7 Augustus: Is geld en kerk sinoniem? Vir party mense wel. – Jan van der Watt

1 Kor 16:1-24 (fokus 16:1-4)

 “Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit…” (16:2). Geld en kerk is vir party mense sinoniem. As iemand nie meer van die kerk hou nie, sê hy sommer maklik die kerk wil net geld hê.

Wel, van die Ou Testamentiese tyd af al was die werk van die Here en geld verweef, nie omdat geld so belangrik is nie, maar omdat die werk van die Here so belangrik is. Die realiteit is dat sonder geld kan ons in hierdie wêreld nie leef nie. Ons het dit nodig. Iemand wat al sy tyd spandeer om vir die Here te werk omdat ons hom of haar gevra het om dit ook namens ons te doen, het hy weinig tyd oor om nog vir ander base ook te werk en geld te verdien. Iewers sal iets dan afgeskeep word. So was dit met die priesters, was dit met die apostels en is dit vandag.

Die persoon wat met die werk van die Here besig is, werk nie vir ‘n baas wat met rande en sente betaal nie. Hy is ook nie veronderstel om dit wat sy “Baas”, die Here, vir hom gee vir homself te hou nie. Hy moet dit vir die ander uitdeel. Daarom vra die Here dat mense wat vir “rande en sente”-base werk iets van hulle inkomste vir die Here se dinge ook gee. So kan die Here se dinge ook ongestoord aangaan. Om so by die Here se dinge betrokke te raak moet die teken van dankbaarheid wees vir alles wat die Here weer vir hulle gee. Jy ruil in ‘n sekere sin munte wat roes vir gawes wat vir altyd hou.

 Baie keer word ‘n mens vir iemand by die kerk kwaad en dan is die versoeking groot om jou geld as manipulasiemiddel te gebruik – “Nou gaan ek die kerk wys; hulle kry nie ‘n sent verder van my nie!” Wie “wys” jy nou eintlik as jy so redeneer? ‘n Mens moet maar net hoop God aap jou nie dan na en gebruik dieselfde argument teen jou nie.




6 Augustus: Die dood is die begin. – Jan van der Watt

1 Kor 15:50-58 (fokus 15:50-58)

 Die idee van die dood maak ons almal maar so bietjie bang, veral omdat dit so finaal is. As jou tyd hier op aarde verby is, is dit verby. ‘n Tweede kans is daar nie. Maar dinge het verander die dag toe Jesus uit die dood opgestaan het. Daar het God gewys daar is ‘n tweede kans. Hy het met die dood klaargespeel.

Mense het die dood as die einde van die pad gesien. In die Ou Testament het selfs God nie eers meer in die dooies belanggestel nie. Hy was ‘n God van die lewe en lewendes. Solank jy geleef het, was jy by Hom, maar as jy sterf het jy in die doderyk afgesak, weg van Hom af. Daar kon jy ook nie meer God soek of tot bekering kom nie, want Hy was by die lewendes. Dit was die krag of “angel” van die dood (Afrikaanse vertaling) waarvan Paulus praat (15:55). As jy eers eenmaal in die dood se mag was, was jy vir altyd daar, of so is daar gedink.

Dit is waarom Jesus spesifiek uit die dood moes opstaan. Hy moes wys God se krag hou nie op by die grens van die lewe nie. God se krag strek verder tot in die dood. Hy kan in die doderyk instap en gaan uithaal wie Hy wil. Niks gaan Hom keer nie. So gaan haal Hy vir Jesus uit… en so gaan Hy elkeen wat aan Hom behoort ook uithaal. Dit is wat daarmee bedoel word dat Jesus die dood oorwin het. Die dood het nou nie meer enige krag of invloed nie – die krag behoort aan God (15:54)

Jesus het die idee dat die dood die einde is, in ‘n mite kom verander. Nee, vir ‘n gelowige is die dood net die begin. Die begin van ‘n wonderlike lewe saam met God.




5 Augustus: ‘n Toekoms vol verrassings. – Jan van der Watt

1 Kor 15:29-50 (fokus 15:35-50)

 ‘n Mens wonder nogal baie hoe dit in die hemel gaan wees. Hoe gaan ons lyk en wat gaan ons doen? Interessant genoeg weet die Bybel dit nie eers nie. Paulus probeer dit hier op ‘n manier verduidelik.

Ons gaan dieselfde wees – jy gaan nog jy wees. Maar ons gaan ook anders wees – jy gaan ‘n ander jy wees. Daar gaan dus kontinuïteit en diskontinuïteit wees. Dinge gaan dieselfde wees en anders.

Jesus is die enigste voorbeeld van iemand wat al die verheerlikte liggaam het. Hy was nog Hy, want mense het Hom herken. Hy kon nog kos eet en het saam met mense gestap. Maar Hy was ook anders. Mense het Hom nie altyd dadelik herken nie, soos Maria of die Emmausgangers. Daar was iets van ‘n misterie aan sy teenwoordigheid. Hy kon ook deur deure stap en kon skielik iewers verskyn. En dit is nie hoe ons hierdie ou liggame van ons ken nie. Dít is anders!

Jy gaan nog jy wees, maar anders (15:36-41). Soos ‘n mieliepit van die groot mielieplant verskil en altwee nog mielie is, so gaan jy verskil, maar nog jy wees. Elders in die Bybel, byvoorbeeld Openbaring (7,21), lees ons dat ons nie meer gaan oud word, of siek gaan wees nie. Hoe dit gaan werk weet niemand nie, behalwe die Here. Dit is in alle geval iets om na uit te sien, ‘n toekoms vol verrrassings.




4 Augustus: Jy gaan dalk nie glo wat jy sien nie . – Jan van der Watt

1 Kor 15:12-28 (fokus 15:12-20)

Die waarheid van die evangelie balanseer op ‘n speldpunt. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is Christene net ‘n hopelose spul mense (15:19), sonder hoop en sonder ‘n toekoms. Maar die feite is: God het Jesus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. Daar het God gewys Hy het die krag om elkeen wat aan Hom behoort ook so uit die dood uit te haal.

As ons mooi dink, balanseer die Christendom regtig op daardie speldpunt. As Jesus nie opgestaan het nie, sou daar geen rede gewees het waarom ons kon dink dat daar ‘n lewe na die dood is nie. Ons sou ook geen bewys gehad het dat God ons enigsins na ons dood weer lewendig sou wou maak nie. Ons hoop op ‘n lewe saam met God sou nie verder gegaan het as die dag dat ons ons laaste asems uitblaas nie… en dit is eintlik geen hoop nie.

Maar nou hét Jesus opgestaan en daarmee vir ons die toekoms oopgesluit. Nou weet ons daar is iets na die dood en ons weet God bedoel regtig om sy mense uit die kloue van die dood uit te haal en ‘n nuwe lewe saam met Hom te gee, vir altyd.

Die vraag is dus nie meer óf daar ‘n lewe na die dood is nie, maar eerder of jy die lewe na die dood gaan hê. As jy nie aan God behoort nie, mag jy dalk nie glo wat jy sien as jy anderkant wakker word nie.