4 November: Jou geestelike skip is al hier. – Jan van der Watt

Heb 9:1-14 (fokus 9:11-14)

My ouma het altyd gepraat van haar skip wat gaan kom. Oor die skip met sy onbeskryflike skatte het ek my kinderdae om gedroom. Want as die skip kom, het my ouma gesê, sal sy vir my alles koop wat my hart begeer. Ons moet egter geduldig wag… Die skip het toe nooit gekom nie.

Maar ʼn ander skip het wel gekom… God se skip met sy onbeskryflike skatte. Ons kan maar om die skip saamdrom, want God nooi almal uit om te kom help met die aflaai. Jesus is die Kaptein van die skip en Hy het die skatkiste op die skip oopgegooi vir ons om te kom haal wat ons wil hê. Ons hoef dus nie meer te wag vir alles wat ons hart begeer nie. Ons het dit. Ons kan dit by Jesus gaan haal; Hy het dit vir ons gebring (9:10, 12). My ouma het my ook van hierdie skip vertel… en hierdie skip het gekom, vir my ook. Vandag nog help ek om af te laai.

Tussen al die skatte wat Jesus vir ons gebring het, skitter die grootste skat – “Hy het dit vir ons moontlik gemaak om vir altyd by God te wees” (9:12). Nie meer arm en sonder ʼn toekoms nie, maar ryk en met ʼn toekoms saam met die Here – dit is die verskil wat Jesus kom maak het.

Waarom wag vir die aardse skip wat moet kom? Die hemelse een is klaar daar.




3 November: God het ‘n ooreenkoms met jou. – Jan van der Watt

Heb 8:1-13 (fokus 8:7-13)

Oor baie dinge in die lewe kan jy self besluit, maar die besluit oor jou finale toekoms lê nie by jou nie, maar by God. Hy is die Een wat eendag oor alles finaal sal moet besluit – ook oor jou!

Dit moet jou egter nie bang laat voel nie. God gee mense ʼn kans om deel van sy besluit te wees en dit direk te beïnvloed. Hy gaan selfs ‘n ooreenkoms met ons daaroor aan. In 8:10-12 lees ons van die ooreenkoms wat God met mense sluit – ʼn ooreenkoms wat Hy belowe Hy sal hou. As Hy oor jou toekoms moet besluit sal hy eerste kyk of jy daardie ooreenkoms onderteken en gehou het. Die ooreenkoms lees: “Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees” (8:10). God breek nooit ooreenkomste nie. As jy “God se mens” in jou hart en hande is, sal jy God se hart vir jou by die finale oordeel hoor klop en sy hande na jou toe uitgestrek sien.

Jy hoef dus nie onseker te wees oor jou toekoms nie. Jy moet net seker wees jy het die ooreenkoms met Hom geteken. Daardie ooreenkoms teken ons met die ink van ons geloof, gehoorsaamheid en toewyding aan God, ons ywer en liefde vir die Here. Sonder daardie ink, werk die ooreenkoms nie.




Jaag die vyand die see in – Francois Malan

Valerie vra:

Waar staan dit in die bybel ons jaag die vyand in die see in

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek is bevrees daar is nie so ’n teks in die Bybel nie. Jesus het eerder gesê: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. …Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:43-48).

Die naaste aan die see-verhaal is die volgende wat die teenoorgestelde sê van om jou vyand in die see te jaag:

Markus 5:1-20 vertel van Jesus wat in die heidense gebied die duiwels uit ’n besetene verdryf het, en hulle toegelaat het om in die ongeveer 2000 varke wat daar gewei het, te vaar, wat toe op loop gesit, in die see beland en versuip het. Die eienaars van die varke het Jesus toe gevra om hulle land te verlaat, maar die geneesde man het in die hele streek vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Markus 7:31-8:10 vertel dat toe Jesus weer in daardie streek gekom het, het hulle ’n doofstom man na Jesus gebring wat Hy genees het, en toe vir ’n groot skare van 4000 mense wat na Hom kom luister het daar gevoed het.

Jesus het ook gesê: Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ’n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word (Markus 9:42).

Skrywer:  Prof Francois Malan




2 November: Moenie verdwaal nie; volg die regte Gids. – Jan van der Watt

Heb 7:11-28 (fokus 7:18-25)

Min dinge is so sleg as om te verdwaal. Dit laat jou heeltemal hopeloos voel. Nie een rigting lyk later vir jou reg nie, en tog lyk alle rigtings reg. Dan is niks so lekker as om iemand te kry wat jou die pad kan wys nie.

Alle mense is eintlik maar in ʼn sekere sin op reis na God. Ek wonder wat ʼn mens sal sien as jy deur die oë van God na hierdie mense op reis kyk? Onder die mense sal jy beslis ʼn malende rigtinglose massa sien: Mense wat maar net in sirkels al om hulle self en eie dingetjies draai, omdat hulle geen ander rigting ken nie. Hulle soeke na God bring hulle keer op keer maar net weer by hulleself uit. Hulle staar so in hulleself vas dat hulle nooit vir God sal raaksien nie. Daar is ander wat weer ywerig soek, maar nie vind nie, omdat hulle geen gids glo nie. Hulle stry so oor die pad, dat hulle vergeet om die pad te stap. Hulle wonder so oor watter gids die waarheid praat, dat hulle na niemand luister nie. Jy sal ook mense sien wat in die regte rigting loop, maar onseker begin terugkyk en selfs omdraai. Die twyfel oorweldig hulle keer op keer. Dikwels stap hulle meer terug as vorentoe.

Gelukkig is daar ook mense wat in die regte rigting stap. Hulle het die Gids gekry en volg Hom gelowig – die Een wat die pad ken, omdat Hy die pad na God toe vir ons gemaak het (7:25). Dit is Hy wat gesê het: “Ek is die weg na die waarheid en die lewe” (Joh 14:6).