23 Augustus: Dink voor jy doen. – Jan van der Watt

2 Kor 12:11-21 (fokus 12:14-21)

 Ons almal kry maar een of ander tyd stry met ander. Ander maak jou vies en as jy kwaad is, wil jy terugkap. As jy so emosioneel voel wil jy die persoon in eie munt terugbetaal. Maar Paulus leer ons ‘n baie belangrike lewensles (12:20). Kyk na die gevolge van wat jy doen. Moenie te vinnig reageer as jy emosioneel voel oor ‘n saak nie. As jy iemand gaan terugbetaal, kyk eers mooi na wat die gevolge gaan wees. Wat gaan oorbly nadat alles verby is? En as jy nie rustig in jou hart is dat die hele saak beter gaan wees na die tyd nie, moenie aangaan nie.

Paulus erken openlik dat hy bang is om Korinte toe te gaan, want as hulle hulle probleme begin uitpraat, kan dinge skeef loop. As dit gebeur is daar net hartseer en onmin wat oorbly. Dan is daar geen voordeel of sin in so gesprek nie. Daarom moet ‘n mens voor jy iets doen eers DINK. Dink wat die gevolge van dit wat jy doen gaan wees. As dit nie die saak beter gaan maak nie, moet dit dan liewer nie doen nie. ‘n Christen soek nie ‘n bloedspoor van onmin agter hom nie. Dink daarom of dit wat jy gaan doen goeie gevolge gaan hê en indien nie, dink dan hoe jy die saak anders kan hanteer sodat dit beter word en nie slegter nie.

Jy is baas oor jou eie lewe. Hoe jou lewe dus afloop is in jou hande. Maak die regte keuses deur eers te mooi te dink.




22 Augustus: Die Here antwoord jou gebede…luister net fyn. – Jan van der Watt

2 Kor 12:1-10 (fokus 12:1-10)

 Die Here antwoord altyd gebed. Die probleem is ons hoor Hom nie altyd so duidelik nie. Ons verwar dikwels ons eie wil met God se antwoord. As ons iets vra en dit gebeur nie net soos ons dit gevra het nie, dan dink ons God het nie ons gebed verhoor nie. God hoef egter nie altyd net te antwoord soos ons dit wil hê nie. Hy kan “Nee” sê, of selfs op ‘n manier antwoord wat anders is as wat ons gevra het. Paulus moes ook die les leer.

Paulus het iets gehad wat hom vreeslik gehinder het in sy werk; dit was soos ‘n doring wat hom gesteek het (12:7). As hy net van die ding ontslae kon raak sou hy soveel beter gepreek het. Dit was ‘n regte struikelblok in sy lewe. Daarom gaan vra hy die Here om hom te help: “Vat die ding weg sodat ek beter vir U kan werk”. Dit is nou ‘n billike gebed! Maar hy hoor niks nie. Die hemelse telefoonlyne klink vir hom stil. Toe bid hy weer, maar steeds lyk dit of die ink van die hemelse faksmasjiene klaar is, want weer hoor hy niks. Dit is egter toe hy die derde keer bid dat hy besef: die Here het hom eintlik al die eerste keer geantwoord (12:8). Die Here se goedheid is vir hom genoeg. Juis wanneer hy swak is, skyn die Here se krag soveel helderder deur alles wat hy doen. Daar was dus ‘n goddelike rede vir die doring. Paulus moes nie te veel staatmaak op hoe goed en groot hy as apostel is nie, want netnou staan hy in die pad van God. Dit sou ‘n fout wees, want mense moet hom nie raaksien nie, maar vir God. En die doring het daardie balans reg gehou.

God antwoord gebede, maar nie altyd soos ons wil nie. Hy antwoord hulle soos Hy wil. Ons moet net geestelik sensitief genoeg wees om sy antwoorde duidelik te hoor en bereid wees om dit so te aanvaar.

Die Here antwoord jou gebede… luister net fyn




21 Augustus: Jy hoef nie altyd op jou regte te staan nie. – Jan van der Watt

2 Kor 11:7-33 (fokus 11:7-15)

 Hoe belangrik is dit om op jou regte te staan? Wel, ‘n mens kry dikwels die gevoel dat as jy dit nie self doen nie, gaan niemand dit vir jou doen nie. Almal loop net oor jou. Daarom moet jy maar vas staan.

Dit val ons juis van Paulus op. Hy was baie bewus van sy regte. Dis nie dat hy nie geweet het nie. Maar dikwels gee hy eenvoudig sy eie regte op, soos ook hier (11:7-11). Iemand wat vir God werk het die reg om by die mede-gelowiges onder wie hy werk kos en slaapplek te kry. Dit was ‘n eeu-oue reg. Paulus staan egter glad nie op daardie reg as dit by die Korintiërs kom nie. Hoekom?

Indien hy dit gedoen het, sou hy iets anders wat baie belangriker was, opgeoffer het: hy sou hy nie meer die evangelie so vrylik kon verkondig nie. As jy destyds “betaling” van iemand gevat het, was jy in die skuld by hom. Dan was hy jou baas en moes jy na sy pype dans. Dan sou Paulus die evangelie nie so vryelik kon verkondig nie (11:11). Hy sou nie sommer reguit vir hulle kon sê as hulle verkeerd doen nie, want netnou vat hulle hulle “betaling” weg. As die “betaling” dan in die pad staan van die vryheid om die evangelie te verkondig, moet die betaling liewer gaan. Niks moet in die pad van die evangelie staan nie.

Ons moet op ons regte staan, maar ons hoef nie altyd nie. Daar is dinge wat belangriker is as ons en as ons regte tussen daardie dinge en ons kom staan, moet ons maar ons regte laat vaar. ‘n Houding van “ter wille van…” offer ek op, is altyd ‘n goeie houding as dit by godsdiens kom.

Staan op jou regte, maar moenie toelaat dat jou regte op jou staan sodat jy nie meer vry is om die Here te dien nie.




20 Augustus: Jy kan maar spog. – Jan van der Watt

2 Kor 10:12-11:6 (fokus 10:12-18)

Dis tog lekker om oor jouself te praat, net om seker te maak mense sien jou raak. Wie geniet dit nie? Party oordryf dit natuurlik so ‘n bietjie. Hulle praat die hele tyd oor hulleself. Dit word dan eintlik so iets van ‘n magspel. Jy spog maar net om te wys jy is belangriker en beter as die ander een. Daarvan hou die Here nie eintlik nie, want om met spoggery bo aan die leer te probeer kom moet jy op ander trap: “Ek is beter as jy, want jy is slegter as ek”. Moenie te veel oor jouself praat nie; laat ander dit liewer doen.

Dit is God se taktiek – Hy wag dat ons oor Hom spog (10:17). Hy wil hê ons moet oor Hom praat, vertel wat Hy doen en sy liefde vir ander aanbied. Enigiemand wat so oor God wil spog het genoeg materiaal om van te kies. Dit kan hom dag in en dag uit besig hou. En dit is nie spog wat op ander trap nie, maar wat ander uitnooi op hoër op leer te klim, nader aan God. Ja, dit is wat spog oor God doen – dit trek mense nader aan Hom.

Jy kan maar spog, nie oor jouself nie, maar oor Hom.