25 Mei: Leef die evangelie met ‘n uitroepteken. – Jan van der Watt

Hand 9:1-31 (fokus 9:1-9)

Toe Paulus tot bekering gekom het, kon niks en niemand hom keer nie. Hy was so entoesiasties en meegevoer dat hy net met alle geweld oor sy Here wou praat (9:20). Sulke entoesiasme en toewyding aan die Here kan baie doen. Hulle bereken dat as jy vandag iemand na die Here toe sou lei en more doen julle dit altwee afsonderlik en die dag daarna al vier en so aan, sal dit tussen 30 en 40 jaar neem om al die mense in die wêreld na die voete van die Here te lei. Dit kan nie vanself gebeur nie, mense moet dit laat gebeur.

Maar ons weet ook dat dit nie so maklik is nie. Waarom nie?

  • ‘n Belangrike rede mag dalk wees dat mense of dalk jyself die vuur kortkom wat Paulus gehad het. Die rusbank bly maar lekkerder as die sendingpad. Wel, Paulus se vuur is aan die brand gesteek aan die voete van Jesus (9:3). Dit is waar ‘n mens moet gaan kniel as jy ywer en vuur nodig het. Vra vir die Here om jou vuur aan die brand te steek.

Dit is snaaks hoe maklik ‘n mens oor rugby kan gesels maar na woorde soek as jy oor die Here moet gesels. Dit is amper asof ‘n mens nie weet wat om te sê nie. Wel, daar is ʼn spreuk: “Jy moet altyd die evangelie verkondig. Gebruik soms woorde as dit nodig is”. Dade praat soms baie harder as woorde. As jy nie weet wat om te sê nie, doen dan maar net wat die Here gelukkig maak – dit is genoeg. Leef die evangelie met ʼn uitroepteken! Dit het Paulus die res van sy lewe gedoen… en hy kon dit doen omdat hy naby Jesus geleef het. Jy kan dit ook doen as jy naby Jesus leef.




24 Mei: Glimlag vir die wêreld met ‘n stukkie vergifnis. – Jan van der Watt

Hand 7:54-8:40 (fokus 7:54-60)

 Hoe lyk ‘n hemelse glimlag, met ander woorde, hoe “glimlag” ʼn Christen? Daar is baie maniere en Stefanus wys vir ons een. Mense was besig om hom dood te maak toe hy sê: “Here, moenie die sonde teen hierdie mense laat tel nie. Vergeef hulle” (7:59). So glimlag Stefanus met ‘n stukkie vergifnis vir die wêreld. Dit het hy by God self geleer. Met vergifnis het God diep uit sy hart vir elkeen van ons geglimlag. Net so wil Hy hê moet ons vir ander met vergifnis glimlag. Dit is om mense ‘n stukkie hemel in die stukkende wêreld te laat sien.

Dit maak sin. Daar waar eintlik net stukkende verhoudings, haat en seerkry langs die pad kon lê, vat mense nou weer hande, gee hulle vir mekaar weer ‘n kans en begin hulle oor. Dit is wat vergifnis doen. Dit laat ons nooit keuses maak wat uit haat of wrok ons verhoudings met ander afbreek nie. Dit laat ons weer dink, weer besef watter kosbare dinge verhoudings met ander is. Ons moet verhoudings met ander nie sommer maar net afbreek nie, want dit is nie dinge wat oornag groei nie.

Glimlag met vergifnis vir ander en die lewe glimlag vir jou terug.




23 Mei: Hoe gereeld onderbreek God nog jou gedagtes?. – Jan van der Watt

Hand 7:17-53 (fokus 7:44-53)

As ons die geskiedenis van Israel lees wat Stefanus in hoofstuk 7 vertel, klink dit soos die ou wat gesê het die dominee het goed gepreek: “Hy het sowaar agt maal my gedagtes onderbreek”. Weer en weer het God Israel se gedagtes wat so met hulleself besig was met sy genadige en liefdevolle teenwoordigheid onderbreek… en weer en weer het hulle Hom teleurgestel.

God het oor en oor vir sy volk gewys dat Hy daar is en vir hulle sorg… en oor en oor het hulle maar weer die afdraaipaadjies gekies. Dan het God hulle maar net weer gaan haal. Maar so kon dit nie aanhou nie. Hier staan Stefanus voor die nageslag van dieselfde mense en sê vir hulle: “Julle het God deur julle vingers laat glip” (7:53). Julle het nou eenmaal te veel van Hom afgedraai. Toe hulle spore permanent van die spoor van Jesus afgedraai het, was hulle pad verder alleen, sonder God.

God se genade is groot en Hy kom haal ons weer en weer. Maar daar is ook ‘n grens. Dit kan gebeur dat ons so met onsself besig raak dat God ons gedagtes nie meer kan onderbreek nie. Dan gaan ons lewens eenvoudig sonder Hom aan. Dit het met die Jode gebeur… en hulle pad was toe alleen.

Hoe gereeld onderbreek God nog jou gedagtes?




22 Mei: Ons hoef nie geestelik te verhonger nie. – Jan van der Watt

Hand 6:1-7:16 (fokus 6:1-7)

 Ons ken die storie van die man wat sy donkie geleer het om sonder kos klaar te kom. Net toe hy dit reggekry het, is die donkie dood.

G’n mens kan sonder liefde klaarkom nie. As jy dink jy kan, is jy op jou geestelike doodspad. Niemand verstaan dit beter as God wat ons gemaak het nie. Daarom gee Hy vir sy kinders ʼn spesiale plan: ons moet mekaar liefhê en versorg – en as ons mekaar versorg sal almal genoeg hê. Dan hoef niemand van liefdeshonger dood te gaan nie.

Daarom moet ons spesiale “oë” ontwikkel. Ons moet kan raaksien as iemand geestelik begin honger ly. Ons moet die tekens kan lees as ʼn mede-Christen alleen begin voel, al is daar mense rondom haar; as ʼn gelowige broer entoesiasme begin verloor en stadig op sy eie in ‘n bondeltjie sit en verhonger; wanneer ʼn gelowige suster diep uit haar hart, wat besig is om te verdroog, om hulp roep sonder dat haar lippe beweeg. Vir sulke mense het God presies wat hulle nodig het… liefde; en ons, hulle mede-gelowiges, moet dit vir hulle gee! Deur ons wil God vir hulle al die liefde en ondersteuning gee wat hulle nodig mag hê. Dit is hoe God se plan werk en jy is deel daarvan.

Ons mag nie ons mede-gelowiges afskeep nie; aan die ander kant, moenie dink dat jy dit gaan regkry om sonder “kos” te kan klaarkom nie. As jy sukkel en iemand steek sy liefdeshand na jou toe uit, vat dit. Dit is hoe God jou ook geestelik sterk wil maak.