22 Oktober: Ons is almal oppad… dood toe. – Jan van der Watt
2 Tim 4:6-22 (fokus 4:6-8)
Die waarheid is, ons is almal op pad na dieselfde bestemming toe: die dood. Ek het dikwels my ma se been getrek as sy vra hoe dit gaan: “Nee, redelik. Ek is besig met ‘n gestadigde dood” het ek gesê. Sy het my dan altyd so bietjie tereggewys, want oor sulke dinge praat ‘n mens mos nie. Tog is dit die werklikheid waarmee ons almal rekening moet hou.
Die belangrike vraag is hoe jy jou eindbestemming nader. Die idee van die dood maak party mense nogal bang. Hulle voel onseker oor wat daar wag en as hulle oor hulle eie lewe terugkyk, is daar sekerlik rede om so bietjie ongemaklik te voel. As jy sonder die Here deur hierdie lewe is, is die kanse 100% dat jy sonder die Here anderkant die dood gaan uitkom. As jy halfhartig die pad met die Here hier stap, mag jy dalk ‘n halfhartige Here aan die ander kant ontmoet. As jy nie seker is nie, is daar nogal rede tot bekommernis.
Maar gelowiges hoef nie bang te wees nie. Kyk net vir Paulus (6). Hy sê dat met sy dood hy in die hande van God self gaan val, soos ‘n offer. Sy lewe behoort nou aan God en sal dan ook aan God behoort. Daarom is hy nie bang nie, maar sien daarna uit. Die beeld wat hy gebruik is die van ‘n atleet wat gewen het en nou uitsien na die prysuitdeling (8). Hy kan byna nie wag nie.
As ek so in die toekoms in staar, wonder ek hoe dit gaan wees. Maar een ding is seker, ek is nie bang nie. Die Here wat ek hier leer ken het, sal daar vir my wag. Ja, ons is maar besig met ‘n gestadigde dood, maar so is ons ook op pad na ‘n ewige lewe, saam met God. En dit is nie iets om voor bang te wees nie, maar om na uit te sien.