14 Desember: Sendingwerk is spanwerk. – Jan van der Watt

3 Joh 1-15 (1-15)

Daar is die verhaal van ʼn ateïs wat met die engel Gabriël gesels het. (Gabriël is mos God se boodskapper). Hy vra toe watter plan God gemaak het om sy goeie nuus oor die wêreld te versprei? Hoeveel engele het Hy vir die doel opsy gesit?

“Nie een nie”, het Gabriël geantwoord. “God het besluit om mense te gebruik. Hulle moet die goeie nuus versprei”. Die ateïs was verbaas: “Dit kan tog nie wees nie. Ons weet tog hoe mense is. Hulle gee so gou moed op, is ongehoorsaam en hou maar van hulle eie gerief. As God seker wil maak dat sy boodskap versprei moet Hy seker tog ʼn plan B ook hê.”

“Nee, God het net een plan” het Gabriël gesê, “Hy gebruik mense”.

God het net vir jou en my om sy goeie boodskap die wêreld in te dra. Hy het nie ʼn plan B nie, want Hy vertrou ons. As ons faal, faal God se plan. As ons nie iewers is met God se goeie nuus nie, is God se goeie nuus eenvoudig nie daar nie. Daarom is Johannes so ontsteld in 3 Johannes as Diotrefes nie met die sendingpoging wil help nie. Deur dit te doen kom staan hy vierkantig in die pad van God se plan.

Sendingwerk is spanwerk – en elke Christen is deel van daardie span.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (7) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Daar is nou soveel oor geloof, die nuwe koninkryk en Jesus gesê wat natuurlik alles met redding verband hou. Maar waarom is redding nodig? Waarvan moet mense gered word?

Die eerste ding wat Jesus doen nadat Hy gedoop is en sy openbare bediening so begin het, was om na die woestyn te gaan. Daar wag die duiwel Hom in en probeer Hom in versoeking lei. Dit beteken dat die duiwel Jesus van God se pad wil probeer afdwing en Hom wil probeer oortuig om nie met die heilsplan wat na die kruis toe lei, voort te gaan nie (sien Matt 16:23; Mk 4:15). Neem byvoorbeeld die derde versoeking volgens Matteus (4:8-10): 8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Die duiwel bied Jesus hier koningskap aan oor al die wêreldse ryke, maar alleen as ‘onder-koning’ onder hom. Hy wil God se plek inneem. So sal Jesus hom dien en nie met die heilsplan en vestiging van God se koninkryk voortgaan nie. Jesus weer egter elke poging van Satan af. Die konflik tussen Jesus en die duiwel bly deel van die verhaal van Jesus tot Jesus die duiwel aan die kruis en met sy opstanding oorwin. Die duiwel en sy magte se teenwoordigheid word helder in die evangelies geskilder. In Markus (1:21-28) kom die eerste fisiese belydenis oor wie Jesus is, uit die mond van die man met die onrein gees, met ander woorde van die kant van die bose: Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God! Die duiwel en sy bose geeste weet dus baie duidelik met wie hulle in Jesus te doen het.

Veral Luk 10:17-18 is van besondere belang waar daar staan: En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ’n bliksem uit die hemel sien val. So word die neerlaag van die Satan beskryf. Sy invloed in die hemel is deur die koms van Jesus beeïndig. Die duiwels kan nie voor die koms van Jesus en sy volgelinge stand hou nie. Dit blyk ook uit die verhaal van die lam vrou wat genees is – Jesus verlos haar van die Satan wat haar vir agtien jaar gebind het (Luk 13:16) of van Jesus wat duiwels uitdryf (Matt 9:32-33, 15:22, 17:18; Luk 7:21, 8:2).

Die konflik tussen Jesus en die Satan word beskryf as ‘n konflik tussen twee magte. Die duiwel het sy bose geeste en duiwels wat as koninkryk of mag teenoor die Koning van die koninkryk staan (Matt 12:25-26 – Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? – sien ook Matt 4:8). ‘n Ander naam wat vir Satan as die owerste van die bose koninkryk gegee word, is Beëlsebul (Mk 3:22 – En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit). Ons sal later ook by van die ander skrywers van die Nuwe Testament sien dat die bose magte as ‘n georganiseerde mag, koninkryk of weermag beskryf word wat teenoor God kom staan en Hom probeer onttroon. Uiteindelik sal dit die duiwel en sy magte wees wat finaal verslaan en veroordeel gaan word, saam met almal wat hulle aan die kant van die duiwel geskaar het (Matt 25:41): Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

Jesus verlos dus die gelowiges uit die mag van die Satan en sy magte. Maar wat dan van sonde? Daarna gaan ons die volgende keer kyk.




13 Desember: Oppas vir mense wat net wil stry. – Jan van der Watt

2 Joh 1-13 (7-13)

 Die deur by betrokke ʼn huis was stukkend en die mense kon die slot net met ʼn mes oopkry. Toe die dominee aanklop, skreeu die vrou: “Dis die dominee. Bring die mes”. Onnodig om te sê, toe hulle die deur oopkry, was die dominee weg.

Johannes sê daar is gevalle waar jy nie eers die moeite moet doen om die mes te gaan haal nie – nee, jy moenie eers die deur oopmaak nie (2 Joh 11). Dit is wanneer mense met jou wil kom stry oor die waarheid van die evangelie. Vir sulke mense moet jou deur toe bly.

Daar is baie dinge in die evangelie wat ons nie verstaan nie, omdat dit God se evangelie is. En God is nie ‘n mens nie. Hoe kan ons ooit verstaan dat Iemand vir ons moes sterf of sy bloed vir ons moes gee? Hoe sal ons ooit kan verklaar wat daar by die opstanding gebeur het? Hoe sal ons vir mense kan vertel hoe groot God se genade is?  Dit dinge wat baie groter is as mense… en tog wil mense daaroor stry. Hulle wil menslike bewyse vir goddelike dinge hê – dit kan tog nie.

As iemand by jou aanklop om oor God te stry, ja, te probeer om God se grootheid in die klein kassie van die menslike brein in te druk, moenie die deur oopmaak nie. Dit is nie die moeite werd nie.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Maar wat van nou, terwyl die golwe van die lewe slaan en hulle swaarkry? Weer help Jesus hulle. Matteus in 8:23-27 vertel van die dissipels wat Jesus in die skuit gevolg het. ‘n Swaar storm bedreig toe die skuitjie, maar Jesus kom tot hulle redding. Vir die wat gewillig is om Jesus tot in die storms te volg, sal kan staatmaak op sy reddende teenwoordigheid. Dus, vir die hede en die toekoms is dit die moeite werd om Jesus te volg.

Die beeld van navolging van Jesus open dus die oë vir die ryk werklikheid wat met die redding deur Jesus saamgaan. Dit gaan oor ‘n totale verandering wat tot her-sosialisasie van die navolger met Jesus en God lei.

Natuurlik verwys die sinoptiese evanglies ook na geloof in Jesus wat nodig is. Dit is ‘n ander manier om die relasie wat ontstaan tussen mense en Jesus te verduidelik (Mk 16:16 – 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Sien ook Mk 9:23-24, 42; Luk 8:12, 50).  Markus vertel telkens hoe Jesus mense aanmoedig om te bly glo, met ander woorde, om Jesus te erken vir wie Hy is en ook van Hom die krag van God te verwag. Daarmee saam moet hulle natuurlik die boodskap van en oor Jesus aanvaar (Mk 1:15; Luk 24:25). In Mk 11:22 moedig Jesus die dissipels aan om te bly glo, omdat daar soveel krag in geloof is. Vir die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en wat deur die krag van Jesus genees is, sê Jesus: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!  (sien ook Mk 10:46-52). Hier is ook ‘n voorbeeld van waar die term ‘red’ op fisiese genesing kan slaan. God se koninkryk kom ook deur nou reeds mense se lewens te verander en dit deur die krag van Jesus – so word nuwe lewensmoontlikhede nou reeds vir mense geopen. Dit beteken egter nie dat die redding nou volledig is nie. Die finale afronding en hoogtepunt kom nog (Lk 21:28), soos Jesus belowe het: Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant (Mk 13:26). Dan sal die gelowiges vir ewig in die teenwoordigheid van God en Jesus wees.

Dit alles bring ons by ‘n baie belangrike vraag: Waarom moet die mens gered word?