12 Desember: Bid beteken om te luister. – Jan van der Watt

1 Joh 5:1-21 (fokus 5:14-21)

Soms dink ons gebed is om baie te praat. Dit is eintlik anders om. Werklike gebed begin by luister.

  • Gebed beteken om eers na jouself te luister – om eerlik te kyk wat diep binne jou aangaan; eers moet jy die agenda van jou hart opstel. Daar diep binne in jou sal jy jou vrese ontdek wat jy met God wil bespreek. Daar sal jy nie by die verkeerde dinge wat jy probeer wegsteek kan verbygaan nie. Dit sal op jou lysie moet kom. Ook daaroor sal jy met God moet praat. So moet jy luister, intens na jou eie hart luister… en as jy gereed is, kan jy begin praat.
  • Gebed beteken ook om na God te luister. Daarom staan daar dat ons volgens sy wil moet vra (5:15). Ons moet op God se skoot klim en eers na die ritme van sy hartklop luister sodat ons kan toets of ons hartklop in pas is daarmee. Ons moet kyk na die pad wat God wil hê ons moet loop en of ons voetstappe op daardie pad val. As ons mooi geluister het, kan ons begin praat.

As jy kan begin luister as jy bid, sal jy agterkom dat gebed meer aan jou doen as aan God. Jy is die een wat nie alleen in ritme kom met jou eie hartklop nie, maar ook met die hartklop van God. Op daardie ritme kan gebed dans.




Kinderdissipline – Hermie van Zyl

Elsie vra:

Ná die afgelope tyd se koerantberigte oor lyfstraf tuis en op skool wat baie gemoedere laat vlam vat het – het julle al enigiets daaroor geskryf, veral na aanleiding van Spreuke 13:24; 29:15?

Antwoord

Prof hermie van Zyl antwoord:

Die hele oogmerk van dissiplinering is om ‘n leefwyse te kweek wat tot eer van God, tot opbou van die individu en tot voordeel van die gemeenskap strek. ‘n Mens maak ook ‘n fout om te dink dat dissiplinering net vir kinders bedoel is; grootmense het dit net so nodig. Die lewe is immers niks anders nie as ‘n lewenslange opvoedingsproses. Maar nou is dit so dat kinders wat nog besig is om die basiese lesse van die lewe te leer, dissipline in ‘n besondere mate nodig het. En dit is in hierdie verband dat lyfstraf kort-kort opduik as ‘n opsie in die dissiplineringsproses.

Vanuit Bybelse oogpunt is dit ook so dat die verhouding tussen God en sy kinders dikwels in terme van dissiplinering uitgedruk word. Dissiplinering dien as ‘n metafoor om bepaalde aspekte van hierdie verhouding te beskryf. Verskillende vertalings gebruik verskillende woorde hiervoor. In die 1933/53-Afrikaanse Vertaling word meesal die woorde “tugtig” (werkwoord) en “tugtiging” (selfstandige naamwoord) vir die onderliggende Hebreeuse en Griekse woorde ingespan. Die 1983-Afrikaanse Vertaling gebruik ‘n groter verskeidenheid van begrippe, soos “straf”, “tug” of “dissiplineer”. Maar dit kom alles op dieselfde neer: Wanneer die verbondsvolk ongehoorsaam is aan God, dan dissiplineer God hulle soos aardse ouers hulle kinders dissiplineer. Dit het niks met gevoelloosheid of wreedheid te doen nie. Inteendeel, dit spruit voort uit God se liefde vir sy kinders en het daarom hulle langtermyn welstand en heil op die oog – sodat hulle mense kan wees wat tot eer van God lewe en ‘n samelewing tot stand bring waar die hart en wil van God, soos onder andere uitgedruk in die Tien Gebooie, sigbaar vergestalt word. Liefde en dissipline is daarom twee kante van dieselfde saak (Spr 3:12; Jer 31:20; Heb 12:4-12; Op 3:19). In ‘n onvolmaakte wêreld is beide nodig. Liefde skep ‘n veilige ruimte waar die kind kan gedy, liefde inspireer, dit laat die kind besef dat die ouers/God dit goed met hom/haar bedoel. En dissipline is nodig omdat ons nie altyd die goeie vanself kies nie. Ons is geneig om af te dwaal, ons eie kop te volg. En dan moet ons vermaan, gestraf en getug word om die verkeerdheid van ons weë in te sien en weer terug te keer na wat wys, goed en reg is.

Die hele gedagte van dissiplinering lê daarom ingebed in die algemene konsep van wysheid van die antieke tyd. Wysheid destyds het te make met hoe die lewe prakties werk, wat goed is vir ‘n mens en wat vermy moet word. Geen wonder nie dat baie van die uitsprake waar God as die dissiplinerende Vader beskryf word, in die sogenaamde wysheidsliteratuur van die Bybel gevind word (Spreuke en Psalms). Wat verder opmerklik is, is dat God van verskillende metodes gebruik maak om sy kinders te dissiplineer. Soms sluit dit aan by die gedagte van lyfstraf, wat in die antieke midde-Ooste geen onbekende verskynsel was nie; trouens, dit was ‘n gegewe in die opvoedingsproses. Die gedagte van die “roede” (stok, lat) wat nie gespaar mag word nie, is dus vanselfsprekend teenwoordig wanneer oor opvoeding gepraat word (bv Spr 13:24; 19:18; 22:15; 23:13; 29:17; Deut 22:18). So gesien word dan beskryf dat God met baie streng maatreëls optree, vergelykbaar met die pynlikheid van lyfstraf (vgl Lev 26:18,28; Ps 39:12; Jer 30:14). ‘n Mens sou ook kon sê dat die ballingskap van Israel niks anders was nie as ekstreme tugtiging of ‘n vorm van “lyfstraf” deur die Here om die volk weer terug te bring na Hom toe (Jer 31:17-18). Ander kere is ‘n ligte teregwysing of bestraffende woord egter voldoende (vgl Deut 21:18 [veronderstel]; kyk ook Spr 1:2-3,8; 6:23). Trouens, in die gewone gang van sake is vermaning eintlik wat normaalweg in die opvoedingsproses gebeur: kinders leer die reëls van die lewenspel deur hulle ouers se voorbeeld en wyse woorde te gehoorsaam en in hulle eie lewe toe te pas. Dis slegs wanneer nie geluister word nie, dat ander, meer ekstreme vorme van dissiplinering nodig word.

Met hierdie vlugtige stukkie Bybelse agtergrond kan ons iets sê oor vandag. Mens moet besef dat ‘n groot gaping ons eie tyd skei van destydse opvattings oor kinderopvoeding, waarvan dissiplinering deel uitmaak. Soos met baie ander dinge kan ‘n mens nie alles wat in die Bybel oor tugtiging voorkom letterlik vandag toepas nie, spesifiek wat lyfstraf betref. Lyfstraf was so deel van die antieke vorm van dissiplinering dat niemand ‘n oog daaroor sou knip nie. Dit was eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar; dis ondenkbaar dat in die antieke tyd opvoeding daarsonder kon plaasvind. En dit is dikwels so dat lyfstraf gevrees is omdat dit buitensporig toegepas is. Iets hiervan slaan deur in die woorde van Spr 19:18, en waar die profeet pleit dat die Here “met mate” sal tugtig (Jer 10:24; vgl 30:11).

Maar intussen het opvoedkundige insigte ontwikkel en is daar baie studies gedoen oor die opvoedkundige waarde van lyfstraf. Op sy minste moet gesê word dat opvoedkundiges vandag daaroor eens is dat lyfstraf uiters beperkte opvoedkundige waarde het. Kinders leer die spelreëls van die lewe nie soseer deur die vrees vir (lyf)straf nie, maar deur die voorbeeld wat ouers en ander rolmodelle van die samelewing stel. Met inagneming van die Bybelse gegewens soos hierbo geskets en wat ons vandag weet oor opvoeding, sou mens die volgende riglyne oor dissiplinering kon trek:

  • Die kind moet ervaar dat dissiplinering uit liefde geskied. Die motivering vir ‘n ouer om ‘n kind te dissiplineer mag dus nooit voortspruit uit haat of ‘n begeerte om seer te maak nie, maar omdat die ouer die kind liefhet. Watter vorm van dissiplinering ook al toegepas word, dit moet die ouer eintlik seerder maak as die kind. Die ouer wil nie eintlik tug nie, maar het soms nie ‘n keuse nie, en dan mag nie daarvan weggeskram word nie, omdat die kind se langtermyn heil op die spel is.
  • Die oogmerk van dissiplinering is om ‘n beter situasie te skep as wat vóór dissiplinering gegeld het. Die kind moet die ervaring hê dat daar ‘n beter leefwyse tot stand gebring word as wat die kind op die oomblik het. In die Bybel gaan dit altyd om die wil van God wat deel van die kind van God se leefwyse moet word. As God se volk hiervan afwyk, is daar negatiewe gevolge wat nie vir God aanvaarbaar is nie, en mag daar slegte dinge gebeur wat sy kinders weer wil terugbring na gehoorsaamheid aan die wil van God, omdat laasgenoemde uiteindelik die beste is. In dissiplinering moet daar dus altyd by die kind ‘n besef gekweek word van waarheen die ouer met die kind op weg is en watter leefstyl graag by die kind gekweek wil word. Dissiplinering is ‘n middel tot ‘n doel, nie ‘n doel in sigself nie.
  • Daar is nie net een vorm van dissiplinering nie. Ons het hierbo daarop gewys hoe bestraffende woorde en lyfstraf in die antieke eintlik hand aan hand gegaan het. Selfs in ‘n kultuur waar lyfstraf die aanvaarde vorm van dissiplinering was, was dit nooit as die enigste vorm van straf of dissiplinering gesien nie. Dit was altyd ingebed in ‘n breër konteks van opvoeding wat ten doel het om te vorm, op te voed, te beskerm en uit te daag om die norme van die ouer, God en die samelewing te aanvaar. Vandag sou mens kon sê dat indien lyfstraf wel nog as deel van die opvoedingsproses gesien wil word, dit seer sekerlik net een aspek van dissiplinering is. Daar is baie maniere waarop die kind op ‘n pynlike manier kan ervaar dat dit beter is om te luister as om nie te luister nie, om gehoorsaam te wees as om ongehoorsaam te wees. Byvoorbeeld, bepaalde voorregte wat die kind dalk as vanselfsprekend aanvaar of wat vir hom/haar baie belangrik is, kan die kind tydelik ontneem word om die kind te laat besef dat alles nie vanselfsprekend in die lewe is nie. Die probleem met lyfstraf is dikwels dat die kind, veral groter kinders, dit as vernederend ervaar, en natuurlik dat dit soms in ‘n oomblik van woede toegepas word wat maklik kan hand uitruk en ontaard in fisieke aanranding. Die gevolge hiervan is dus alles behalwe van positiewe opvoedkundige waarde vir die kind. Inteendeel, daar kan allerlei negatiewe gevolge vir die verhouding tussen ouer en kind wees (soos vrees en terugtrekking) wat die opvoeding van die kind eerder strem as bevorder. Dit is dus altyd beter om wanneer ‘n kind gedissiplineer moet word, ‘n vorm van straf te kies wat verantwoord is, ‘n rasionele basis het (moet pas by die situasie, die ouderdom en aard van die kind), binne aanvaarde norme geskied (dit mag nooit ontaard in fisiese aanranding nie), en waarvan die kind ook die sin kan insien.

Om dus saam te vat: Indien lyfstraf steeds gesien word as toepaslik vandag, moet dit in elk geval as ‘n klein onderdeel van ‘n omvattende proses van dissiplinering verstaan word en nie as die aller antwoord vir alle probleme wat ‘n ouer met ‘n kind mag hê nie. Verder moet dit binne bostaande riglyne uitgevoer word. Die ideaal sou egter wees om lyfstraf sover moontlik te vermy en eerder ander vorme van dissiplinering te gebruik wat meer opvoedkundig verantwoord is. Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 Hoe word mens deel van die koninkryk? Dit gaan natuurlik oor die herstel van die verhouding tussen God en mens.  Die sinoptiese evangelies as verhaal van Jesus het ‘n interessante manier om die begin en proses van verlossing mee te beskryf. Om gered te word moet ‘n persoon Jesus ‘navolg’ – dit is ‘n ekwivalent van wat Johannes of Paulus bedoel as hulle sê dat iemand in Jesus moet glo.

Matteus vertel hoe hy in die tolhuis gesit het toe Jesus daar verby kom en sê: ‘Volg my’. Hy het opgestaan en Jesus gevolg (Matt 9:9-13). In die res van die verhaal word vertel hoe Jesus saam met die tollenaars en sondaars geëet het om te wys dat Hy vir sondaars en so vir almal wat hom nodig het, gekom het. So het Matteus se lewe verander. Navolging het egter veel meer ingesluit as om net agter Jesus aan te loop. Jesus self stel dit so (Matt 16:24-25): 24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry (sien ook Mk 8:34-9:1).

Twee belangrike begrippe val hier op: a) die volgeling moet hom/haarself verloën, wat verduidelik word as dat die persoon bereid sal wees om sy eie lewe op te offer of te verloor. Dit gaan dus oor ‘n totale oorgawe aan Jesus waardeur Hy vir die persoon belangriker raak as wat die persoon vir hom of haarself is. Navolging beteken dus totale selfopoffering. b) Van die navolger word verwag om sy kruis op te neem en Jesus te volg. Hier moet onthou word dat die skadu van die kruis reeds oor Jesus val. Om vir die navolger te sê dat hy sy kruis moet opneem, beteken om van die navolger te verwag om die pad van lyding vir Jesus enduit te loop. Weereens word die totaliteit van oorgawe beklemtoon. Navolging impliseer totale en lojale binding aan Jesus. Op die manier word die lojale verhouding met Hom uitgedruk en deel mens ook aan die heil en lidmaatskap van die koninkryk. Dus, om gered te word, beteken om naby Jesus te wees, nee, meer, om in ‘n intieme lojale verhouding met hom te staan wat jou eie belange ondergeskik stel aan Jesus s’n. Dit wou die ryk man in Matt 19:16-26 nie doen nie. Hoewel hy al die wette formeel nagekom het, het hy sy eie skatte belangriker geag as die navolging van Jesus. Daarom lees ons (Matt 19:22-24): 22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

As ‘n skrifgeleerde dus na Jesus toe kom en sê dat hy Jesus wil volg, antwoord Jesus hom (Matt 8:19-20): “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”. Die skrifgeleerde was onder die indruk van die krag van Jesus (die konteks van Matt 8-9 vertel van al die wonders wat Jesus gedoen het) en wou die geheim daarvan by Jesus leer. Jesus help hom reg deur te sê dat navolging van Jesus ook mag beteken dat jy nie eers ‘n plek het om jou hoof neer te lê nie, met ander woorde, slegter af is as die diere. Navolging van Jesus is nie net glorie nie, maar ook opoffering. Dit verduidelik Jesus direk daarna aan ‘n dissipel wat ook vra om Hom na te volg (Matt 8:21-22): “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” 22Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe”. Daar word baie oor die betekenis van hierdie woorde bespiegel, maar die essensie van die antwoord kom daarop neer dat die gelowige se plek by Jesus is. Waarskynlik verwys die ‘dooies’ wat die ander dooies moet begrawe na mense wat nie aan Jesus behoort nie, maar geestelik dood is. Al sou dit so wees, val Jesus se antwoord tog nog snaaks op die oor. Die dissipel het tog ‘n billike versoek, want om jou vader te gaan begrawe was destyds ‘n religieuse en sosiale plig. Tog weier Jesus hom dit. Dit intensifiseer net die belangrikheid en absolute aard van die navolgingskap van Jesus.

Geen wonder dat die dissipels begin wonder het oor of dit die moeite werd is om alles te los en Jesus te volg nie. Daarom vra hulle Jesus reguit (Matt 19:27-30): 27Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 28Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. 29En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry. 30Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste”. Hieruit is duidelik dat die ‘navolging’ deurloop – soos Jesus op ‘n troon sal sit, sal die gelowiges ook op trone sit; die rykdom van Jesus sal hulle rykdom wees.

Dit alles is toekomsmusiek. Wat van nou?




11 Desember: Moenie alles glo wat mense sê van die Here af kom nie. – Jan van der Watt

1 Joh 4:1-21 (fokus 4:1-6)

Een van die gevaarlikste dinge is Christene wat dink hulle het alleenreg op die Heilige Gees – die Gees praat net met hulle en ander moet luister!

Natuurlik praat die Here deur sy Gees met ons. Ons mag dit nooit ontken nie en daarvoor moet ons baie dankbaar wees. MAAR, daar is mense wat die Gees misbruik om ander te manipuleer. Hulle kry gedurig “boodskappe” van die Gees en dan moet ander volgens hulle pype dans. Hulle sal jou vinnig vertel dat die gees vir hulle sus of so oor jou gesê het. Arme jy kan dan nie stry nie, want wie kan dan teen die Gees stry?

Dikwels grens die “boodskappe” aan totale liefdeloosheid. ʼn Vrou het een nag drie-uur haar vriendin se man gebel wat gesukkel het om sy huwelik weer op dreef te kry. Sy het hom van ‘n kant af uitgevreet oor hy so sleg is – dit was glo ʼn boodskap van die Gees af. Intussen was dit net haar simpatie met haar vriendin. Onnodig om te sê dat dit die laaste strooi was. Die huwelik was daarmee heen. Sou die Gees so liefdeloos optree? Nee, vir sulke geeste moet ons versigtig wees. Dit is geeste van mense wat hulle gesag op ander wil afdruk – en dit nogal onder die Gees se naam.

As die boodskap “van die Gees” nie van die liefde van Jesus straal nie, moet ons maar ons dowe oor draai (4:1-2). Buitendien, die Here skinder nie. Hy sal nie vir iemand anders ‘n boodskap oor my stuur sonder om dit in my eie lewe ook te bevestig nie. Dus, as iemand anders “skinderstories namens God” by jou aandra, vra eers vir die Here om vir jou ook te bevestig voor jy dit glo.