6 Julie: Kniediep in liefdeskuld . – Jan van der Watt

Rom 13:8-14 (fokus 13:8-10)

 Neem ons altyd die Bybel ernstig op? Wel, in 13:8 staan dat ons niemand iets moet skuld nie. As ons dit moet doen, sit die meeste van ons sonder ‘n huis en ‘n kar. Om die waarheid te sê, ons hele samelewing loop op die wiele van skuld. Hoe nou gemaak?

Paulus is nie hier regtig teen skuld as skuld nie, maar teen wat skuld aan jou doen. As jy destyds iemand iets geskuld het, het jy jouself eintlik aan daardie persoon ‘uitverkoop’. Jy het dan ‘n verpligting teenoor hom gehad. So het hy dan ‘n houvas op jou lewe gekry en kon jou lekker manipuleer met die skuld. Hy kon jou selfs as slaaf laat verkoop of in die tronk laat gooi as jy nie betaal wanneer hy die geld wil hê nie (Matt 19:25,30). Paulus sê Christene moet hulleself nie so ‘uitverkoop’ aan ander nie, want netnou verwag ander dat Christene dinge moet doen waarvan Jesus nie hou nie. Dan is hulle in die moeilikheid. Christene moet dus nooit iets doen wat hulle vryheid wegneem om Jesus te dien nie.

Maar iets wat jy ander mense wel kan skuld is liefde. As ander sê: “Ek eis liefde van jou” en dan moet die Christen opdok en sommer baie gee ook. Daarvan hou die Here. Die Here het vir jou so baie van sy liefde gegee dat jy Hom nooit sal kan terugbetaal nie. Maar jy moet maar probeer, deur dit vir ander mense uit te deel.

 Al houvas wat ander mense op jou mag hê, is die houvas van liefde.




Johannes 20:23 – Jesus se woorde aan Dissipels. – Francois Malan

Japie vra:

Onderwerp: Joh.20:23

Boodskap Teks:

Goeie more,wat bedoel Jesus met die woorde aan die dissipels.

Baie dankie.

 

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Joh 20:23 ‘As julle mense se sonde vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.’

 

sonde (Grieks: hamartia) is om teen God se wil en wet op te tree.

julle – volgens vers 22 veronderstel die ‘julle wat vergewe’ dat dit die mense is wat die Heilige Gees van              Jesus ontvang het om hulle toe te rus vir hulle werk waartoe Jesus hulle gestuur het volgens vers 21.

die passiewe werkwoord ‘is dit vergewe’ veronderstel dat dit God is wat die mense se sonde vergewe as               Jesus se dissipels/volgelinge die mense wat God se wil en wet oortree het, vergewe het.

weerhou – (Grieks krateo) om dié mense se skuldige sondetoestand voor God te laat voortgaan die passiewe             werkwoord ‘bly dit weerhou’ beteken dat God sy vergifnis van sulke mense bly weerhou.

 

Matteus 16:19 en 18:18 het soorgelyke uitsprake van Jesus.

In Matteus 16:19 gaan dit oor Jesus wat sy kerk gaan bou deur die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Petrus te gee om na sy opstanding deur Petrus te werk om die hemel vir mense oop of toe te  sluit.

In Matteus 18:18 gaan dit oor die gemeentelede wat ’n lidmaat in die gemeente oor sy sonde aanspreek. As   die lidmaat luister het hulle hom/haar teruggewen vir die Here; as die lidmaat egter weier om na die gemeentelede te luister word so ’n persoon as ’n heiden beskou vir wie die toegang tot die Here toegaan.

In Johannes 20 gaan dit om die voortgang van Jesus se werk ná sy opstanding, met die Heilige Gees wat oor Jesus getuig en die dissipels gebruik om van Jesus te getuig deur hulle lewe en hulle woorde (Joh 15:26-27; 16:8-11). Dit gaan oor die verkondiging van die vergifnis van sonde deur te glo in die kruisdood van Jesus vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29). Vir dié mense wat die boodskap glo en aanvaar, word die hemel oopgesluit, om saam met God te lewe as sy kinders, omdat hulle deur geloof verbind is aan sy Seun, en nou reeds daagliks deur God se Gees gelei word. Vir dié mense wat die goeie boodskap nie wil glo of aanvaar nie, bly die hemel gesluit.

Johannes 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom.

God vergewe die sonde van die mense wat die verkondiging van die dissipels aanvaar; maar weerhou sy vergifnis van dié mense wat die dissipels se goeie boodskap verwerp.

Skrywer:  Prof Francois Malan




5 Julie: Wees ‘n goeie landsburger. – Jan van der Watt

Rom 12:9-13:7 (fokus 13:1-7)

 “Wees ‘n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is” (13:1). Nie almal voel ewe gelukkig met hierdie opdrag in die Bybel nie. Waarom sê Paulus dit tog?

Wel, wie gaan seker maak dat jou neus nie afgeskiet word as jy dit by die deur uitsteek nie? God het die staat ‘in diens geneem’ om te sorg dat dit nie gebeur nie. Dit is hierdie ‘diensknegte’ van Hom wat die strate veilig moet hou, wat jou met ‘n geruste hart in die winkels moet laat rondloop, wat die wette van die land so moet reël en toepas dat almal gelukkig is. Ja, hulle moet sorg dat jy veilig en rustig met jou alledaagse lewe kan aangaan. Dit is hulle taak om te sorg dat alles nie in chaos en anargie verval nie. Daarvoor het hulle die reg en mag om mense te straf en selfs dood te maak, alles met die doel om die samelewing gesond en reg te hou.

Juis daarom moedig Paulus Christene aan om goeie en voorbeeldige landsburgers te wees. Hulle moenie die taak van die staat nog moeiliker maak nie, want God wil juis hê dat alles in die samelewing reg moet verloop. Juis daarom noem Paulus die staat die dienaars van God – hulle moet sorg dat alles goed gaan. Met hierdie dienaars van God moet elke Christen saamwerk.

Natuurlik is dit ‘n probleem as hierdie dienaars nie meer doen wat God vra nie. Paulus bekommer hom nie hier daaroor nie. Johannes sou later iets daaroor in Openbaring 13 skryf.




4 Julie: Die Here wil menseoffers hê. – Jan van der Watt

Rom 11:33-12:8 (fokus 12:1-8)

 Het jy al ooit oor offers in die Bybel gewonder? In die Ou Testament is daar net diereoffers. Menseoffers word totaal verbied. In die Nuwe Testament is dit net omgekeerd. Daar is diereoffers uit en menseoffers in: Jesus is vir ons geoffer en hier in 12:1 word daar selfs gesê dat ons offers moet wees. Hoe nou gemaak?

Wel, die verandering het gekom toe dapper Joodse soldate hulle lewens in die stryd teen die vyande verloor het. Toe het die Jode begin praat van mense wat hulle lewens vir die Here opgeoffer het. Hierdie mense was natuurlik helde, want hulle vasberadenheid, liefde en toewyding aan die Here was tot die dood toe. As iemand dus sy lewe so uit totale liefde vir ander gee, is daar van offers gepraat.

Natuurlik, toe Jesus kom en sy lewe uit totale liefde en oorgawe vir ons gee, kon dit nie anders nie – dit is ‘n offer genoem. Hierdie was nie sommer net ‘n “opoffering” nie, maar ‘n offer wat vir ons sonde by God betaal het.

En nou is die verhaal by jou (12:1): jy moet ook ‘n offer in God se hand wees. Om dit te kan wees moet jou lewe ook oorloop van liefde en lojaliteit teenoor Hom, anders gaan jy dalk oppad altaar toe omspring en weghardloop. Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom gee.

Maar jou offer werk bietjie snaaks: dit beteken nie dat jy doodstil op ‘n altaar gaan lê nie. Allermins, dit beteken dat jy elke oomblik sal reg wees om in oorgawe die wil van die Here te doen. Jou offer is nie ‘n “sondeoffer” nie; dit is ‘n “aksieoffer”.