23 September: Laat jou vingers deur God se skatte gly. – Jan van der Watt

Kol 1:21-2:8 (fokus 2:1-8)

Baie van die slaapstories wat ons vir ons kinders vertel (of stories wat Hollywood vir grootmense vertel) gaan oor een of ander dapper man of vrou wat ʼn groot skat gaan soek. Hulle ontbeer gewoonlik die verskriklikste dinge om by die skat uit te kom. Ai, die skitter van goud… mense bly maar daaroor droom. As daar net genoeg munte in ons sak klingel om ons vingers deur te laat gly, dink ons die vreugdeklokke gaan vir ons lui.

God het ook skatte en hulle kan die vreugdeklokke regtig laat lui. Op ons reis deur die Bybel kom ons in 2:2-3 op sulke skatte van God af. Daar sien ons wat God in sy skatkis vir ons bêre. Daar “skitterblink” kennis van Hom en alles wat Hy vir ons gee en doen: die “diamant” van verlossing, die “robyn” van sondevergifnis, die “pêrel” van oorwinning, die “goud” van ʼn nuwe lewe…

En die skatkis waarin God hierdie dinge vir ons gee is Jesus (2:3). By Hom kry ons alles wat kosbaar is. Hy maak ons geestelike lewe ryk en ons drome waar… Dit kan vir ons net ons geestelike vreugdeklokke laat lui as ons elke dag in gebed ons vingers deur God se skatte laat gly en vir Hom baie dankie sê daarvoor.




22 September: Soek God op die regte plek. – Jan van der Watt

Kol 1:1-20 (fokus 1:15-20)

God het op reis gegaan en ons was sy bestemming. Hoewel ons God nie met die blote oog kan sien nie, kan ons sien hoe Hy lyk en wat Hy van ons verwag deur na Jesus te kyk (1:15). In Jesus het God naby ons gekom. Ja, Hy wou by ons wees om alles weer te kom regmaak wat ons stukkend gemaak het (1:19-20).

Dikwels soek ons God tussen die sterre, of dink ons moet geestelike teleskope gebruik om Hom iewers op te spoor. Ons dink Hy hoor ons nie omdat dit vir ons voel of ons gebede teen die dak vasslaan. Ons voel in ons nood alleen omdat ons dink Hy is nie naby ons nie.

Hoe verkeerd kan ons nie wees nie. As ons so redeneer vergeet ons van God se reis… na ons toe. Hy is by jou as jy bid en in jou oomblikke van nood rus sy hand op jou skouer. Dit is nie dat Hy nie daar is nie – dit is net jy wat Hom nie wil raaksien nie. Kyk ʼn slag naby jou en jy sal God sien.




21 September: Jesus is altyd daar. – Jan van der Watt

Fil 4:10-23 (fokus 4:10-20)

“Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is” (4:13). Watter kragtige boodskap…

Paulus weet die lewe is nie eenvoudig nie. Hy sit self in die tronk en weet nie of hy lewendig anderkant gaan uitkom nie. Soms hardloop die lewe sulke draaie met ons dat ons heeltemal verslae en dronk staan. Dit voel vir ons of die lewe elke stukkie krag uit ons tap. MAAR jy hoef nooit te dink dat die lewe so swaar is dat jy nie sal kan aangaan nie. Nooit mag jy daaraan dink om op te gee nie. WANT daar is ʼn bron van krag: Jesus. En daardie krag kan nooit opraak nie.

Goed, Jesus is my bron van krag, maar hoe werk dit? Dit werk soos wanneer ʼn klein seuntjie deur ʼn donker gang moet stap en voel die donker sluk hom in. As hy egter sy pa se hand hier langs hom voel, verdwyn daai bang gevoel. Die donker is nie skielik weg nie, maar hy sien nou daarvoor kans, want hy is nie alleen nie. Sy pa se teenwoordigheid gee hom krag. Ons is ook nooit alleen nie; wat ook al ons situasie, Jesus is daar.

As Christene is alles nie net maanskyn en rose nie. Die heuwels is soms hoog en die dale diep, maar onderkry is min. En die rede: Jesus stap saam met jou. As jy alleen of onseker voel, druk in geloof weer sy hand, net om seker te maak Hy is daar en skep dan moed. Jy sal agterkom: Hy is altyd dáár… dit is maar net jy wat partymaal vergeet.




20 September: Dink positief. – Jan van der Watt

Fil 4:2-9 (fokus 4:2-9)

“The power of positive thinking” is die naam van ʼn boek van Norman Vincent Peale. Ek ken die naam goed want as kind het ek baie na die boek gestaar. Dit het in my ouma se boekrak oorkant die radio gestaan waar ons elke middag radiostories geluister het. Ek kon dit nog nie lees nie, want ek en Engels was nog nie vriende nie. Wat ek wel onthou, is dat ek gedink het dat hierdie man darem slim moes wees om so iets uit te dink…

Later sou ek uitvind hy was nie die eerste een om daaroor te praat nie. Paulus het dit al gedoen (3:8-9). Hy het al gesê ons moet aan die mooi en goeie dinge in die lewe dink. Ons moet positief bly. Jy moet negatiewe gedagtes nie eers ‘n kans in jou lewe gee nie, want negatiewe gedagtes is soos ink in water. Jy gooi net ‘n bietjie in en dan kleur dit sommer al die water. Nee, ‘n mens moet positief bly.

Hoe logies was sy argument nie: As ons koppe vol van die mooi dinge is, sal daar mos nie plek vir die lelike dinge wees nie. Boonop, as ek net dink aan dinge wat ordentlik en reg is, sal ek dit mos begin doen ook. Dink mooi, al daai ure wat ons sit en bekommer help dikwels maar min. Maar die oomblikke wat ons spandeer om te dink aan die mooi van die lewe, die goeie eienskappe van my vrou of man, die vreugde van my (soms stout) kinders, die genot van vriende, verlig nie net my siel nie, maar verbly ook my gees!

Ons is nie noodwendig wat ons eet nie, maar beslis wat ons dink. Dink positief…