Die oue weerklink in die nuwe: Isak, Jakob, Kain, Esau en Sara – Jan van der Watt

  1. Isak en Jakob

Isak en Jakob, Abraham se seuns, word ook in die Nuwe Testament genoem. As Moses by die brandende braambos staan en vra wie met hom praat, stel God homself bekend as die God van Abraham, Isak en Jakob (Eks 3:6, 15, 16). Jesus sinspeel hierop as hy met die Sadduseërs redeneer oor die opstanding. Hy sê: Het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes (Matt 22:32 en die parallele dele in die ander evangelies). Die Sadduseërs het natuurlik gedink daar is nie lewe na die dood nie. Nou haal Jesus Eksodus 3:6 aan om te wys dat God self sê hy IS nou (dit is hoe die Griekse teks dit stel) die God van Abraham, Isak en Jakob. As hulle nie bestaan nie, hoe kan God sê Hy is nou hulle God? Hulle moet dus nou lewe, al is hulle fisies dood! Daar is dus lewe na die dood. God is immers nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Daarom kan Matteus ook op ‘n ander plek sê: Ek (Jesus) sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel (Matt 8:11-12).

In Hebreërs 11:18-20 vertel die skrywer die verhaal van Abraham wat Isak moes gaan offer, hoewel God beloof het dat Abraham se nageslag uit Isak sou voortkom. Abraham se geloof word getoets – hy weet God sal nie sy belofte breek nie. Selfs as hy Isak offer sal God Isak weer uit die dood terugbring. Dit is dus ‘n verhaal van geloof in die God van lewe. In hierdie geloof het Abraham en Isak geleef en so ‘n voorbeeld vir alle mense gestel van wat geloof regtig beteken (sien ook Galasiërs 4:21-31).

  1. Kaïn

Die verhaal van Kaïn wat sy broer Abel vermoor het, is bekend uit die Ou Testament. In 1 Johannes 3:11-12 word die verhaal van Kaïn as voorbeeld gebruik van iemand wat nie die liefde van God ken nie, en daarom die pad van die dood gekies het deur sy broer dood te maak: Ons (gelowiges) moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. (In Heb 11:4 word net genoem dat Abel ‘n beter offer as Kaïn gebring het wat sy opregtheid bevestig het). So word Kaïn eintlik in die Nuwe Testament as die prototipe gesien van ‘n ware sondaar (sien ook Judas 11): iemand wat nie die lewe vir ander soek nie, maar die dood.

  • Esau

 Die verhaal van Esau word weer in Rom 9:11-13 gebruik om die verkiesing van God te verduidelik. Uit dieselfde familie kom twee seuns, Esau en Jakob: Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Maar daar hou dit nie op nie. Die Hebreërskrywer waarsku mense om nie so sedeloos en sleg soos Esau te wees nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. (Heb 12:16). Om jou eersgeboortereg te verkoop,  was nie sommer maar net niks nie. As oudste seun moes Esau die familie se tradisie en karakter voortdra as die pa nie meer daar is nie. Hy moes vir hulle die pad wys en die voorbeeld stel hoe om te leef. Esau het so min van die verantwoordelikheid van hom gedink dat hy dit vir ‘n pot lensiesop verkoop het. So erg is dit dat die Hebreërskrywer dit goddeloos en sedeloos noem. So moet gelowiges nie wees nie.

  1. Sara

Maar dit was nie net manne wat as voorbeelde gedien het nie. Uit die lewens van vroue soos Sara het Christene ook baie geleer. Die voorbeeld van Sara wys hoe ‘n deugsame vrou gelyk het: 3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het  by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters. (1 Pet 3:3-6). Die punt wat Petrus hier maak is dat die werklike skoonheid van iemand nie in fisiese dinge soos rykdom lê nie.

Volgende keer gaan ons na die uittog uit Egipte en na Moses kyk.




Engele – Francois Malan

Henk vra:

Het engele verskyn in fisiese liggame in die Bybel?Verskyn hulle vandag steeds? Die 3 mans wat aan Abraham verskyn en saam geeet het-was die een God self?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Genesis 3:24 word reeds van gerubs gepraat wat as wagters die tuin moet bewaak. In Genesis 16:7,9-11 word vir die eerste van 58 keer in die Ou Testament van die ‘Engel van die Here’ gepraat, wat na Hagar toe gekom het. Hagar het die Here wat met haar gepraat het aangeroep en gesê: U is die God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het (Gen 16:13-14). Vir haar het die Here self in die gestalte van ’n man daar in die woestyn na haar toe gekom. Maar nadat Hy met haar gepraat het, het sy geweet dat dit God is wat met haar gepraat het. Die term ‘Engel van God’ kom ook 11 keer in die Ou Testament voor.

Die Ou Testament se oorspronklike Hebreeuse woord vir engel is mal’ak, wat ‘boodskapper’ beteken. So beteken die Nuwe Testament se oorspronklike weergawe in Grieks se woord angelos ook ‘boodskapper.’ Engele kom dikwels in die Ou en Nuwe Testament voor, wat egter nie altyd in menslike gestalte verskyn nie, vgl. bv. die hemelse skare wat aan die skaapwagters die tyding van Jesus se geboorte gebring het (Luk 2:913).

Die engel bring die boodskap aan Maria dat sy ’n seun sal kry en dat sy Hom Jesus moet noem (Luk 1:26-38). Hy het as ’n sigbare man met haar gepraat.

In Rigters 13:3,6,8,10 verskyn die Engel van die Here aan die vrou van Manoag in die fisiese gestalte van ’n man.

In Eksodus 33:11 word gesê dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend.

Twee van die drie mans wat in fisiese liggame deur Abraham genooi is om by hom te rus en saam met hom te eet (Gen 18:1,22), word  ‘engele’ genoem in Gen 19:1,15,21. In Gen 18:1-2 word gesê dat die Here aan Abraham verskyn het, in die gestalte van een van die drie mans. In Gen 18:13,14,17,19,20,22,26,29,33 word Hy ‘die Here’ genoem.

Die Naam ‘Here’ is in Hebreeus: Jahweh, die ‘Ek is,’ wat altyd aktief teenwoordig is. Dit is die verbondsnaam wat die Here aan Moses bekendgemaak het by die braambos wat nie uitgebrand het nie. Die Here het vir Moses gesê het dat Jahweh die Naam is waarmee Hy aangeroep moet word. In Grieks is Jahweh, soos die Hebreeuse Adonai met kurios ‘here, meneer’ vertaal. Daarom is Jahweh en adonai in Afrikaans met Here vertaal. Hy is die God wat sy verbond met Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag gemaak het (Eks 3:13-15).

Die Markus-Evangelie wat waarskynlik eerste geskryf is, ongeveer 30 jaar na Jesus se dood, en veral die getuienis van Petrus opgeteken het, vertel dat die vroue wat die Sondagmôre na die graf van Jesus toe is, ’n jongman met wit klere, aan die regterkant van die geopende graf gesien sit het, wat vir hulle vertel het dat Jesus opgestaan het uit die dood (Mark 16:2-6). Lukas, wat Markus en ander skrywers as bronne gebruik het, vertel van twee mans met glansende klere (Luk 24:4). Matteus, wat ook van Markus gebruik gemaak het en vir die Joodse Christene verduidelik wat daar gebeur het, sê dat daar ’n engel met ‘n voorkoms soos weerlig en klere so wit soos sneeu uit die hemel neergedaal het, die steen voor die graf weggerol het en daarop gaan sit het, en vir die vroue gesê het dat Jesus opgewek is (Matt 28:2-3). Dit was waarskynlik ’n engel in menslike gestalte wat die boodskap van Jesus se opstanding aan die vroue kom vertel het.

’n Engel van die Here bevry vir Petrus uit die tronk en eers as hulle in die straat kom en die engel verdwyn besef Petrus dat dit ’n engel was (Hand 12:6-11). Deurgaans het hy gedink hy droom dat ’n man hom bevry.

Verskyn engele nog steeds vandag? Engele word slegs deur God gestuur om sy boodskap aan die mense oor te dra wanneer God besluit om van ’n engel gebruik te maak. Meestal word God se boodskap deur sy Gees na mense en in mense gebring. Die Gees oortuig mense deur God en Jesus se woord in die Bybel en in die prediking en in die getuienis van mense aan mense, ook deur omstandighede en direkte ingrypings van die Here. Maar as Hy besluit om ’n engel in die vorm van ’n mens te gebruik, doen Hy dit. Dit is egter absoluut God se besluit hoe en waar en wanneer Hy dink dat dit nodig is en dit wil doen, vgl. egter Jesus se woorde in sy gelykenis van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:31 oor die genoegsaamheid van die Bybel om mense te oortuig.

In Johannes 14 16-17,26 belowe Jesus dat die Heilige Gees in ons sal kom bly om ons te leer en te lei. In Joh 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Met God wat self in ons kom woon het, is dit nie nodig dat ’n engel na ons toe gestuur word om God se se boodskap aan ons te bring nie. Maar as die Here dit nodig ag om in die gestalte van ’n mens ons in ’n noodsituasie by te staan, is Hy vry om selfs ’n engel te stuur. Meestal stuur Hy een van sy gelowiges om so iemand by te staan. In Jeremia 31:33 het die Here reeds beloof: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die oue weerklink in die nuwe: Abraham (3) – Jan van der Watt

In die vorige artikel het ons gesien dat Abraham die vader van die volk was.

  1. b) Abraham wys dat besnydenis nie meer nodig is nie. Besnydenis was natuurlik die teken van die ooreenkoms (verbond) wat God met sy volk gemaak het (soos ’n ring van ’n troue). Dit was vir Jode die teken dat hulle die volk van God was. Die vraag was nou of almal, ook die Grieke en ander mense wat nie Joods gebore was nie, nodig gehad het om besny te word om regtig deel van God se volk te wees? Natuurlik nie – want die vader van die geloof, Abraham, is as vriend van God gereken nog voor hy besny is. Besnydenis is dus nie nodig om as kind van God gereken te word nie. Luister hoe sê Paulus dit in Rom 3:9-11 ‘“Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was… Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo’. Daarom was dit vir Christene nie nodig om hulle te laat besny nie. As Abraham nie besny is nie, so ook nie hulle nie.
  2. c) Abraham het veral gewys dat die wet nie nodig is om gered te word nie. In die Joodse godsdiens was die Wet baie belangrik. Dit was die manier waarop ’n mens gewys het dat jy gehoorsaam is en deel van die volk van God gebly het. Toe God met sy volk by Sinaï ‘n ooreenkoms (verbond) gemaak het, het Hy vir hulle die wet gegee wat hulle moes gehoorsaam as hulle deel van die ooreenkoms. Deur dit gehoorsaam na te volg sou hulle bewys dat hulle sy volk is, want hulle kom hulle deel van die ooreenkoms na. Die vraag was nou: is dit vir Christene nodig om die wet te hou om deel van God se volk te word? Weer help die geskiedenis van Abraham met die probleem. Hy was al ‘n vriend van God en is gered lank voordat die wet daar was. As dit vir hom moontlik was, is dit sekerlik vir sy kinders ook moontlik. Daarom word Christene nie deur hulle gehoorsaamheid aan die wet gered nie, maar uit geloof, soos Abraham. Paulus stel dit so: As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”… 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.’ (Rom 4:2-5).

Tog beteken dit nie dat die gelowige nie tog ook moet doen wat God vra nie. As jy regtig in God glo, sal jy ook regtig doen wat hy vra (jy doen wat jy is). Geloof sonder werke is dood, sê Jakobus (Jak 2:14-16). Ook Jakobus verwys na Abraham wat bereid was om te doen wat God vra omdat hy in God geglo het. Geloof en werke gaan hand aan hand. Die een kan eintlik nie sonder die ander een nie. Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê… Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het’ (Jak 2:21-22). Dit sê Jakobus weer. Sommige mense dink Jakobus weerspreek Paulus hier omdat hy klem op werke ook lê. Jakobus ontken egter nie die belang van die geloof nie, maar onderstreep net dat as jy glo jy ook reg sal optree; daarom kan hy vra: ‘Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?’ (Jak 2:14).

Die vroeë Christene het graag die lewens van die aartsvaders gebruik as voorbeelde van hoe mens saam met God leef of moet leef. Nie alle voorbeelde was ewe goed nie. Abraham, Isak en Jakob was byvoorbeeld goed, maar daar was ook ‘n paar aartsvaders wat ons liefs nie na-geaap moet word nie, byvoorbeeld Esau of Kaïn.

In die volgende artikel gaan ons voort met ons bespreking van die aartsvaders – ons gaan na Isak en Jakob kyk.




Herhaalde oproepe tot gebed – Hermie van Zyl

Danie vra:

Elke keer as ons opgeroep word om te gaan saamtrek oor iets wat ons raak, of daar is een of ander krisis en ons word opgeroep om te gaan bid of om massa-saamtrekke en protesoptredes te hou om die Here se ingryping te vra, dan is ek in die war.

Laat ek dit net duidelik stel, ek het niks teen gebed nie solank gebed gaan oor God se almag, grootheid en dat alle eer Hom toekom.

My vraag is, as ons opgeroep word om saam te trek en dan te bid oor o.a. plaasmoorde, wat wil ons hê moet God doen? Verder, wat doen óns? Dan, as ons nou so saambid, wat is die “bidders” se verhouding met God? Aren’t we just going through the motions?, soos daar op Engels gesê word. Met ander woorde, is ons nie bloot meelopers, massabidders wie se lewe nie noodwendig getuig van ‘n hartsoorgawe aan Jesus nie. Is dit nie so dat ons eerder 24/7 in ʼn lewende verhouding met God moet staan nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek het nogal simpatie met die vraag. Want geloof kan maklik ontaard in ‘n soort krisisgeloof. Ons gaan voort met ons daaglikse dingetjies sonder om ons werklik aan God te steur. Maar laat daar net een of ander krisis ontstaan in ons persoonlike lewe of in die groter samelewing, dan wil ons skielik hê God moet soos die nooddienste gereed staan om in te gryp en te red. So asof Hy nie in elk geval elke dag sorg en weet wat ons nodig het, nog voordat ons Hom vra nie. Hy het immers nie ‘n stortvloed woorde nodig om oortuig te word van ons nood en behoeftes nie (Matt 6:8). En verder het ons ook die opdrag om gedurig – 24/7 – te bid (1 Tess 5:17; vgl Luk 18:1; 21:36; Rom 12:12). Dit beteken ons lewe moet in die teken staan van voortdurende en volgehoue afhanklikheid en erkenning van God. Want so gee die gelowige blyke daarvan dat hy/sy deur Christus in ‘n lewende verhouding met God staan. En van so iemand kan gesê word: Hy/sy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie (Ps 1:3). Daar is ‘n konstante stroom van God se lewe wat hom/haar voed.

Dit beteken egter nie dat daar nie buitengewone geleenthede mag kom waar gelowiges op ‘n spesiale manier voorbidding by die Here doen nie. Daar is talle voorbeelde hiervan in die Bybel. Mens dink hier aan koning Hiskia wat ten dode toe siek word en by die profeet Jesaja hoor dat hy gaan sterf. Hiskia pleit toe by die Here om gespaar te word, en die Here voeg nog 15 jaar tot sy lewe toe (2 Kon 20:1-11). Daar is ook die geval van die profeet Jona wat die opdrag kry om aan die stad Nineve te gaan verkondig dat die Here hulle stad gaan vernietig oor hulle goddeloosheid (Jona 1:1; 3:4.) Dan het die Nineviete berou oor hulle sonde en hulle roep ernstig tot God, waarop God sy besluit om die stad te verwoes omkeer en die stad en sy mense spaar (Jona 3:1-10). Ons lees ook van Hanna wat kinderloos was en ernstig in die heiligdom haar lot by God gaan bekla. Hierna word sy swanger en Samuel word gebore (1 Sam 1). Paulus het ook herhaaldelik sy hart by die Here uitgestort oor die doring in die vlees wat hom gepla het. Maar die Here het nie gegee wat Paulus gevra het nie; Hy het bloot gesê sy genade is genoeg vir Paulus (2 Kor 12:7-9). Selfs Jesus het sy Vader gesmeek dat die lydensbeker by Hom sou verbygaan, maar Hy ontvang troos en versterking uit die wil van sy Vader wat toe anders was as sy (Jesus se) versoek (Matt 26:36-46).

Behalwe wat die Nineviete betref, is die gemeenskaplike element in genoemde gevalle dat dit mense was wat ‘n lewende verhouding met God gehad het en seer sekerlik ook ‘n normale gebedslewe beoefen het. Nogtans het hulle in ‘n besondere noodsituasie dit nodig gevind om op ‘n spesiale manier hulle versoeke aan die Here in gebed bekend te maak. Die normale sluit dus nie die buitengewone uit nie. Mense, ook gelowiges, is kragtens hulle menswees en die aard van die lewe dikwels in ‘n eksistensiële noodsituasie wat die behoefte aan ‘n “spesiale gebedspoging” laat ontstaan. En of dit individueel of in groepsverband geskied, maak nie regtig saak nie; vanuit ‘n geloofsoogpunt is beide struktureel presies dieselfde. En die merkwaardige is dat God ons nie hiervoor kwalik neem nie. Al is ons sy kinders, en al bid ons gereeld, en al weet Hy in elk geval wat ons nodig het, weet Hy dat ons broos en sondig is, en soms, in spesiale gevalle, sy hulp in die besonder nodig het, of verseker wil word van sy nabyheid en sorg. Selfs die Nineviete het genade by God gevind toe hulle Hom in opregte berou genader het. God is nie ‘n God wat verwyt nie. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie, alleen maar dat hulle hulle sal bekeer en lewe (Eseg 18:23; 33:11). En as dit waar is van die nie-gelowige, hoeveel te meer van sy kinders?

My aanvoeling is dus dat ons nie te hard moet oordeel oor die versoeke tot spesiale saamtrekke of gebedsgeleenthede wat van tyd tot tyd voorkom nie. Maar daarmee saam dink ek ook dat dit op ‘n verantwoordelike manier hanteer moet word. In hierdie verband die volgende opmerkings:

  • Dit moet baie duidelik deur die organiseerders gestel word dat dit nie ‘n manier is om God se “arm te draai” nie. Ons moenie die indruk wek dat omdat die nood hoog is, omdat daar baie mense optrek, en omdat ernstig gebid word, daarom is God as ‘t ware verplig om te gee wat ons vra nie. God word nie beïndruk deur getalle en menslike bymotiewe nie. Wat meer is, gebedsverhoring en die toestaan van versoeke deur God is nie noodwendig dieselfde nie. Indien dit wel dieselfde was, sou ons moes sê dat Jesus en Paulus se gebede (hierbo genoem) nie verhoor is nie. En dit is tog nie waar nie. Verootmoediging voor God en gebed – veral as dit by wyse van groot saamtrekke geskied – is nie ‘n spesiale tegniek om God onder ‘n verpligting te stel om te voldoen aan ons versoeke nie. God bly nog God, en ons bly mense. Ons verstaan nie altyd waarheen God met ons op pad is nie. Daarom is die uitkoms van sulke saamtrekke dikwels anders as wat ons verwagtinge was. Maar wat ook al die uitkoms, as mense in opregtheid en met die regte gesindheid daar is, is die gevoel altyd agterna dat hulle baie seën uit sulke byeenkomste geput het, dat hulle met nuwe toewyding hulle lewe as Christene kan voortsit. En dít is waarskynlik die grootste waarde van sulke “spesiale” geleenthede.
  • Oproepe tot gebedsaamtrekke moet spaarsamig gedoen word. Die indruk moet nie gevestig word dat die buitengewone die normale Christelike lewe vervang nie. Die normale is inderdaad dat ons elke dag onsself aan God sal toewy, met die hartlike begeerte om volgens sy wil te lewe. Indien laasgenoemde geskied, is die behoefte aan buitengewone saamtrekke ook minder. Indien sulke spesiale saamtrekke die norm word, word inderdaad meegedoen aan ‘n soort krisisgeloof waarvan aan die begin melding gemaak is. Die normale geloofslewe – ook wanneer krisisse ontstaan – is nie ‘n soort godsdienstige wipwarit nie: Dán is ons bo, dán is ons onder; dán weet ons waar ons met God staan, dán is ons in totale wanhoop en benodig ons weer ‘n godsdienstige inspuiting om geestelik te kan voortgaan. So ‘n lewe is nie ‘n baie gesonde geloofslewe nie, dis eerder tekenend van ‘n onvolwasse en selfs bygelowige soort geestelike lewe. ‘n Volwasse geloofslewe is eerder een waar die verhouding met God oor ‘n lang tyd gebou en ingeoefen word en ons allengs opgroei na die beeld van Christus, en waar die krisisse van die lewe vanuit hierdie situasie geloofsmatig hanteer word (vgl Heb 5:11-14; Ef 4:13-14).
  • Maar om tog op ‘n meer positiewe noot ten aansien van gebedsaamtrekke af te sluit, moet mens sê dat afgesien van die potensieel positiewe waarde wat dit vir gelowiges mag inhou, die getuieniskarakter van buitengewone saamtrekke nie uit die oog verloor mag word nie. Dit stuur naamlik ‘n sterk sein uit na ongelowiges dat daar mense in die wêreld is wat die probleme van die lewe pertinent met God se bestuur in verband bring. Die lewe het nie maar net ‘n menslike kant nie; dis nie net ménse wat iets aan ‘n situasie kan doen nie. Die lewe het ook ‘n diep geestelike, Goddelike kant. In en deur al ons menslike aktiwiteite is God aan die werk. En soms is daar probleme en krisisse wat net so groot is dat ons besef dis net onvoorwaardelike oorgawe aan God wat ‘n verskil kan maak. Almal – gelowig én ongelowig – word gevolglik opgeroep om hierdie oorgawe te maak, by herhaling of vir die eerste keer. Veral in die hoogs gesekulariseerde wêreld waarin ons toenemend leef, kan sulke hoë profiel openbare byeenkomste die saak van God se koninkryk op aarde positief dien en bevorder. En dan is so ‘n saamtrek bloot vanuit hierdie perspektief al klaar die moeite werd. Verder, soms moet Christene ook plaasvervangend optree, namens hulle wat God nie ken of wil ken nie, namens hulle wat nie erken dat die lewe oor meer gaan as menslike vernuf, kennis en planne nie. Christene bid so juis vir en namens hulle wat nie wil bid nie. ‘n Moderne Spaanse geloofsbelydenis sluit daarom so af: “En omdat ons glo, verbind ons ons: om te glo vir hulle wat nie glo nie, om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie, om te droom vir hulle wat nie droom nie, tot op die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word. Amen.” Dalk dra sulke spesiale geleenthede, wanneer reg benut, juis hierdie boodskap plaasvervangend as getuienis vir die wêreld uit.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl