06 Oktober: Wees paraat. – Jan van der Watt

2 Thes 2:3-17 (fokus 2:3-12)

Die eerste vraag van ‘n vasvra was: “Wie het lewendig uit die leeukuil gekom?” “Daniël” kom die antwoord. Die tweede vraag: “Wie het lewendig uit die tierhok uitgekom?” Na ‘n oomblik van stilte kom die antwoord: “Die tier”.

Daar was ‘n rede waarom Daniël lewendig uit die leeukuil uitgekom het. Die Here was by Hom en as ‘n mens naby die Here bly, hoef jy nie bang te wees nie, al voel jy die warm asem van ou maanhaar hier in jou nek. Die Here keer nie dat ons in die lewe in leeukuile beland nie, maar Hy haal ons verseker heel daaruit.

Maar as ons alleen in die tierhok instap, weg van die Here af, is dit ‘n ander storie. Paulus waarsku in 2:3-12 dat hoe nader die wederkoms van die Here kom, hoe meer desperaat gaan die duiwel probeer om mense te mislei en seer te maak. Dit is sy werk en hy het nie goeie bedoelings met mense nie. Hy wil mense net dieper en dieper in die poel van sonde inlei (2:10). Dit is regtig ‘n geval van hoe later hoe kwater.

Ons moet dus gewaarsku wees. As jy as gelowige die oggend jou voete uit die bed sit, lê die duiwel al vir jou en wag. Hy het die hele nag planne gemaak om jou uit te vang. Dit laat my nogal dink… as ‘n vriend jou kom waarsku dat hy gehoor het iemand beplan om jou te beroof, sal jy baie versigtig wees. Jy sal mooi dink oor elkeen met wie jy te doen het en gereed wees. Tog lyk dit of ons soms oop oë in die tierhok instap, al is ons gewaarsku. Ons weet die duiwel lê vir ons en wag, maar dit pla ons nie.

Ons moet geestelik gereed wees en ‘n mens word net geestelik paraat as jy naby die Here bly, elke dag, in elke situasie. Moenie jou laat uitvang nie. Dit kan gevaarlik raak as jy onbewus in daar tierhok instap!




05 Oktober: Oppas dat jy nie jou kanse verspeel nie. – Jan van der Watt

2 Thes 1:1-2:2 (fokus 1:6-10)

 Toe ‘n outjie op die laaste skooldag van die skool af kom, vra sy pa waar sy rapport is. Hy sê toe: “Ek sal dit more vir pa gee, want Pietie het dit eers geleen”. “Waarom?” wou sy pa weet. “Hy wou net eers sy ouers so bietjie gaan skrikmaak”, kom die antwoord.

Iets waaraan ons nie altyd dink nie, is dat daar ook vir ons ‘n laaste dag kom. Dan sal ons voor die Here moet gaan staan en verduidelik wat ons met ons lewens gedoen het. Dan sal ons nie onder mekaar rapporte kan uitruil nie, want die Here weet alles. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie.

Dit is so uit die mode om deesdae van die oordeel van God te praat. Ons is so gefokus op God se liefde dat ons nie daaraan dink dat Hy ook kwaad word nie. Party mense sê selfs dat ‘n God van liefde nie kán kwaad word nie. Ons vergeet dat as mense God behandel asof Hy niks is nie, ja, asof Hy nie eers dáár is nie, God nie maar net sê “ag toemaar” nie. Hy gee almal ‘n regverdige kans, maar as iemand daardie kanse nie gebruik nie, is die hel hulle voorland (1:9).

Maar as jy jou kans gebruik het en jou hand in die hand van die Here gesit het, hoef jy nie bang te wees vir daardie dag nie (1:10). Ons kan op daardie dag wel nie onder mekaar rapporte uitruil nie, maar as ons aan Jesus behoort, skryf Hy “goed geslaag” voorop ons rapport. Watter ervaring gaan dit nie wees as jy bewend met ‘n geboë hoof nader stap met jou rapport en jy sien die deurboorde hand van Jesus wat jou rapport vat en “goed geslaag” daaroor skryf nie. Wat ‘n dag om na uit te sien!




04 Oktober: Sonde is soos ‘n slaappil. – Jan van der Watt

1 Thes 5:6-28 (fokus 5:6-11)

 “Sonde is soos ‘n slaappil. Dit sus ‘n mens aan die slaap sodat jy God glad nie raaksien of hoor wanneer Hy met jou praat nie” (5:7).

Ek het nog van min Christene gehoor wat sê hulle wil graag sondig. Tog kan ons die goeie voornemens nie altyd uitleef nie en sondig ons maar dag na dag. Ons probeer onsself soms regverdig deur lang redenasies waarom wat ons gedoen het eintlik nie verkeerd was nie. Dit is amper soos die visserman wat na ‘n lang dag by die viswaters by die viswinkel stop en ‘n mooi vis koop. Hy wil nie graag vir sy vrou jok as sy vra of hy darem ‘n vis huistoe gebring het nie. Ons bedek die een probleem net met ‘n ander een.

Dit is die probleem met sonde. As ons nie versigtig is nie, bekruip dit ons in ons slaap. Later kom ons nie eers meer agter ons doen dit nie. Ons het allerhande verskonings: “My vrou, dis eintlik jou skuld dat ek in ander vroue begin belangstel…”; “Die diens is deesdae so swak, ‘n mens kan nie help om kwaad te word nie”; “As jy nie ook maar ietsie onderdeur die tafel sit of ‘n witleuentjie hier en daar vertel nie, kry jy niks gedoen nie…”. Dit is tekens van mense wie se oë vir hulle eie sonde toegaan. Later gaan hulle so diep slaap dat hulle nie eers meer gaan agterkom hulle doen verkeerd nie.

Die beste genesing vir sonde is om nie aan die slaap gesus te word nie. In hierdie gedeelte vergelyk Paulus dit met ‘n op en wakker soldaat. Met jou wapens van geloof en liefde aan jou sy, vol verwagting dat die “Groot Generaal” enige tyd gaan opdaag kry die sonde nie ‘n kans om naby jou te kom nie.

Oppas, jy kan gou in die strik van die sonde val of in sy arms aan die slaap raak sonder dat jy regtig wil. As jy eers ‘n bietjie toegee of jouself ‘n bietjie probeer regverdig is jy besig om die pil te sluk… en dan gaan jy slaap!




03 Oktober: Christene het ‘n ander toekoms. – Jan van der Watt

1 Thes 4:13-5:5 (fokus 5:1-5)

 Christene is toekomsmense. Dit is een van die dinge wat Christene anders maak as ander mense. Christene glo nie in reïnkarnasie waar jy doodgaan en dan maar net weer na dieselfde lewe toe terugkom om op hierdie ou aarde voort te sukkel nie. Ons glo ook nie dat ons soos ‘n klomp geeste iewers in ‘n skaduweebestaan die ewigheid gaan verslyt nie. Nee, die Christen het ‘n ander toekoms, ‘n heerlike toekoms saam met God.

Jesus het die toekoms vir elke Christen moontlik gemaak toe hy die deure van die dood oopgebreek het. Vir almal wat in Hom glo sluit die dood jou nie vir ewig toe nie, maar is die dood net die pad deur na die ewige lewe by God. Die deure wat jou sou keer is deur Jesus oopgebreek, jy kan maar deurstap.

Maar dit is nie net ‘n mooi boodskap vir dooies nie. Jesus kom sy mense, dood of lewend, spesiaal haal. Een of ander tyd gaan die wêreld se voordeurklokkie lui en dan is Jesus daar. Daarom moet Christene elke dag met die oog op die toekoms leef. Dit moet dag vir dag in hulle agterkoppe wees: Jesus kom weer en as Hy kom moet ek reg wees. Hy moet my nie onkant vang nie. Die Here wil my nie gaan soek op plekke waar Hy nie wil kom nie of uit ‘n huwelik gaan haal waar Hy Homself gaan skaam om in te stap nie. Nee, Hy sal my besig wil kry met sy dinge. Ek moet niks hê om weg te steek nie.

As ons vergeet: “Jesus kom weer”, kan ons gedagtes maklik begin dwaal en ons voete ook. Om doodgewoon elke dag die hemel dop te hou of Jesus nie kom nie, sal jou gedagtes fokus. Dit sal jou elke dag herinner aan jou toekoms en jou motiveer om solank in daardie rigting te stap met alles wat jy dink en doen, ‘n wonderlike toekoms in.