27 Augustus: Probeer maar so na as moontlik aan die regte keuse maak. – Jan van der Watt

Gal 2:1-14 (fokus 2:11-14)

Keuses is nie altyd vir Christene ewe maklik nie. Soms weet jy nie watter kant toe nie, want wat jy ook al kies gaan verkeerd wees. Neem byvoorbeeld ‘n baie ernstige huweliksprobleem: die man vernietig eenvoudig sy vrou en sy kinders (of omgekeerd). Hy pers hulle geestelik af en maak hulle op elke moontlike manier seer. Dit is tog nie Christelik nie. Aan die ander kant is egskeiding ook nie reg nie. Wat nou gemaak? Sulke keuses is nooit maklik nie, want wat jy ook al kies gaan verkeerd wees. Bly jy in die huwelik gaan die vernietiging van mense maar net verder. Om te skei hou die Here ook nie van nie.

Petrus was in ‘n soortgelyke posisie (2:11-14). Hy het in Sirië saam met die heidene geëet, maar toe Jode uit Jerusalem daar aankom wou hy skielik nie meer nie; en met goeie rede: die politiek in Jerusalem was warm. Die Jode in Jerusalem was baie teen vermenging met die heidene en het sommer iemand doodgemaak wat met die heidene geheul het. As dit nou in Jerusalem sou uitkom dat ‘n leier van die kerk saam met heidene eet, sou die lewens van al wat Christen was in Jerusalem in gevaar gewees het. Dit wou Petrus nie hê nie. Daarom wou hy liewer nie hê die Jode moet sien hy eet saam met die heidene nie. So stel hy ten minste nie sy mense in Jerusalem in gevaar nie. Paulus sien dit anders. Vir hom is dit verraad van die evangelie. Die evangelie is vir almal, Jood en heiden. Nou verraai Petrus hierdie basiese boodskap. Dit is ook nie reg nie. Arme Petrus, wat kon hy doen? – enige keuse het moeilikheid voorspel… en uiteindelik moes hy kies, of hy wou of nie.

‘n Mens moet na die groter prentjie kyk om jou te help: wat is die beste vir die evangelie van Jesus Christus? Wat gaan die integriteit van hierdie boodskap die minste skade aandoen? Die riglyn is maar vaag, maar help darem so bietjie.




26 Augustus: God het ‘n plan met jou. – Jan van der Watt

Gal 1:11-24 (fokus 1:11-24)

 Paulus se lewe lees byna soos ‘n sepie. Hier is hierdie jong talentvolle jong man wat bo almal uitstyg (1:14). Ek kan my voorstel dat die Joodse leiers vir mekaar in die geheim gesê het dat hulle hom moet dophou. Hy gaan nog diep spore in die Jodendom trap. En toe verander alles op een oomblik. Hy ontmoet Jesus en hy verloor alles wat hom so belangrik gemaak het in die oë van almal. In plaas van ‘n groot bankrekening het hy nou niks; in plaas daarvan dat die Jode vir hom die beste stoel in die sinagoge aanbied, slaan en skel hulle hom… Van dit alles sê Paulus dan: God het ‘n plan met my lewe (1:15). Daarom laat Paulus hom nie afsit nie. As dit God se plan vir hom is, loop hy die pad gehoorsaam. Hy kies hierdie nuwe lewe dan honderd maal bo die oue!

Ons koppe werk dikwels so bietjie anders. Ons dink God werk net in ons lewens as sy plan met ons planne ooreenstem; ja, as dinge gebeur soos ons dink dit moet gebeur. Ons vergeet dat God se planne groter is as wat ons planne is. Daarom hoef dit nie altyd dieselfde te wees nie. Hy sien verder en weet beter. Ons beplan ‘n dag, ‘n jaar of twee vooruit, maar Hy beplan leeftye vooruit. Daarom mag ons dag of jaarbeplanning dikwels nie uitwerk nie, bloot omdat dit nie by God se leeftyd beplanning vir ons inpas nie.

Van een ding kan jy seker wees: God het ‘n plan met jou lewe ook. Jy moet Hom net toelaat om dit uit te werk sonder om teë te stribbel. Soos Paulus moet jy Hom toelaat om jou te vat waar Hy jou wil hê, al mag dit lyk of jy baie gaan “verloor”. Regtig verloor gaan jy op die ou einde nooit nie. Daarvoor sal God sorg.

As dinge in jou lewe dus nie altyd loop soos jy wil nie, moenie te gou moedeloos word nie. Skep ten minste moed uit die feit dat God ‘n plan het met jou… en Hy sorg dat sy planne uitwerk. Daarom sal dit op die ou einde ook vir jou ten beste uitwerk.




25 Augustus: Jy het die waarheid. – Jan van der Watt

Gal 1:1-10 (fokus 1:6-10)

 Moet ‘n mens almal glo wat deesdae met allerhande godsdienstige praatjies rondloop? Mense, ja, selfs teoloë, verskil so van mekaar dat ‘n mens nie meer weet wat om te glo en wat om te los nie. Die troos is darem dat dit nie ‘n nuwe ding is nie. Dit was van die vroegste tye af al so.

Maar wat maak ‘n mens as jy so oorval word met al die verskillende idees en dikwels van mense wat veronderstel is om te weet? Paulus het ‘n baie eenvoudige oplossing. Toets die idees aan die goeie nuus (die evangelie) van Jesus Christus. Met die evangelie van Jesus bedoel hy die boodskap van die kruis en opstanding van Jesus, asook die gevolge daarvan in ‘n mens se lewe. Dit maak jou nie alleen vry nie, maar ook opgewonde om die Here in liefde te dien. Nou sê Paulus dat selfs as ‘n engel uit die hemel iets anders kom sê, moet jy dit nie eers glo nie… en onthou engele was gesien as boodskappers van God. Selfs dan moet jy jou nie daaraan steur nie, wat nog te sê as een of ander mens met ‘n ander boodskap kom (1:8-9). So vas staan die evangelie van Jesus Christus. God het gepraat en dit is seker. As iets nie lekker daarby inpas nie, is die beste ding om te doen maar om ‘n dowe oor te draai.

Jy het die waarheid, die evangelie van Jesus Christus. Daarby kan ons bly.




24 Augustus: Goeie beplanning maak ‘n groot verskil in jou lewe. – Jan van der Watt

2 Kor 13:1-13 (fokus 13:1-10)

Kyk ‘n slag deeglik na jou lewe (13:5). Is jou lewe soos jy dit graag wil hê? As jy “van buite af” ‘n paar knoppies kon druk om sekere dinge te verander, watter knoppies sou jy druk? Paulus stel veral belang in die deel van jou lewe waar dit om geloof gaan. Is alles daar pluis? Want as ‘n mens daar die toets van geloof dop, wag daar probleme op jou (13:6).

Met ons besige lewens leer ons een ding goed: om ons lewens goed te reël anders loop dinge deurmekaar. Ons oordoen dit in baie gevalle ook. Ons is van die oggend tot die aand en selfs naweke besig. Ons moet soveel balle gelyk in die lug hou: dis die werk, ons sosiale lewe, inkopies, gym, huis reghou, kinders versorg en so gaan ons aan. So tussendeur kry ons alles gedoen… of kry ons?

Om jou geestelike lewe gesond te hou moet jy ook baie tyd daaraan spandeer. Dit gaan immers oor jou verhouding met God en aan ‘n verhouding moet ‘n mens werk, anders gaan dit dood. Die vraag is nou, hoeveel tyd ruim jy in jou besige lewe in vir God? Ek bedoel, as ons nie deesdae deeglik beplan nie, gaan ons net nie alles gedoen kry nie. Daarom is dit ‘n billike vraag om vir jouself te vra: Hoe deeglik beplan ek God in my dag in. Watter deel behoort net aan Hom en my?

Goeie beplanning maak ‘n groot verskil in jou lewe, ook aan jou geestelike lewe. Jou vraag is nou: is daar ‘n paar knoppies wat jy moet druk om jou lewe net weer op koers te kry?