek Success to Significance is pragtig. Maar daar is ‘n baie diep geestelike groeifase wat nie in die boek bespreek word nie, en dit is die verskil tussen “Success to Significance” en “Beyond success and significance to renewed Significant Submission to Him”. Dít is ‘n lewe van ware betekenis en ware wysheid – wanneer mens ondergeskik raak met alles in jou lewe aan die Missio Dei – die Sending en Plan van God in jou lewe. My oom stuur eendag Oswald Chambers se dagstuk “Instantanious and Insistent Sactification” van 08 Februarie aan my. Die dagstukke gaan oor volkome heiligmaking met die vraag hoe ver ons bereid is om te gaan vir die Here en die koste daaraan verbonde. Heiligmaking, sê Chambers, behels: “[I]ntense concentration on God’s point of view. It means every power of body, soul and spirit chained and kept for God’s purpose only. Are we prepared for God to do in us all that He separated us for?” [I]t will cost everything that is not of God in us…” Dus, hoe ver is jy bereid om te gaan en te laat gaan, sodat Hy meer en meer in en deur jou kan doen?

Skrywer: Prof. Dr. Dr. Jacobus (Kobus) Kok

Head of Department New Testament Studies

Evangelische Theologische Faculteit Leuven

Belgium

NRF Y1 Research Associate University of Pretoria