11 November: Uit die slegte kan jy baie goeie goed leer. – Jan van der Watt

Heb 12:4-17 (fokus 12:7-11)

God los nooit sy kinders nie, ook nie as hulle verkeerde paaie begin loop nie. Soos enige pa of ma wat hulle kinders reg wil leer, leer God ons ook. As jy nou jouself sou vra hoe God ons op die regte pad hou, veral as ons nie wil luister nie, is daar nie net een antwoord nie. God praat op baie maniere: Hy kan deur ons gewete praat, ons deur ander mense waarsku, ja, Hy kan selfs dinge vir ons laat skeefloop, net om weer ons aandag te kry.

God gebruik ook dinge wat skeef loop ten goede. Ons almal weet hoe vinnig ‘n mens na God toe hardloop as iets verkeerd loop. Dan bid ons vurig en pleit. Dan maak ons skielik beloftes aan Hom of vra dat Hy moet wys Hy’s daar deur vinnig met die probleem te help. Ja-nee, dinge wat verkeerd loop het die geneigdheid om ons oë vinnig vir God oop te maak en ons vinnig aan Hom te laat dink. Dan onthou ons Hom skielik goed. Daarom gebruik God soms dinge wat verkeerd loop om weer ons aandag te kry (8). Dit is wat ‘n liefdevolle Pa doen.

Een fout moet ons egter nie maak nie: nie alles wat verkeerd loop is God se straf nie. Ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie en die duiwel slaan ook maar links en regs. Ons hoef nie elke keer as iets nie reg loop te wonder watter sonde ons nou weer gedoen het nie. Maar ons moet konstant ons verhouding met God weeg, oordink en as ons agterkom iets is wel verkeerd, moet ons dit regmaak. Alleen so sal ons “God se soet kinders” kan word.

Sleg is nie altyd sleg nie. Uit sleg kan jy baie leer, ook wat goed is. Haal dus die positiewe uit die slegte en leer daaruit. Dit sal jou net ‘n sterker en beter mens maak.




10 November: Moenie opgee nie; laat die skare jou dra. – Jan van der Watt

Heb 11:32-12:3 (fokus 12:1-3)

‘n Tuisskare maak ‘n reuse verskil. Dit sal elke sportman jou vertel en ‘n mens sien dit gewoonlik aan die punte ook. As daai skare skreeu is dit amper asof hulle jou dra. Die energie wat hulle uitstraal word jou energie.

Christene het ook ‘n “tuisskare”, vertel die Hebreërskrywer. Hierdie tuisskare moedig ander gelowiges net so sterk aan as enige skare by die grootste rugbywedstryd. Hierdie skare is ‘n spesiale skare, want hulle bestaan uit ander Christene wat die wedloop van die geloof klaar gehardloop en gewen het (12:1). Dit is gelowiges wat die pad wat ons nou deur hierdie lewe loop, klaar geloop het. Hulle het ook swaargekry, getwyfel, gewonder… maar hulle het deurgedruk en ontdek dat al die twyfel en gewonder verniet was. Hulle het geleer dat God dáár is, altyd. In hulle swaarkry deur die wedloop het hulle geleer om maar net aan te hou deur op God te vertrou.

Dit is hulle wat op die “pawiljoen” sit en ons nou aanmoedig. Hulle doen dit uit eerstehandse kennis. Hulle gejuig op die pawiljoen vertel ons een verhaal: God is getrou, vertrou op Hom en jy sal nie teleurgesteld wees nie.

As ons begin twyfel of ons geestelike knieë begin lam raak, moet ons opkyk pawiljoen toe. Daar is derduisende Christene wat ons aanmoedig om die wedloop voluit en reg te hardloop – hulle het dit gedoen en het die wenpaal gehaal, ja, het in die oop arms van God ingehardloop. Deur aan te hou en vol te hou kan jy dit ook doen. Laat die getuienis van die skare, al die ander Christene wat dieselfde pad as jy geloop het, jou dra. Hulle sal vir jou sê: dit is nie verniet nie. Moet nooit tou opgooi nie.




9 November: Geloof laat jou God so helder raaksien dat jy van jouself vergeet. – Jan van der Watt

Heb 11:20-31 (fokus 11:20-31)

 Een van die geloofshelde wat so in Heb 11 besing word, vang nogal die oog… Ragab, die straatvrou. Dit moes ‘n merkwaardige vrou gewees het. Sy was nie eers ‘n Jood nie; tog pryk sy nie alleen hier in die heldegalery van God nie (31), maar is ook deel van die geslagsregister van Jesus (Mat 1:5). Dit is nogal noemenswaardig vir ‘n prostituut.

Hierdie vrou was inderdaad merkwaardig. Wat haar so merkwaardig gemaak het, was haar onwrikbare vertroue in die God van Israel; ‘n vertroue wat haar aangespoor het om alles vir Hom te doen wat Hy gevra het, al sou dit haar wat ook al kos. Al was sy nie deel van Israel nie, maar van hulle vyande (die mense van Jerigo – Jos 2), het sy nie ‘n oomblik getwyfel dat God werklik God is nie. Nog belangriker, as bewys van haar geloof het sy haar eie lewe op die spel geplaas: sy het die spioene van Israel in haar huis vir die Jerigopolisie weggesteek en hulle nog gehelp om weg te kom ook. Elke ding wat sy gedoen het, was lewensgevaarlik en kon haar einde beteken het… nogtans het sy nie vrae gevra nie. Sy het gedoen, omdat sy geweet het haar lewe is in die hande van die lewende God. Dit is wat haar so merkwaardig gemaak het.

Geloof neem jou tot op daardie punt waar jy God so helder en duidelik raaksien, dat jou eie belange begin vervaag. Hy raak vir jou so belangrik dat jy van jouself begin vergeet. Wat dan saakmaak is wat Hy graag wil hê, al kos dit jou wat. Vir sulke mense is daar plek in die heldegalery van God. Het jy ook ‘n plekkie daar?




8 November: Hoe goed praat jy “geloofstaal”?. – Jan van der Watt

Heb 11:7-19 (fokus 11:7-19)

‘n Man het eendag opgemerk dat hy so bly is hy is nie in Frankryk gebore nie. Iemand vra hom toe hoekom. “Want ek kan nie ‘n woord Frans praat nie”, sê hy toe. Onnodig om te sê, die fout wat die man natuurlik maak is dat ‘n mens ‘n taal gewoonlik van geboorte af leer. Die twee loop saam.

Net so loop geloof en dade saam. As jy glo, sal dit uit jou dade wys. Dade is eintlik die “geloofstaal” waarmee ons sigbaar en hoorbaar “praat”. Jy kan maar kyk, elke geloofsheld wat in hoofstuk 11 genoem word, het geglo… en gedoen. Hulle dade is die manier waarop hulle hulle geloof sigbaar gemaak het.

‘n Voorbeeld mag ons help om dit te verstaan. Sê nou daar is ‘n swaar wa wat die bult uitgetrek moet word, maar die merrie op die plaas is nie sterk genoeg om dit te doen nie. Uiteindelik kry sy ‘n vulletjie. Nou is dit ‘n ander saak. Saam-saam trek die twee die wa die bult uit. So is dit met geloof en werke. Geloof alleen kan nie die reddingswa die bult uittrek nie. Maar die dade (die vulletjie) wat uit die geloof voortkom, maak van hulle twee ‘n span. Saam trek hulle die reddingswa die bult uit. Die een kan nie sonder die ander nie.

Natuurlik kom geloof eerste. Dit laat jou God sien. Maar juis omdat jy God sien, verander jou manier van lewe. Dade wat God tevrede stel word in jou lewe gebore. Anders kan dit nie. As jy sê jy sien God, jy is sy kind en jy staan in ‘n verhouding met Hom, maar niemand hoor of sien enigiets van die verhouding nie, bluf jy maar net jouself.

Waar geloof dus is, daar word met die taal van dade gepraat. Dade is geloofstaal. Hoe goed praat jy daardie “taal”?