12 September: Gee jouself weg om jou huweliksmaat te behou. – Jan van der Watt

Ef 5:21-6:9 (fokus 5:21-33)

Op ʼn keer hou ek ʼn paartjie op ‘n lughawe dop. Die meisie het ʼn knoets van ʼn diamantring aan. Elke nou en dan loer sy kamma ongemerk daarna en wikkel dan haar vingers (nogal opsigtelik) sodat die diamant mooi in die middel van die vinger sit. Haar verloofde kyk nie eers nie – hy verdiep homself in ʼn boek: “How to make money and get rich quickly”.

Die Here het ʼn geheime resep vir die huwelik (5:21). Die huwelik bring gewoonlik twee individue bymekaar met uiteenlopende drome en belangstellings. Hulle kies mekaar omdat elkeen dink dat hy of sy met daardie lewensmaat die drome sal kan verwesentlik. Daarom is die huwelik die plek waar jy moet wys hoe goed jy met spanwerk is… nie hoe wonderlik jy is nie, of hoeveel beter jy as jou huweliksmaat is, of hoe goed jy kan baasspeel nie. Nee, daar moet jy wys hoe goed jy met diens is, want drome in ‘n huwelik word gewoonlik net verwesentlik as jy bereid is om jouself te gee vir drome… ja, die drome van jou huweliksmaat. Die “diamantring” kom nie vanself nie. Dit kom deur bereid te wees om jouself weg te gee vir die ander een.

Dit is nie altyd maklik nie, want ons sien ons huwelikmaats soos hulle is, met al hulle swakpunte en gebreke. Dikwels stel hulle ons teleur, irriteer hulle ons so dat ons wonder hoekom ons nog probeer om iets van onsself vir hulle te gee. Dan is dit nie maklik om eerder as dienaar by so iemand se voete te kniel as om weg te hardloop nie.  Miskien het daai ou met die boek dit goed besef: om jou huweliksmaat tevrede te hou vat harde werk, en daarom het hy aan die werk gespring, al sou dit beteken dat hy hard moet werk sodat sy ryk kan wees.

Ef 5 :25 sê dit is die opoffering wat Jesus vir jou gemaak het … en dit is sy voorbeeld vir jou.




11 September: Liefde is aksie. – Jan van der Watt

Ef 5:1-20 (fokus 5:1-5)

Daar is mense wat praat en mense wat doen. ʼn Ou in ʼn restourant het vreeslik verstik en kon nie asem kry nie. Die res van sy kollegas aan die tafel het bespiegel oor wat die beste sou wees om te doen. Dit het nie veel gehelp nie, want intussen het die ou van kleure begin verander. Iemand van die tafel langsaan vlieg toe op en sonder om ʼn woord te sê gryp hy die ou om die bors en met ʼn harde druk los hy die probleem op.

Liefde doen ook, eerder as om te praat. Daarom is liefde altyd aksie (5:1-2). Dit help nie om te praat oor hoe jammer jy iemand kry nie –  om werklik jammer te kry, is om iets daaraan te doen. Om te bid vir iemand in nood beteken om bereid te wees om in te spring en te help om daai nood te verlig. Om iemand se probleem te bespreek is goed, maar dit is nog beter om die bul by die horings te pak en te help om dit op te los. Liefde is… aksie, aksie, en nogmaals aksie, want liefde maak ‘n verskil.

Hoe sou jy jouself beskryf? Is jy iemand wat praat of iemand wat doen?




10 September: Ons moenie rus as ons verhoudings nie reg is nie. – Jan van der Watt

Ef 4:11-32 (fokus 4:17-32)

 “Julle moet ʼn nuwe gesindheid kry en op ʼn nuwe manier oor dinge dink… Ons nuwe lewe moet ons al meer na God laat lyk” (4:23-24). Die ideaal is: Lyk meer soos God; die resep: voel nuut en dink nuut!

Paulus gee ʼn interessante stukkie praktiese raad om die ideaal om meer soos God te lyk te bereik: moenie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie (4:26-27). Voor jy jou kop op daai kussing sit, moet jy nuut dink omdat jy nuut voel. Jy moet nuut dink oor wat die belangrikste is: om jou verhoudings reg te maak of om te lê en broei oor alles wat jy gaan doen om daai persoon terug te kry. As jy die verhouding dan regmaak, sal jy sommer nuut voel ook.

Die Here wil hê jy moet nuut dink oor hoe jy jou gedra. Jou verhoudings met die mense rondom jou moet vir jou so belangrik wees, dat jy nie sal kan rus as iets daar verkeerd loop nie. Jy sal dit wil regmaak, want jy sal nuut wil voel, omdat jy nuut dink.

Natuurlik weet die Here dat dit nie altyd so maklik is nie – om verskoning te vra was nog nooit maklik nie. Maar dit verander niks daaraan dat ons nie moet rus voor ons verhoudings met ander reg is nie.

Anders gestel: God het nie gerus toe dit by sy verhouding met ons gekom het nie. Hy het iets daaraan gedoen.  As ons soos Hy lyk, sal ons ook nie rus nie as ons verhoudings nie reg is nie…




09 September: Haal diep asem… in liefde. – Jan van der Watt

Ef 3:14-4:10 (fokus 3:14-21)

 Liefde is die asem waarvan ʼn gelowige leef – met een groot verskil! Dit is nie soos gewone asem nie – wat ons inasem moet ons ook uitasem! Ons asem mos gewoonlik suurstof in en koolsuurgas uit. Suurstof gee ons lewe. Die koolsuurgas wat ons uitasem kan niemand aan die lewe hou nie – dit dra die dood.

So moet ons geestelike asemhaling nie wees nie. Liefde is so anders. Ons moet nie Jesus se liefde geestelik inasem (3:18) en dan iets anders “uitasem” nie, veral nie iets wat ander mense kan laat verstik of versmoor nie. Ons moet daardie liefde ook geestelik “uitasem” sodat ander daarvan kan leef (3:17). Wat jy kry, moet jy gee; ja, wat jy het as jy liefde het, is eintlik nie joune nie. Soos asem gee dit jou lewe, maar dan moet dit “uit” om vir ander lewe te gee.

Daarom kan ʼn mens die krag van ware liefde nooit keer nie, net so min as wat ʼn mens die gang van lug kan keer. Dit gaan net wyer en wyer en raak net meer en meer mense.

Haal elke dag diep asem…