Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

God is die lewende God (5:26) en as Jesus wêreld toe kom, bring hy die ewige lewe (3:16, 35-36) aan mense wat in die dood en duisternis is (Joh 3:17-21; 5:25; 12:49-50). Johannes gebruik twee konsepte om die verkryging van die redding, oftewel, die ewige lewe te verduidelik, naamlik, geloof en (weder)geboorte.

  1. a) Vir Johannes breek die moment van redding aan as ‘n persoon glo: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Joh 5:24) en wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:36). Geloof in God en Jesus lei na die lewe. Geloof volgens Johannes is mensomvattend. Die beste voorbeeld van wat geloof volgens Johannes beteken word duidelik uit die verhaal van die genesing van die blinde man in Johannes 9. Hy kon niks uit homself doen nie – hy was maar ‘n bedelaar. Jesus kon wel en het ook – Hy genees hom. In die verhaal wat volg verdedig die blinde man Jesus in woord en daad. Hy staan op teen die Joodse leiers tot op die punt waar hulle hom uit die sinagoge gooi (Joh 9:34). Dit het in daardie tyd beteken dat die persoon sosiaal heeltemal geïsoleer is. Niemand wou iets met hom te doen hê nie. Selfs sy ouers wou nie vir hom opkom nie (Joh 9:23). Hy was dus bereid om alles te verloor ter will van Jesus. Maar hy was ook bereid om Jesus as Seun van die mens te erken en Hom te aanbid (Joh 9:35-38). Nie alleen deur sy woorde en dade nie, maar in sy hele wese het Hy Jesus aanvaar. Die implikasie is dat hy hom volledig aan Jesus toevertrou het. Hierdie relasionele oorgawe aan Jesus is die essensie van geloof volgens Johannes.
  2. b) Johannes beklemtoon nie alleen die geloof nie, maar beklemtoon: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie… “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie” (Joh 3:3, 5). Hierdie wedergeboorte is bedoel vir elkeen wat glo: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore (Joh 1:12-13). God is die Skeppergod wat lewe gee – deur die teenwoordigheid van die Gees en die optrede van Jesus word die persoon wat glo van bo gebore, met ander woorde, die persoon word in die gesin van God gebore en kry so die ewige lewe. Dit kan so gestel word: van die kant van die mens gesien moet ‘n persoon glo en van die kant van God gesien word die een wat glo die ewige lewe geskenk deur die geboorte van bo.

Die term ‘geboorte’ wat lei tot ewige lewe suggureer reeds dat Johannes die beeld van ‘n familie gebruik om te verduidelik wat redding is. ‘n Gewone mens word in die wêreld gebore en leef dan. Die lewe is binne ‘n familie waar die persoon ‘n pa en familie het, waar hy kos en water kry, waar hy beskerm en liefgehê word, waar hy leer wat om te doen en hoe om te leef en waar daar ook van hom verwag word om gehoorsaam te wees aan die reëls en verwagtings van die gesin. Die beeld van hoe dit in ‘n gewone gesin gaan, word in Johannes gebruik om redding te beskryf. Net soos in ‘n gewone gesin word die persoon in ‘n familie, die familie van God, ingebore. Daar leef die persoon met die ewige lewe met God as sy vader. Die gelowige kan nou ook aan die familie dinge van God deelneem. Gelowiges moet hulle broers en susters liefhê en help. Hulle moet hulleself hersosialiseer. Hoewel hulle nog deel van hulle aardse gesinne is, moet hulle egter hulle nuwe familie, die familie van God voorop stel. Hulle moet God eerste gehoorsaam en die belange van God en Jesus voorop stel.

In die volgende artikel gaan ons na die rol van Jesus in al hierdie gebeure kyk




18 Desember: Moenie dat Jesus in ‘n waas by jou verbygaan nie. – Jan van der Watt

Open 2:1-17 (fokus 2:1-7)

Maratonlopers vertel dat daar partymaal tye in die wedloop kom dat dit vir jou voel of alles soos ʼn waas by jou verbysweef. Jou bene gaan maar net outomaties vorentoe en dinge gaan by jou verby sonder dat jy dit mooi registreer.

Ons godsdiens kan ook soos ʼn maraton word: Ons geestelike bene gaan outomaties vorentoe, terwyl die werklike genot om die Here te dien soos ʼn waas by ons verbygaan. Ons doen dit, maar dit beteken nie veel nie, nie vir ons nie en ook nie vir die Here nie. Die gemeente in Efese was nogal so. Hulle het swaar gekry, maar het tog op ‘n manier aangegaan. Hulle het egter so “sonder siel” aangegaan dat dit later vir hulle maar min beteken het. Hulle het maar net “aangegaan” en so begin vergeet om die Here lief te hê (2:3-4).

Godsdiens – in die sin van dinge by die kerk aan die gang hou net ter wille van die dinge – mag ons nooit met regte diens aan God verwar nie. Die hooffokus behoort aan Jesus en moet dit altyd bly. Sonder liefde vir Hom raak ons godsdiens sonder hart en siel. Dit word leë bewegings. Om Hom en sy nabyheid daagliks op jou lewensmaraton te ervaar,  maak jou geestelike maraton ʼn avontuur. Dit sit die “siel” in die godsdiens.

Moenie so met jou godsdiens besig wees dat Jesus soos ʼn waas by jou verbygaan nie.




17 Desember: As die Here praat, wat sê Hy?. – Jan van der Watt

Open 1:1-19 (fokus 1:4-8)

God praat net twee maal self in Openbaring – aan die begin (1:8) en aan die einde (21:6-8). Wat sê Hy? Kom ons luister:

  • Hy sê dat alles by Hom begin en eindig. Die verlede hou Hy in sy hande en skryf die toekoms met sy vinger. Anders as ander gode het Hy nie ontstaan of is nie deur iemand gemaak nie – nee, Hý is die Een wat alles gemaak het. Voor alles was Hy daar.
  • Hy is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet. Niks kan buite Hom om gebeur nie. Waar alles begin is Hy en waar alles eindig is Hy ook. Hy hou alles in sy hand. As jy dus wonder of Hy in beheer is, Hy ís!
  • Hy is die Here, God. Hy is dieselfde Here wat in die Ou Testament by sy volk was; die Een wat by die Braambos vir Moses beloof het dat Hy by sy volk sal bly. En vandag nog is Hy by sy mense.
  • Hy is die Een wat alle mag en krag het. Die duiwel en mense het ook krag, maar God het álle krag. Dit wat mensehande nie meer kan vat nie en die duiwel nie durf waag om sy hand na toe uit te steek nie, rus in God se hande.

Dit is wie God is. Is Hy dit vir jou?




16 Desember: Hou koers… met God se padkaart langs . – Jan van der Watt

Judas 1:12-25 (fokus 1:17-23)

 As God voor moes stap om sy mense die pad na ‘n suksesvolle gemeente te wys, waarlangs sou hy loop? Jud 1:20-22 vertel vir ons:

  • Die gemeente moet op God fokus. As jy nie agter Hom aanloop nie, verloor jy jou pad. Ja, sonder God is daar nie ʼn gemeente nie. Daarom moet alles wat Christene doen daarop gemik wees om hulle verhouding met God sterker en sterker te maak. Besluite in ʼn gemeente moet altyd deur God onderteken kan word.
  • ʼn Suksesvolle gemeente is ʼn Gees-gemeente. God is by sy mense deur sy Gees. Jy hoor sy roete-aanwysings deur na sy Gees te luister en dit vra gelowige toewyding en gehoorsaamheid.
  • As ons nie vir mekaar omgee en aan mekaar vashou nie, gaan ons ook nie enduit kan saamstap nie. Liefde is die sement wat alles wat in die gemeente gebeur bymekaar hou. Paulus was reg toe hy gesê het dat sonder liefde ons niks is nie. Liefde hou ons bymekaar, laat ons vergewe en vergeet, maak ons harte en hande vir mekaar oop. Daarsonder stap ‘n gemeente nie saam nie, maar loop elkeen in sy eie rigting.
  • ʼn Gemeente is altyd oppad… Daarom mag ʼn gemeente nooit so optree asof hierdie wêreld sy finale bestemming is nie. ‘n Gemeente moet nooit agter raak nie. As die Here stap moet hulle saamstap. Anders bly hulle dalk sonder die Here agter

Hou koers… met God se padkaart langs.