23 Junie: Moenie vals geestelike note sing nie. – Jan van der Watt

Rom 5:1-11 (fokus 5:1-11)

 ‘n Ou vertel eendag dat nadat die dominee hom in die kerk hoor sing het, het hy hom toestemming gegee om liewer op Sondae te gaan golf speel. Ons geestelike lewens is dikwels ook maar so. Ons moet liewer maar iets anders gaan doen, want ons maak dikwels ʼn gemors van die geestelike lewensnote wat ons sing.

Hier in Rom 5:1-3 lees ons van vrede, feesvier, blydskap en sulke dinge. Dit is hoe Christene se lied moet klink. Dit is die note wat ander van ons kant af moet hoor. Dit is musiek wat mense opgewonde en vol blydskap moet maak, en dit oor die Here.

Ons moenie in ons lewe verkeerde of vals geestelike note maak nie, want ander mense hoor dit. En die ongeluk is dat die vals note die res van die goeie musiek ook sommer bederf. Dan wil ander nie eers meer verder na ons luister nie. Hulle verlang ook sommer dadelik na die “gholfbaan”. As ons as Christene die note van ontevredenheid of terneergedruktheid of  ʼn gebaklei sing, gaan dit nie mense opgewonde maak oor ons lied nie. Dan moet ons onsself vra of ons in die kerk hoort en nie liewer daarbuite op die “gholfbaan” nie. Maar as die vreugde wat net Jesus kan gee, die feesklanke van iemand wat gered is, die uitstraling van iemand met vrede, die note is wat ons “sing” sal ander wil saamsing.

Hou by die regte note in jou geestelike lewe.




22 Junie: Moenie God te veel bevraagteken nie. – Jan van der Watt

Rom 4:13-25 (fokus 4:13-25)

Abraham verdien om die “vader van die geloof” genoem te word. Dink net: God beloof hom ʼn groot nageslag en gee ook vir hom die seun deur wie die belofte waar moes word. En wat gebeur toe? Toe sê die Here sowaar vir Abraham om daardie einste seun te gaan offer. Ek kan my voorstel dat Abraham op pad na die offerplek redelik deurmekaar moes gevoel het. Hy het waarskynlik geen idee gehad hoe God sy belofte sou wou nakom as sy seun eers geoffer is nie. Dit is tog logies: as daar nie ‘n seun is nie, kan daar ook nie ‘n nageslag wees nie. Sowaar, net geloof kan jou deur so ‘n situasie aan die gang hou… geloof in ʼn God wat planne kan maak.

God het ʼn plan gemaak, soos Hy in ons lewens ook weer en weer planne maak. God verskaf ‘n ander offerdier. En dan besef ‘n mens dat dit nie oor die seun of die offerdier gaan nie, maar om Abraham self: hy het gewys dat hy in geloof alles vir die Here sal opoffer, selfs al verstaan hy nie wat gebeur nie. Daarom leer ons by Abraham so ʼn belangrike les… bly op God vertrou, al vra dit wat.

Wat God van Abraham gevra het, moes vir hom doodgewoon geen sin gemaak het nie. Net so loop God soms met ons draaie wat ons glad nie kan verstaan nie. Sy planne klop nie met ons planne nie en ons het geen idee waarnatoe hy met ons op pad is nie. In sulke tye sê Abraham: “Vertrou maar net die Here. Sy planne sal uitwerk”.

Moenie die Groot Planmaker van jou lewe te veel bevraagteken of dalk onderskat nie! Vertrou Hom liewer, selfs met jou lewe. Sy planne sal vir jou uitwerk.




21 Junie: Kry die beste prokureur. – Jan van der Watt

Rom 3:21-4:12 (fokus 3:21-31)

 As jy met die gereg bots, moet jy die beste prokureur kry. Jou toekoms kan daarvan afhang.

Met jou geestelike lewe is dit nie anders nie. Sonder ʼn goeie regspan moet jy nie voor die groot Regter oor lewe en dood beland nie. Dit kan rampspoedig wees. Daar moet jy nie wonder wat om te sê of allerhande verskonings soek nie. Dit gaan nie werk nie, want hierdie Regter sien deur jou.

In Rom 3:21 gee Paulus vir ons die adres van die beste regspan moontlik. As jy wil loskom, hoef jy nie in die Wet te gaan rondkrap nie, maar moet jy na ʼn Persoon toe gaan. Om die waarheid te sê, die Persoon het reeds jou saak vir jou begin voorberei. Jou lêer is oopgemaak en as jy in Jesus glo, staan daar nie GEOORDEEL bo-op jou lêer nie. Die Here het klaar deur jou lêer met jou sonde gegaan en vir elkeen betaal. Met Jesus as jou prokureur sal daar nie verrassings van die kant van die Regter af kom nie. Daarom staan daar klaar oop en bloot op jou lêer: GERED. Met so regspan kan jy voor die hemelse Regter gaan verskyn, want daar wag net goeie nuus vir jou.

Glo in Christus – hy is die beste prokureur. As jou toekoms van Hom afhang, het jy ‘n wonderlike toekoms, want Hy verloor nooit ‘n saak nie.




20 Junie: Jy’s ‘n koningskind… dit is jou lewensleuse. – Jan van der Watt

Rom 3:1-20 (fokus 3:9-20)

In die aanbevelingslys in Rom 3:10-18 staan daar nou nie juis veel wat in mense se guns tel nie. Om die waarheid te sê, dit lyk maar sleg.

Die probleem met hierdie verse is egter dat te veel gelowiges hierdie verse hulle lewensleuse maak. “Ag, die Here moet maar genadig wees, want ek is so swak en vol sonde”. “Ek is maar net ʼn wurm in die stof wat tot niks goeds instaat is nie”, en so gaan hulle aan. Dit is verloortaal in die ergste graad. Dit is die taal van mense wat nie eers wil probeer om ʼn oorwinnaarslewe vir God te lei nie. Voor die sonde nog by hulle aanklop het hulle sommer al klaar ingegee.

Dit is verkeerd vir enige gelowige om so te negatief te dink. Hierdie verse sê beslis ook nie dat gelowiges wurms in die stof van die sonde is wat tot niks goeds in staat is nie. Hierdie verse gaan oor mense wat NOG NIE gered is nie – nie oor geredde mense nie. Mense sonder God lê nog in die stof van die sonde en stik; nie gelowiges nie.

Die verloorwoorde kan nooit geredde mense se lewensleuse word nie! Geredde mense is koningskinders, God se kinders! Hulle is uit die stof van die sonde opgetel. Hulle kan uit God se krag leef en roem oor sy nabyheid en versorging. Dit moet hulle lewensleuse wees. Dit is taal wat erken dat gelowiges nie wurms in die stof van die sonde is nie, maar oorwinnaars in die familie van God.

Jy is nie ʼn sondewurm nie, maar ʼn koningskind. Maak dit jou lewensleuse