31 Desember: Maranta; Here kom. – Jan van der Watt

Open 21:1-22:21 (fokus 21:1-8)

In die kerk trek die seuntjie aan sy pa se baadjie: “Is die dominee al klaar”. Die pa antwoord: “Ja, my seun, hy is klaar, maar het nog net nie opgehou praat nie”. Dit gaan dikwels so dat mense nie weet waar en wanneer om op te hou praat nie. Maar as daar nou een ding is waaroor ʼn mens nooit kan ophou praat nie, omdat jy nooit klaar sal kom nie, is dit oor wat in die hemel gaan gebeur.

Jy sal nie kan ophou praat nie, omdat daar nie genoeg woorde is om die hemel mee te beskryf nie. Al gebruik ons al die woorde in die wêreld op, sal daar nog dinge wees wat ons nie gesê het nie. In 21:3-4 lees ons hoe God ons trane gaan afvee, hoe ons nie meer hartseer en pyn gaan ken nie, hoe dinge wat mense seermaak uit die hemelse woordeskat gaan verdwyn. Maar die hoogtepunt: ons lees hoe God by ons gaan kom bly; vir altyd!

Ons het nie woorde genoeg nie, omdat ons hier in die wonderlike misterie van God vasloop. Ja, in mensetaal moet ons probeer om die goddelike wonder wat vir ons wag te verduidelik. Ons kan probeer praat, maar ons sal nooit alles gesê kry nie. Maar dit mag ons ook nie keer om te probeer nie.

Miskien is dit die beste om maar met die taal van jou hart te praat – te verlang dat die Here gou weer sal kom. Twee woorde is dan genoeg: “Maranata”; Here kom!” (22:20).




30 Desember: Die hemelse bruid moet reg wees vir haar Bruidegom . – Jan van der Watt

Open 19:1-20:15 (fokus 19:11-21)

In 19:8 kry ons ʼn pragtige beeld wat vir ons vertel waarmee ons as gelowiges ons eintlik besig moet hou. Daar word vertel van die hemelse bruilof wat op pad is. En wie is die bruid? Niemand anders as die gelowiges self nie. Soos enige bruid moet die gelowiges sorg dat hulle op hulle beste lyk vir hulle bruidegom. Ja, hulle moet hulleself regmaak vir hulle hemelse Bruidegom, Jesus.

Dit was destyds die gebruik dat die meisie haar so mooi as moontlik moes maak vir haar troudag. Niks was belangriker nie. Die bure het gehelp en selfs van hulle eie mooi goeters gebring om om die meisie te hang. Sy moes net mooi lyk, al kos dit wat, want die bruidegom mag nie teleurgesteld wees nie!

Nou sê 19:8 verder dat gelowiges hulle eie “trourok” moet maak. Die “materiaal” waarvan hierdie “trourok” geweef moet word, is niks anders as die goeie dade van gelowiges nie. Ja, die Here wil hê dat ons onsself met goeie dade moet oortrek. Dit is die trourok waarvan Hy die meeste sal hou. Elke goeie daad wat ons doen is soos fyn garing wat ons in die trourok inweef, soos ʼn pêreltjie wat ons vaswerk, soos ʼn stukkie kant wat ons vleg. So, versier met “goddelike materiaal” wil Hy ons op ons troudag na Hom toe sien stap.

Moenie uit pêrels en kant raak nie. En swak garing gaan ook nie werk nie. Net jou beste is goed genoeg.




Mense en Redding: Paulus (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Eers moet ons kyk hoe die mense in die Bybelse tyd oor God gedink het. God was gesien as die Skeppergod wat lewe gee. Hy was en is die God van lewe. Waar daar dus dood voorkom, of selfs siekte as voorloper of gedeeltelike uitdrukking van die dood, is daar geredeneer dat dit nie van God kon wees nie. Byvoorbeeld, as iemand blind of lam word is daar in die ou tyd geredeneer dat die dood daardie deel van die mens in besit geneem het. As Jesus dus iemand genees, plaas Hy weer die lewe in daardie deel van die persoon terug. Dat die dood dus die teken is van die sonde wat teen God se lewe is, sien ons byvoorbeeld uit die opmerking van Paulus in Rom 5:12: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. So gesien vorm die dood dus ‘n mag wat mense van die lewe en so van God kan isoleer. Hoe kan die mens dan uit hierdie houvas van die dood kom as hy of sy eers dood is? Daar speel die opstanding ‘n rol. Jesus het gewys dat God sterk genoeg is om mense uit hierdie houvas van die dood weer lewe te gee. Dit het Hy met Jesus bewys – daar kan ons sien hoe sterk God is (1 Kor 6:14; lees ook 2 Kor 4:14; Ef 2:1-6): God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek. Die dood het dus nie meer ‘n kans nie: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54-55).

Maar Paulus konsentreer nie net op die dood nie. In die tyd van Paulus was die Joodse samelewing nog direk beïnvleod deur die gebeure by die tempel (wat eers na Paulus se dood vernietig is). Daar is natuurlik offers (bloed) gebring om byvoorbeeld sondes te vergewe. Geen wonder dat Paulus ook daarna verwys as dit by die dood van Jesus kom nie (Ef 1:7) Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God.

Opvallend is dat Paulus feitlik deurgaans beelde (metafore) gebruik om te verduidelik wat gebeur as mens gered word. Hy neem die beelde uit verskeie areas van die gewone lewe en pas dit dan toe op wat met redding gebeur. Dit maak die reddingsgebeure meer verstaanbaar, want ‘n mens het dan iets om redding mee te vergelyk.

Een van Paulus se bekendste beelde neem hy uit die juridiese wêreld, met ander woorde van mense wat skuldig is en voor die hof moet verskyn. Kyk hoe gebruik Paulus die wetsituasie in Rom 8:33-35: Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? God word beskryf as die regter van en oor die mensheid. Die mense het egter almal sonde gedoen en is dus skuldig. Hulle het nie veel kans voor die regsbank van God nie. In die hofsaal gebeur daar egter ‘n eienaardige ding. Die aanklaer (wat tradisioneel met die duiwel vergelyk word) is nie daar om die ‘uitverkorenes’, naamlik die gelowiges aan te kla nie. As die ‘uitverkorene’ verskyn, staan net Jesus daar wat vir die uitverkorene pleit, in vandag se taal, Jesus is die enigste advokaat in die hof. Natuurlik moet skuld betaal en oortredinge gestraf word. Die Regter kan en mag nie onregverdig wees nie. Dit is waar opmerkings soos Rom 8:32 inkom: Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Deur sy dood bewerk Jesus versoening vir ons sondes, met ander woord, in vandag se taal, hy betaal die vonnis. Deur en op grond van Jesus se heilswerk is ons almal reeds vrygespreek en staan ons aan God se kant as geregverdigte mense: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Rom 8:31). Op grond van die genadige optrede van God deur Jesus kan die gelowiges vry uit die hofsaal uitstap en dit is seker (Rom 8:38-39): Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Die gelowige leef dus ‘n nuwe lewe uit genade, op grond van die liefde van Christus wat ons deur sy dood met God versoen het. Die nuwe status van mense wat voor God geregverdig is, sal met die finale oordeel bevestig word.

Die woord geregtigheid of iemand is geregverdig, het dus twee kante. Die een is die juridiese kant wat vertel hoe ‘n persoon vrygespreek word en dus regverdig uit die hof stap. Die ander kant is die etiese kant, wat vertel van die leefstyl van die persoon, met ander woorde, dat die persoon reg optree. Sy gedrag is regverdig. Natuurlik verwag God dat as Hy die gelowige regverdig verklaar die gelowige regverdig sal optree.

In die volgende artikel gaan ons na verdere beelde wat Paulus gebruik, kyk.




29 Desember: Moenie te ver gaan nie. – Jan van der Watt

Open 18:1-24 (fokus 18:21-24)

God se finale straf is totaal. Nou is Hy nog geduldig, maar as die einde kom is daar geen genade meer nie. Dan kom spyt te laat, veral oor sonde.

Ons hou daarvan om van God se liefde te praat… van die God wat maar altyd met ope arms en ʼn breë glimlag op ons wag. En dit is reg – God se liefde is onbegryplik groot. Maar daar is ook ʼn ander sy; ʼn sy waarvan baie mense nie van wil hoor nie.

In 18:22-23 kry ons ʼn “foto” van hoe die stad Babilon lyk nadat God sy hand van woede daaroor laat gaan het. Babilon is natuurlik die beeld vir mense wat niks van God af wou weet nie. Dit is die mense wat dink dat hulle God nie nodig het nie, dat hulle geld, mag en rykdom vir hulle genoeg is. Dit is mense wat selfgenoegsaam geword het.

Daar bly niks oor nie… nie eers ʼn rietfluit om ʼn wysie op te speel of ʼn pop om vir ʼn baba te gee nie; ja, letterlik niks nie. God se vernietiging van mense wat hulle nie aan Hom steur nie, is totaal. Dit is so totaal omdat God Homself totaal aan hulle onttrek. Wat God nie vernietig nie, sal hulle buitendien in hulle eie sonde vernietig.

By die boodskap van God se liefde vir mense mag ons nooit vergeet dat daardie liefde ook grense en selfs ʼn einde het nie. Anderkant daardie grense is daar ook nie meer ‘n God van liefde wat jou kan help nie.

Moenie dat spyt te laat kom nie.