15 Augustus: Hemelse geld. – Jan van der Watt

2 Kor 6:1-7:1 (fokus 6:1-10)

Min van ons droom nie oor rykdom en skatte nie. Sê nou ons kry die geheime kaart wat vir ons na ‘n grot met die kiste vol goud en diamante toe lei. Of ons wen skielik ‘n sak vol geld. Dan bêre ons dit in die bank sodat dit meer kan word. Die interessante is dat ons ons skatte gedurig wil weggebêre of weggesteek.

Die Here is ook opgewonde oor rykdom. Die vroutjie wat haar laaste paar sente vir die Here gegee het, was in sy boeke ryk. Die seuntjie wat sy twee broodjies en paar vissies vir die Here gegee het om vir ander uit te deel was volgens Hom ryk. Paulus wat geslaan en beledig word ter wille van die evangelie was vir die Here ryk (6:10).

Ja-nee, die Here se bankstelsel werk net die teenoorgestelde as ons s’n. Dit is nie hoe meer ons kan toesluit in banke of in grotte kan bêre wat jou ryk maak nie, maar hoe meer jy kan uitdeel. En ons almal het baie om uit te deel: liefde, opregtheid, vriendelikheid, geduld… (6:6). Om die waarheid te sê, hoe meer jy weggee, hoe groter word jou hemelse bankrekening. God betaal self die geld daarin. Die note is van genade gemaak en die munte van sy krag. Al het jy nie ‘n sent op jou naam in ‘n aardse bank nie, sal jy meer as genoeg genade en krag in God se bank hê om jou deur hierdie lewe te dra, wat jou ook al tref.

Ongelukkig is party van ons se aardse banke vol, maar ons hemelse rekening is leeg. Ons ken God se genade en sy krag nie meer nie, omdat ons nooit eers meer ons hemelse bankboekie gaan soek om te kyk wat daar in is nie.

Een ding moet ons almal onthou. Ons kan nie die geld wat blink eendag saamvat nie. Daar in die hemel lyk geld anders.




14 Augustus: God het jou sondekilometers weggevat. Nou’s jy soos nuut. – Jan van der Watt

2 Kor 5:11-21 (fokus 5:11-21)

 ‘n Ou wou eendag sy ou kar verkoop, maar dit het so bietjie baie kilometers op gehad. Sy oneerlike vriend stel voor hy draai sy kilometers terug. Na ‘n ruk sien die vriend die ou ry nog met dieselfde kar. “Het jy nie die kar verkoop gekry nie?” wou die vriend weet. “Nee, nadat ek klaar was het die kar so min kilometers op gehad dat ek besluit het om hom te hou”, kom die antwoord.

Net so het elke gelowige ‘n lang toekoms saam met God, want God maak elke gelowige nuut. Hy hou Hom nie besig om kilometers van sonde terug te draai nie, maar maak sommer die hele kar nuut (5:17). Hoe maak God ons nuut? Wel, ons is nie karre nie, maar mense. Karre loop op petrol, mense op verhoudings. Daarom is ons nou nuut omdat Jesus ons verhouding met God weer heeltemal kom nuut maak het.

Die probleem is eintlik nie ons baie kilometers sonde nie, maar dat ongelowiges se kar glad nie loop nie. Hulle verhouding met God lê aan skerwe, of het eintlik nog nooit bestaan nie. Maar in die hande van Jesus word daai kar ‘n nuwe een.

Jesus het “versoening” tussen God en die mense bewerk, sê Paulus (5:18-19). Dit beteken dat Hy al die dinge wat die verhouding tussen God en mense bederf het, weggevat het. Gelowiges se hande is nou weer stewig in die hand van God. So kan hulle weer nuut begin lewe, want hulle leef nou weer saam met God. Hulle word uitgenooi om by Hom te wees, deur Hom versorg te word, sonder dat hulle die hele tyd hoef te voel hulle wil wegkruip omdat hulle te veel sonde het.

Nee, op God se meterlesing is gelowiges se kilometers sonde weg, want Jesus het dit vir altyd weggevat. Jy is nuut. Nou kan jy regtig maar net God se teenwoordigheid ten volle geniet. Vir Hom is jy weer sy vriend.




13 Augustus: Tel jou skatte. – Jan van der Watt

2 Kor 4:7-5:10 (fokus 4:7-15)

Het jy al jou skat ondek? Dit is nou die skat hier binne in jou? Paulus vergelyk gelowiges met kleipotte waarin ‘n skat weggesteek is. (Dit was mos hoe destyds se ABSA’s of Standardbanke gelyk het). Jou ou kleipot mag vol barste wees maar aan die skat binne in jou kan niemand vat nie. Om die waarheid te sê, die Here sê dit is net joune en verwag dat jy uit daardie skat moet leef.

So van ‘n skat gepraat. Daar was ‘n omie wat in absolute armoede op sy plaas gebly het en so dood is ook. Met sy boedel kom dit toe uit dat hy ‘n multi-miljoenêr was – hy het van jongs af aandele gekoop en niemand het dit geweet nie. Mense het net hulle koppe geskud: hoe kan hy die lewe so by hom laat verbygaan het?

Gelowiges maak dikwels dieselfde fout. Ons konsentreer so op ons ou kleipotte en al die gestamp en gestoot in die lewe (4:7) dat ons vergeet wat regtig belangrik is: die skat binne in ons. Dit is eintlik wat ons ryk en die lewe die moeite werd maak.

As jy mooi kyk sal jy sien dat die Here ‘n goeie dosis van die skat by jou afgelaai het. Hy het jou nie afgeskeep nie. Die krag wat Jesus uit die kloue van die dood uitgeruk het, is joune ook (4:15). Die goeie nuus van God wat jou in sy hand vashou, kan jy vir ander vertel, want dis waar. Daar wag ‘n splinternuwe lewe vir jou wat nooit sal ophou nie, en dit saam met God (5:1). Ja-nee, die toekoms roep en wat ‘n toekoms is dit net nie! En die beste van alles is dat die Here wil hê dat ons nou al uit die krag van daardie toekoms moet leef. Byna soos iemand wat vorentoe beur om iets te gryp, moet ons elke dag vorentoe beur na die wonderlike skat wat God in ons gegee het.

Moet dus nie jou lewe versuur met jou kleipot wat maar bietjie gestamp word nie. Tel liewer jou skatte! Dan sal jy die hele lewe sommer vir jou skitter.




12 Augustus: Al stralend vir die Here . – Jan van der Watt

2 Kor 3:12-4:6 (fokus 3:12-17)

 Daar was ‘n voëlverskrikker wat so lelik was dat die voëls die saad wat hulle twee dae gelede gesteel het, teruggebring het. Niemand kan die voëlverskrikker daarvan blameer dat hy nie sy werk effektief doen nie.

Paulus sê dat gelowiges so van heerlikheid moet straal dat dit vir ander moet voel asof hulle by Jesus self staan (3:17). Ja, so effektief moet ons Jesus dien dat mense na ons toe wil terugkom as hulle die heerlikheid van God soek. Om dit te kan doen het ons ‘n groot voorsprong bo die voëlverskrikker. Die voëlverskrikker is maar net voëlverskrikker, maar ons het die Gees van die Here self in ons. Dit is nie ons alleen wat van heerlikheid hoef te straal nie. Nee, die Gees van die Here moet deur ons straal.

Dit kan net gebeur as jy vry is, sê Paulus (3:17). Vryheid beteken dat niks ons bind of keer om regtig die Here te dien nie. Niks verdof die staal van heerlikheid nie. Dit beteken om vry te wees van alles wat in jou pad mag staan om jou aan Jesus te kan bind. Dit is al manier hoe jy Jesus effektief kan dien en om al hoe meer te kan lyk en te leef soos Hy. Om vry te wees beteken dus om beskikbaar te wees – vry van jouself beteken om beskikbaar te wees vir die Gees; vry van onnodige wette en reëls beteken om gereed te wees om na die Gees te luister.

‘n Voëlverskrikker kan sowaar nie groter invloed hê as Christene nie, veral nie as die Gees deur hulle straal nie.