26 Oktober: Wat maak jy met mense? . – Jan van der Watt

Filemon 1:1-25 (fokus 1:15-20)

 “Vee jy die kantoor uit?” vra iemand. “Nee, ek vee net die stof uit; ek los die kantoor”, kom die antwoord. Ons vee dikwels die kantoor en die stof uit as dit by mense kom. Ons kyk hoe hulle van buite lyk en as daar bietjie “stof” op hulle lê, vee ons hulle sommer stof en al uit ons lewens uit.

Dit het Jesus nooit gedoen nie, en Hy verwag ook nie dat sy mense dit sal doen nie. Geen wonder dat een hele boek van die Bybel, Filemon, gaan oor God wat in mense belangstel en nie in hulle status of klere nie; ja, hy stel in die mens onder die stof belang. Van stof kan ‘n mens maklik ontslae raak, maar nie van mense nie. Onesimus was ‘n wegloop slaaf. Slawe het aan die onderste lae van die samelewing behoort en as jy wegloop het jy nie meer die reg gehad om te lewe nie, want dan was jy nie eers meer ‘n goeie slaaf nie. Dan is jy doodgemaak. Maar in die hande van God word hierdie wegloopslaaf sy kind, word hy ‘n koningskind. God het deur die stof gekyk…

‘n Groot deel van die storie is dat Paulus geweet het God kyk dieper en stof af eerder as om uit te vee. Hy het nie die wegloopslaaf geïgnoreer, eenkant toe geskuif of “uitgevee” nie. Hy het God se liefde vir hom gegee, vir hom gehelp om in die oop arms van God in te stap. As Paulus dit nie gedoen het nie, sou Onesimus nie eers van daardie arms geweet het nie. Dan het Paulus nie alleen vir Onesimus gefaal nie, maar ook vir God.

Vee jy mense uit of stof jy hulle af?




25 Oktober: God se Binneversierder. – Jan van der Watt

Titus 2:15-3:15 (fokus 2:15-3:7)

 God het ‘n Binneversierder. Hy stel belang om elke Christen se lewe van binne so mooi te maak dat dit geskik is vir ‘n koning. Inderdaad, die Koning van die konings wil juis in jou kom woon, jou sy tempel maak. Daarom het ons die Binneversierder broodnodig en Hy is niemand anders as die Heilige Gees self nie (3:5-6).

Die Binneversierder werk op ‘n spesiale manier. Hy werk nie op sy eie nie, maar vra jou om saam te werk. Hy dwing jou ook nie, maar nooi jou uit. Hy begin gewoonlik by die vuilste dele in jou geestelike huis. As die muur vuil is, sal die huis nooit skoon kan lyk nie. As daar ‘n stukkende vuil stoel staan, sal ‘n mooi skildery nie veel help nie.

Daarom begin die regruk van jou geestelike lewe altyd met die “uitgooi” van ou meubels. Dit is ‘n fout om te dink die Here gaan tevrede wees met ‘n vuil muur van geskinder of met ‘n lendelam stoel van vloek. Dit moet uit. Die Heilige Gees dra dit nie skelm uit jou geestelike huis uit nie, want dan gaan jy dit maar net weer skelmpies indra. Die Heilige Gees vra jou om dit uit te dra, want dan is Hy seker dit is buite en sal nie weer met die agterdeur inkom nie. Om jou geestelike huis skoon te kry, beteken om van verkeerde dinge ontslae te raak, self ontslae te raak. As jy daai wil nie in jou het om te verander nie, sal min verander.

En as jy bereid is om die Binneversierder ‘n kans te gee en jy doen wat Hy vra, sal jou lewe anders begin lyk. Die verf van vriendelikheid sal jou mure versier, die meubels van geduld en liefde sal in jou huis begin rondstaan… en dan sal die Koning van die konings welkom begin voel in jou lewe.

Onthou, jy maak die verskil, al is dit onder die bekwame leiding van die Binneversierder. Maak jou huis skoon en hou dit skoon.




24 Oktober: Werk hard, maar speel ook hard. – Jan van der Watt

Titus 2:1-14 (fokus 2:9-10)

 Deel van ons Christenskap is om eerlik en hard te werk. En daar is goeie rede voor. Die Here vra van ons kwaliteite soos lojaliteit, eerlikheid, of betroubaarheid. As ‘n mens dit by die werk is, sal jy goed werk. Dit kan eintlik nie anders nie. Maar ‘n mens kan dit ook oordryf, soos die baas by die werk wat by die sekretaresse verbystap en sê: “Waarom antwoord jy nie die telefoon nie?” Sy antwoord verleë: “Dit lui dan nie”, waarop hy reageer: “Moet jy ook alles tot op die laaste oomblik los?” Dit is die gevaar, naamlik dat ons só lojaal en betroubaar kan wees, dat dit belaglik begin raak.

‘n Christen moet hard werk, maar moet ook ‘n gebalanseerde lewe lei. Werk is nie alles nie, maar is ook nie niks nie – dit het ‘n plek en jy as gelowige moet alles in jou lewe mooi opweeg om daardie plek presies te vind: nie te veel nie en ook nie te min nie. Jy moet hard werk, maar ook hard speel. Jy moet lojaal wees teenoor jou werk, maar ook teenoor jouself. Dit is die geheim van ‘n gebalanseerde lewe: om plek te gee vir alles wat belangrik is. As die een ding die ander se tyd en plek begin vat (soos as die werk miskien die gesin of jou fisiese oefening se tyd begin vat) moet jy vrae begin vra oor jou prioriteite. As jy een ding té goed begin doen, begin jy ander dinge afskeep… dan doen jy dit té sleg. Oppas daarvoor. Soek konstant die balans in jou lewe.

Ons lewer ‘n getuienis by die werk (9-10) deur eerlik en lojaal te werk. ‘n Dwarstrekkery, gestry, onvergenoegdheid en sulke dinge pas nie by ‘n Christen nie. Christene moet getuienis lewer deur die positiwiteit waarmee hulle dinge doen. Maar net so het ons ook ‘n getuienis teenoor ons gesin, kinders, en onsself. Moenie die een ter wille van die ander verwaarloos nie.




23 Oktober: Christene is alkant selfkant. – Jan van der Watt

Titus 1:1-16 (fokus 1:5-9)

 Christene het nie ‘n agter en ‘n voorkant as hulle by mense kom nie. Nee, alkant is selfkant. Jy kan nie voorgee jy is iets voor ander mense en dan iets anders agter hulle rug wees nie. Dit pas by geen Christen om voor ‘n glimlag te hê en agter gesigte te trek nie. Soos jy voor mense is, moet jy ook agter hulle wees. Dit is Christelike integriteit waarvan die Bybel praat en wat Paulus hier vir kerkleiers ook voorskryf (1:5-9).

Kom ons gesels net so bietjie oor mense wat nie alkant selfkant is nie. Dink maar aan skinder… die dorings van skinder kan net groei agter die rug van die een wat beskinder word – beslis nie voor hom nie; leuens kan net asem haal uit die suurstof van agterbaksheid; skelms kan net skelm wees as die mense wat hulle besteel nie daar is nie… Al hierdie lelike dinge groei net agter die rug van ander.

Die ergste van alles is dan nog die skynheiligheid (7) – om by die persoon voor te gee jy is die vriendelikheid vanself, terwyl jy ywerig allerhande boosheid agter sy rug saai. Dit is die toppunt van bedrog en gebrek aan integriteit. Dit maak ook die seerste. Daarom sal God nooit daarmee vrede kan maak nie en mag sy kinders ook nie in daardie strik trap nie.

Nee, ‘n Christen moet liewer die pad van eerlikheid, opregtheid en integriteit stap. Dit is nie altyd die maklikste pad nie, maar dit is die beste.