Salomo en die koningin van Skeba – Jan van der Watt

Vraag

Maude vra:

Salomo: In die Etiopiese Kebra Nagast word in detail beskryf dat die koningin van Skeba ‘n seksuele verhouding met Salomo gehad het, iets wat ek nêrens in die Bybel raakgelees het nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel word as die Woord van God aanvaar en dit is die basis waarop ons as Christene ons geloof baseer, naamlik, wat ons glo en wat nie. Nou moet ons onthou dat net soos vandag daar deur die eeue baie boeke oor die temas van die Bybel en die Bybel self geskryf is. Daarin het die mense na hulle eie idees neergeskryf oor wat hulle dink kon gebeur het. In sommige gevalle was daar mense wat gewonder het wat Jesus in sy kindertyd gedoen het (want die Bybel sê niks daarvan  nie) en dan het hulle ’n boek oor sy kindertyd geskryf, natuurlik met verhale in wat glad nie in die Bybel voorkom nie. Ander het weer gewonder wat gebeur het toe Jesus opgestaan het, en dan gee hulle wonderlike beskrywings van wat alles daar gebeur het, terwyl die Bybel niks daarvan sê nie. Ons moet nie die ‘stories’ met die Bybel verwar nie. Dit is maar hulle manier van die gebeure verklaar en word nie as die waarheid beskou nie.

Ons kan die ander verhale lees vir die interessantheid, maar moet dit nooit met die waarheid van die Bybel verwar nie. Dit Bybel bly ons bron van waarheid.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Wat gebeur na die dood? – Jan van der Watt

Fanie vra:

As die mens sterf verlaat die gees die liggaam en vertoef in rus dws “slaap” tot en met die wederkoms. Dus bestaan die siel dws denke, begrip, verstand, emosie, intellek nie meer nie. Die gees word deur Hom wat dit geskep het gehou dws God. Dus is die gees geen persoon nie en kan dus nie kommunikeer met geliefdes nie. So kan niemand wat as gelowige sterf reeds in die hemel wees nie want net die gees ‘bestaan’ en moet weer deur God teruggegee word. Dus almal moet geoordeel word met die wederkoms. Dus die ‘sondaar’ se liggaam moet ook weer met sening en vlees oorgetrek word, dus ‘n nuwe liggaam en sy gees moet teruggegee word en dan kan hy die oordeel ervaar.

ANTWOORD

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die reeks stellings is nie eintlik ’n vraag  nie en word geplaas vir interessantheid – lesers kan daaroor nadink en as hulle vrae het, kan hulle gerus skryf. Hier volg enkele opmerkings:

a)      Dit is heeltemal reg dat volgens die Bybel ’n mens uit liggaam en gees bestaan. Dit is so van die begin van die Bybel af, naamlik dat ’n liggaam (vlees) nie lewe en mens is, voordat dit nie met die gees verenig nie. Daarom lê die Nuwe Testament ook soveel klem daarop met die opstanding op die laaste dag mense as liggaam (wel ’n verheerlikte liggaam – 1 Kor 15) en gees sal opstaan – alleen so is hulle volledig mens. In die Evangelie van Johannes word daar, byvoorbeeld, gepraat van die laaste dag as mense, wat reeds die ewige lewe het, opgewek gaan word, d.w.s. hulle liggame gaan met hulle geeste verenig word (Joh 6:39, 40, 44).

b)      Die terme liggaam, siel en gees word nie deurgaans in die Bybel gebruik nie (sien die artikel in Bybelkennis.co.za oor liggaam, siel, en gees). Dit was terme, soos hierbo ook genoem word, om verskillende funksies van die mens mee te beskryf, en selfs van die Griekse filosowe (nie-Christene) het die woorde so gebruik. Die liggaam het na die fisiese deel verwys, die siel na die denke en die gees na die godsdienstige vermoeëns van die mens. In die meeste gevalle praat die Bybel egter  net van liggaam en gees om so die fisiese en geestelike dele van ’n mens te onderskei. Dit word dan gewoonlik gesê dat as die liggaam sterf en tot niet gaan, die gees bly voortbestaan. Johannes sal byvoorbeeld sê dat ons die ewige lewe het, wat beteken dat hoewel die liggaam sterf, die gees van die gelowige bly leef (Joh 11:25-26). In die Evangelies sê Jesus byvoorbeeld dat gelowiges nie bang hoef te wees vir mense wat hulle liggaamlik kan doodmaak, maar niks verder aan hulle kan doen nie. Hulle moet liewer omgee wat God (ook met hulle as mense, dus gees en liggaam) kan doen (Matt 10:28, sien ook Luk 12:4-5). Ander skrywers is bietjie meer terughoudend, maar veral 1 Kor 15 is bekend as die gedeelte wat oor hierdie dinge praat.  

c)      Oor kommunikasie met geeste van die dooies is die Bybel baie negatief. Die rede is hoofsaaklik omdat dit God wil ‘kortsluit’. Wat nodig is om te weet, deel God ons mee. Kyk maar wat sê Abraham vir die ryk man in Luk 16:19-31toe hy vra dat daar deur Lasarus op ’n buitengewone manier met sy familie gekommunikeer moet word. God se woord is genoeg.

d)      Oor die finale oordeel, sien die artikels in Bybelkennis.co.za. Hier kan net genoem word dat volgens Openbaring 20:11-15 alle mense finaal geoordeel sal word, soos Matt 25:31-46 ook sê. Vir gelowiges sal die laaste oordeel egter net lekker wees. Johannes sê dat gelowiges nie eers regtig geoordeel sal word nie, omdat hulle reeds deur Jesus se woorde as lewend en God se kinders verklaar is. Jesus het self gesê dat die wat in Hom glo die ewige lewe het en Hy sal nie sy woord breek nie. In 1 Joh 4:17-18 sê hy dat gelowiges die finale oordeel met selfvertroue tegemoed kan gaan. Ander, soos Petrus en Paulus, beklemtoon weer dat God vir gelowiges hulle erfdeel in die hemel hou, met ander woorde, hulle kan seker wees van die finale oordeel se uitspraak (Ef. 1:9-11; Kol 3:1-4; 1 Pet 1:3-5). In elke geval, wie kan die gelowige aankla as Jesus die gelowige se advokaat is? (Rom 8:31-39).

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Die dimensies van God se koninkryk – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan julle vir die mense uiteensit wat God van praat of wat Hy bedoel met die vier dimensionaliteit van die koninkryk van God, volgens Efesiërs 3:18 en Markus 12:30. Dit is so ’n fenomenale openbaring. Die opsomming daarvan, wat die Vader my nou al gegee het, strek al oor 100 bladsye. Ek glo julle sal weet wat God alles bedoel het daarin.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek is ’n bietjie onseker oor wat ons vraagsteller presies bedoel met die “vier dimensionaliteit van die koninkryk van God” soos dit in Efesiërs 3:18 en Markus 12:30 na vore sou tree. Hy verwys waarskynlik na die feit dat in beide tekste vier dinge genoem word, maar die viertal wat in dié tekste voorkom verwys nie na dieselfde dinge nie. Die beste wat ek kan doen, is om gewoon ’n uitleg te gee van die twee tekste. Hopelik sal dit lig werp op die saak wat die vraagsteller graag aan die orde wil stel.

Efesiërs 3:18

Hierdie teks lui soos volg (volgens die 2020-Direkte Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van SA): “… sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte …”

Om dié teks na behore te verstaan, moet dit in sy onmiddellike verband geplaas word. Paulus is in 3:16-19 besig met ’n gebed. Hy bid vir drie dinge: 1. Dat die gelowiges innerlik versterk mag word (v16-17). Dit gebeur wanneer die Gees werksaam is in gelowiges en Christus in hulle harte woon; 2. Dat hulle kennis van die volle omvang van God se openbaring sal toeneem, veral wat die liefde van God behels (v18-19a); 3. Dat God se volle heil in hulle lewe ’n werklikheid sal word (v19b).

Dit is duidelik dat 3:18 deel is van die tweede bede. Paulus bid dat die gelowiges tot die besef / die kennis sal kom wat “die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte” (van God se openbaring) is. Uitleggers het al baie verklarings aangebied vir wat hierdie viertal – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – presies sou beteken. Ek gaan hulle nie almal hier noem nie, maar slegs op die mees waarskynlike verklaring ingaan. Die agtergrond van hierdie uitdrukking lê waarskynlik in die Ou-Testamentiese wysheidsliteratuur, waar soortgelyke uitdrukkings voorkom. Vergelyk byvoorbeeld Job 11:7-9: “Kan jy die geheimenisse van God ontrafel …? Dit is hoër as die hemel … Dit is dieper as die doderyk … Langer as die aarde … en breër as die see.” Hier kry ons die gedagte dat die geheimenis van God se wese en werksaamheid onpeilbaar is. ’n Mens kan dit nie ontrafel nie; die omvang daarvan is ver bokant ’n mens se begrip. Job vergelyk dit met die onmeetbaarheid van die hemel, die doderyk, die aarde en die see. Met ’n soortgelyke viertal wil Paulus dan ook in Efesiërs 3:18 dui op die onpeilbare omvang van God se heilswerk in Christus. ’n Mens kan dit nie met jou verstand volledig begryp nie. Tog bid Paulus dat die gelowiges in staat mag wees om iets van hierdie omvang – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – te begryp. ’n Soortgelyk gedagte tref ons ook in Romeine 11:33-36 aan, waar Paulus wys op die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God, dat sy oordele ondeurgrondelik en sy weë onnaspeurlik is.

Wat verder betekenisvol is in Efesiërs 3:18-19 is dat hierdie kennis van God se omvangryke heilswerk in Christus gekoppel word aan die korporatiewe kennis van die gelowiges en aan die liefde. Korporatief: Paulus sê dat hulle “saam met al die heiliges” tot die besef mag kom van God se omvangryke genade. Dit gaan dus nie soseer oor ’n individuele, mistieke ervaring van God nie, maar dat gelowiges mekaar nodig het om tot hierdie kennis te kom. Sáám moet hulle soek na God se omvangryke genade. Hoe meer ons mekaar opsoek, probeer agterkom hoe God in almal se lewe sy genadewerk uitvoer, hoe meer leer ons dit ken en hoe meer staan ons verwonderd daaroor. Maar daar is nog iets: Kennis is nie alles nie; daar is iets wat kennis te bowe gaan, en dis die liefde. Daarom dat Paulus in 3:19a bid dat die gelowiges Christus se liefde sal leer ken, wat alle begrip te bowe gaan. Kennis kan opgeblase maak, soos Paulus op ’n ander plek sê: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:2). Ook die kennis van God se omvangryke genadewerk moet altyd staan in die teken van die liefde wat alles bedek (1 Korintiërs 13:7).

Om dus saam te vat: Die viertal van Efesiërs 3:19 verwys nie soseer na afsonderlike dimensies wat elkeen op sy eie geneem moet word nie, maar druk gesamentlik die totale omvang van God se genadewerk uit. Dis Paulus se gebed dat die gelowiges grondige kennis hiervan sal bekom.

Markus 12:30

Hierdie teks lui: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” Weer eens het ons hier met ’n viertal te doen – hart, siel, verstand en krag – maar hierdie keer verwys dit nie na die totale omvang van God se genadewerk aan ons, soos by Efesiërs 3:18 nie, maar hoe ons as mense God moet liefhê. In kort beteken dit dat ons God met ons hele menswees sal liefhê; “hele menswees” word hier konkreet uitgedruk as hart, siel, verstand en krag. Markus 12:30 is natuurlik ’n aanhaling van Deuteronomium 6:5 waar Israel reeds die opdrag kry om God lief te hê met hart en siel, met al hulle krag. Markus (soos ook Lukas 10:27) voeg egter “verstand” by, hoewel by Matteus 22:37 daar net ’n drietal voorkom (“krag” word weggelaat).

Uit hierdie vier- of drietal moet ons nie die afleiding maak dat die mens uit drie of vier dele saamgestel is nie, asof die mens ’n samevoeging van afsonderlike “onderdele” is wat uiteindelik die hele mens uitmaak nie. Dit is eerder so dat elkeen van hierdie woorde die hele mens beskryf, vanuit ’n bepaalde perspektief gesien. So is die hart die bron van die menslike bestaan, van waaruit sy denke, gevoel en wil voortspruit; die siel is die menslike bestaan gesien vanuit sy vermoëns en begeertes; die verstand is die mens gesien as ’n redelike, denkende, verantwoordelike wese; en die krag is die mens gesien vanuit sy gerigtheid op ’n taak, sy toewyding. Wanneer al drie (of vier) saam genoem word, wil dit dus net sê dat die mens in sy totaliteit, in sy volle menswees, vanuit alle perspektiewe gesien, betrokke is. En so, sê Markus 12:30, moet ons God liefhê. Niks van wie jy as mens is mag uitgesluit word by jou gerigtheid op God nie. Hy eis jou as totale mens vir Hom op.

Ek vertrou dat bostaande oorsig ’n bydrae sal lewer tot ons vraagsteller se eie ondersoek.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Naam wat beteken “Ek het jou van God gebid” – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra:

Iewers is’ n persoon in die Bybel naam gegee wat beteken “Ek het jou van God Gebid”

Antwoord

Prof Francois antwoord

1 Samuel 1:20: Hanna het hom Samuel genoem, want, het sy gesê: ‘van die HERE het ek hom gevra.’

Die Hebreeuse woorde sj’al beteken om te vra, sjam‘a om te hoor, en El is een van die Hebreeuse woorde vir God.

Gaan lees 1 Samuel 1:1-20 oor Hanna se stryd om ’n kind te kry.

Skrywer: Prof Francois Malan