Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Johannes met sy eie manier van kyk na die redding – Jesus bring die ewige lewe nou!

Soos in die geval van die sinoptiese evangelies het Johannes (beide in sy Evangelie en Briewe) ook ‘n negatiewe beeld van mense sonder Jesus. In sy beskrywing van die redding gebruik hy egter ander beelde en uitdrukkings. Mense sonder Jesus is in die duisternis (Joh 3:17-21), blind en is geestelik dood (Joh 5:25; 9:1-41; 12:46). Hulle kan hulleself nie red nie en sal dus in hulle sonde sterf (Joh 8:21).

Maar die liefdevolle God kom maak die verskil (Joh 3:16-17): God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Uit liefde en genade (Joh 1:17-18) het God besluit om sy mense te kom red. Sy plan ontvou Hy deur Jesus te stuur om Hom aan die wêreld te kom openbaar (Joh 1:18): Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. Jesus is dus die Redder van hierdie wêreld (Joh 4:22).

Onderliggend aan die boodskap is die omstandighede waarin die Johannesevangelie geskryf is. Die Christelik-Johannese gemeenskap het van die Joodse gemeenskap, waar hulle hul wortels gehad het, geskei. Die konflik het veral gegaan oor die vraag waar en by wie is God? Die Jode het die tempel, die wet, die hoëpriester, offers, feeste en so aan gehad wat vir hulle bewys was dat God aan hulle kant was. Die Johannesgroep het daarvan verskil. Die teenwoordigheid van God word nie gevind in religieuse strukture nie, maar word geopenbaar in en deur Jesus: Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Joh 1:18). As iemand God wil vind, moet sy Jesus eers vind. Alleen deur geloof in Jesus word ‘n persoon se verhouding met God reggestel. Daarvan vertel Johannes en dit vorm ook die kern van sy verlossingsleer.

Jesus word deur die Samaritane as die Redder van die wêreld beskryf (4:42) en so word bevestig dat die redding van die Jode kom (4:22). Dit gebeur deur Jesus as Jood en bevestig so dat die God van die Ou Testament ook die God is wat in en deur Jesus aan die werk is. Dit was belangrik, want as Jesus die redding aanbied, begin Hy nie ‘n nuwe godsdiens nie, maar sit die godsdiens van die vaders, Abraham, Moses en Jesaja voort. So het Abraham, julle voorvader, hom daaroor verheug dat hy die dag van my (= Jesus) koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly (Joh 8:56). Moses het oor Jesus geskryf: As julle Moses geglo het, sou julle in My (= Jesus) geglo het, want hy het van My geskrywe (Joh 5:46).

Volgende keer gaan ons kyk na die konsepte wat Johannes gebruik om redding mee te beskryf.




15 Desember: Moenie dink God moet agter jou aanstap nie. – Jan van der Watt

Judas 1:1-11 (1:5-9)

Mense is vandag al hoe meer geneig om vir God voor te skryf hoe Hy moet wees, anders wil hulle Hom nie meer dien nie! God moet alleen die liefdevolle, genadige God wees wat ons in sy sagte hande toevou. Ja, Hy moet die Een wees wat nooit kwaad word as ons foute maak of verkeerd lewe nie. Ons hoef nie altyd te doen wat Hy sê nie, maar as ons Hom nodig het, moet Hy dáár wees.

Natuurlik is God die God van onbeperkte liefde en genade. Natuurlik vat Hy ons soos ons is. Maar dit is nie al nie.

God het ook ʼn ander sy – ʼn sy van oordeel en straf (Jud 1:5-7). God kan ook hartseer en teleurgesteld raak. God straf nie omdat dit vir Hom lekker is nie. Maar die lewende God stap nie soos ʼn hondjie aan ʼn leibandjie agter ons aan nie. Dit is nie Hy wat ons moet volg nie, maar ons wat Hom moet volg. Hy moet nie agter ons aanstap nie, maar ons moet agter Hom aanstap. As ons nie wil nie, stap Hy alleen verder. Dan bly ons alleen agter, sonder God. En dit is wat die Bybel straf noem. Om sonder God te wees.

Moet nooit van God Iemand maak wat agter jou moet aanstap nie. Miskien kom jy dan te laat agter: jy stap alleen!




Herdoop – Francois Malan

Amanda vra:

Ek is tans besig met bybelstudie oor die doop. Ek is klein gedoop en my kinders ook in NG kerk. Soos ek dit verstaan dan neem die ouers dit op hulle om jou kinders te leer van Onse Here Jesus Christus. Waar ek nou woon gaan ek na ‘n Engelse Kerk toe en hulle seën die kinders in en die ouers word groot gedoop. Moet ek nou weer gedoop word?

My ander vraag is Numeri 22-24. Kortliks ek verstaan dit verskillend van die DB as wat ek dit in AF53 lees. Dit noem hy was geldgierig, maar hy het nie die geskenke aanvaar nie. Ek sal dit waardeer as jy net vir my kortliks kan reg help oor hom dat ek hom nou kan weg bêre.

Antwoord

Dit is nie nodig om weer gedoop te word nie. Die doop is die uiterlike teken wat die Here vir ons gee dat Hy ons uit genade aangeneem het as sy kind vir wie die Here Jesus Christus aan ’n kruis gesterf het, waar Hy as ware mens en ware God die straf van die sonde van die mensdom op Hom geneem het (vgl. Johannes 1:29).

Die agtergrond van die doop is die verbond wat die Here uit sy genade met Abraham en sy nageslag en al hulle geslagte gesluit het (opgeteken in  Genesis 17:1-27). Dit is ’n blywende verbond: ‘Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en hulle geslagte. Dit is my verbond wat moet geld vir jou en vir jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word…elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word’ (17:7-12). Selfs die slawe in diens van Abraham en hulle kinders is in die verbond ingesluit (17:7-12). Die besnydenis van die seuns was die uiterlike teken van die ou verbond.

Jesus het ’n nuwe verbond met ons kom sluit waar seuns en dogters die doop as teken van die verbond van God se genade ontvang. In die nuwe verbond is hele gesinne ook gedoop (vgl. Kornelius en sy hele huis,  Hand. 10:2,24,48; 11:14; ook die tronkbewaarder van Filippi en sy hele huishouding, Hand. 16:31).

Die doop is nie ’n prestasie van ‘n mens nie, maar die teken waarmee God in genade aan die mens bevestig dat Hy ons aanneem as sy kinders. As ons eenmaal gedoop is, is ’n tweede doop nie nodig nie, maar dat ons vertrou op die Here wat ons as sy kinders aangeneem het, deur ons aan sy Seun se offer vir ons sonde te verbind en ons daarom al ons sonde van ons hele lewe vergewe, al bly dit nodig dat ons nog daagliks vra om die vergifnis van ons sonde soos Jesus ons leer bid het om ons daaglikse brood, en om vergifnis van ons sonde. Maar God verwag van ons om ook mekaar te vergewe (vgl. Matteus 6:11-12; 14-15). Hy verwag nie van ons ’n tweede doop nie, want dit is sy teken wat Hy vir ons klaar gegee het.

Die tweede vraag is nie duidelik nie. Na watter teks verwys Numeri 22-24? Ek kry niks van geldgierigheid in die drie hoofstukke nie. Wat beteken ‘die DB’?

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (8) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Maar daar was ook sonde wat vergewe moes word. Mense het ook sonde gehad waarvan hulle vergewe moes word (Mk 2:1-5, 10). Jesus het die mag om sondes te vergewe, met ander woorde, dit weg te neem wat die verhouding tussen mense en God vertroebel: Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe… (Mk 2:10). Daarvoor het hy gekom (Matt 1:21). Alleen God kan sonde vergewe en deurdat Jesus dit ook doen, bewys hy onmiskenbaar sy verbondenheid met God (Mk 2:5-10). Volgens Matteus verbind Jesus met die instelling van die nagmaal sy vermoë om sonde te vergewe met sy dood en bloed wat gevloei het (Matt 26:27-28 – Drink almal daaruit [= uit die beker], want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes).

Deurdat Jesus mense vergewe kry hulle nuwe lewe, word deel van ‘n nuwe groep. Hulle bevind hulleself dan in nuwe verhoudings met nuwe verwagtings. Hierdie verwagtings oorskrei die normale sosiale en politieke grense van daardie tyd. Johannes die Doper beskryf die veranderinge so (Luk 3:10-14): Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen? Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”… Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling”. Die self-identiteit van die gelowiges as lede van die koninkryk van God, word dus uitgedruk deur hulle nuwe etiese gedrag. Dit het veral uitdrukking gevind in die prysgee van jou eie belange ter wille van ander. Dit word veral geïllustreer in terme van geld en rykdom. In die antieke tyd was geld en status twee kante van dieselfde munt. Eintlik kon jy ‘status koop’ in daardie tyd. As daar dus gevra word dat mens van jou rykdom ontslae raak, is dit nie net ‘n geval van geld weggee nie, maar ook ‘n lewenstyl en status (Mk 10:21–22).

Ons het nou na redding vanuit die sinoptiese evangelies gekyk. Maar wat van Johannes? Daarna kyk ons volgende keer.