Die oue weerklink in die nuwe: Abraham (2) – Jan van der Watt

Kom ons kyk hoe hierdie lyne uit die Ou Testament in die Nuwe Testament oorgaan.

  1. a) Abraham word as vader van die ware volk van God gesien en Christene was deel van hierdie volk. Volgens die Nuwe Testament was daar nie twyfel nie. In die eerste vers van die Nuwe Testament lees ons reeds van Abraham (Matt 1:1-2: Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob…’) – die geslagsregister van Jesus begin by hom, omdat die unieke volk van God by hom begin. ‘Hy is immers die vader van ons almal, soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.”’. (Rom 4:16-17). Abraham se geskiedenis en Jesus se geskiedenis is dus vervleg.

Maar was al die mense wat bloot in Jesus geglo het, ook kinders van Abraham en daarom deel van God se volk? Hulle het tog nie direk van hom afgestam nie.

In Johannes 8 praat Jesus juis oor hierdie vraag: wie is regtig die kinders van Abraham, ja, die volk van God? Jesus sê in 8:37 dat die Jode wel die fisiese afstammelinge van Abraham is. Maar daar is ‘n groot probleem. Hulle tree nie meer soos Abraham op nie. Hulle doen nie wat hy gedoen het nie en daarmee wys hulle dat hy eintlik nie meer hulle vader is nie (sien ook Rom 9:6-9 vir ‘n ander argument hoekom nie almal wat Joods gebore is as Jode gereken moet word nie) Waarom redeneer Jesus so? In daardie tyd het mense gesê dat deur jou optrede dit duidelik word wie jy is, met ander woorde, deur jou optrede verraai jy jou identitiet. Daarom is daar van kinders in daardie tyd verwag om soos hulle pa’s op te tree. Doen iemand dit nie, beteken dit dat daardie persoon sy eie identiteit verraai en dus nie meer as deel van die gesin gereken word nie. Luister wat Jesus sê: ‘Hulle sê vir hom (8:39-41):“Ons vader is Abraham.” Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het”’ (en daarmee verwys Jesus na die duiwel – sien vers 44). Daarmee het Jesus eintlik die nageslag van Abraham geherdefinieer of herbeskryf – dit is die mense wat in die Seun van God glo wat die werklike nageslag van Abraham is, want hulle tree op soos Abraham, God se vriend, opgetree het. Abraham was gehoorsaam aan God en so is Jesus. Daarom sê Jesus ook in 8:56: ‘Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”’ Die ware volk van God, die kinders van Abraham, word nie meer deur fisiese geboorte bepaal nie, maar deur gedrag wat bewys of iemand in die lyn van Abraham en Jesus staan. Daarom is Christen ook deel van die volk van God en so kinders van Abraham. Dit verduidelik Paulus goed.

Abraham was regtig spesiaal omdat hy so ‘n vaste vertroue en geloof in God gehad het. Hy was inderdaad die goeie voorbeeld en so die vader van geloof in God. Almal wat hierdie voorbeeld volg en glo, is kinders van hierdie vader van geloof. Ons lees veral daarvan in Romeine 4 en Galasiërs 3: ‘Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal… 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.’ (Rom 4:16, 22-24) en ‘So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 7Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo.’ (Gal 3:6-8).

Volgende keer gaan ons verder met die bespreking van Abraham.




Here, Here – Francois Malan

Francois vra

`n Persoon wat baie lief daarvoor is om voor te gaan met gebed het die gewoonte om die woord “Here” omtrent aan die begin en einde van elke sin te gebruik. Iets soos: “Here, baie dankie Here dat u Here ons so mildelik seën Here. Dat u .Here. ons elke dag, Here versorg Here. Sou iemand met hom `n gesprek voer en sy naam ook so baie noem, sal dit hom nie ongemaklik voel nie. Nou waarom die Here se naam so baie gebruik as daar gebid word.

Vir my persoonlik is dit nie “so lekker nie” . Vir my neem dit omtrent alles uit die gebed uit en dit laat my half ongemaklik voel?

Is ek bevooroordeeld?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Matteus 6:8-15 leer Jesus sy dissipels hoe om te bid. In vers7 waarsku hy hulle: ‘Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.’

Die persoon wat so lief is om voor te gaan in die gebed hou blykbaar baie van sy eie stem, en dink dat hy op grond van die baie herhalings van die Here se Naam verhoor sal word.  Die Griekse woord battalogeō wat met ’n ‘stortvloed woorde’ vertaal word, het ook die bykomende implikasie van  ‘niksseggende woorde,’ soos die 1953-vertaling se ‘ydele herhaling van woorde.’ Om die Here se Naam so dwarsdeur die gebed gebruik te word, maak sy Naam niksseggend. In die ‘Onse Vader’ van Matteus 6:9-13 word ons Vader slegs aan die begin aangespreek, en verder met Hom gepraat sonder die herhaling van sy aanspreekvorm. Dit is die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het, vgl. Matt 6:9 ‘Daarom moet julle só bid:’

In Matteus 7:21-23 waarsku Jesus: ‘Nie elkeen wat vir My sê, “Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?” Dan sal Ek openlik vir hulle sê, “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!”’

Die herhaling van sy aanspreekvorm sal op die oordeelsdag geen waarde hê nie. Dit het net irritasie-waarde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die oue weerklink in die nuwe: Abraham (1) – Jan van der Watt

  1. b) Die Aardsvaders is goeie en nie sulke goeie voorbeelde vir Christene nie

Elkeen van ons is deel van ‘n geskiedenis wat ons maak wie en wat ons is. Die helde in ons geskiedenis is die simbole van waar ons vandaan kom en waarvoor ons staan. Die vroeë Christene het ook sulke helde gehad wat hulle gehelp het om te verstaan wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Dit was mense soos Adam, Abraham, Moses of koning Dawid. Hulle band met hierdie helde het vir hulle betekenis en sin in die lewe gegee. Om hulle goeie voorbeelde na te volg, kon die gelowiges seker wees dat hulle self goed optree. Meer nog, omdat die Jode afstammelinge van hierdie mense was, het hulle hulleself ook op ’n spesiale manier verbonde gevoel aan die mense. Immers, die bloed, met ander woorde, die karaktereienskappe van hierdie manne vloei ook in hulle are.

 Abraham

 Abraham was die belangrikste aartsvader en die Nuwe Testament sê dat ons heelwat van hom kan leer. Hy het ‘n baie spesiale rol in die geskiedenis van die Jode gespeel. Hy het deur die loop van die geskiedenis bekend geword as die vader van die Israeliese volk, die een wat God onvoorwaardelik vertrou het en met wie God ‘n onverbreekbare ooreenkoms (verbond) gemaak het om vir hom te sorg en sy God te wees. Hoe het dit alles gebeur en waarom sou dit een van die goue drade uit die Ou Testament in die Nuwe Testament in word?

Om presies te verstaan waarom Abraham so belangrik was, moet ’n mens teruggaan in die geskiedenis. God het alles goed gemaak, maar deur ongehoorsaamheid, hubris en sonde het die mens se verhouding met God skeefgeloop. God het in ’n sekere sin oor begin met die vloed toe net Noag oorgebly het, maar dit het nie veel gehelp nie, want gou het sonde weer sy kop onder die mense begin uitgesteek (Gen 6-9). So erg het dit geraak dat die mense begin dink het hulle kan soos God wees. Hierdie keer het God nie ‘n vloed van water gestuur nie, maar van tale. Elkeen begin ‘n eie taal praat en so bars die groep arrogante mense uitmekaar, die wêreld vol (Gen 11).

God het toe besluit om nie meer op die mensdom as geheel te fokus nie, maar een man (familie) uit te kies met wie Hy die pad verder sal loop. Die man was Abraham en hy was dus die vader van die volk van God (Gen 12-22). Luister wat sê God in Gen 12:1-4 vir Abraham:

Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here…” en Gen 15:1: “Hierna het die woord van die Here in ’n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.”

God het met Abraham ’n spesiale ooreenkoms (verbond) gemaak (Gen 16) en Abraham toon homself waardig van God se vertroue deurdat hy God in alles gehoorsaam het. Dit sou hy keer op keer doen, ook as God hom vra om selfs sy seun Isak te offer (Gen 22). So het Abraham vir sy nageslagte ‘n voorbeeld vir ware geloof en gehoorsaamheid in God gestel. God het ook sy kant van die belofte gehou… Abraham het ’n groot nageslag gekry, waarvan die Christene ook deel geword het.  Kom ons kyk hoe hierdie lyne uit die Ou Testament in die Nuwe Testament oorgaan.




Dreamcatcher – Hermie van Zyl

Pierre vra:

My vraag gaan oor die dreamcatcher. Ek weet die dreamcatcher kom van die Amerikaanse Indiane (Inheemse Amerikaners) af wat dit ophang om slegte drome te vang, veral waar kinders slaap.

Mense met wie ek al gepraat het, het ‘n negatiewe konnotasie met die dreamcatcher en voel Christene moet dit glad nie ophang nie. In ons kerk het die dekor nou ‘n dreamcatcher met die woord “hoop” in die middel daarvan aangebring. Is dit verkeerd en sondig? Maak dit nie die eerste skrefie oop vir nog meer sondige goed in die kerk nie?

Ek het nie die nodige kennis nie, en daarom voel ek ongemaklik. Hoop julle sal my kan help of dan reghelp.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die dreamcatcher, soos oorspronklik gebruik deur Amerikaanse Indiane (deesdae Inheemse Amerikaners genoem), en soos gepopulariseer gedurende die 1970’s in die hoofstroom Amerikaanse kultuur, is ‘n twygie of takkie van ‘n wilgerboom wat in ‘n lus gevorm word en waaroor dan ‘n web of net geweef word. Dis veral bedoel om by ‘n baba se bedjie gehang te word om slegte drome op te vang. Dit sou die baba dan beskerm teen nagmerries of teen enigiets in die lug wat die baba kan kwaad aandoen.

Dit behoort duidelik te wees dat ons hier met ‘n amulet te doen het wat, vanuit Christelike oogpunt gesien, op ‘n bygelowige manier gebruik word. Want die tipiese siening en gebruik van amulette is dat hulle inherent oor magiese krag sou beskik wat mense teen kwaad of die bose kan beskerm.

Voor ons egter te hard en sinies oor hierdie vorm van beskerming oordeel, moet ons oog daarvoor hê dat bygeloof in alle godsdienste en kulture voorkom. Vir party mense het sulke bygeloof bloot interessante kuriositeitswaarde, vir ander steek daar baie meer in en hulle sal hoog en laag daarby sweer. Byvoorbeeld, waarom het vliegtuie nie ‘n nommer 13 sitplek en hotelle nie ‘n kamer 13 nie? Omdat party mense botweg weier om van sulke sitplekke en kamers gebruik te maak. Die getal 13 sou dan ongeluk bring. Sommige mense weier ook volstrek om onder ‘n leer deur te loop, en skrik hulle boeglam as ‘n swart kat hulle pad kruis of as hulle ‘n spieël breek. Dit sou dan net ongeluk voorspel. Ander hang weer ‘n perdeskoen by hulle voordeur op vir geluk, of “hou duim vas” of “klop op hout” dat iets voorspoedig sal verloop. En so kan ons voortgaan.

Nader aan ons godsdienstige oortuigings en praktyke is daar natuurlik die hele veld van simboliek wat deesdae al meer in ons kerke ‘n rol speel. Voorheen het die argitektuur en versiering van en binne kerke, veral in Protestantse kerke, baie sober daaruit gesien. Maar deesdae is dit ‘n ander saak. Op sigself genome is simboliek ‘n goeie ding. Dit maak ‘n visuele impak en stimuleer ons geloofsverbeelding; dit verbeeld en herinner ons aan geloofsrealiteite waarmee ons ons kan vereenselwig. So is die kruis seer seker die bekendste simbool in die Christendom. Nie net herinner dit ons aan die kruisdood van Christus en dat Hy daar vir ons gely en gesterf het nie, maar vir baie Christene funksioneer die kruis amper ook soos ‘n amulet; dit het magiese krag wat ons dan sou beskerm teen die bose. Kyk maar hoe baie mense dra deesdae ‘n kruis-hangertjie. Blote simbool, of dalk ook beskerming? Selfs sportmanne “slaan die kruis” as hulle op die veld gaan. Daar is inderdaad ‘n fyn lyn wat simboliek en bygeloof skei. Simboliek sit maklik oor in bygeloof.

Die Bybel is ook ryk aan simboliese gebruike, handelinge, instellings en objekte. So het ons in die Ou Testament die besnydenis, wat die besondere teken van die verbond was wat God met Israel gesluit het. Daar is selfs sprake van amulette. In Deuteronomium 6:9 word gesê dat die Israeliete God se gebooie op hulle deurkosyne (Hebreeus: mezuzot) moes skryf. Hieruit het die gebruik ontwikkel dat die Jode tot vandag toe nog ‘n klein houertjie (mezuza) met die “Luister Israel” (Deut 6:4-5) binne-in op hulle deurkosyne aanbring. En dan is daar ook die tefillin (klein leerhouertjies) wat ortodokse Jode om hulle voorkoppe en voorarms bind as gedenk- en beskermmiddels (Deut 6:8). In die Nuwe Testament het ons weer die sakramente van die doop en die nagmaal, wat kragtige geloofsimbole is om ons te herinner aan die versoeningsdood van Christus, maar wat soms ook met allerlei bygeloof omgeef is, soos dat die kind so gou moontlik gedoop moet word om te verseker dat hy/sy hemel toe gaan, of dat die gereelde gebruik van die nagmaal mens teen die bose beskerm. In later tye het Christene dikwels kort grepe uit die Ou Testament en Nuwe Testament op papirus of perkament geskryf, dit opgerol en soos amulette aan hulle persoon gedra om hulle teen ongeluk te beskerm. Die Ons Vader, gedeeltes uit die Evangelies, en Ps 91 was veral baie gewild. Dis nie veel anders as die plakkers wat ons deesdae soms op motors se buffers sien nie: “Hierdie kar word beskerm deur Ps 91.”

Met bostaande oorsig wou ek net aantoon dat amulette, simbole en bygeloof deel is van ons menswees en ook diep wortels in ons godsdienstige oortuigings en gebruike het. Dis nie as sodanig bevreemdend en verkeerd dat daar dus met simboliek in kerklike argitektuur en in die erediens gewerk sal word nie. Maar dan moet ons dit reg gebruik, sober daarmee omgaan, en altyd ondersteunend by die Woord aanwend. Dis nie bedoel om die Woord te vervang nie, maar te ondersteun. Lidmate moet ook voortdurend ingelig word oor die regte betekenis en gebruik van simbole, byvoorbeeld dat hulle nie outomaties – gedagteloos – werk nie. In teologiese taal sê ons: simbole en simboliese handelinge werk nie ex opera operato (letterlik: “deur die gewerkte werk”) nie, dit wil sê, simbole werk nie outomaties nie, maar moet altyd deur die regte disposie of ingesteldheid van die lidmaat aanvaar en ervaar word. Prakties beteken dit byvoorbeeld: die blote feit dat jy gedoop is, maak jou nie salig nie, maar of jy dit waarvoor die doop staan, naamlik die afwassing van sondes deur die bloed van Christus, deur die geloof toegeëien het. Of, die blote feit dat jy ‘n kruis-hangertjie dra, beskerm jou nie teen alle kwaad nie. So verstaan, het simboliek in die kerk ‘n besondere plek ter ondersteuning van ons geloof.

Ek verstaan egter nie wat die kerk waarna ons vraagsteller verwys, probeer doen met die insluit van die dreamcatcher as deel van hulle Christelik-kerklike simboliek nie, veral gegewe die feit dat dit as amulet uit die tradisionele heidendom kom. Ja, heidense simbole kan natuurlik verchristelik word, soos ons met die kersboom gemaak het. Dit wil lyk asof die woord “hoop” wat daaraan geheg is ‘n poging tot so ‘n verchristeliking is. Maar ek sou baie versigtig wees om sonder meer iets soos ‘n dreamcatcher, met al die konnotasies daaraan verbonde, saam met ander erkende Christelike simbole in die kerk in te voer. Dit kom vir my ‘n bietjie arbitrêr en lukraak voor. Dit kan ook verwarring skep en aanleiding gee tot onmin en verdeeldheid in die kerk, wat mens nie graag wil hê nie. Die punt is, simbole moet baie omsigtig hanteer word, juis omdat hulle so ‘n kragtige medium is. Miskien moet ons vraagsteller by die pastoor of dominee gaan uitvind wat die idee agter die dreamcatcher is. En hoe “hoop” daarby inpas.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl