12 Junie: Praat God na. – Jan van der Watt

Hand 23:11-24:9 (fokus 23:11-15)

Ons kan baie keer agter godsdiens wegkruip ter wille van onsself. Om godsdiens so te gebruik is gevaarlik. Op ʼn skelm manier steek ons ons planne onder die kombers van God weg en maak asof dit sy wil is. Kyk net wat hier gebeur (23:13-15). Die Jode, selfs hulle hoogste “kerkmanne”, maak bedrieglike planne om Paulus in die hande te kry en hom te vermoor. En hulle doen dit onder die dekmantel van godsdiens (23:12).

Sjoe, dit is jammer hierdie soort ding het nie al in Paulus se tyd al opgehou nie. Deur die eeue het dit baie skade aangedoen en ons het vandag nog te veel daarvan. Mense skuif te maklik politiek of eie belang onder die kombers van God in en verklaar dit dan heilig. Dan veg hulle vir daardie idees asof dit God s’n self is en verwag almal moet hulle volg. En moet net nie probeer om met hulle te stry nie, want dan laat hulle jou verstaan jy stry met God self. Dis nie eerlik om jou eie gedagtes of opinies op so manier as God se gedagtes te verhef nie. Nee, dit is gevaarlik!

As jy wil hê God moet aan jou kant staan, moet jy eers doodseker maak dat jy aan sy kant staan. Ons moet seker wees dat wat ons dink eintlik ook sy gedagtes is. Ja, ons moet in pas met Hom kom. Ons moet oppas om God nie te verneder deur Hom die “buikspreker” van ons gedagtes te maak nie. Daarvoor mag ons ons godsdiens nooit misbruik nie.

Maak dus seker dat jy God altyd napraat. Dit werk nie andersom nie.




11 Junie: Maak planne, maar hou ‘n skoon gewete. – Jan van der Watt

Hand  22:17-23:10 (fokus 22:20-23:10)

 Paulus kon planne maak, dis verseker. Toe dinge met die Romeinse kaptein begin verkeerd loop, het Paulus vinnig ‘n plan gemaak. Hy het die saak geswaai deur te sê dat hy ʼn Romeinse burger is. Die kaptein kon toe nie anders as om tot sy redding te kom nie (22:25-29). Toe dit vir hom in die Joodse Raad begin warm word, het hy weer gesê hy’s ʼn Fariseër. Die Sadduseërs en Fariseërs het mekaar toe in die hare gevlieg en byna van Paulus vergeet (23:6-7). Ja-nee, Paulus het geweet hoe om ‘n plan te maak.

Dit is nie onchristelik of verkeerd om slim planne te maak nie. Dit moet net nie oneerlik of afbrekend wees nie. As Christene moet ons ook ons planne maak om te kry wat vir ons die beste is. Dit is nie verkeerd om te dink hoe ons ander kan uitoorlê of selfs kan manipuleer nie.  Paulus het die Fariseërs en Sadduseërs so gemanipuleer dat hulle byna van hom vergeet het.

Christene mag ook maar by die werk of waar ook al beplan en selfs manipuleer, mits dit nie afbrekend is of mense seermaak nie. Ja, ons mag in die proses nooit ons basiese waardes as Christene soos eerlikheid en integriteit opoffer nie.

As Christene moet ons altyd onthou: ʼn skoon gewete maak ʼn sagte kussing.




10 Junie: Moenie skinder nie. – Jan van der Watt

Hand 21:15-22:16 (fokus 21:21-25)

Iemand het eendag droog opgemerk: “Adam en Eva het seker nie baie met mekaar gesels nie, want daar was niemand anders om oor te skinder nie”. Skinder is seker een van die mees vernietigendste tydverdrywe wat daar is en tog hou mense so daarvan. Die gevaar van skinder is dat dit so seermaak en afbreek. Die bedoeling met skinder is nooit goed nie. Kyk net hoe seer het dit vir Paulus gemaak. Skinderstories het gesorg dat hy in Jerusalem in die tronk beland (21:21).

  • Skinder is agterbaks. Dink mooi… dit is om iemand agter sy rug seer te maak en af te kraak. Die persoon is nie eers self daar om homself te verdedig nie. Dan draai jy gewoonlik die inligting dat dit so sappig as moontlik klink.
  • Skinder is ook gewoonlik ʼn bietjie van ʼn gelieg. Omdat die persoon nie daar is nie, kan jy mos sê wat jy wil sonder om bang te wees dat jou leuens gaan uitkom of dat iemand jou gaan teëspreek. Wie sal nou weet as jy so bietjie aandik?
  • Skinder is ook venynig, want gewoonlik skinder ʼn mens nie om te vertel hoe goed iemand is nie! Inteendeel.

Wie wil nou ʼn agterbakse, venynige leuenaar wees? Moet dan nie skinder nie.




9 Junie: Die Gees lei jou doodgewoon. – Jan van der Watt

Hand 20:13-21:14 (fokus 20:17-26)

Hoe lei die Heilige Gees ʼn mens met jou besluite? Ons lees op ʼn paar plekke in Handelinge dat Paulus sê die Heilige Gees het hom gelei, soos hier in 20:22. Maar presies hoe het dit gebeur?

As ons in die gedeeltes begin soek na wat die Heilige Gees presies gedoen het, kry ons min. Maar dit sê juis vir ons baie. Ons lees nie van weerligstrale en groot stemme uit die hemel nie. Alles is doodgewoon, maar in die doodgewoonheid van die lewe weet Paulus wat die Gees wil hê hy moet doen.

Dit is hoe die Heilige Gees normaalweg in ons ook werk… doodgewoon. Doodgewoon omdat die Heilige Gees elke tree van ons lewenspad saam met ons is. Hy slaan nie net af en toe soos ‘n weerligstraal in ons lewens in nie. Ons bely mos die Heilige Gees is by ons, nee, nog beter, in ons, elke dag en vir altyd. As ons dus die geestelike ore van ons hart en verstand oopmaak, sal ons sy stem hoor. En as ons gehoorsaam luister, sal ons gaan waar Hy ons lei. Ons moet net seker maak ons ore is oop sodat ons kan hoor.

Of prakties gestel: As ons die Gees vra om ons met ʼn belangrike besluit te help en ons maak dan biddend ʼn beslissing, hoe moet ons dan oor ons besluit voel? Moet ons sê God het niks daarmee te doen nie, of moet ons aanvaar dat die Gees ons in ons besluit gelei het en dat God dus daarmee tevrede is? Verlaat die Heilige Gees jou skielik as jy belangrike besluite moet neem? Dink bietjie hieroor na… en vra jouself  af wat die implikasie van jou antwoord is.