Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.
In hierdie hele gebeure (wedergeboorte) speel Jesus die sentrale rol. Hy is die weg na die waarheid en lewe, na die Vader (Joh 14:6-7): Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken”. Hy is spesiaal uit liefde deur die Vader gestuur om lewe vir al die mense te bring: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). God het Jesus gestuur, maar Hom vooraf voorberei vir sy sending. God het aan Jesus al die mag gegee, ook oor lewe en dood (Joh 5:21; 10:17-18). Daarom kan Jesus ook in die volgende woorde oor Homself praat: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (Joh 11:25-26). Johannes se model van redding is dus gebaseer op ‘n persoonlike verhouding tussen die gelowige en Jesus – wie in Hom glo, kry die ewige lewe. Jesus hoef dit nie eers aan die kruis te verdien nie, maar het die mag en reg om dit aan elkeen wat glo te gee.
Die vraag is dan of die kruis volgens Johannes wel enige waarde vir die redding van mense het? Wat wel duidelik is, is dat die kruis die plek is waar Jesus se ware en egte identiteit geopenbaar gaan word: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog (= gekruisig) het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is”. Met die kruis en opstanding word dit regtig duidelik dat Jesus is wie Hy sê Hy is en dus die een is wat die ware God kom openbaar. As mense dit besef sal hulle in Hom glo en so gered word. Die openbaringsfunksie van die kruis en opstanding bring mense dus tot by die punt waar hulle glo en gered word. Dit blyk ook uit die verhaal van die ongelowige Tomas. Hy wou ook nie in Jesus glo nie, maar toe die lewende en opgestane Here voor hom staan, kon hy niks anders sê as: My Here en my God! (Joh 20:28) nie.
Johannes lê dus nie soveel klem op die bloed van Jesus of die kruis as plek van versoening nie. Hy wil eerder hê dat sy lesers die Here aan die kruis duidelik en helder raaksien. Daar is tog in die briewe verwysings na die bloed van Jesus ons reinig (1 Joh 1:7): Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. Daar word selfs na Jesus verwys wat versoening vir die sonde van mense bewerk het: Hy (=Jesus) is die versoening vir ons sondes (1 Joh 2:2) en werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Dit wys dat Johannes nie teen die tradisionele Christelike gedagtes van versoening deur die bloed van Jesus is nie, maar dat hy net nie die klem daarop wou laat val in sy Evangelie nie.
Volgende keer kyk ons na Johannes die Doper se woorde oor Jesus.