08 September: Jy is God se advertensie. – Jan van der Watt

Ef 2:11-3:13 (fokus  3:1-10)

God voel ernstig oor die advertensiebedryf. Dit is ‘n belangrike deel van sy besigheidsplan.

God het so baie om vir ons te gee. Eintlik is dit bietjie oorweldigend as ʼn mens van alles wat God vir ons gee in Ef 2 en 3 lees. Sy stoorkamers is regtig vol gepak van goeie gawes wat bedoel is vir elke liewe mens. Hy het meer genade en liefde as wat ons van kan droom. Sy redding ken geen grense nie – mense kan kom soos hulle is en God se liefde sal hulle nuut maak.

Maar dit help nie God se stoorkamers is vol en niemand weet daarvan nie. Daarom is God in die advertensiebedryf (3:7). Op die straathoeke, in kantore en huise, by ontspanningslokale, in elke woonbuurt, ja, oral moet daar advertensies opkom.

Jy het seker klaar geraai hoe God se advertensies lyk. Dit lyk na jou. Jy is die een wat vir ander moet gaan vertel. Eintlik nog meer as dit, soos ʼn mens dikwels by ʼn winkel ʼn klein pakkie van ʼn produk kry om te toets, so moet jou lewe klein stukkies van God se genade en liefde vir ander gee om te “toets”. Dit is eintlik die beste advertensie.

As ons mooi dink is baie van die lewendigheid en groei van God se besigheid van advertensies afhanklik. Dit sê baie van God se vertroue in jou.




07 September: Wat Syne is, is joune ook. – Jan van der Watt

Ef 2:1-10 (fokus 2:1-10)

God dink oor mense soos ons oor ʼn rugbyspan dink. Wat met die span gebeur, gebeur met jou as deel van die span. As daar ʼn strafskop teen die span is, is dit ook teen jou as deel van die span, al het jy niks verkeerd gedoen nie. Gelukkig werk dit ook andersom – as die span wen, al het jy ʼn slegte wedstryd gehad, wen jy saam met die span.

God werk met Jesus se span; dit sien ons hier in Ef 2. Wat Jesus sʼn is, is ook sy span sʼn en wat met Hom gebeur, gebeur ook met sy span. Wat het jy omdat jy in Jesus se span is? Wel, as ons dit begin lys, is dit nogal die moeite werd om in Jesus se span te wees:

  • Jy lewe saam met Jesus ʼn nuwe lewe (2:4)
  • Vir God is jy nou spesiaal – jou plek is gereserveer by Hom in die hemel (2:6)
  • Jy word oorstroom deur God se goedheid en genade, meer as wat jy kan opgebruik(2:8)
  • Jy weet hoe om sin uit die lewe te haal, want God wys self vir jou deur Jesus hoe om dit te doen. Jy moet net mooi oplet (2:10)

As jy in God se span speel, speel voluit – jy het die beste Kaptein wat enige span kan hê. Onthou, Hy is nie suinig nie. Wat Syne is, is joune ook.




06 September: God se krag kan jou laat opstaan. – Jan van der Watt

Ef 1:15-23 (fokus 1:15-23)

 Die lewensreis het vir Herman te swaar en donker geword. Alles waaraan en waarvoor hy sy hele lewe lank gewerk het is in een oomblik met ʼn enkele veeg voor hom weggevee – daarvoor het die buite-egtelike verhouding waarin hy geland het, gesorg.

Dit het gelyk of sy pad klaar was… maar ʼn ruk later kon hy weer verder stap, al was dit met ʼn ietwat geboë rug en ʼn skuifel in sy pas. Hy het immers seergekry en het self baie ander seergemaak. Wat was dit wat hom sy kop weer laat optel het, daar waar hy gebroke en stukkend langs die lewenspad gelê het?

Net een ding: God se krag, dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het! En dit is krag soos geen ander krag nie (Ef 1:19-21). Toe hy daar langs die pad begin tas het na iets om aan vas te hou, het hy God se kragtige hand gevoel. Toe hy net wou hoor dat iemand vir hom sê: “Jy’s nie so sleg nie”, was dit God se stem wat hy gehoor het. Toe die strale van die son te skerp was vir sy donker siel, was dit God wat hom lig gegee het met die woorde: “Jy is vergewe”. En hy kon weer opstaan.

God se krag het Jesus laat opstaan. Hoeveel te meer kan dit jou nie laat opstaan nie?




05 September: Jesus het kom doen wat jy nie kon nie . – Jan van der Watt

Ef 1:1-14 (fokus 1:3-8)

 In die Bybel het die mense ook maar lekker baklei. Soms het dit so sleg gegaan dat families niks meer met mekaar te doen wou hê nie. Hulle wou nie eers meer met mekaar praat nie.

Maar daar was ʼn manier om vrede te maak en weer vriende te word. Wat gebeur het is dat iemand anders, ʼn derdeparty, met die twee wat kwaaivriende was gaan praat en onderhandel het. Die probleem is dan met die hulp van die derde party deeglik uitgepluis. Al die kwaad en seerkry wat aangedoen is, moes weer goedgemaak word. As die een die ander iets geskuld het, moes daar gereël word dat dit betaal moes word, en so aan.

Mense was ook in so situasie met God. Ons het God so seergemaak dat ons op ons eie nooit weer goeie vriende met God kon word nie. Hoe sou ons dit alleen kon doen? Dink net, wie sou ooit ons sonde voor God kon regmaak. Hoe sou ons daai skuld ooit kon betaal? Wie van ons sou voor God kon verskyn om namens ons te onderhandel? As dit van ons afgehang het, sou alles verby gewees het.

Maar God het, soos altyd, eerste sy hand na ons toe uitgesteek. Hy het sy Seun na ons toe gestuur om vrede te kom maak. Jesus het die kwaaivriendskap in vriendskap kom verander (Ef 1:6-7). Hy het die skuld betaal wat ons nooit sou kon betaal nie. Hy het kom regmaak en heelmaak wat ons nooit sou kon nie. En Hy het ons hande weer in God se hand kom sit.

Dit is so bekende verhaal… en dit is jou verhaal, as jy op Jesus vertrou.