Hoenders in die Bybel – Francois Malan

Ansie vra:

Het hoenders soos ons dit vandag ken voorgekom in die bybelse tyd? ‘n Wetenskaplike het ‘n terloopse opmerking op ‘n radioprogram gemaak dat daar nie hoenders was nie. – mbt haan wat gekraai het toe Petrus Jesus verloën

Antwoord

Prof Francois Malan nantwoord:

Jy ken jou Bybel beter as die sogenaamde wetenskaplike. Hoenders was goed bekend in die Bybelse tyd. Jou teks oor die haan wat vir Petrus kraai staan in Matteus 26:34,75; Markus 14:30,68,72; Lukas 22:34,60,61 en Johannes 13:38; 18:27.

Die hanekraai was so algemeen bekend, dat die Romeine hulle nagwake vir die wagte in vier ongeveer drie-uur periodes ingedeel het, en die derde nagwaak van 12-3vm genoem het ‘hanekraai’ vgl. Markus 13:35 se vier nagwake: aand (6-9nm), middernag (9nm-12), hanekraai (12-3vm) en môre vroeg (3-6vm).

In Matteus 23:37 en Lukas 13:34 kla Jesus oor Jerusalem wie se inwoners Hy bymekaar wou maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan




7 November: Geloof is om die onsienlike te sien. – Jan van der Watt

Heb 10:31-11:6 (fokus 11:1-6)

Jou ervaring van die lewe het baie te doen met hoe jy na alles kyk wat rondom jou gebeur. As ‘n boemelaar vir jou sê hy eet net een ete ‘n dag, dan dink jy hy ly honger. As ‘n oorgewig vrou dieselfde vir jou sê dan bewonder jy haar wilskrag. Dit gaan oor hoe jy na dinge kyk.

Geloof het ook te doen met hoe jy na dinge kyk; wat jy rondom jou raaksien. Dieselfde ding kan met twee mense gebeur: die een sal sê dit is toeval, die ander een sal die hand van die Here daarin sien. Die een kyk sonder geloof; die ander een met geloof.

Geloof maak jou oë vir die teenwoordigheid van die Here oop. Dit stel jou in staat om die onsigbare raak te sien… die onsigbare Here wat sigbaar aan die werk is. As jy die Here so raaksien, kan jy nooit weer dieselfde wees nie. Waarom nie, is eenvoudig om te verstaan want dit is alledaags: die teenwoordigheid van mense beïnvloed jou optrede. Ek het al so dikwels ‘n student gesien wat vol selfvertroue en op sy gemak is tot daai meisie op wie hy verlief is by die groep aansluit. Dan begin sy kop draai. Of hy word die bedeesdheid vanself, of hy begin enige nar na die pous laat lyk. Die feit is: ander mense se teenwoordigheid beïnvloed ons; dit doen iets aan ons.

Net so doen die teenwoordigheid van God iets aan ons. As ons Hom raaksien, kan ons nie maak asof Hy nie daar is nie. Ons kan dan nie maak asof ons alleen is of nie krag het nie, want Hy is daar en Hy het alle krag in hemel en op aarde. Ons kan nie van Hom af wegstap en sê dinge is nou maar toevallig nie, veral nie as ons weet ons lewens is in sy hande nie.

Geloof laat jou God in jou lewe raaksien… en dit moet ‘n reuse verskil aan jou manier van kyk en jou manier van leef maak, anders is dit nie regte geloof nie.




6 November: Jy het ander mense nodig en hulle het jou nodig. – Jan van der Watt

Heb 10:11-30 (fokus 10:19-25)

 Min kerkmense het waarskynlik nog nie hulle dominee Heb 10:25 hoor aanhaal nie, want dit is die vers wat die duidelikste van almal in die Bybel sê dat ons as gelowiges gereeld bymekaar moet kom. Christene moenie hulle geleenthede om saam te wees afskeep of verwaarloos nie. As die kerkbywoning begin daal, is dit die vers wat die gate moet toestop.

Wat God hier vra is nie net ‘n opdrag nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Dit is God se manier om sy mense geestelik sterk te hou. As ons geestelik onseker of bang raak, wie gaan ons moed inpraat? As ons entoesiasme begin verloor, wie gaan ons weer opgewonde maak? As ons begin om die verkeerde pad te loop, wie gaan ons waarsku? As ons hartseer is, wie gaan ons troos? So kan ons aangaan.

Ons het ander mense rondom ons nodig, want ons is nie masjiene nie. Ons is mense, en mense is en voel nie altyd dieselfde nie. Ons het ons goeie en slegte dae, ons op’s en af’s. Partymaal, veral as die af’s te lank aanhou en ons uitput, het jy ander gelowiges nodig wat ook al daardie pad gestap het. Hulle sal jou vertel dat God jou wel sal deurhelp. Hy los jou nie.

Maar daar is ook ‘n ander rede vir die vers: jy! As mense hulp nodig het wat die Here wil hê jy moet gee, en jy is nie daar nie, wie moet dit dan gee? Die byeenkomste is ook daar vir jou om vir ander iets te beteken. Moenie die geleentheid mis nie. Moet ook nie die gawes wat die Here vir jou gegee het om vir ander te gee van hulle af weghou nie. Dis nie reg nie.

So ‘n laaste gedagte… God en sy Gees werk deur mense. Dit hoe die Here in hierdie wêreld sy werk doen. Hy werk beslis deur jou as gelowige. Moet nooit dink dat Hy jou nie wil gebruik nie. Moet ook nie in God se pad staan (die gedeelte praat van moedswillig wees) deur nie te wees waar Hy jou wil hê nie om te doen wat jy vir Hom moet doen nie.




5 November: Agter die skerms gebeur baie. – Jan van der Watt

Heb 9:15-10:10 (fokus 9:15-28)

Baie van wat in die lewe gebeur vind agter skerms plaas. Ons kom dit nie eers agter nie. Dink maar aan hoe lank en toegewyd mense voor die tyd aan ‘n toneelstuk oefen en al wat ons sien is die aand van die opvoering; dit vra toewyding en liefde vir die saak. Of kyk hoe oefen ‘n koor voor hulle iets vir ons sing. Ja, baie gebeur agter die skerms.

Jesus het ons gered, ons sonde vergewe… maar wat het net nie alles agter die skerms gebeur nie! Hebreërs gee ons nogal so kykie na dit alles. Byna soos in ‘n prokureurskantoor moes Jesus die testament van God aan die werk kry. Daarvoor moes Hy eers sorg dat al die “geestelike betaalmiddele” in die hemelse bank reg is om die vereistes van die testament na te kom (9:15). As betaalmiddel moes Hy Homself opoffer en sterf (9:28). Sonder dat ons dit altyd besef, is Hy nou nog besig (as Hoëpriester) om te sorg dat alles tussen jou en God reg verloop. Dis wat Jesus nou nog vir ons agter die skerms doen.

Vir jou om te sê: “Jesus het my gered” veronderstel ‘n ewigheid se aktiwiteit agter die skerms van die hemel. Dit praat van goddelike toewyding, liefde, genade, ja, al die dinge. So baie gebeur daar. Die kykie “agter die skerms” sal waarskynlik ten minste twee dinge aan jou doen: dit sal jou laat besef hoe lief God jou het en hoe belangrik jy vir hom is, maar ook hoe dankbaar-nederig jy moet wees dat Jesus dit alles vir jou doen.