Die oue weerklink in die nuwe. Die eggo’s van die Ou Testament in die Nuwe Testament – Jan van der Watt

Die boodskap van die Nuwe Testament het nie sommer uit die lug geval nie. Jesus het nie sommer een dag opgedaag en niemand het geweet waarom nie. Nee, die Nuwe Testament is die tweede episode van God se verhaal met sy mense op aarde. Die Nuwe Testament begin nie nuut nie, maar is gewortel in die Ou Testament. Hoewel die verhaal van Jesus vars en nuut is, is dit ook die ou-ou tyding van die Skeppergod wat ’n pad met sy mense deur die wêreld stap. Om dus te verstaan waarom daar sekere dinge in die Nuwe Testament gebeur en waarom dit juis op die manier moes gebeur, is dit dus belangrik dat mens die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament goed verstaan. Die nuwe groei immers uit die oue.

’n Basiese veronderstelling is natuurlik dat die God waarom dit gaan, gister, vandag en môre dieselfde is. Dit is sy verhaal, beide in die Ou en in die Nuwe Testament. Daarom kan mens verwag dat dit nie twee afsondelike verhale is nie, maar een verhaal waarin die verskillende temas en drade nou met mekaar vervleg is. Die verhaal van die Ou Testament word dus in Nuwe Testament voortgesit. Verwagtings uit die Ou Testament, profesieë, voorbeelde van hoe God is en optree, dit alles vloei deur na die Nuwe Testament.

Daar is natuurlik een verskil – in die verhaal van God in die wêreld het daar in die Nuwe Testament een ‘karakter’ bygekom, naamlik Jesus Christus, die Seun van God. In en deur Hom het die ou verhaal van God met die wêreld nuut geword. Hy is nie verniet Immanuel genoem nie, want Hy het God naby sy mense gebring. Die ware lig sou nou oor die wêreld skyn (Joh 8:12) sodat mens in díe lig God se teenwoordigheid by sy mense beter sou kon sien. Daarom word die Nuwe Testament ook NUWE Testament genoem; dit gaan oor God se nuwe plan en ooreenkoms deur Christus met sy mense in die wêreld.

Die spore van die Ou Testament lê diep in die Nuwe Testament. Hier volg voorbeelde van die belangrikste voetpaadjies wat uiteindelik op die Nuwe Testament uitgeloop het. Sekere sentrale gebeure in die Ou Testament was vir die Christene veral belangrik. Gebeure soos die skepping, die uittog (eksodus) uit Egipte, die ballingskap in Babilonië was baie belangrik, omdat dit draaipunte in die geskiedenis van Israel was waarin hulle God baie nodig gehad het. Dan het die vroeë Christene ook baie geleer uit die voorbeelde wat ‘godsmanne’ soos Abraham, Moses of koning Dawid gestel het. Daarom duik die figure gedurig in die Nuwe Testament op as voorbeelde. Natuurlik is daar ook die profete soos Jesaja of Esegiël; die gelowiges word gedurig herinner aan hulle woorde en hoe dit betekenis het vir die Christene. Dit help hulle om die betekenis en boodskap van Jesus soveel beter te verstaan.

In die volgende artikel gaan ons kyk na spore van die Ou Testament wat diep in die Nuwe Testament lê. Ons gaan by die skepping begin.




Mense en Redding: Sonde (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Word sonde na die doop vergewe (Heb 10:26)?

In die vroeë middeleeue was daar groepe wat op grond van Heb 10:26 hulleself nie wou laat doop nie. Hulle het probeer wag tot net voor hulle doodgaan en het dan gevra om gedoop te word. Die rede was omdat hulle Heb 10:26 verstaan het as dat as mens opsetlik sondig nadat jy gedoop is, daaar nie weer ‘n kans is nie. Dan is jy verlore. Heb 10:26 lees so: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.

Die woorde opsetlik sondig verwys na iemand wat in minagting van God voortgaan met ‘n lewe wat nie vir God aanvaarbaar is nie. Dit word duidelik in 10:29 gestel: hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? So iemand hoort dus nie binne die raamwerk van gelowiges nie – dit bewys hy deur sy optrede. Wat alles vererger is dat die persoon die kennis van die waarheid ontvang het. Hy weet wat is reg, maar vertrap nogtans die Seun van God. Dit gaan dus duidelik nie hier oor iemand wat ‘n fout gemaak het en sonde gedoen het, dit wil bely en alles weer wil regmaak nie. Vir so persoon is daar sewentig maal sewe maal vergifnis. Dit gaan hier oor iemand wat bewustelik heeltemal sy verhouding met God verbreek het en dit so uitleef ook. Vir hom bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie. Hierdie is kultiese taal, met ander woorde, taal wat dui op aksies wat daarop gerig is om die verhouding tussen God en mens reg te stel of te versterk. Die persoon wat sy rug op God gedraai het, het ook sy rug op hierdie moontlikhede gedraai.




Mense en Redding: Sonde (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Sonde tot die dood toe?

Maar wat van die sonde tot die dood toe, waarvan 1 Joh 5:16 praat?: As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

1 Johannes is in ‘n konfliksituasie geskryf. Die gemeente het ‘n skeuring beleef waarvan ons in 1 Joh 2:18-19 lees: Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. Die antichriste is dus oud-gemeentelede wat hulle rug op Jesus as Seun van God wat mens geword het, gedraai het. Hulle glo dus nie meer in Jesus soos hulle moet nie, want hulle verteenwoordig valse geeste (1 Joh 4:1-3). Die sonde tot die dood toe het daarop betrekking. Volgens Johannes is die grootste sonde wat ‘n mens kan doen om nie Jesus in geloof te aanvaar nie. Dan sal jy ook nie leef soos iemand wat in Jesus glo nie. Jou ongeloof sneeubal dus. Sonder geloof in Jesus is alles verlore, al probeer jy jou bes. Dan is jy geestelik dood, want jy doen die sonde wat alleen maar tot die dood kan lei. Alles anders wat jy doen staan dan ook maar in die teken van die duisternis en sonde.

Die vraag is natuurlik hier waarom mens volgens die vers nie vir die bekering van so persoon moet bid nie. Hier moet ons onthou dat diegene wat die sonde tot die dood gedoen het, waarskynlik gelowiges wat eers deel van die gemeente was en toe van die geloof in Jesus as die Seun van God wat mens geword het, weggedraai het. In ‘n sekere sin is hulle saak verlore, want om dan weer terug te keer is hoogs onwaarskynlik. Implisiet verwys dit natuurlik ook na ongelowiges wat niks van Jesus wil weet nie.

‘n Soortgelyke verwysings kry ons in Hebreërs 6:4-6: Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. In Hebreërs 6:4-6 word mense beskryf wat deel van die gemeente was, maar wat toe die gemeente vaarwel toegeroep het. Hulle kruisig Jesus dus weer openlik en maak hom tot skande. Die kans dat hulle weer sal terugkom gemeente toe, is skraal, sê die Hebreërskrywer. Hiermee stem hy dus met die skrywer van 1 Johannes saam.

‘n Ewe moeilike uitspraak is dat as iemand teen die Heilige Gees sondig, dit die persoon nie vergewe sal word nie. In Matt 12:31-32 lees ons: Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie. Die uitspraak is deel van ‘n strydgesprek tussen Jesus en die Fariseërs nadat Jesus ‘n man wat in die mag van ‘n duiwel was, genees het (Mat 12:22-32). Die sleutel in die verstaan van die gedeelte lê in die woorde van Die Fariseërs wat beweer dat dit wat Jesus gedoen het alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels gedoen is (Matt 12:24). Daarmee het hulle die werk van die Heilige Gees met díe van die duiwel gelykgestel, want Jesus bevestig in 12:28 dat Hy deur die Gees van God die duiwels uitdryf. Deur wat Hy doen met die duiwel te verbind beteken om so die Heilige Gees te belaster – die Heilige Gees se werk word so aan die duiwel gelykgestel. Daarom sal daar nie van vergifnis sprake wees nie, want as iemand dink dat die werk van die Gees die duiwel se werk is, sal hy dit  nooit aanvaar nie. So draai die persoon sy rug op die genesende krag en reddende werk van die Gees en sal daar nie vir hom redding wees nie. Dit kom neer op ‘n verwerping van God se reddende aktiwiteit.

Volgende keer sluit ons hierdie reeks af met die vraag: Word sonde na die doop vergewe?




Mense en Redding: Sonde (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Hoeveel maal word mens vergewe en moet mens vergewe?

 Natuurlik beteken sondebelydenis dat God jou vergewe as jy jou sonde bely. Ons kan ook herhaalde kere om vergifnis vra en van God vergifnis en vergewing verwag. ‘n Vraag wat egter dikwels gevra word as dit by sondebelydenis kom, is of mens altyd vergewe word en of hoeveel keer mens ander wat jou om verskoning vra, moet vergewe?

Matteus bespreek die saak in detail. In Matt 18 word verhoudinge binne die gemeente bespreek, onder andere hoe daar opgetree moet word teenoor mense wat nie van hulle sonde af wil wegdraai nie (18:15-17). Petrus vra dan ‘n belangrike vraag, naamlik hoeveel maal mens iemand moet vergewe wat sy ‘sonde bely’. Jesus antwoord, sewentig maal sewe. Die getalle 70 en 7 is natuurlik simboliese getalle wat volheid of volmaaktheid beteken (18:21-22). Wat Jesus dus hier sê is dat daar eintlik geen grense getrek kan word as dit by ware vergifnis kom nie. Maar die verhaal is nie so eenvoudig nie. Jesus vertel dan ‘n gelykenis om sondebelydenis en vergifnis te illustreer (18:23-35) – ‘n koning vergewe ‘n werker ‘n groot bedrag. Die werker weier egter om iemand wat hom geld skuld te vergewe. Daarna roep die koning die werker en gooi hom in die tronk, nie omdat hy die koning iets skuld nie, maar omdat hy nie dieselfde houding as die koning getoon het deur ook te vergewe nie. Die verhaal sluit dan so af (18:35): So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie (sien ook Matt 6:14-15).  

Die verhaal werk met sterk ironie en kontras: dit illustreer beide onbeperkte vergifnis asook geen vergifnis van die kant van die koning af. Hy vergewe eers die werker oorweldigend en as díe dan nie self vergewe nie, word hy ook nie weer vergewe nie. Daaruit kan enkele belangrike teologiese gevolgtrekkings gemaak word: Die hemelse Vader vergewe onbeperk (al is die oortredings onmeetbaar groot); die vergifnis plaas egter die ontvanger onder ‘n verpligting om net soos die koning op te tree. Resiprositeit was ‘n algemene beginsel in die antieke tyd. Dit beteken dat mens vir iemand wat iets aan jou doen of gee ekwivalente ‘waarde’ teruggee. Daarom is dit opmerklik dat die Nuwe Testament nie regtig iets ken soos dankie sê teenoor mekaar nie (wel teenoor God). Ons moet eerder dankie leef deur in respons terug te gee wat ons ontvang het. Dan wys ons ons was die geskenk werd. Die werker doen dit nie en wys daarmee nie alleen sy ondankbaarheid nie, maar ook dat hy nie uit dieselfde blok gesny is as die koning nie. Hy tree nie in ooreenstemming met die waardes van die koning op nie.

Hier kom ook ‘n tweede antieke waarde na vore wat ons help om die gedeelte beter te verstaan: die antieke mense was groepsgeorienteerde mense. Van iemand om aan ‘n groep behoort moes hy of sy soos die groep optree. Die leier was natuurlik die een wat bepaal het hoe die groep moet optree. Die koning het in die geval van die verhaal gewys wat die etos van sy koninkryk is. Hulle vergewe mekaar. Die werker het egter deur sy gedrag gewys hy is nie werklik deel van die groep nie en daarom het die koning hom gestraf en sy genade aan hom teruggetrek. Hy sou gepynig word tot hy alles terugbetaal het, wat natuurlik onmoontlik was. As die gelowige dus nie die genade van God uitleef nie, is hulle dit ook nie werd nie.

God vergewe dus onbeperk, sewentig maal sewe, maar met die voorwaarde dat gelowiges as sy kinders hierdie genade naleef. Wie egter nie binne die raam van hierdie verhouding met God wil leef nie, moet nie op God se genade reken nie.

Die insig voorkom dat vergifnis misbruik word. As iemand deur sy broer vergewe word en dan toon dat hyself nie wil vergewe nie, toon dat hy nie belangstel om in die genadekring van God te leef nie. Hy verdien dit dan ook nie. Maar daar moet ook nie van die ander kant van die wa afgeval word nie – as iemand eenmaal vergewe is en hy maak weer dieselfde fout, beteken dit nie outomaties dat die persoon nie weer vergewe mag word nie. Inteendeel, die reël van sewentig maal sewe geld steeds, maar alleen as die persoon opregte berou vertoon – met ander woorde, as die persoon werklik sy sonde bely soos hierbo beskryf. Hy moet sy fout erken, daarvan afstand doen en toegewyd onderneem om die verhouding te herstel. Dit gee dan aan hom die geleentheid om weer voor te begin as iemand wat binne die genadekring van vergifnis wil funksioneer.

Wat word met sonde tot die dood toe bedoel? Daarna kyk ons volgende keer.