‘n Ander naam vir Nagmaal – Francois Malan

Vraag

‘n leser vra

Ek benodig n ander Naam vir Nagmaal vir n Christelike Taak – 12 Letters – begin met V en eindig
met L

Antwoord

Prof Francois antwoord

Verbondsmaal
In 1 Korinthiërs 11:25 sê Jesus: Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.
In Markus 14:24 sê Jesus van die beker wyn wat hulle gedrink het: Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word.

Skrywer: Prof Francois Malan




Gesig op die grond val – Francois Malan

‘n Leser Vra

IEWERS IN DIE BYBEL, EK WIL MY VERBEEL DIT IS IN JESAJA OF JEREMIA MAAR EK
KAN VERKEERD WEES IS N VERS WAT SE ” SAL DIE MENSE DAN NIE UITGAAN EN OP
HUL AANGESIG NEERVALE EN Se WAARLIK, GOD WOON ONDER HIERDIE VOLK.”
EK SAL DIT WAARDEER AS IEMAND MY KAN HELP.
BAIE DANKIE

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

1 Korinthiërs 14:25 sê: die oningeligte persoon sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: Werklik, God is in julle midde.
Dit is as jy met jou verstand verstaanbaar praat en nie in onverstaanbare tale nie.

In 1 Konings 8:41-42 bid Salomo dat ook die buitelander in die rigtig van die tempel wat hy gebou het, sal bid.

In Daniël 2:46-47 val Nebukadnesar met sy gesig teen die grond en betoon eer aan Daniël wat sy droom vir hom kon uitlê.

In Jesaja 45:14 sê die HERE dat die lang Sabeërs na Israel toe sal kom en biddend pleit: Waarlik by jou is God.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se Opstanding – Jan van der Watt

‘n Leser vra

Nerens se die Woord dat Jesus op die Sondagoggend opgestaan het nie, wel dat die graf toe al leeg was. Jesus kan nie lieg nie, oral praat Hy van 3 dae, op die derde dag opstaan. Die Jode se dae was van sonsondergang tot sonsondergang die volgende dag.  Dis onmoontlik – As Jesus die Vrydag middag gekruisig was en die Sondagoggend opgestaan het gee dit 1 volle dag van Joodse dag en nog n klein stukkie in die 2de dag in. Jesus lieg nie – Hy het by meer as een geleentheid gepraat van drie dae en drie nagte. Nou hoe nou? Van Vrydag to Sondagoggend is selfs in ons kalender nie 3 dae en 3 nagte nie en gee my asb die Bybelverse wat se Jesus het die Sondagoggend, die eerste dag van die week opgestaan?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Mense wonder dikwels waarom die Bybel sê dat Jesus eers na drie dae opgestaan het, dit terwyl Hy die Vrydagmiddag begrawe is en die Sondagoggend vroeg al opgestaan het. In 24 uur periodes gee dit maar so ongeveer ’n dag en ’n half. Die antwoord lê in die manier waarop daar getel word. Om ’n voorbeeld te gebruik: as ’n werktuigkundige sou sê ek kan my kar oor drie dae kom haal, en dit is die 20 Januarie, kan ek tel: 20, (dag 1) 21 (dag twee) en 22 (dag drie). Die dag waarop dit ingegee het, tel dus as die eerste dag. Hoeveel ure betrokke is, is nie belangrik nie, maar kalenderdae.

So is die dae ook getel waarop Jesus in die graf was. Die Jode se dag eindig met sononder (die 12 ure nag is die eerste deel van die ‘volgende dag’ en as dit lig word is dit die tweede deel van dieselfde dag tot die son weer ondergaan). Jesus is die Vrydag voor sononder begrawe – volgens die kalender is dit die eerste dag in die graf (dag 1). Dag 2 het begin toe die son die Vrydagaand ondergegaan het en die Saterdag deur tot die Saterdagaand geduur. Dag drie het begin toe die son op Saterdagaand sak.

Toe die vroue die Sondagoggend met ongeveer sonsopkoms by die graf aankom, was dit dus reeds dag drie. Jesus kon dus enige tyd vanaf die sonsondergang op Saterdag opgestaan het en dit sou nog dag 3 gewees het, want die Joodse dae begin met sonsondergang. Dit was dus die Sondagoggend, dws dag 3. Daarom vertaal die Nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 dit met Sondagmore (Mat 28:1; Mk 16:2, 9; Luk 24:1; Joh 20:1). Die vroue het eers dag drie gegaan, omdat dag 2 (die Saterdag) die sabbat was. Dit is wel so dat die woord Sondag nie in die Grieks staan nie, maar deur die vertalers so vertaal is. Die dag na die sabbat was toe nog nie as Sondag bekend nie (dit sou eers later so genoem word). Dit was bekend as die eerste dag van die week, na die sewende dag (Saterdag) waarop die Jode moes rus. Ons ken die ‘eerste dag van die week’ as Sondag. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die verskil tussen die paradys en die hemel – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan u asseblief vir my verduidelik wat is die verskil tussen die paradys en die hemel. As ’n gelowige nou sou sterwe, gaan jy eers paradys toe en later, wanneer Jesus weer kom, dan hemel toe?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord is dat daar in die Bybel nie regtig ’n verskil tussen die terme “paradys” en “hemel” is om die lewe na die dood voor te stel nie. Eintlik stel die Bybel nie veel belang in die toestand waarin die mens verkeer na die dood nie. Die gegewens hieroor is relatief skaars teenoor waarin die Bybel meer geïnteresseerd is, naamlik die opstanding van die dooies aan die einde van die tyd, wanneer die nuwe hemel en nuwe aarde aanbreek en die gelowiges dan vir ewig saam met die Here sal wees. In Openbaring word dit byvoorbeeld voorgestel as dat die hemelse Jerusalem sal neerdaal op die aarde en God dan vir ewig saam met sy mense sal woon (21:1-22:5). Paulus weer praat van die opstanding as dat die aardse, verganklike liggaam met ’n onverganklike liggaam, en die sterflike met ’n onsterflike liggaam beklee sal word (1 Korintiërs 15:53-54).

Die paar keer waar die Bybel wel oor die lewe na die dood praat, word dit op verskillende maniere voorgestel. Daar word gesê dat die gelowige saam met die Here in die paradys sal wees (Lukas 23:43), dat hy/sy “teen die bors van Abraham rus” (dit is: saam met Abraham aan tafel sal wees, Lukas 16:22), dat ons in Christus ontslaap om by Hom te wees (1 Tessalonisense 4:13-14; vgl ook Markus 5:39; Johannes 11:11-13), dat ons dan alles sal sien soos dit werklik is (1 Korintiërs 13:12; vgl Matteus 5:8), dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word ons dan ’n vaste gebou in die hemel het (2 Korintiërs 5:1), dat ons opgeneem word in die huis van die Vader waar daar baie woonplek is (Johannes 14:2-4), dat ons behoue in die Here se hemelse koninkryk sal wees (2 Timoteus 4:18). Die laaste drie tekste het almal daarmee te doen dat ons opgeneem word in die hemel na ons dood. Daar is ander uitdrukkings wat ook verband hou met die gedagte dat ons “hemel toe gaan” na ons dood, naamlik dat ons loon of skatte in die hemel sal ontvang (Matteus 5:12; 6:20; Lukas 6:23; 1 Petrus 1:4). Al bogenoemde gedagtes kan egter saamgevat word met wat Paulus in Filippense 1:23 sê, naamlik dat ons na ons dood “met Christus” is (vgl ook 2 Korintiërs 5:6). Dit is vir Paulus die toppunt van wat dit beteken om “in die hemel” te wees na sy dood – nie soseer om geluksalig te lewe, vry van pyn en lyding, omring deur jou geliefdes nie, maar om “met Christus” te wees, dit wil sê, die volle lewensgemeenskap met Christus te ervaar. Dít is vir Paulus die hemel. Dit herinner aan wat die kerkhervormer, Martin Luther, gesê het, toe vir hom gevra is wat die hemel vir hom inhou. Hy het gesê: Vir my is die hemel om met Christus te wees; trouens, ek is eerder in die hel met Christus as in die hemel sonder Hom.

Dus, om die vraag van ons vraagsteller te beantwoord: “paradys” en “hemel” is dieselfde, hulle verteenwoordig nie verskillende stadia of fasette van die lewe na die dood nie, maar beide druk dieselfde gedagte uit, naamlik dat ons na ons dood saam met Christus in sy heerlikheid verkeer. En dáár is ons totdat die nuwe hemel en aarde aanbreek, of, anders gestel, totdat die opstanding uit die dood plaasvind en ons verheerlikte liggame ontvang, soos Paulus dit in 1 Korintiërs 15:35-57 beskryf (vgl ook 1 Tessalonisense 4:13-18).

’n Laaste gedagte: Hoewel “hemel” en “paradys” dieselfde beteken as aanduiding van die gelowige se bestemming ná die dood, kom hulle uit verskillende agtergronde in die Bybel. Ons kan lank hieroor uitwei, maar kortliks kom dit op die volgende neer.

Eerstens, “hemel”: Dit kan in die Bybel na drie dinge verwys – a. die lug bo die grond; b. die koepel bo die aarde wat die waters bo die koepel skei van die water op die aarde, en waarin daar “vensters” is waardeur dié water (= reën) op die aarde val; en c. die onsigbare woonplek van God, agter die koepel van b. Dit is veral laasgenoemde gedagte wat in die Bybel, meer spesifiek die Nuwe Testament, ontwikkel het in die konsep van die koninkryk van God/die hemele. Dit is die plek waar God in die besonder woon en vanwaar Hy die wêreld regeer (vgl Matteus 6:9-10). Dit is ook die “plek” waar die gelowige opgeneem word ná sy/haar dood, om daar saam met God/Christus te woon in Goddelike heerlikheid. Dit is egter te verstane dat “hemel”, so verstaan, vir die hedendaagse gelowige allerlei probleme oplewer. Vir die antieke gelowige, met sy verstaan van die kosmos as ’n drieverdieping-struktuur (hemel, plat aarde, en onderaardse diepte) was dit nie ’n probleem nie, maar vir ons vandag, waar is “hemel” – bo, onder die ronde aarde, aan die buitenste rand van die uitspansel? Miskien moet ons vandag eerder dink aan die hemel – as die “plek” vanwaar God alles regeer en waarheen ons gaan ná ons dood – as ’n ander dimensie van bestaan, nie verwyder van die aarde nie, maar hier by ons, net aan die “ander kant” van wat ons met ons sintuie kan waarneem.

Tweedens, “paradys”: Die woord is ontleen aan oud-Persies waar dit ’n ommuurde tuin voorstel. In die Ou Testament verwys dit na die tuin van Eden, en meer spesifiek dit wat die mens verloor het vanweë sy sonde. Gevolglik het daar reeds in die Ou Testament spekulasies ontstaan oor die herwinning van die paradys (vgl Jesaja 51:3; Esegiël 36:35). Veral in die Joodse buite-Bybelse literatuur het hierdie spekulasies wilde verbeeldingsvlugte aangeneem. Dit word dan ook spesifiek in hierdie literatuur as die woonplek van gelowiges na hulle dood aangedui, ’n gedagte wat ook in die Nuwe Testament voorkom (bv Lukas 23:43). Die tipies Joodse spekulasies oor die paradys is egter nie in die Nuwe Testament oorgeneem nie, waarskynlik omdat, soos reeds genoem, die gemeenskap met Christus hier as die belangrikste kenmerk gesien word van die lewe na die dood. Dit is ook die rede waarom die woord “paradys” net drie keer in die Nuwe Testament voorkom (Lukas 23:43; 2 Korintiërs 12:3-4; en Openbaring 2:7). Paradys-motiewe kom egter meer dikwels voor, veral as aanduiding van die paradys wat in die eindtyd herwin sal word. Vrede, oorvloed en volkome harmonie sal dan heers, soos aan die begin. So sê die Openbaringboek dat daar in die nuwe Jerusalem ’n rivier met die water van die lewe sal wees wat uit die troon van God en die Lam stroom (22:1); die boom van die lewe sal ook daar voorkom, wat twaalf keer per jaar sy vrugte oplewer (22:2,14,19); die slang, wat in die paradys die groot verleier was, sal vernietig word (20:2,10); en daar sal geen lyding en dood meer sal wees nie (21:4).

Om saam te vat: Hoewel die terme “hemel” en “paradys” in die Bybel uit verskillende agtergronde ontstaan het, is hulle vir alle praktiese doeleindes sinonieme as aanduiding van die “plek” waarheen gelowiges gaan ná hulle dood.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl