Die oue weerklink in die nuwe: Adam, die vader van almal – Jan van der Watt

  1. Adam, die vader van almal

In die skeppingsverhaal speel Adam ‘n sentrale rol. Volgens Genesis was Adam die eerste mens, wat natuurlik beteken dat Adam die ‘vader’ van die mensdom was. Almal wat na hom gekom het, was ‘soos hy’. Wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, het gevolge vir sy nageslag (die mensdom) gehad. Toe hy en Eva byvoorbeeld uit die paradys gegooi is, het dit beteken dat sy hele nageslag buite die paradys gebore gaan word. Soos Paulus dit stel (Rom 5:12): ‘Deur een mens (Adam) het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die feit dat Adam die eerste mens was deur wie almal se lot ook bepaal is, maak hom uitsonderlik, ook in die Nuwe Testament – wie weet hoe hy is, weet hoe die mensdom is – almal aard na hom (sien ook Jud 14 en Luk 3:38). Soos die pa, so die kinders…

Jesus, as herskepper, het ook alles nuut begin. Wat van Adam geld, geld dus ook van Hom. Soos Hy is, sal almal wat aan Hom glo ook wees. Dit maak Hom ‘n baie goeie ‘anti-tipe’ van Adam: ‘Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom’ (Rom 5:14) – Jesus begin ook ‘n nuwe mensdom, naamlik, die gelowiges wat soos Hy is, kinders van God. As ‘n mens dus in Hom glo en jy deel word van sy mense aard jy na Hom en kry jy die nuwe lewe. So verander Jesus die loop van die geskiedenis van die wêreld – nou is daar ‘n nuwe geslag mense. Wat Adam afgebreek het, het Jesus weer kom regmaak: ‘Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens (Adam) sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens (Jesus) vrygespreek word’ (Rom 5:19). Paulus bespreek die verskil tussen Adam en die tweede Adam, Jesus, veral in Rom 5:12–21 en 1 Kor 15:21–22, 45–49.

In Rom 5:12-21 verduidelik Paulus dat die eerste Adam vir die mensdom sonde en veroordeling gebring het, selfs voor die wet nog daar was, maar dat die tweede Adam, Jesus, vir almal wat in Hom glo genade en verlossing – die nuwe lewe – bring,  soos Paulus dit baie duidelik in 1 Kor 15:21-22 sê: ‘Aangesien die dood deur ’n mens (Adam) gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens (Jesus) gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word’. Hy verduidelik dit so: ‘Deur die oortreding van die een mens (Adam) het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer’ (Rom 5:17).

In 1 Kor 15:45-49 verduidelik Paulus so bietjie verder wat die kontras tussen Adam en Jesus is. Adam was maar bloot mens en het vir almal ‘menslike liggame’ gegee. Jesus is egter anders. As opgestane Heer het Hy gewys dat mense wat in Hom glo verheerlikte, hemelse liggame kry: ‘Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees’ (1 Kor 15:47-49).

Adam speel ook ‘n belangrike rol in een van die mees kontroversiële dele van die Nuwe Testament, naamlik in een van die dele waar daar staan dat vroue nie in die gemeente moet leer nie, maar liewer moet stilbly (1 Tim 2:13-14). Die feit dat Adam die eerste mens was en voor Eva daar was, word in gebruik om te argumenteer dat vroue nie die outoriteit het om ander te leer nie. Paulus argumenteer soos sy Joodse tydgenote van daar die tyd. Hulle het al die skuld vir die sondeval op Eva gepak, want sy is die een wat deur die slang verlei is: ‘Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het’ (1 Tim 2:13-14). As die vrou haar so laat verlei, is die onderliggende argument, hoe kan sy dan ander leer. Om dit so te stel, haar eerste ‘lering’ van die man was om hom te mislei! Paulus se Joodse tydsgenote het Genesis 3 ook so verstaan (sien bv. Apokalips van Moses 15–21; Pirqe Rabbi Eliezer 1,13).

In die volgende artikel begin ons na die aartsvaders kyk.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (3) – Jan van der Watt

Ons gaan verder met ons bespreking van die skepping. Twee punte vra nog ‘n bietjie kommentaar:

  1. i) Soos ons gesien het, word die gedagte van die skepping in die Nuwe Testament gebruik om te bewys dat Jesus werklik díe Een is wat van die ware Skeppergod af kom. Hy verteenwoordig en openbaar daardie God op aarde (Joh 1:18). Dit was vir die vroeë Christene belangrik, want so kon hulle bewys dat hulle nie ‘n nuwe onbekende god aanbid waarvan niemand nog ooit gehoor het nie, maar dat hulle godsdiens die ware godsdiens is wat op die lewende Skeppergod teruggaan.

Om die impak hiervan te verstaan moet ons besef dat in die tyd van die Nuwe Testament alle nuwe dinge, veral nuwe godsdienste, baie skepties bejeën is. Veral die Romeinse regering was nie positief oor nuwe godsdienste en bewegings nie, want waar kom dit nou skielik vandaan? Ou, beproefde godsdienste het al die toets van die tyd deurstaan en kan aanspraak maak op egtheid en waarheid. Deurdat die Christendom dus kom wys dat hulle geloof in Jesus teruggaan op die Skeppergod self, met ander woorde, na die heel begin, het baie outensiteit en gesag aan hulle boodskap verleen.

  1. ii) Die gedagte van God wat lewe gee het ook sterk teologiese implikasies. God is die God van lewe. Dit beteken dat wat ‘nie lewe’ is nie, is nie van God nie. Daarom is die dood gesien as iets wat teenoor God staan, want dit staan teenoor die lewe. Sonde is ook aan die dood verbind, want sonde is mos optrede teen God. Met die sonde en die dood wat so verbind is, kon Paulus in Romeine 6:23 sê: Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Hier kan gesien word hoe lewe met redding verbind word. Jesus red deur lewe te gee. In die sin kan dus gesê word dat redding eintlik her-skepping is, die lewend maak van dit wat dood was: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom  (Joh 3:36) en Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe (Joh 6:57). Die lewende God wat deur Jesus skep, herskep ook deur Hom, met ander woorde, dit wat deur die sonde doodgegaan het, word weer deur die Skepper lewend gemaak. Dit is presies wat Paulus in Kol 1:19-20 wil sê: God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Geen wonder nie dat redding soms beskryf word in terme van gelowiges wat ‘n nuwe skepsel word (1 Kor 5:17; Gal 6:15; Op 21:5): Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe skepsel; die oue is verby, die nuwe het gekom. Jesus kan dus herskep omdat Hy ook Skepper is. In hom is die skepperkrag aanwesig wat ook beteken dat Hy ook die krag het om te herskep.

Volgende keer gaan ons na Adam, die vader van almal, kyk.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (2) – Jan van der Watt

In die vorige artikel het ons gekyk na God wat skep. Hy staan bo die skepping uit en moet daarvan onderskei word.

 

Vir die Nuwe Testament is baie belangrik dat die God wat geskep het, dieselfde God is wat mense deur Jesus leer ken. Omdat Jesus die sentrale figuur in die Nuwe Testament is, is dit baie belangrik om die kontinuïteit tussen die God van die Ou Testament en Jesus van die Nuwe Testament te beklemtoon. Luister hoe vertel Paulus aan al die slim en geleerde mense in Atene wie die ware God is: 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (Hand 17:24-27). Die ware God is die Skeppergod wat van niemand iets nodig het nie, maar van wie almal afkanklik is. Hy is die een wat bepaal wat met nasies gebeur en na wie nasies moet soek. Dit is díe einste God wat ons in Jesus ontmoet; dit is Hy wat Jesus lewe gegee het, omdat Hy die God van lewe is: As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom (Jesus) uit die dood laat opstaan (Hand 17:31).

 

In die Nuwe Testament kom daar ’n belangrike element by. God skep nie alleen nie, maar Hy skep deur Jesus. Dit beteken dat Jesus dieselfde kwaliteite as God vertoon. Hy is ook verhewe bo die skepping (pre-eksistent) en Hy verteenwoordig ook al die ware egte kwaliteite van liefde, waarheid, omdat Hy alles gemaak het. Hy hou ook alles in stand. Kyk hoe stel Paulus dit: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kol 1:15-17). Daarmee bedoel Paulus nie dat God nie meer by die skepping betrokke is nie, maar Jesus as sy Seun deel word van die proses. Dit beklemtoon Paulus in 1 Kor 8:6: Daar is nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dit herinner ons nogal aan Spreuke 8:22-31 waar die Wysheid vertel hoe sy teenwoordig was toe God alles gemaak het. God en Jesus het inderdaad ‘saam’ gewerk aan die totstandkoming van die Skepping.

 

Johannes sluit hierby aan: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Joh 1:1-3). Op die manier word die band tussen God en Jesus onlosmaaklik bevestig. God en Jesus kan nie geskei word nie. Wat dus in die Nuwe Testament gelees word, word op die intieme verhouding tussen Jesus en God gebou. Wat Jesus dus doen en sê kom regtig van God af.

 

In die volgende artikel gaan ons die artikels oor die skepping afsluit.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (1) – Jan van der Watt

Na die inleiding gaan ons nou spesifiek na die skepping kyk.

  1. a) Die Skepping

 Alles het begin by die skepping. Van daaruit moet alles wat ‘is’, verstaan word. Daarom speel die skepping ’n belangrike rol in die Nuwe Testament. Dit verklaar ook baie van die voortgang van die Ou Testament in die Nuwe.

 God skep en so ook Jesus

Waar kom die aarde en alles vandaan? God het dit gemaak (Gen 1-2). Hy is dus die Gewer van alle lewe op die aarde en onderhou dit ook. Lewe het sy oorsprong by Hom. Maar as Skepper staan Hy ook buite die skepping – Hy is nie deel daarvan nie. Voor die skepping daar was, was Hy al daar (die tegniese term is Hy is pre-eksistent). Dit is belangrik, omdat dit onderstreep dat Hy as God bo die skepping uitstaan en van die skepping onderskei moet word, byna soos die pottebakker van die klei onderskei moet word. Daarom is God in sy karakter en kwaliteite anders as mense, verhewe bo hulle. Omdat Hy die begin van alles is, is Hy ook die kriterium en maatstaf van alles. Ware liefde is die liefde soos God dit bedoel het, ware lewe is lewe soos God dit gee, ware reinheid is soos God dit bedoel. Immers, alles wat God gemaak het, is goed (Gen 1:31). Daarom vra gelowiges in die Ou en Nuwe Testament altyd na wat God wil. Om iets te doen soos God dit bedoel het, is om dit te doen soos dit waarlik reg en eg is.

So gesien het die skeppingsverhaal dus ’n ryk boodskap met baie implikasies vir mense. Omdat dit so sentrale deel van die boodskap oor God is, hoor mens dit oor en oor terug in die Nuwe Testament. Daarna gaan ons volgende keer kyk.