27 September: Jesus is ook op jou gesinsfoto. – Jan van der Watt

Kol 3:12-4:1 (fokus 3:18-4:1)

Daar is min dinge wat op reis jou hart so met ʼn punt kan laat trek en die knop in jou keel so vinnig groter kan laat word as ʼn fototjie van jou gesin daar ver by die huis. Dit is jou mense en jy hoort eintlik by hulle.

In 3:18-4:1 kry ons so ‘n gesinsfoto van ʼn tipiese Christelike gesin. Paulus praat van vroue, mans, kinders, werkers en so aan – almal is daar. Op die oog af lyk die foto maar doodgewoon en of daar niks snaaks op is nie, tot ons dit so bietjie van nader bekyk. Daar op die foto, so tussen en by almal staan Jesus ook. En Hy hou almal bymekaar, want ons gesin is sy gesin ook. Hy wil deel wees van alles wat ons is en doen en dit is juis wat so ‘n gesin “Christelik” maak. In die gedeelte (3:18-4:1) loop die woord “Here” soos ʼn goue draad deur feitlik elke sin – dit word aan feitlik elke ander naam vasgebind. So wil die Here sy gesin gerusstel – Hy is by elke lid van die gesin en is vir elkeen daar. Daarom moet elke lid van die gesin ook naby Hom bly. Dit help mos nie dat die Here daar is en ons steur ons nie daaraan nie. Nee, ons moet na mekaar toe leef. Daarom kan en mag niks in die Christelike gesin sonder Hom gebeur nie – Hy wil en moet deel daarvan wees. In ʼn Christelike gesin het Jesus altyd ʼn plek. Dit maak die Christelike gesin spesiaal, want hulle doen alles saam met Jesus.

Dra Jesus se foto saam met jou in jou geestelike binnesak… en as jy onseker raak of begin twyfel, haal dit uit en kyk daarna. Dan sal jy sien jy is nie alleen nie – Jesus is by jou; Hy is en bly deel van jou lewe. Daaraan hoef jy nooit te twyfel nie.




26 September: Trek die regte klere aan. – Jan van der Watt

Kol 3:5-11 (fokus 3:5-11)

ʼn Christen is soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het (3:9-10). Op ons lewensreis het God vir ons ʼn spesiale stel klere ingepak. Ons moet net seker maak dat ons die regte tas vat.

In 3:5-11 word daar van twee tasse gepraat. Daar is ʼn tas met ou klere in – dit is daai humeur, jou lelike taal, jou gelieg, of die manier waarop jy die waarheid draai om te doen wat jy voor jou siel weet verkeerd is. Die Here vra mooi: as jy die oggend aantrek, moenie daardie tas oopmaak nie. Los daai klere!

Maak liewer die tas oop wat God vir jou gepak het. Daar sal jy klere kry soos vriendelikheid, liefde, en begrip vir ander. Die mooie is dat 3:10 vir ons sê dat as ons daai klere aantrek, ons vir mense baie aan Jesus gaan herinner! Hulle sal Jesus in ons sien deur net na ons te kyk, want ons “klere” sal hulle aan Hom herinner.

Wie het ooit gesê die “vere” maak nie die voël nie?




25 September: Laat die Christendom wen!. – Jan van der Watt

Kol 2:18-3:4 (fokus 3:1-4)

Om op die hoogste punt van die Smokeyberge te kom (die plek kry 90 miljoen besoekers per jaar, meer as enige ander nasionale park in Amerika) moet ʼn mens die laaste kilometer of so klim. Dit is nogal steil, maar daar is genoeg mense wat mekaar aanmoedig om die steil pad korter te laat voel. Iets het my egter op daardie pad diep getref. In ons groep wat saam teen die steil helling opgesukkel het, was daar ʼn persoon met ʼn groot kruis om die nek, maar hy was loshande die onaangenaamste en suurste van almal –ʼn opregte suurtier. Daardie dag het die Christendom teen die steil helling verloor, daarvan was ek seker.

Juis daaroor het Paulus dit in 2:20-3:4. God het jou lewe in iets wonderliks verander en Hy wil hê jy moet elke dag so leef. Hy het jou immers ʼn nuwe mens gemaak (3:1) met ʼn nuwe toekoms (3:4). Jou begin en jou einde is stewig in sy hand. Dit help nie om ʼn kruis om jou nek te dra as daai kruis nie in jou hart, jou hande en jou glimlag ook is nie. Nee, want Jesus hang nie meer aan ‘n kruis buitekant iewers nie, maar is by en in jou.  Jou lewe is nou die “kruis van Jesus”, want dis waar mense hom nou sal kan raaksien.

Daarom wil Hy hê dat jy dit nie sal wegsteek nie. Hy wil hê jy moet die dinge doen wat vir Hom belangrik is (3:2)… en op so manier dat ander dit kan agterkom! En as hulle dit agterkom moet dit vir hulle lekker wees. Dan sal die Christendom wen.




24 September: Skuldgevoelens is nie nodig nie. – Jan van der Watt

Kol 2:9-17 (fokus 2:9-17)

Reis en rekeninge is groot vriende, dit weet ons. Ons ken daai depressiewe gevoel as ons na ʼn reis of vakansie die kredietkaartrekening kry wat ons laat steier. Daai snaakse vlaggie of lelike poppie wat ons iewers ten duurste gekoop het en wat nou iewers onder in ʼn kas lê, laat ons nou twee maal sluk.

In 2:14 lees ons dat God ook rekening hou van die skuld wat ons op ons reis deur hierdie lewe maak. Dit is nou sekerlik rekeninge wat ons sal laat steier as ons dit sien. En rekeninge moet betaal word. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Ons God werk anders. Aan die einde van die reis gaan ons nie daai rekening kry wat ons gaan laat steier nie. Ons gaan ʼn kwitansie kry… “Klaar betaal”. As ons rondkyk wie die vriendelike weldoener is, sien ons ons rekening aan die kruis van Jesus vasgespyker. Daar is die betaling gemaak, ja, daar is JOU betaling gemaak.

God het jou rekening vir ʼn kwitansie verruil! Moenie heeltyd met skuldgevoelens leef nie, want jy skuld niks nie. Laat jou dade liewer “dankie” oor jou lewe skryf vir dit wat Jesus namens jou betaal het.