14 Oktober: Kies reg, kies met integriteit. – Jan van der Watt

1 Tim 5:17-6:2 (fokus 5:23-25)

 Wat Paulus in 5:24-25 skryf laat ‘n mens so bietjie ongemaklik voel. Dit is byna of ‘n mens afgeloer word, ja, of “Big Brother” jou dophou. Of jy nou goed of sleg doen, jy sal dit nie kan wegsteek nie. Iewers gaan dit uitkom. Ten minste weet die Here daarvan.

Een van die kerke in ons land dra wapentjies teen hulle bors. Hulle glo dat as hulle die wapentjie dra, weet die hoof van hulle kerk alles wat hulle doen – dit is soos sy oog. Hy sien alles. As hulle dan iets verkeerds wil doen, haal hulle die wapentjie af en steek dit weg, sodat “die oog” hulle nie kan sien nie. So werk dit nie by die Here nie. Jy kan nie sy oog toehou en oopmaak soos jy wil nie. Jy moet weet dat selfs wat jy in die geheim doen eintlik in die “openbaar” is. Jy kan niks wegsteek nie.

Ons moet dus twee maal dink voor ons iets doen wat nie reg is nie, al dink ons niemand weet daarvan nie. Soos Paulus sê, dit gaan uitkom. Anders gestel, ons moet dus niks doen wat as dit uitkom, ons rooi in die gesig gaan los nie.

Die oplossing: kies ‘n lewenspad van eerlikheid en integriteit. Maak keuses waaroor jy nie skaam hoef te voel nie. En moenie keuses maak met bymotiewe soos om gesien te word nie. Jy sal buitendien gesien word, maar jou bymotiewe ook.




13 Oktober: Christenskap word aanmekaar geweef deur verhoudings. – Jan van der Watt

1 Tim 5:1-16 (fokus 5:1-16)

 Eenkeer hoor ek een broer vir ‘n ander sê: “Met ‘n broer soos jy oorweeg ek dit sterk om myself vir aanneming op te sit”. Ja-nee, om as familie saam te leef is seker nie altyd so maklik nie; wat nog van al die ander mense. Selfs die liefde is partymaal nie genoeg om alles bymekaar te hou nie.

Tog is een van die belangrikste dinge vir ‘n Christen om na sy verhoudings te kyk. Dit is vir die Here vreeslik belangrik dat dit tussen sy kinders goed moet gaan. Hulle moet vir mekaar plek maak, vir mekaar sorg, mekaar ondersteun, mekaar vergewe, liefhê, bederf, en so kan ons aangaan. Nooit mag enige Christen op iemand trap wat swakker is as hy nie. Vir magspeletjies is daar eintlik nie ‘n plek onder Christene nie, want Christelike mag bestaan juis uit en uit in diens aan mekaar. Die Here het nie verniet gesê: “Wie eerste is, sal laaste wees nie”. Daarom moet Christene altyd die plek van genesing vir die gekneusdes onder ons wees. Deurdrenk van Christelike liefde wat hy by gelowiges kry moet die persoon wat seergekry het weer kans kry om gesond te word.

Dit is nie maklik nie, want vandag in ons kompeterende en gejaagde lewe is verhoudings baie meer kompleks as lank gelede. Maar dit verander nie aan die Bybelse opdrag nie: ons moet ons verhoudings versorg. Dit is immers waarom die Here vir ons dinge soos liefde en vergifnis geleer het. Dit het nie verander toe die lewe meer gejaag geraak het nie. Om die waarheid te sê, dit het net meer nodig begin word.

Moet jouself nie opsit vir aanneming nie, maar gaan loop liewer klasse in liefde, diens en vergifnis.




12 Oktober: Moenie weghardloop nie… jy’t werk. – Jan van der Watt

1 Tim 4:1-16 (fokus 4:1-5)

 Party Christene is super weghardlopers. Hulle is vir alles bang. Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie en daarheen mag jy nie gaan nie, en so gaan hulle aan. Ons kry dit van vroeg af in die godsdiens al. Askete was sulke mense wat niks met niemand te doen wou hê nie, omdat hulle dalk iets verkeerd mag doen… Daarom het hulle eenkant in ‘n bos gaan sit of hulleself in ‘n afgeleë huis gaan toesluit. So ontneem hulle hulleself aan ten minste twee goeie dinge wat die Here aan ‘n mens gee: die geleentheid om in hierdie wêreld ‘n positiewe invloed uit te oefen en die reg om sy hele skepping voluit te geniet.

Christene hardloop nie weg nie, veral nie van dinge af weg wat God s’n is nie. Hierdie wêreld is deur God gemaak en Hy het ons daarin gesit om te lewe en dit moet ons voluit doen. Om te lewe beteken om alles met dankbaarheid te geniet wat die Here vir ons gegee het, of dit nou kos nie, musiek, die natuur, selfs rykdom en voorspoed. Ons moet dit geniet, want die duiwel het dit nie gemaak nie. Dis die Here s’n.

En die weghardlopers, aan wie laat hulle God se skepping oor? Dit is dan dat die sonde ook iewers ‘n houvas begin kry en dit wat God mooi gemaak het skeef draai. Ons moet keer dat dit nie met God se skepping gebeur nie. Daarom moet ons as gelowiges wakker wees vir die manier waarop die aarde gebruik word, ons omgewing besoedel word, ons wêreld bestuur word. As dinge skeefloop moet ons nie weghardloop en onsself iewers gaan toesluit asof dit ons nie aangaan nie. Nee, ons moet ons deel doen om te sorg dat God se skepping reg gebruik word. Dit is hoe ons ons dankbaarheid kan wys vir alles wat Hy ons gegee het.

 Moenie weghardloop nie, want jy’t werk in die skepping en jy’t baie om te geniet.




11 Oktober: Wat is jou naam?. – Jan van der Watt

1 Tim 3:1-16 (fokus 3:1-7)

 ʼn Winkelier van plaasbenodigdhede het ʼn vreeslike oulike hond gehad – hy kon net sê “houtpale” of “draad” en dan loop die hond fluks voor die kliënt uit na die pale of draad toe. Nie onvanpas nie, was die hond se naam Salesman. Die hond was so oulik dat die eienaar hom later Salesmanager begin noem het. Van toe af sit die hond net daar en blaf en swaai sy stert.

Paulus waarsku teen Christene wat aanvanklik met oorgawe vir die Here leef. Sodra hulle egter op “die raad” of “komitee” verkies word, begin die blaf en die stert swaai. Daarom sê Paulus dat ‘n leier in ‘n gemeente liefs iemand moet wees wat al ‘n rukkie Christen is (6). So iemand moet homself (of haarself) eers deeglik inoefen in die goeie kwaliteite van Christenskap… nederigheid, liefde, diens, opoffering, ywer vir die Here, en so aan. Dit is die kwaliteite wat hy of sy moet saamvat was hulle leiers in die gemeente word. Christelike leierskap laat jou nie voor in die ry staan nie, maar agter: jy moet nie vir mense wegstap nie, maar hulle dophou, ondersteun en versorg.

Ons kan maklik godsdiens verwar met “op die kerkraad dien” of “lid wees van een of ander komitee”, so asof dit al is wat die Here van ons verwag. Ons neem die besluite en ander voer dit uit. Nee, Salesmanagers het die Here nie nodig nie. Hy het wel mense nodig wat leiding neem, maar dan voor in die loopgrawe, op die markpleine, in huise waar daar hulp nodig is, besig om te dien, lief te hê en te help.

As jy nou vir jouself ‘n naam moet gee vir wat jy in die Here se diens doen, wat sou dit wees?