11 Augustus: Parfuum kruip nie weg nie. – Jan van der Watt

2 Kor 2:14-3:11 (fokus 2:14-17)

 Parfuum kruip nie weg nie, want dit kan nie. As iemand in ‘n vertrek instap met goeie parfuum aan weet almal dit. Net so kan Christene ook nie wegkruip nie. Hulle is God se parfuum in die wêreld. Hulle is die aangename geur in die wêreld wat mense van God bewus maak, sê Paulus (2:15).

Daarom kan ons as Christene ook nie wegkruip nie. Of jy nou wil of nie, jy is gedurig in situasies waar ander uit wat jy doen jou “geestelike aroma” optel. Hulle kom iets agter as jy daar is en hou iets oor as jy weg is. Soos iemand vandag kan sê: “Sy het Chanel 5 aan of Este Lauder Youth Dew” kan en moet hulle van gelowiges sê: “Jy het die aroma van Jesus”.

Hoe sit ‘n mens die aroma aan? Deur in gehoorsaamheid so naby aan Jesus te bly dat sy aroma teen jou afvryf – jy moet so graag sy wil doen, by Hom wees in gebed, in sy voetstappe loop dat dit die kenmerk, die geur word wat ander opmerk as jy by hulle kom.

Natuurlik sal nie almal hou van die aroma nie en sal hulle hulle neuse daarvoor optrek (2:16). Dit sê baie van hulle – dit sê hulle hou nie van Jesus nie. Hulle wil nie nader aan hom kom sodat sy geur teen hulle kan afvryf nie. Maar hulle moet dan net ‘n bietjie aan hulleself ruik. Waar hulle gaan laat hulle die geur van die dood agter. En dit is alles behalwe lekker.

Hoe ruik jy?




10 Augustus: Vergifnis kom van twee kante. – Jan van der Watt

2 Kor 1:23-2:13 (fokus 2:5-11)

 Een van die grootste manipulasieinsturmente van Christene is vergifnis: “Jy moet vergewe, want die Here het so gesê”. So speel ons op ander se gewetens om te kry wat ons wil hê. Een ding vergeet ons egter te dikwels en dit is wat vergifnis presies is. Dit is God se instrument om stukkende verhoudings heel te maak; om verhoudings reg te maak wat gebreek het. As daar verhoudings betrokke is, is daar altyd twee kante.

As verhoudings stukkend gegaan het, moet daar ‘n rede vir die onmin wees. Vergifnis kan egter nooit werk as ons nie van daardie rede ontslae raak nie. Daardie verhouding sal dan maar net weer en weer verkeerd loop, want die doring is nie uitgetrek nie. Vergifnis is soos die salf wat die wond gesond maak, maar voor die doring nie uit is nie, kan die wond nie gesond word nie, al smeer jy al die salf of wat jy het.

As iemand dus iets slegs teen iemand anders gedoen het, moet daardie persoon eers erken dat hy dit gedoen het en daarvan “ontslae” raak. Soos ‘n doring moet hy dit uittrek en weggooi. Dan eers kan hy verwag dat die ander persoon die salf van vergifnis moet opsit. Dan eers kan die verhouding behoorlik genees.

Vergifnis werk met verhoudings en verhoudings kom van twee kante. Voordat daar vergewe kan word, moet daar eers reggemaak word wat verkeerd is. As die persoon wat verkeerd gedoen het nie wil regmaak nie, moet hy ook nie verwag om vergewe te word nie. Maar as die ander persoon wil regmaak, mag jy nie weier om te vergewe nie. Dit verwag die Here van ons.

Vergifnismanipulasie werk nooit. Jy hoef dit nie eers te probeer nie.




9 Augustus: ‘n Tweegesig…nooit. – Jan van der Watt

2 Kor 1:12-22 (fokus 1:12-22)

 Iemand het eenmaal gesê: “Daai man is baie beleefd. Hy slaan altyd eerste maar vra darem om verskoning nadat hy jou geslaan het”. Maar die vraag is, waarom het hy jou in die eerste plek geslaan as hy so beleefd is?

Mense is dikwels so “beleefd” dat hulle totaal oneerlik en agterbaks is. Jy weet nooit waar jy met hulle staan nie. Jy voel altyd ongemaklik, want jy is nie seker of wat hulle voor jou sê dieselfde is as wat hulle agter jou rug sê nie. Partymaal loop hulle “beleefdheid” ‘n ander pad – hulle sal vir jou kom sê: “Ek wil jou nou nie beledig of seermaak nie”, en dan slaan hulle jou pimpel en pers met hulle skerp woorde wat agter hulle valse glimlag uitborrel. Ja, hulle slaan jou “beleefd”. As hulle wegstap en jou seer en gekneus los, wonder jy wat dit wat hulle nou so oor gal gebraak het regtig met hulle te doen het. En as dit hulle wel aangaan, kon hulle nie hulle valse “beleefdheid” gelos het en dit op ‘n liefdevoller en mooier manier gedoen het nie.

So ‘n tweegesig is hy nie en wil hy nie wees nie, sê Paulus (1:12,17). Mense moet eerlik weet waar hulle met hom staan. Dit beteken nie dat hy ongeskik is of soos ‘n bul in ‘n porseleinwinkel alles stukkend hardloop ter wille van “eerlikheid”  nie. Om opreg en liefdevol eerlik te wees, is al pad wat hy wil loop, want dit is die regte pad. Dan klink jou woorde agter die persoon se rug nie anders as wat jy voor hom praat nie. Jy sal ook nooit jou vuiste in “beleefdheid” oplig nie.

Liefdevolle opregtheid en eerlikheid is skaars onder ons mense. Jy kan dit meer maak.




8 Augustus: Die Here help, elke keer. – Jan van der Watt

2 Kor 1:1-11 (fokus 1:3-11)

 Swaarkry is nooit lekkerkry nie. As swaarkry en sukkel die musiek rondom jou maak voel jy beslis nie of jy op die tafels wil dans van blydskap nie. Paulus het swaarkry goed geken, byna té goed geken (1:6). Hy vertel juis hoe hy net nou die dag byna dood was (1:8-10). Hoewel swaarkry nie lekkerkry is nie, kan ‘n mens tog baie daaruit leer.

As jy weet hoe dit voel as dinge verkeerd loop maar ook sien hoe dinge weer regkom, kan jy ander troos wat nou die paadjie van swaarkry stap (1:4). Dan het jy die begrip om te luister en die woorde om hulle moed in te praat. God gebruik jou eie swaarkry as sy “les in lewenskennis” vir jou. Deur jou swaarkry leer jy hoe om ander ook deur hulle swaarkry te kan help.

‘n Mens kan verstaan hoekom. As mense swaarkry sê ons baie maklik: “Ek bid vir jou. Die Here sal jou help”. As ons dan in die kar klim en wegry sê ons weer: “Arme Sannie, ek kry haar jammer. Ek wonder wat gaan gebeur”. Paulus sê dat as jy eers self deur so ‘n regtig slegte krisis was, jy nie meer wonder of iets goeds gaan gebeur nie – jy wéét. Jy het dit immers self ervaar. Jy gaan agterkom God stap saam met jou. In daai krisis hoor jy sy voetstappe langs joune en as jy jou bewende hand uitsteek, gaan jy sy sterk hand voel wat joune styf vashou (1:8-10). Dan is die woorde, “Die Here sal jou help” nie meer net woorde nie. Dan is dit ervaring. Dan kan jy vir ander met oortuiging sê: “Die Here sal jou elke keer help as jy in die nood is. Hou net moed” (1:10). Jy wéét, want jy het dit ervaar.

As jy dan wegry, sal jy ook wonder… wonder hoe die Here hierdie keer gaan wys dat Hy die Here is wat sy kinders vashou en deur die moeilikheid help, elke keer!