Mense en Redding: Paulus (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die kruis en opstanding van Jesus vorm die sentrale fokus van wat Jesus gedoen het om mense te red. Daarom sê Paulus: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2). In die konteks van 1 Korintiërs 1-2 verduidelik Paulus dat nie die Jode of die Grieke die evangelie wou glo nie, omdat dit net nie vir hulle sin maak dat ‘n verlosser aan die kruis moet sterf nie. Dit strook nie met menslike wysheid en verwagtings nie. Paulus verduidelik dat die kruis die wysheid van God en nie van mense is nie (1 Kor 1:18): Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Die rede sien ons natuurlik in 1 Korintiërs 15 waar die opstanding van Jesus bespreek word. Omdat Jesus deur die krag van God opgestaan het, het ons ook die hoop op die opstanding en ewige verheerlikte lewe.

Dat Paulus en die ander skrywers van die Nuwe Testament geweier het om die kruisgebeure en dood van Jesus te ontken, maar dit liewer die sentrum van hulle verkondiging gemaak het, spreek boekdele vir die feit dat Jesus werklik gekruisig is. Kyk hoe sterk stel Paulus dit (Gal 6:14) Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Dit is ondenkbaar dat mense dit sou versin of uitdink. Nee, hulle het die feit aanvaar en dit op verskillende maniere teologies verwerk. Lukas, byvoorbeeld, vertel van die dood van Jesus in sy Evangelie, maar verbind dit nie eintlik sterk aan die reddingsproses nie; Johannes lê meer klem op die openbaringsfunksie van die kruis, terwyl Hebreërs die kruis in verskillende Joodse beelde verduidelik. Vir Paulus staan die kruis, waarvan die opstanding deel is, sentraal.

Een van die opvallendste maniere waarop Paulus die kruis en opstanding gebruik is om die proses van sterf en opstaan op die gelowiges toe te pas. Die gedagte is dat as iemand sterf en begrawe word, daardie bestaan beeïndig is. Dit is klaar en weg. As mens dan opstaan is dit ‘n nuwe mens met nuwe lewe. Om op te staan gebeur egter nie outomaties nie, maar deur die krag van God. Paulus verduidelik met behulp van die gebeure wat met gelowiges gebeur. Hulle sterf en word begrawe, met ander woorde, die ‘ou mens’ is dood en weg. In en saam met Christus staan hulle egter weer op in ‘n nuwe lewe saam met God. Wat van die ou lewe geld, geld nou nie meer nie; die gelowige moet nou nuut lewe, volgens sy of haar nuwe identiteit. Paulus verbind dit veral met die doop van gelowiges. Kyk hoe ontwikkel Paulus die gedagte in Romeine 6:4-11: Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie…Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe… Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (lees ook Kol 2:9-15; 2:20-3:4).

Paulus gebruik veral die idee dat ons ‘in Christus’ is; dit is nie so maklik om die begip presies te verduidelik nie, maar dit hang saam met die intieme relasie tussen Jesus en die gelowige wat tot stand kom waardeur wat van Jesus waar is, van die gelowige ook waar word. In die antieke tyd was die mense groepsmense wat beteken het dat hulle hul identiteit van die groep gekry het. Individualisme was dus tot die minimum beperk. Wat van jou groep geld, geld ook van jou. Daarom kan Paulus sê dat wat van Jesus geld, ook geld van die mense wat in hom glo.

Die kruis lei dus tot die opstanding waardeur die nuwe lewe saam met God moontlik word. In 1 Korintiërs 15 word die opstanding van Jesus in detail bespreek. As Hy nie opgestaan het nie, sou daar ook vir gelowiges geen vooruitsig gewees het vir opstanding nie. Jesus het die werklikheid van die lewe na die dood geïllustreer deur self op te staan. Deur die krag van God is Hy opgewek en ons kan op daardie selfde krag staatmaak (Ef 1:19-22). Die punt sal verder aandag ontvang by die bespreking oor die toekomsverwagtings van gelowiges. Tog moet ons ‘n oomblik stilstaan by die belang van die dood as mag waaruit die mens gered moet word. Daarin speel die opstanding ‘n belangrike rol.  Daarna kyk ons volgende keer.




28 Desember: Bly weg van die duiwel se poele van plesier . – Jan van der Watt

Open 16:10-17:18 (fokus 17:1-18)

Sonde is oëverblindery. Dit lyk altyd beter as wat dit is. Aan die begin lyk dit lekker, onskadelik en selfs maklik. Maar aan die einde word dit ʼn monster wat jou verskeur, want sonde dra die kiem van selfvernietiging in sigself rond. Oppas dat daai kiem nie iewers in jou lewe beland nie.

In hoofstuk 17 lees ons van die vrou met haar pragtige klere en juwele aan. Sy lyk vrolik en vier fees. Dit lyk so lekker en begeerlik. Sy ry selfs op ʼn bloedrooi dier, die simbool van die bose. Almal vier so lekker fees en dit gaan so jollie… Mense baai te lekker in die duiwel se poele van plesier.

En dan gebeur die verrassende: die einste dier wat so gedweë was, vlieg om, ruk die vrou se klere af, molesteer haar en verskeur haar net daar (17:16)! Wat ʼn partytjie is dit nou net nie… ʼn partytjie van vernietiging. Maar dit is hoe Satan se partytjies maar lyk. Dit eindig altyd in ‘n gemors; in vernietiging, hartseer en pyn.

Die boodskap is helder en duidelik: sonde is oëverblindery. Die lewe sonder God kan aan die begin so goed en gaaf lyk, maar die einde daarvan loop uit op selfvernietiging. Dit ruk elkeen uitmekaar wat saam op die maat van daardie partytjiemusiek wil dans.

Bly daarom van die drinkbakke en feestelikhede van die sonde af weg. Dit is nie ʼn plek waar ʼn mens regtig wil wees nie, nie as jy jou lewe liefhet nie.




Mense en Redding: Paulus (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Geloof vir Paulus hang saam met bekering tot God deur sy boodskap soos dit in Jesus gestalte gekry het, te aanvaar. Dit blyk uit waarskynlik die oudste sendingpreek in die Nuwe Testament: Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos (1 Thes 1:9-10). Dit gaan dus om gelowige assosiasie met God en sy reddingsplan in Jesus.

Daar is egter ‘n vraag: vir die Jode het die Wet sentraal gestaan in die proses van redding en natuurlik om gered oftewel binne die verbond te bly. Paulus argumenteer, soos ons hierbo gesien het, dat redding en ‘n voortgaande verhouding met God en Jesus deur geloof en nie deur die Wet kom nie, soos hy self in Rom 3:20-22 sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo en tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Gal 2:16 – lees die hele argument in Gal 2:16-5:1). As God self die verbondswet ingestel het hoe is dit moontlik dat Paulus nou kan beweer dat mense sonder die wet met God in ‘n verhouding kan staan? Paulus beargumenteer dit saam volledig in sy brief aan die Galasiërs. Hy herhaal sy argument in Romeine 4. Die argument kom daarop neer dat Abraham deur geloof as vriend van God gereken is – dus in ‘n verhouding met God gestaan het – lank voor Moses en die wet daar was. Redding deur geloof sonder die Wet is dus moontlik, dit het Abraham gewys. Net soos Abraham het Christen gelowiges dus ook nie nodig om deur die wet ‘gered’ te word nie. So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. (Gal 3:6-7).

Paulus het ook ‘n baie spesiale argument oor hoe geloof tot stand kom: Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? … Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.  (Rom 10:14-15, 17; sien ook Rom 10:8-10). Vir Paulus is die verkondiging van die Evangelie deel van die proses van redding en dit was inderdaad God se bedoeling (1 Kor 1:21): Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Redding is nie moontlik as daar nie mense is wat die boodskap verkondig nie, maar dan nie enige boodskap nie – dit gaan om die verkonding van die evangelie van Jesus: Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Kor 15:1-2). Redding is dus ingebed in missionale ywer (Kol 2:5-8; 2 Tim 1:8-9).

Aangesien verlossing ‘in Christus’ aangebied word (Kol 2:5-15; 2 Tim 2:10; 3:15), laat ons nou op Jesus as Redder fokus. Die term ‘redder’ word deur Paulus uitsluitlik vir God (bv. 1 Tim 1:1; 2:3-4; Tit 1:3, 2:10, 3:4) en Jesus (bv. Fil 3:20; 2 Tim 1:10; Tit 1:4, 2:13, 3:6) gebruik. God se redding word deur Jesus as Redder beskikbaar gestel (Rom 3:21-25, 8:1-4; 1 Kor 1:30-31; 2 Kor 5:19; Gal 4:4-5; Kol 1:13-14; 1 Tim 1:15, 2:5-6) en loop uit op nuut geskepte mense (2 Kor 5:17-19). Hulle kan nou uit genade in vrede met God en Jesus leef: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Rom 5:1-2).

Volgende keer kyk ons na die kruis in Paulus se beskrywing van redding.




27 Desember: Oppas vir ‘n “nee” uit die mond van God. – Jan van der Watt

Open 14:14-16:9 (fokus 14:14-20)

Met parstyd word druiwe in ʼn groot houer gegooi en word dan korrel vir korrel stukkend getrap. Wie sou kon dink dat dit die beeld sou word wat die Bybel gebruik om God se straf vir sondaars mee te beskryf? Die druiwekorrels in die beeld is eintlik mense… (14:19-20).

Die beeld is byna te kru om aan te dink, maar juis dit maak die boodskap soveel kragtiger. Dit is die moeite werd om maar met God rekening te bly hou, want jou pad gaan iewers finaal met syne kruis. Dan moet dit liefs ʼn vriendelike ontmoeting wees, anders… is jy dalk ‘n druiwekorrel.

Die ou spreuk is waar: ʼn mens kan nog probeer om sonder God te leef, maar moet net nie sonder Hom sterf nie. God het nie plek vir mense wat Hom nie eer of respekteer nie en as jy sterf is dit te laat om iets daaraan te doen. Daarom bied God nou vir mense ʼn vredesooreenkoms in Jesus aan. Onvoorwaardelik nooi Hy elkeen uit om weer sy vriende te word. Die vrug van die vriendskap sal hulle vir ewig kan geniet.

Maar ʼn “nee” vir Jesus beteken ook ʼn “nee” vir God. Die “nee” vir God verander dan in ‘n “nee” van God. En ‘n “nee” uit die mond van God is nie iets wat enigiemand wil hoor nie. ʼn Druiwekorrel wil niemand seker wees nie.