04 September: Geniet die Here se gawes, moenie net daaroor praat nie. – Jan van der Watt

Gal 6:11-18 (fokus 6:11-18)

 Ons praat darem maklik, want woorde is geduldig… woorde soos “Jesus gee my krag”, of “Jesus se genade is vir my genoeg”, of “Dis ʼn vreugde om Christen te wees”. ‘n Mens hoor die woorde so baie, maar sien baie keer niks daarvan waar word nie. Ons het dikwels een boodskap maar ʼn ander lewenstyl. Dit is asof ons nie die nuwe lewe wat Jesus vir ons gee wil geniet nie, maar tog graag daaroor wil praat.

Christus wil hê ons moet nie net praat nie, maar ons lewens voluit geniet.  Dink net, Christus laat ons toe om soos kinders in ʼn speelgoedwinkel al sy wonderlikhede uit te soek en heeldag daarmee te speel. Ons hoef nie net van buite af deur die venster te loer en oor die “speelgoed” te praat nie. Christus gooi die deure oop sodat ons kan ingaan en gaan geniet. Ons kan soveel vreugde vat as wat ons wil, soveel van sy liefde en genade as wat ons nodig het. Sy troos staan rakke vol daar en ons kan sakke van sy krag saamvat.

Dit is waar! En dit is wat jou lewe kan omkeer en verander: Om elke stukkie van die vreugde en genade wat die Here jou elke dag gee te geniet, ja, sigbaar te geniet. Maak jou lewe ʼn spel van vreugde saam met die Here.




03 September: Ons moenie mense rondom ons laat rou nie. – Jan van der Watt

Gal 5:19-6:10 (fokus 5:19-26)

 Maartin Luther, die kerkhervormer, se vrou het eenmaal met pikswart klere in die kombuis ingestap. Verbaas het Luther gevra wie dood is. “God”, antwoord sy ewe. Luther vermaan haar dadelik. Hoe kan sy so oor God praat? “Jammer”, sê sy toe, “ek het gedink God is dood, want jy het in die laaste tyd so geleef”.

Luther se vrou het blykbaar begin raaksien dat daar droogte in Luther se geestelike lewe begin kom het – geestelike droogte wat die vrug van die Gees laat verlep het. Die vrug wat so begin verlep is die dinge in jou lewe wat jy nie kan wegsteek as God se Gees in jou lewe werk nie. Dit is nie buitengewone soort vrugte nie… dis alledaagse dinge, soos om iemand te help, om vriendelik te wees, om so tussen jou eie belange deur ander sʼn ook raak te sien, om nie te ongeduldig te raak nie. Dit is mos die soort van dinge wat nie te moeilik is om te doen nie, maar tog gou verlep as ons ons oog nie stewig op God gevestig hou nie.

Dit is juis díe dinge wat ander sal raaksien as ons dit doen… of nie doen nie. Ons kan nie wegsteek as ons verby iemand stap wat ons nodig het, of dat ons bekendstaan as “mnr Ongeduld” nie. Sulke vrugte wil God nie aan sy bome sien wat Hy langs sy waterstrome geplant het nie.

Ja-nee, ons moenie mense rondom ons laat rou omdat hulle nie meer God se vrug in ons lewens sien nie.




02 September: Na wie luister jy die graagste?. – Jan van der Watt

Gal 5:1-18 (fokus 5:13-18)

Die ou mense het gesê dat elkeen van ons ʼn engeltjie op een skouer en ʼn duiweltjie op die ander skouer het. Ons moet sorg dat ons na die regte een luister. Paulus sê ook so iets.

Ons moet self die verantwoordelikheid vir ons keuses dra, want ons kies na wie om te luister. As jy iets verkeerd gedoen het, moet jy nie almal rondom jou beskuldig nie. Dit is immers jy wat geluister en gekies het!

Jy was nie alleen toe jy gekies het nie. In Gal 5:16-18 pleit Paulus dat elke Christen moet toelaat dat die Gees hom moet lei en beheer. Voor ons ons keuses maak, moet ons eers vergadering hou… saam met die Gees. En daar moet die Gees die agenda van ons lewens baie duidelik bepaal. Hy moet ons lewe lei op die pad wat God wil hê ons moet loop.

Maar ons moet oppas, daar is iemand anders wat gedurig in die vergadering inbars en die Gees wil doodpraat. Paulus praat van ons “sondige begeertes” (5:17). Na díe gedoodprater moet ʼn mens nie luister nie.

Op die ou einde het jy ʼn keuse… jy het wel nie ʼn engeltjie en ʼn duiweltjie op jou skouer nie, maar die Gees en jou sondige begeertes.  Na wie luister jy die graagste?




01 September: Die twee V’s – vryheid en verantwoordelikheid. – Jan van der Watt

Gal 4:21-31 (fokus 4:21-31)

Vryheid en Verantwoordelikheid word altwee met ʼn V gespel – dit hoort saam. Verantwoordelikheid trek die grense van vryheid. Die vryheid van die vis in die see beteken dat dit in die see moet bly. Die vrye vlug van die arend is net mootlik as die arend sy vlerke sprei om deur die lug te gly. ʼn Vis op die land of ʼn arend sonder oop vlerke is nie vry nie.

Toe God ons vrygemaak het, het Hy ons ook soos die vis in die vrye oseaan van sy liefde losgelaat. Daar, saam met Hom, is ons vry. Maar as ons soos ʼn vis op die droeë land uitswem verloor ons die vryheid wat God ons gegee het. Om jou rug op God se verlossende liefde te draai, om jou verantwoordelikhede teenoor Hom nie meer na te kom nie, is om jou eersgeboortereg op goddelike vryheid te verloor.

Om jou hande en jou hart van God af weg te trek en net vir jouself te hou, beteken om soos die arend te probeer vlieg met sy vlerke styf teen sy lyf. Sy vrye vlug is daarmee heen.

Om volledig vrye Christen te wees, beteken om volledig verantwoordelike Christen te wees.