Die vrou Petla – Francois Malan

Adri vra:

Die vrou Petla in die Apokriewe boeke. Radio FM het op Sondag 28 Mei in ‘n praatjie daaroor gepraat.

Boodskap Teks:

Ek soek inligting oor Petla en haar geskiedenis.

Ek weet nie van ’n vrou Petla wat in die apokriewe boeke genoem word nie, maar wonder of die praatjie nie van Tekla gepraat het nie.

Antwoord

Pof Francois Malan antwoord

Aan die einde van die tweede eeu na Christus skryf Tertullianus dat ’n ouderling in Klein-Asië uitgevang is dat hy die boek Die Handelinge van Paulus geskryf het oor dinge wat met Paulus sou gebeur het. Hy het gebieg dat hy dit geskryf het omdat hy so lief vir Paulus was.  Dit is waarskynlik ’n versameling van legendes wat in die skrywer se omgewing bekend geword het. Tertullianus het al gesê die legendes is nie betroubaar nie.

Drie dele van die boek in Grieks het tot ’n mate behoue gebly. Die eerste deel daarvan handel oor Paulus en die pragtige Tekla wat onder Paulus se prediking in die huis van Onesiforus in Ikonium tot bekering kom en besluit om nie met Tamuris, met wie sy sou trou, te trou nie. Hy kla haar en Paulus by die goewerneur aan. Paulus word met ’n sweep geslaan en sy word na die brandstapel gestuur. Sy word wonderbaarlik gered, kom weer by Paulus uit, gaan saam met hom na Antiogië, waar ’n belangrike man Alexander op haar verlief raak. Sy wil niks met hom te doen hê nie, verneder hom in die openbaar, en word veroordeel om vir die wilde diere gegooi te word. Sy word weer wonderbaarlik gered, en ook ’n volgende keer. Daarna gee Paulus haar die opdrag om te gaan preek in Seleusië.

Die hele legende van 43 afdelings is in Afrikaans vertaal, en is opgeneem in Jan van der Watt en Francois Tolmie se boek van 2005: Apokriewe. Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. Bladsye 565-581. Uitgegee deur CUM-boeke.

Skrywer: Prof Francois Malan




1 Junie: Help om God se elektrisiteit in die wêreld aan te skakel. – Jan van der Watt

Hand 14:8-28 (fokus 14:8-13)

 

Die mense van Listre was absoluut verbaas toe Paulus ʼn lam man net daar voor hulle gesond gemaak het. Hulle het gedink dat hy is ʼn soort god is (14:10-11), want ʼn gewone mens kan mos nie sulke dinge doen nie.

En hulle is reg. Watter gewone mens kan sulke dinge doen, behalwe as ons God toelaat om deur ons te werk? God en Hy alleen kán sulke dinge doen. Maar die verrassende is dat Hy ons gebruik om dinge wat net Hy kan doen te laat gebeur. Ons is sy instrumente, die elektrisiteitskabels wat sy krag in die wêreld indra.

Ek wonder soms wat ʼn elektrisiteitskabel tussen die muurprop en die rekenaar sou sê as dit kon praat. Wat sou dit sê van die wonderlike dinge wat die rekenaar doen met die elektrisiteit wat die kabel bring.  Om te dink die kabel laat die rekenaar werk. Die kabel het deel aan al die wonderlike dinge wat op die rekenaar gebeur. En dit is maar net ‘n kabel. Maar dan moet die kabel nie probeer om die rekenaar te wees nie. Dit moet net bly wat dit… die instrument wat die elektrisiteit rekenaar toe vat.

Ons kan God se wonders in die wêreld help “aanskakel” mits ons maar net sy kabels wil wees. Wees gereed sodat GOD deur jou kan werk.




31 Mei: Daar is nie so iets soos ‘n probleem nie. – Jan van der Watt

Hand 13:42-14:7 (fokus 13:42-51)

Die lewe het sy “ops” en “afs” en as daar nou mense was wat dit geweet het, was dit Paulus-hulle. Al was hulle God se spesiale gesante en dienaars in die wêreld het alles nie altyd net voor die wind gegaan nie. Partymaal is hulle op die hande gedra. Ander kere is hulle weer geslaan en weggejaag (kyk maar net na 13:48-51).

Die les wat ons egter by hulle kan leer is dat hulle nie moed verloor het nie. Dinge wat met hulle verkeerd geloop het was nooit vir hulle verleenthede of redes om mismoedig op ʼn hopie te gaan sit of op te gee nie. Dit was geleenthede om nuut en verder te dink, om ander planne saam met die Here te maak. En die houding het hulle laat opstaan en aangaan. ‘n Mens sou kon sê dat daar vir hulle op hulle lewensreis nie probleme was nie – net uitdagings en oplossings.

Op die lewensreis saam met die Here moet daar ook nie vir jou so iets soos probleme wees wat jou terneergedruk eenkant laat sit nie. Nee, daar moet net oplossings en nuwe geleenthede wees. Wat soos probleme lyk moet net vir jou die stilhouplek langs die pad wees wat jou kans gee om nuut te beplan en nuwe oplossings te soek. As die “afs” in die lewe jou tref moet jy soos ʼn fietsryer teen ʼn afdraende wees. Jy moet dan juis spoed opmaak. As dinge skeefloop moet jy herbeplan, kyk wat verkeerd geloop het en dit regmaak, weer probeer, of anders probeer.

Die “ops” in ons lewe is juis daar omdat ons nie by die “afs” bly lê het nie.




30 Mei: Jy het rede om lekker te voel. – Jan van der Watt

Hand 13:1-41 (fokus 13:32-41)

 Wil jy sommer weer vir ʼn slag net lekker voel? Probeer dan bietjie die volgende geestelike oefening: Verbeel jouself dat jy Jesus glad nie ken nie en dink dan na oor die volgende vrae:

  • Hoe sou ek ooit God se liefde kon leer ken?
  • Wie sou ek om hulp kon vra as ek in die nood is?
  • By wie sou ek kon gaan wegkruip as die lewe vir my te veel raak?
  • Wat sou van my en my sonde geword het? Na wie toe sou daarmee kon gaan?

En nou die laaste deel van die oefening: Lees weer 13:38-39 en sê vir jouself: “Ek ken Jesus en Hy’t my lief!”

Doodgewoon die voorreg om die Here Jesus te ken, behoort jou van dankbaarheid sommer baie lekker te laat voel.