Mense en Redding: Sonde (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die Nuwe Testament praat ook op ander maniere oor gelowiges wat voortdurend hulle verhouding met God sterk moet hou deur bewustelik van hulle sonde en afvallige houding ontslae te raak. Dit word nie direk sondebelydenis genoem nie, maar kom eintlik daarop neer.  Immers, soos ons gesien het, is die doel van sondebelydenis om jou sonde te erken, jou rug daarop te draai en jou met oortuiging aan God toe te wy.

Een manier om te sê dat gelowiges van hulle sonde ontslae moet raak, is dat hulle hulleself moet bekeer. Die woord bekeer word gewoonlik in die Nuwe Testament gebruik om te praat van ‘n mens se omkeer van ongeloof na geloof, met ander woorde, jou eerste bekering. In Openbaring 2-3 is dit anders. Daar sê Johannes egter dat kerkmense, gelowiges, hulleself moet bekeer. Kyk hoe word dit gestel:   Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke (Open 2:4-5), of So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou (2:15-16). Dit is duidelik dat die gelowiges van sekere van die gemeentes nie meer so getrou aan die Here is nie en daarom word hulle beveel om van hulle verkeerde dade af weg te draai, terug na God toe.

In Kol 3:9-10 word ‘n beeld van iemand wat klere uittrek en aantrek gebruik: Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê (uitgetrek) het en julle jul met die nuwe mens beklee (aangetrek) het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. Die beeld wat hier gebruik word, is dat die gelowige die sonde soos ou klere moet uittrek, met ander woorde, daarvan ontslae raak. Die ou klere is dinge soos toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond (Kol 3:8). Die klere wat aangetrek moet word, word so beskryf: Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid (Kol 3:12). Wat hier gebeur is dat die gelowige ontslae raak van negatiewe gedrag en bewustelik positiewe gedrag aankweek. Met die klere aan begin die gelowige dus al meer na Jesus, die Skepper (Kol 1:15-16), lyk. Dit veronderstel ‘n deurlopende proses.

Hoeveel maal moet ‘n mense vergewe en word hy vergewe? Daarna kyk ons volgende keer.




Mense en Redding: Sonde (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Sondebelydenis is die manier waarop God vir sy kind die kans gee om sy fout reg te maak en so die verhouding reg te stel. Dit is God se manier om sy kind die kans te gee om nuut te begin. Dit word die duidelikste in 1 Joh 1:9 gesê: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Die teks is duidelik: as ons ‘n fout gemaak het wat die verhouding met God geskaad het (sonde gedoen het), moet ons dit bely. Die woord bely hou die volgende in:

  1. dit is om jou fout te erken, met ander woorde, om presies te weet wat jy verkeerd gedoen het.
  2. dit is om voor God te erken dat jy die fout gemaak het en dat jy dit nie weer wil of sal doen nie. Jy neem ‘afskeid’ van die tipe gedrag.
  • dit is om jouself opnuut as goeie kind aan God toe te wy, met ander woorde, om vir God te sê dat jy sy kind en sy kind alleen is.

Op die manier word die verhouding van jou kant herstel. Die res is in God se hande. Jesus sal die skade voor God herstel en die skuld deur sy bloed betaal, soos 1 Joh 1:7 dit stel: en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. Dit het God deur Jesus beloof en dit sal Hy doen, want Hy is trou en regverdig om dit te doen. Hy sal ons van alle ongeregtigheid reinig, wat beteken dat ons saak nou reg voor God is.

So herstel God verhoudinge met sy mense en sorg dat sy familie gesond kan voortgaan. Sondebelydenis is dus nie ‘n straf nie, maar ‘n voorreg. Dit is nie God wat jou wil straf nie, maar God wat medisyne op jou wonde wil sit sodat dit gesond kan word.

Die gedeelte in 1 Joh stop egter nie daar nie. In 1 Joh 2:1-2 word ‘n stappie verder gegaan. Ons mag nie sondig nie, maar as dit gebeur, Christus is ons voorspraak (Parakleet) by die Vader: My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak (Spesiale Helper) by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Hy is ’n versoening vir ons sondes… Dit is ‘n sterk beeld wat gedeeltelik met regspraak of hofsake te doen het. As iemand destyds in ‘n familie ‘n fout gemaak het, moes daar besluit word wat met die sondebok gemaak moes word. Die pa of leier moes besluit, maar gewoonlik het hy dit eers met een of meer van die senior mans in die familie bespreek (byna soos ‘n koning met sy raadslede). In 1 Joh 2:1-2 word die beeld juis gebruik – Jesus word beskryf as die Een wat so saam met die Vader oor die sondaars beraadslaag. Almal weet aan wie se kant Jesus is. Daarom word Hy as die Spesiale Helper (Voorspraak) beskryf. In die gesprek met die Vader sal Hy dus altyd by die Vader vir die vergifnis van die gelowiges pleit, juis omdat hy sy bloed vir hulle gegee het (1 Joh 1:8-10). Daarmee wil Johannes beklemtoon dat God van sy kant af altyd gelowiges se sonde sal vergewe – daarvoor sal Jesus ook sorg. Maar dan moet hulle dit bely.

In die volgende artikel gaan ons na bekering kyk.




Bileam – Francois Malan

Amanda vra:

Ek was besig om in 2 Petrus 2 te lees oor vals leraars. Ek lees toe tot by vers 15:16 in Die Boodskap op my kindle.

“Hulle doen presies wat Bileam, die seun van Beor, vroeër aangevang het. Hy is daardie vals profeet wie se liefde vir geld duur te staan gekom het. Maar die Bybel vertel vir ons dat Bileam se donkie net betyds met hom in ‘n menslike stem gepraat het. Dit het gekeer dat die profeet met sy bose planne voortgaan”

Vind die Boodskap maklik verstaanbaar. Wou toe verder weet van Bieleam en gaan lees toe verder in my hand bybel  AFR53 in Numeri 22 oor Bileam.  Behalwe dat ek gelees het hy was ongehoorsaam was, kon ek nie verstaan oor die geld nie. Bileam wou my net nie los nie. Drie keer die week kry ek Numeri verse  23/24 en toe weer 21 as deel van daaglikse stukke om te lees.  Toe besluit toe om in die  Matthew Henry’s commentary Whole Numeri 22 daar te gaan lees. Nou verstaan ek dit beter wat hy verkeerd gedoen het.

Is daar ‘n Afrikaanse naslaan bybel beskikbaar

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Numeri 31:16 sê Moses vir die bevelvoerders van die leër wat al die Midianitiese vroue laat bly lewe het: ‘en deur die toedoen van Bileam was juis hulle (die vrouens) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ’n ramp oor die volk van die Here gekom het.’

Hier verwys Moses na wat in Numeri 25 opgeteken is. Die plan om die vroue te gebruik om die Israeliete te verlei om aan die offermaaltye ter ere van hulle gode deel te neem, was blykbaar Bileam se raad aan Balak, om sodoende die Here kwaad te maak vir sy volk, omdat daar geen ander manier was om die Israeliete te vervloek nie.

Of Bileam daarvoor geld gekry het van Balak, word nie gesê nie, maar dit kon so geskied het. Vergelyk bv. Miga 6:5 ‘dink aan die planne van koning Balak van Moab, en wat Bileam hom geantwoord het en dink aan alles tussen Sittim (van Numeri 25) en Gilgal (van Deutr. 12:29-30; vgl. Jos 4:9).

In Deuteronomium 23:4-5 word gesê dat die Moabiete Bileam gehuur het om Israel te vervloek, maar dat die Here sy vloek in ’n seën verander het.

In Josua 24:9-10 sê die Here: ‘Balak het vir Bileam laat roep om ’n vloek oor julle uit te spreek. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën…’

In Nehemia 13:2 word gesê dat die Moabiete vir Bileam gehuur het om ’n vloek oor Israel uit te spreek, maar dat ons God die vloek in seën laat verander het.

Daarom dat 2 Petrus 2:15-16 kan sê dat Bileam daarop uit was om vir geld onreg te pleeg, maar wat daaroor bestraf is. ’n Stom rydier het met die stem van ’n mens gepraat en ’n einde gemaak  aan die onsinnige optrede van die profeet.

In Josua 13:22 word vertel dat Bileam deur die Israeliete doodgemaak is met die inname van die gebied wat aan Reuben toegeken is.

 

Afrikaanse Naslaan Bybels:

Die beste is seker die Afrikaanse Bybelkonkordansie; ook die Verwysingsbybel.

Die Bybel in Praktyk het verwysings en ‘n tematiese konkordansie agterin.

Die Verklarende Bybel is uit druk.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Mense en Redding: Sonde (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Sondevergifnis en sonde wat nie vergewe word nie

Daar moet verder aandag gegee word aan die rol wat sonde, as dit waarvan mense gered moet word, speel. Daar is verskeie sake wat ‘n rol speel in die Nuwe Testament as dit by sonde kom: wat is sondevergifnis, vergewe God net een maal, wat is die sonde tot die dood of die sonde teen die Heilige Gees? Van hierdie vrae gaan nou aandag ontvang.

Uit woorde soos geloof, redding, versoening het ons gesien dat die Nuwe Testament in terme van verhoudings dink as dit gaan oor God en die mense. Redding beteken dat God sy verhouding met sy mense herstel. Ons word as’t ware gehersosialiseer. Ons is nou sy kinders, sy volk, soos lote in Jesus as die wynstok ingebed.

Ons is inderdaad die familie van God. Die Vader van hierdie familie verwag dat gelowiges as sy kinders sal optree. ‘n Kind tree soos sy Vader op, sê Johannes (Joh 8). Wat gebeur nou as ‘n kind ‘stout’ is en nie doen wat God, sy Vader, vra nie, met ander woorde, sondig? Dit versteur natuurlik die verhouding. Dit is soos ‘n slegte plekke op ‘n appel. Dit kan uiteindelik die hele appel sleg maak. God is nie tevrede met sulke gebroke verhoudings nie. God gooi egter ook nie sy kind sommer so uit die familie nie. As ‘n mens ‘n fout maak, beteken dit nie dat God sy rug op jou draai nie. Juis nie. Nee, God wil hê dat die verhouding reggestel moet word, dat alles weer normaal en goed tussen Hom en jou moet gaan; en dit is waaroor sondebelydenis gaan.

In die volgende artikel kyk ons na nog ‘n aspek van sonde: sondebelydenis.