02 Oktober: Laat jou liefdesvlam opflikker. – Jan van der Watt

1 Thes 4:1-12 (fokus 4:1-8)

 ‘n Huwelik is harde werk en vat baie energie. Dit vat baie energie om alles te laat werk, maar dan is die goeie vrugte wat jy pluk ook baie. Party mense spandeer ook baie negatiewe energie in hulle huwelik en dit is sleg. Om die hele tyd te baklei en te stry en te dreig en wat nog alles is nie lekker nie. Die probleem is dat ons later niks meer moois in ons lewensmaat kan raaksien nie. Dit is soos die outjie wat by die bulhond gesit en gesigte trek het. Toe sy ma vir hom vra hoekom hy dit doen sê hy: “Die bulhond het eerste begin”. Selfs as jou huweliksmaat niks bedoel nie en normaal optree irriteer dit jou al en reageer jy snaaks.

Die huwelik is die een plek waar Paulus wil hê gelowiges moet baie energie spandeer, maar nie sommer enige energie nie, positiewe liefdesenergie. Al kyk die bulhond jou hoe ook al aan, jy moet jou mooiste glimlag opsit. Dit beteken nie dat julle nooit van mekaar gaan verskil nie, maar selfs dan moet julle probeer om dit so te doen dat julle mekaar nie seermaak of vernietig nie, maar eerder slyp en beter maak.

In die gedeelte is daar egter veral een saak wat Paulus spesiaal noem en dit is die seksuele (4:3-6). Ons almal dra ‘n vlammetjie van romantiek in ons – dit is die vlammetjie wat aangesteek word as ons iemand sien waarvan ons baie hou. Ietsie trek jou aan en daardie ietsie word later al hoe groter tot jy voel jy wil jou arms om daai persoon sit en teen jou vasdruk (en nou praat ek nie van die druk wat ‘n ma haar kind gee nie). As jy getroud is moet jou romantiek-vlammetjie net vir jou vrou of man brand. Om dit vir iemand anders te laat brand, beteken dat jy dit eers moet uitdoof vir jou huweliksmaat. As dit eers gebeur is jy in die moeilikheid. Dit is onder andere dan dat jou huweliksmaat jou begin irriteer en jou positiewe energie in jou huwelik negatief begin raak.

In plaas daarvan om gesigte vir mekaar te trek, laat die vlam van romantiek liewer opvlam. Dit is ‘n belangrike deel van die lig wat die huwelik op die regte pad hou.




01 Oktober: Sterk van binne. – Jan van der Watt

1 Thes 3:1-13 (fokus 3:11-13)

 Die tenk was een van die wapens wat die Eerste Wêreldoorlog geswaai het. Soos ‘n superskilpad het die tenk ‘n staaldop gehad wat feitlik niks kon deurdring nie. Op die slagveld kon die soldate binne in veilig sit en met hulle kanon dan verwoesting saai. As die vyand so ry tenks sien aankom het, het hulle gehardloop. Wat anders kon jy doen?

Christene is nie tenks nie, maar hulle behoort op die slagveld van die lewe net so ondeurdringbaar te wees. Die verskil is egter, hulle staal kom van binne en nie van buite nie. As die Here hulle van binne sterk maak sal die sonde van buite geen krapmerk op hulle kan maak nie (3:13). Ja, deur in jou binneste al nader aan die Here te beweeg maak jou in die buitenste lewe al hoe sterker. So kan ons op die slagveld van die lewe ‘n verskil gaan maak, sonder dat ons bang is die vyand skiet ons stukkend. Voor die sonde ‘n krapmerk op ons kan maak, kan ons ons visiere van liefde op ander stel (2:12).

Vir ‘n Christen om ondeurdringbaar is vir die sonde te wees, moet hy of sy heeltemal deurdringbaar vir die Here wees. Dit is ‘n Christen wat sy binneste in die hande van die Here sit om sterk te maak. Dit is iemand wat die Hemelse Ingenieur toelaat om al die verstellings en aanpassings in jou lewe te maak wat jou so toerus dat die sonde se koeëls van jou wegskram sonder om ‘n merkie te maak. Sulke mense laat die stryd teen die sonde in die wêreld swaai.




30 September: Halfgebakte Christenskap is vir niemand goed nie. – Jan van der Watt

1 Tes 2:1-20 (fokus 2:1-4)

Niemand het ooit gesê dat om Christen te wees is maklik nie. Kyk maar na Paulus – as daar nou iemand is wat moes vasbyt vir alles wat hy werd is, was dit hy (2:3).

Ons samelewing is anders as Paulus s’n. Hy het tussen heidene geleef wat God nie geken het nie. Ons leef elke dag tussen mense wat al van God gehoor het; of hulle dit nou by ‘n troue of met kersfees gehoor het, of selfs meer gereeld in die kerk kom, hulle weet van God. Tog is die verskil tussen ons en Paulus nie so groot nie… baie van hierdie ‘Godkenners’ met wie ons elke dag te doen kry, ken God ook maar nie. Hulle koppe mag van God weet, maar nie hulle harte nie. En dit loop uit op ‘n Christenskap wat geen hartklop het nie… Christenskap wat ‘daar’ is, maar nie lewe nie. En dit steek ‘n mens nie so maklik weg nie.

In ‘n sekere sin is dit dus ook vir ons vandag‘n bietjie moeiliker as vir Paulus. Wat dit moeiliker maak is juis hierdie semi-Christelike atmosfeer waarin ons leef. Wat mense vir Christenskap uitgee, is dikwels so half-gebak, so sonder lewe. Mense tree Christelik op, maar ook nie en dit maak jou onseker en deurmekaar. As dit hulle pas is hulle eerlik, maar ook net as dit hulle pas. As hulle met jou besigheid wil doen, vertel hulle jou hoe groot Christene hulle is, maar as die handtekeninge eers op die kontrak is, speel die Christenskap van daai besigheidsman met jou wegkruipertjie – jy kan dit net nie meer kry nie. Dit maak die Christenskap goedkoop en plaas ook vraagtekens oor wat eerlike Christene doen.

Ons kan nie veel hieraan doen nie, behalwe om te sorg dat ons Christenskap nie so halfgebak is nie. Ons moet konsekwent Christelik bly deur vas te staan in die Here. Vasbyt is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd.




Vervloeking – Francois Malan

Wayne vra

Die vraag wat ek graag aan u wil stel is:

  1. Kan iemand ‘n Christen vervloek? ‘n Vloek op ‘n Christen plaas?
  2. Kan iemand ‘n ander person in die Naam van Christus vervloek? Deur byvoorbeeld te se “ Ek vervloek jou in die Naam van Jesus Christus en dit en dat sal jou tref”

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

’n Vloek vra eintlik vir God om iemand of iets te straf as iets wat die persoon sê nie die waarheid is nie of as iemand iets nie uitvoer wat hy/sy beloof het nie

(soos bv. die vyeboom wat reeds blare het sonder om vrugte te dra, as beeld van Israel wat uiterlik godsdienstig is, maar nie vir God in hulle harte eer en liefhet nie. Jesus het die vyeboom vervloek omdat dit nie aan sy doel beantwoord het nie Matt 21:18-22).

of dat iemand reeds deur God veroordeel is of dat iemand in gevaar staan om deur God veroordeel te word

(Joh 7:49 So beskou die Fariseërs verkeerdelik dat die mense wat in Jesus glo, deur God vervloek is; Gal 3:10 sê juis: die mense wat soos die Fariseërs op die nakoming van die wet staatmaak om hulle verhouding met God reg te stel, val onder ’n vloek).

 

  •   Bileam was deur Balak van Moab gevra om Israel te vervloek. Maar telkens wanneer Bileam hulle moes vervloek, is hulle deur Bileam geseën omdat hulle die Here se volk was (Numeri 22:36-24:25).

So kan niemand ’n Christen vervloek of ’n vloek op ’n Christen plaas nie, want Paulus sê: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31).

  •  Paulus skryf in 1 Kor 16:22 ‘As iemand die Here nie liefhet nie, laat hom ’n vervloeking wees.’ Maar om iemand te vervloek in die Naam van die Here, is aanmatigend en arrogant. Romeine 12:14 së: Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie; 12:16 moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges; 12:17 moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is; 12:19 Geliefdes moet julleself nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskrywe: ‘My kom die wraak toe, Ek sal vergeld’ sê die Here.

Skrywer:  Prof Francois Malan