Ou en Nuwe verbond – Hermie van Zyl

Pieter vra:

Ek het ‘n vraag oor die teksgedeeltes in Jeremia en Hebreërs wat verwys na die ou en nuwe verbond.

Ek het die gedeelte gelees: Alle Paaie lei na Jesus: Ou verbond-nuwe verbond deur Adrio König. My vraag is egter: Hoekom is daar ‘n verskil in Hebreërs teenoor Jeremia? Is die teks in die Nuwe Testament ‘n aanhaling van die teks in die Ou Testament? Is dit nie ‘n verbreking van die opdrag dat nie een woord bygesit of weggelaat mag word nie?

Voorbeeld: 1983-Afrikaanse Vertaling: Jeremia 31:32-33: “32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33 Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

Hebreërs 8:9-10: “9 Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. 10 Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.”

King James version: Jeremiah 31:32-33: “32 Not according to the covenant that I made with their fathers in the day that I took them by the hand to bring them out of the land of Egypt; which my covenant they brake, although I was an husband unto them, saith the LORD: 33 But this shall be the covenant that I will make with the house of Israel; After those days, saith the LORD, I will put my law in their inward parts, and write it in their hearts; and will be their God, and they shall be my people.”

Hebreërs 8:9-10: “9 Not according to the covenant that I made with their fathers in the day when I took them by the hand to lead them out of the land of Egypt; because they continued not in my covenant, and I regarded them not, saith the Lord. 10 For this is the covenant that I will make with the house of Israel after those days, saith the Lord; I will put my laws into their mind, and write them in their hearts: and I will be to them a God, and they shall be to me a people:”

 

Antwoord

Aanhalings uit die Ou Testament deur Nuwe Testament-skrywers is een van die interessantste maar ook moeilikste kwessies om te verstaan wanneer dit kom by die uitleg van die Bybel. Ons vraagsteller noem een voorbeeld – hoe die skrywer van Hebreërs Jeremia 31:32-33 in Heb 8:9-10 aanhaal. (En ja, dit is beslis ‘n aanhaling.) Maar soos die vraagsteller tereg opmerk, as dit ‘n aanhaling is, is dit nie baie akkuraat gedoen nie, want daar is ‘n paar verskille op te merk tussen Jeremia en Hebreërs.

Ek gaan eers ‘n paar algemene opmerkings maak oor die kwessie van aanhalings deur NT-skrywers en dan meer spesifiek oor Heb 8:9-10 handel.

  • Die meeste NT-skrywers was Joodse gelowiges wie se belangrikste godsdienstige gesagsbron “die Skrifte” was. Laasgenoemde was destyds die benaming vir daardie geskrifte wat later as ons OT bekend sou staan. Dit was dus net natuurlik dat die NT-skrywers die Jesus-figuur sou probeer verstaan in terme van die Godsopenbaring in die OT. Hulle het probeer aantoon dat Jesus die voortsetting van die OT Godsopenbaring was, dat Jesus dieselfde status as die God van die OT gehad het en daarom ook as Here erken en aanbid moes word. Al gou het sekere tekste in die OT hulleself aangedien as Messiaanse tekste (waarvan sommige reeds deur Joodse geleerdes as Messiaans gedui is) en van toepassing gemaak op die verskillende aspekte van Jesus se Persoon en bediening. Dit is so verstaan dat hierdie tekste hulle vervulling gevind het in Jesus Christus. Dit is veral tekste soos Gen 12:3; Deut 18:15; Pss 2:7; 8:4-6; 22:2; 110:1; 118:22-23; Jes 6:9-10; 7:14; 28:16; 40:3-5; 52:13-53:12; 61:1-2; Jer 31:31-34; Joël 2:28-32; Hos 6:2; 11:1; Sag 9:9 wat deur NT-skrywers op Jesus betrek is.
  • Die vraag is verder watter OT die NT-skrywers gebruik het. Hier staan ons voor een van die verskynsels wat nie altyd so maklik te beantwoord is nie. Wat ons wel met ‘n redelike mate van sekerheid kan sê, is dat die NT-skrywers meestal die sogenaamde Septuagint gebruik het. Laasgenoemde was die Griekse vertaling van die Hebreeuse OT. Die Septuagint het tot stand gekom in die twee eeue voor die geboorte van Christus toe baie Jode, veral dié wat in die sogenaamde verstrooiing buite Palestina gewoon het, nie meer Hebreeus kon verstaan nie. Grieks het in hierdie tyd algaande die wêreldtaal geword en daar is toe ‘n Griekse vertaling van die oorspronklike Hebreeuse OT gemaak. En dié was eintlik die meerderheid Jode se Bybel. Maar dis nie al nie. Ons weet daar was verskillende weergawes van die Septuagint in omloop in die 1e eeu nC. Ons is dus nie altyd seker watter weergawe deur ‘n bepaalde NT-skrywer gebruik is nie (van hierdie weergawes is ook nie meer vandag beskikbaar nie). Verder is dit ook duidelik dat NT-skrywers soms direk van die Hebreeuse OT gebruik gemaak het, veral as dit die argument beter gepas het. ‘n Mens moet dus in elke individuele geval probeer vasstel wat moontlik die bron van die aanhaling was – die Septuagint, watter weergawe van die Septuagint, of die Hebreeuse OT?
  • ‘n Verdere kompliserende faktor is dat NT-skrywers nie altyd die OT op dieselfde manier gebruik het nie. Soms maak hulle net vae toespelings op ‘n OT teks, of hulle haal uit die geheue aan (met gevolglike presisie-verlies), ander kere is dit weer klaarblyklik direkte of verbatim-aanhalings (met die bron wat weliswaar soms nie duidelik nie), en in ander gevalle haal hulle weliswaar min of meer direk aan maar verander doelbewus die OT bewoording op bepaalde punte om die argument beter te dien. ‘n Goeie voorbeeld is die aanhaling van Ps 68:19 in Ef 4:8. In Efesiërs word gesê dat God aan die mense geskenke gegee het, terwyl Ps 68:19 sê dat die mense aan God geskenke gegee het. Die punt wat Paulus egter in Efesiërs wil maak is dat die Here Jesus ten hemele gevaar het en vanuit sy verhewe posisie aan sy kerk gawes gee: apostels, profete, ens. Daarom gebruik Paulus die gedagte van God wat in die hoogte woon (Ps 68:19), maak dit van toepassing op Jesus se hemelvaart, maar verander die gedagte van geskenke ietwat sodat Jesus nou in die posisie is om gawes aan mense te gee, eerder as dat hulle gawes aan Hom bring. Hieruit kan mens aflei dat hoewel die NT-skrywers oor die algemeen getrou was in die manier waarop hulle uit die OT aangehaal het, hulle dikwels die OT teks aangepas het om in ‘n ander konteks (die openbaring in Christus) hulle argument beter te dien. Hulle het dus ‘n baie meer dinamiese en kreatiewe omgang met en gebruik van die OT as gesagsbron gehad as wat ons hulle dikwels voor krediet gee. Hierdie verskynsel maak ook dat ons vandag ‘n onderskeid moet tref tussen ons uitleg van die OT, enersyds, en ons uitleg van die NT se gebruik van die OT, andersyds. Byvoorbeeld, as ons Ps 68:19 uitlê, dan moet dit in terme van die bedoeling van die Psalm self in sy oorspronklike konteks gedoen word. Ons kan dus nie Ef 4:8 se aanwending van Ps 68:19 as die “eintlike betekenis” van Ps 68:19 sien nie. Ons kan wel sê dat die resepsie van Ps 68:19 in die NT ‘n ander wending geneem het; hier het dit ‘n verdere toepassing gekry soos die nuwe heilsgebeure in Christus dit genoodsaak het. Verder, die ander saak waarna ons vraagsteller verwys – dat die beginsel van geen toevoeging tot of wegneming van die Woord van God (Op 22:18-19) so in die gedrang kom – is glad nie op hierdie kwessie van OT aanhalings in die NT van toepassing nie. Indien dit was, sou ons dan die hele manier waarop NT-skrywers met die OT omgaan, onder verdenking moet plaas, en dit kan tog nie. Die waarskuwing in Op 22 het eerder op die oog mense wat doelbewus die evangelie van Christus verdraai en verwring sodat dit iets anders sê as wat die duidelike bedoeling daarvan is. Paulus rig ook ‘n soortgelyke waarskuwing in Gal 1:8-9 en 5:10 (vgl Deut 4:2; 12:32). Die tegniek en metode van aanhalings uit die OT deur NT-skrywers lê egter op ‘n totaal ander vlak. Laasgenoemde het te make met die manier waarop die OT ‘n belangrike rol gespeel het om die Persoon en werk van Jesus as die kontinuering van die OT Godsopenbaring te verstaan.

Met bogenoemde opmerkings as algemene agtergrond, kan ek vervolgens spesifiek handel oor Heb 8:9-10. Hier het ons met ‘n geval te doen waar daar eintlik ‘n merkwaardige woordelikse ooreenkoms tussen die aanhaling in Heb 8 en die teks van Jer 31:32-33 is. Maar dan moet die vergelyking getref word tussen die Griekse teks van Heb 8:9-10 en die Septuagint-teks van Jer 31:32-33, want die Hebreër-skrywer is kennelik besig om uit die Septuagint aan te haal en nie uit die Hebreeuse teks van Jeremia nie. En wat ons vraagsteller doen, is om Heb 8:9-10 te vergelyk met die Afrikaanse en Engelse vertalings wat uiteraard op die Hebreeuse teks gebaseer is. (Bybelvertalings van die OT word gedoen uit die oorspronklike Hebreeuse teks van die OT en nie uit die Septuagint-teks nie.)

Tussen die Hebreeuse teks van Jer 31:32-33 en die Septuagint-weergawe (38:32-33) is daar inderdaad groter verskille as tussen die Septuagint en Heb 8:9-10. So word daar bv in die Hebreeuse Jer 31:32 gepraat van Israel wat die verbond verbreek het al was God getrou aan hulle (of, dat God ‘n getroue eggenoot vir hulle gebly het, vgl King James-Vertaling), terwyl die Septuagint praat van God wat Israel  verwerp het. Dis nie duidelik hoe die Septuagint hierdie vertaling (verwerp) van die Hebreeuse teks gemaak het nie; sommige kenners meen dat die Septuagint die Hebreeuse woord vir getrou verwar het met ‘n ander Hebreeuse woord wat baie dieselfde lyk maar die betekenis van verwerp het.

Hoe dit ook al sy, feit van die saak is dat Heb 8:9-10 die Septuagint-teks redelik getrou volg. Die enigste werklike betekenisvolle verskil is waar Hebreërs die woord “verbond gemaak” het (v9) terwyl die Septuagint die meer algemene begrip “verbond gesluit” het. Hierdie verskil kan óf voortspruit uit die feit dat Hebreërs bloot sy styl afwissel óf dat hy doelbewus “gemaak” gekies het om iets sterker te sê oor die nuwe verbond, naamlik dat die nuwe verbond van ‘n ander aard is as die ou verbond, dat dit meer effektief is as die eerste verbond. Dit mag saamhang daarmee dat Hebreërs ook in 8:8 ‘n ander woord vir verbondsluiting as die Septuagint gebruik, wat in die vertaling nie so opvallend is nie, maar wel in die Grieks. In die Septuagint staan dat die Here met die huis van Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit, maar Hebreërs gebruik ‘n sterker woord, naamlik tot stand bring, tot voltooiing bring. Moontlik het Hebreërs doelbewus hierdie verandering aangebring om aan te sluit by die gedagte dat die nuwe verbond in Jesus sy voltooiing bereik, of volmaak tot stand gebring word. Hierdie gedagte pas in elk geval goed in by die hele argument waarmee Heb 8 besig is, naamlik dat daar nou deur Christus ‘n nuwe en beter verbond tot stand gebring is as onder die ou verbond, omdat Jesus, die Seun van God, as ewige Hoëpriester die Middelaar van hierdie verbond is. En Jeremia 31 word binne hierdie argument aangewend om aan te toon dat hierdie teks nou sy voltooiing of vervulling in Christus bereik het.

Hopelik het bogenoemde bespreking die punt tuisgebring dat die wyse waarop NT-skrywers die OT aanhaal dikwels ‘n komplekse aangeleentheid is, maar dat hulle so juis in hulle doel geslaag het om te demonstreer dat alles waarop Israel kon hoop hulle voltooiing en vervulling in Christus gevind het.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Jakobus argumenteer soortgelyk oor geloof (Jak 2:14-26). Geloof sonder werke is dood, met ander woorde, as iemand sê hy of sy glo, maar nie so leef nie, bestaan daardie geloof per definisie nie. Jakobus skryf nie veel oor die oomblik dat ‘n persoon gered word nie, want dit gaan eerder vir hom oor die lewe van ‘n gelowige volgens die wysheid van God (Jak 4:13-18).

Die beeld van die gelowiges wat kinders van God is, staan sentraal in die briewe van Petrus. Hy gebruik ook die beeld van die geboorte van die gelowige wat dan deel van die familie van God uitmaak (1 Pet 1:23): Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.  Hy verbind die nuwe lewe direk aan die opstanding van Jesus (1 Pet 1:3): In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Die opstanding van Jesus het bewys dat daar ‘n lewe na die dood is en dat mense ook tot die ewige lewe opgewek kan word. Daarop hoop gelowiges (1 Pet 1:4-5; 3:21-22). Net soos Jesus sal hulle ook die ewige lewe kan kry: En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Pet 1:5).

Die lyding, dood en opstanding van Jesus speel ook ‘n belangrike rol in Petrus. In 1 Pet 3:18 word Jesus se lyding ter wille van ons skuld en sonde, sy dood en opstanding saam beskryf as heilsgebeure: Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. In 1 Pet 2:24 stel Petrus dit nog meer onomwonde: Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Hier argumenteer Petrus dat ons vir ons sonde moes sterf. Jesus het egter vir die gelowige se sondes gesterf deur die gelowige se sonde in sy liggaam aan die kruis te dra, met ander woorde, daar is klaar vir die sonde van die gelowige gesterf. Die gedagte van plaasvervanging word hier gebruik, naamlik, die een sterf vir en in die plek van die ander. Dit was gebruiklik in die antieke tyd. Dat een persoon, naamlik Jesus, vir almal sterf, was ook gebruiklik in die antieke tyd, omdat hulle groepsmense was. Die leier van ‘n groep kon dus die hele groep verteenwoordig. Dit is byna soos ‘n kaptein van ‘n span. Hy verteenwoordig die hele span as daar geloot word oor wie eerste gaan gaan kolf of so iets, en hou die beker namens die hele span hoog as daar gewen word. Wat van hom geld, geld van die span ook.

Petrus gebruik ook die beeld van loskoping (waar iemand betaal om ‘n slaaf vry te maak) om te verduidelik wat met gelowiges gebeur as hulle gered word: Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Pet 1:18-19). Hier herken ons weer motiewe wat ons by ander skrywers ook raakgeloop het, naamlik offertaal (lam en bloed) en natuurlik loskoping. Die bloed en offer van Jesus is die ‘betaling’ wat gegee word om mense vry te maak vir ‘n sinvolle bestaan saam met God.

Die brief van Petrus was gerig aan mense wat sosiaal swaar gekry het omdat hulle Christene was. Hulle is vervolg en eenkant toe geskuif vanweë hulle geloof. Daarom is die brief ook geskryf – die brief is bedoel om hulle moed te gee en hulle goed te laat voel omdat hulle Christene is, al gaan dit sleg met hulle. Dit doen Petrus deur vir hulle te wys op wat met hulle gebeur het. Hy vergelyk hulle met die volk van God en verduidelik dat hulle al die seëninge van die verbondsvolk het, juis omdat hulle gered is (1 Pet 2:9-10): Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Hulle moet volhard, omdat God hulle nou sy verbondsvolk gemaak het. Hulle status het van geen volk na God se volk verander.

Om die rol van die doop in die reddingsproses te beskryf, verduidelik Petrus aan die hand van ‘n vergelyking met Noag (1 Pet 3:18-22): Dit (= die Noaggebeure) dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus (vers 21). Die doop is ‘n oorgangsrite waartydens die persoon van een bestaan/status na ‘n ander oorgaan. Op grond van die opstanding van Jesus word mense gered en die sigbare en rituele bevestiging daarvan is deur die doop. Die wat gedoop is, is dus ‘afgeskei’ van die wat nie gedoop is nie.

Ook Petrus gebruik dus verskeie beelde om fasette van die redding mee te beskryf. Dit gaan egter oor die verandering wat in ‘n persoon se lewe plaasvind sodat hy of sy nou kind van God in God se volk kan wees. Dit lei ‘n nuwe en opwindende lewe in wat op die ewige lewe met God gaan uitloop.

Hoewel daar groot verskeidenheid bestaan in die maniere waarop die verskillende skrywers oor redding skryf, is daar tog ook duidelike ooreenkomste. Al die skrywers lê klem op die probleem van die bose en sonde wat die mens van God weghou en wat oorkom moet word. Dit gebeur deur geloof in Jesus. Deur Jesus se optrede herstel God die verhouding tussen Hom en gelowige mense. Hy gee aan hulle nuwe identiteit. Nou kan hulle saam met God leef. Hulle is gered.

In die volgende artikel begin ons na verskeie aspekte van sonde kyk.




Selfmoord – Francois Malan

Awie vra:

Onderwerp: selfmoord en dat n mens hom nie met voorwerpe soos klip en hout mag bevredig nie

Boodskap Teks:

ons is besig met n paar onderwerpe waar ek graag duidelike skrif soek wat ek al raak gelees het maar nie nou kry nie

1 jy mag nie jou hand aan eie boessem slaan nie (selfmoord)

2 geen self bevrediging deur voorwerpe soos hout of klip nie

3as u my daardie skrifte kan aangee sal ons baie dankbaar wees

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1. Jy mag nie jou hand aan eie boesem slaan nie (selfmoord).

Die 1953-vertaling het die opdrag van die Here om Moses se  geloofwaardigheid by die Israeliete en by die Farao te versterk, in Eksodus 4:6-7 vertaal met: ‘steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu. En Hy (die Here) sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees.’

Die 1983-vertaling het ‘in jou boesem’ verduidelik met ‘in die vou van jou klere.’

In Afrikaans het ons ’n spreekwoord: ‘Die hand in eie boesem steek’ wat beteken ‘jou gewete ondersoek en jou eie skuld erken.’ Die spreekwoord het geensins met selfmoord te doen nie.

Selfmoord is ’n groot probleem wat veral mense in diep depressie of wanhoop of vertwyfeling daartoe lei. Daar kan egter uitsonderings wees. Maar eintlik is dit iemand wat dink dat hy die reg het om sy lewe te beëindig, omdat hy/sy die beskikkingsreg oor die lewe het, die lewe wat die Here in sy liefde aan hom/haar toevertrou het. Omdat die Here aan ons die lewe gee, het Hy die reg om dit weer te neem, en mag ons nie ons hand aan ons eie lewe slaan nie.

Genesis 1:27: God het die mens na sy beeld gemaak, en in sy neus die asem van die lewe geblaas (Gen 2:7). Job 27:3 praat van die asem van God wat in ons is. Ps 104:30 sê die Here gee die lewensasem. Hy sê vir ons dag vir dag: ‘jy mag lewe.’ Maar as ons nie meer elke dag glo dat Hy sê: ‘jy mag lewe’ nie, dink ons dat ons moet lewe om onsself te bewys en dat ons die seggenskap oor ons lewe het. God gee egter aan ons die vryheid om te lewe onder sy hand as ons Skepper, Gewer en Here van ons lewe. Ons behoort aan Hom en Hy lei en sorg vir ons. As ons dit nie meer glo nie, begin ons dink dat ons self die seggenskap het oor ons lewe.

Jesus het gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’ (Joh 14:6).  Die mense wat na Hom toe kom kry die lewe (Joh 5:40). Hy het sy lewe gegee sodat die wêreld kan lewe (Joh 6:51). Jesus het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh 10:10).

 

2. Geen selfbevrediging deur voorwerpe soos hout of klip nie.

Jesaja 37:19 verwys na die nasies wat deur Assirië verwoes is en  wat hulle gode verbrand het, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip, daarom is hulle vernietig.

Jeremia 3:9 ‘Israel het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van hout en klip.’  Dit verwys na die diens van Baäl en Astarte wat met klippilare en houtpale gesimboliseer is, en waar gemeenskap met die tempelprostitute sou maak dat Baäl reën en vrugbaarheid sou gee (vgl. Jer 2:20; 3:6).

In Openbaring 9:20 word ook verwys na die afgode wat o.a. van hout en klip gemaak is.

Dit lyk nie na selfbevrediging met hout en klip nie, maar na afgodediens deur seksuele omgang met tempelprostitute of seksuele orgies by of voor afgode van hout en klip.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Jesus dien nie net as offer vir die sonde nie, maar as Hoëpriester is Hy ook die ‘advokaat’ by God wat vir gelowiges intree: Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn (Heb 9:24): Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Deur sy intrede en werk (offer) het Hy dit nou moontlik gemaak vir mense om gered te word, met ander woorde, om ook voor God te mag verskyn: Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Sonde en onreinheid hoef gelowiges nie meer van die teenwoordigheid van God af weg te hou nie, want Jesus het die vrye toegang tot God vir die gelowiges moontlik gemaak. Dit gaan dus hier ook weer oor hersosialisering van mense wat ver van God was na mense wat in die teenwoordigheid van God mag kom en bly.

 Die Hebreërskrywer maak ook ‘n interessante vergelyking in Hebreërs 9:15-22. Met die redding het daar ‘n nuwe ooreenkoms tussen die gelowiges en God ontstaan, die nuwe verbond. Dit word verduidelik aan die hand van ‘n testament. Vir ‘n testament om in effek te gaan moet iemand sterf – dit is tog waarvoor ‘n testament daar is, om te reël wat gebeur nadat iemand dood is. Jesus se dood het die testament van God, wat gaan oor die nuwe ooreenkoms wat Hy met gelowiges maak, in werking gestel. In die gedeelte in Hebreërs word daar ook van bloed, gepraat, want dit was ‘n manier waarop ooreenkomste in die antieke tyd ‘onderteken’ en bevestig is. Jesus is dus ook die een wat dit moontlik maak vir verlore mense om in ‘n nuwe ooreenkoms met God te tree.

‘n Baie belangrike element, nie alleen van redding nie, maar ook van die voortgaande lewe van die gelowige is geloof: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb 1:1). Geloof bestaan uit twee komponente volgens die Hebreërskrywer, naamlik die vertroue op God wat nie gesien kan word nie en wat deur sy beloftes en boodskap hoop vir gelowiges gee. Juis op grond van die vertroue kan die gelowige  lewe, met ander woorde tot eer van God leef. En nou, die verband tussen die twee – mense wat sê dat hulle glo maar nie so leef nie, kan nie sê hulle glo nie. Geloof maak jou oë oop vir God en die oomblik wat Hy realiteit in jou lewe word, word jou dade per definisie daardeur beïnvloed. Dan leef jy soos iemand wat in die teenwoordigheid van God staan.

In die volgende artikel gaan ons na Jakobus en Petrus se beskrywing van redding kyk.