18 Oktober: Leef doelgerig. – Jan van der Watt
2 Tim 1:13-2:13 (fokus 2:8-13)
Toe ek nog by die Universiteit van Fort Hare gewerk het, het ek my swart studente op ‘n uitstappie in die pragtige Katberge in die Oos-Kaap geneem. Na ons die piekniekmandjies leeggemaak het, stel ek voor ons klim een van die hoër pieke uit. Die swart studente het so stadig maar seker streep-streep agter my aangesleep. Toe ons bo kom, was ek baie tevrede, want die beloning was groot. Die uitsig was asemrowend. Die studente was egter ‘n bietjie omgekrap en wou weet: “En nou? Wat moet nou gebeur? Vir wat het ons al die moeite gedoen?” Toe besef ek dat hulle uit hierdie berge kom en waarskynlik van kleins af elke dag die berge moes klim om water te gaan haal of te gaan speel. Hierdie “sommer net stap” maak vir hulle geen sin nie.
Die verskil tussen ons was dit: ek het ‘n doel gehad. Ek wou bo kom om die uitsig te sien. Hulle het nie geweet waarom ons dit doen nie. Ek het fluks gestap en was bly toe ek bo kom. Hulle het hulleself voortgesleep (omdat ek gesê het hulle moet) en was ongelukkig toe hulle bo kom. Ek het ‘n doel gehad, hulle nie.
Om die berg van godsdiens te klim sonder om te weet waarom jy dit doen, ja, sonder‘n doel, maak jou net gefrustreerd. Dit is dan dat jy jou geestelike voete begin sleep en dat die klim vir jou moeisaam en swaar raak. Daarom motiveer Paulus Timoteus hier om altyd doelgerig te wees (2:1-7) en hy is nie onseker oor wat daardie doel is nie: Dit is om saam met Jesus te wees… om sy opstandingskrag eendag te ervaar (2:8-13). Dit is waarheen ons klim. Daarom mag ons op die reis nie moedeloos raak of op afdraaipaadjies gaan sit nie. As ons voel ons knieë word lam moet ons mooi fokus op die doel, op Jesus wat met oop arms vir ons wag.
Hiermee het Paulus by die kern gekom van dit wat jou as gelowige moet motiveer om ‘n doelgerigte Christelike lewe te lei. Jesus het opgestaan en jy gaan ook. Laat dit jou krag en motivering wees om sonder om te kla die berg uit te klim. Jou beloning gaan groot wees.