Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:25 – 30) – Francois Malan

Paulus stuur Epafroditus (Fil 2:25-30)

2:25 ‘Ek het dit noodsaaklik geag om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant, my helper
in nood, na julle te stuur.’

Epafroditus, wat deur die gemeente gestuur was om Paulus in Rome te gaan help, word nou, na sy ernstige siekte
genees is, deur Paulus teruggestuur. Hy moet ook die brief aan die Filippense wegbring (vgl. 2:29-30 wat ’n goeie
ontvangs vir hom voorberei). Terwyl Paulus en Timoteus nie op die oomblik beskikbaar was om na die gemeente te
gaan nie, was slegs Epafroditus onmiddellik beskikbaar om gestuur te word. Hy was van Filippi en sou nie ’n
vreemdeling vir hulle gewees het nie – ons ken hom slegs uit hierdie brief omdat hy nêrens anders in die Bybel genoem
word nie. Sy naam was egter ’n algemene naam wat aan kinders gegee is uit dankbaarheid teenoor Afrodite, die Griekse
godin van liefde, skoonheid en vrugbaarheid.

Paulus het dit noodsaaklik geag om Epafroditus na hulle toe te stuur. Die woord ‘noodsaaklik’ is in die vergrotende trap
gebruik in 1:24, dat dit ‘noodsaakliker’ is ter wille van die Filippense dat Paulus in die lewe bly. Dit het blykbaar te
doen met die gebrek aan eenheid in die gemeente waaraan gewerk moet word. Dat Epafroditus ook daaraan moet gaan
werk, is ’n moontlikheid onder die ander sake wat in vers 2:26-28 genoem word.

Dat Epafroditus ’n Christen is, word met vyf woorde beklemtoon. Die eerste drie word saam ingelei met een lidwoord
en word aan die einde al drie aan Paulus verbind met die woord ‘my’ wat daarom by elkeen pas:
1 ‘my broer’ (adelfós) wat saam met Paulus ’n gelowige lid van die gesin van God is aan wie Paulus met liefde verbind
is;
2 ‘my medewerker’ (sunergós) in die verkondiging van die evangelie deur woord en lewe – Paulus gebruik die woord
medewerker twaalf van die dertien keer wat die woord in die Nuwe Testament voorkom.
3 ‘my medestryder’ (sustratiōtes) wat saam teen die teenstanders van die evangelie geveg het (sum saam, stratiōtês
soldaat).
4 ‘julle gesant’ (humōn apóstolos) wat hulle gestuur het om hulle by Paulus te verteenwoordig om hom te dien
(apóstolos iemand wat met ’n spesiale opdrag gestuur word).
5 ‘my helper in nood’ (leitourgós tês chreías my helper in ’n noodsaaklike taak wat verrig moet word). Paulus beskou
sy versorging deur Epafroditus as ’n priesterlike taak wat homself, sy diens en die gemeente se geldelike
bydrae aan Paulus as ’n offergawe (thusia) gebring het en dat dit God behaag (4:18).

Paulus stuur Epafroditus na Filippi met al die kwalifikasies hierbo genoem (nie bloot stuur hom terug nie!). Hy word
nou Paulus se gesant aan hulle, wat ook namens Paulus kan begin met die noodsaaklike werk aan die gebrek aan
eenheid in die gemeente, en die gemeente in te lig oor Paulus se omstandighede en sy getuienis vir Christus.

2:26 ‘Hy het immers gedurig na julle almal verlang en was bitter ontsteld omdat julle gehoor het dat hy siek geword
het.’

Soos Paulus na almal in die gemeente verlang (1:8) het Epafroditus steeds na almal in die gemeente verlang (epipothōn
diep verlangend, ’n teenwoordige deelwoord wat voortgang aandui). Dit getuig van hulle altwee se verbondenheid aan
die Filippense. Paulus wou graag self na hulle toe gegaan het om mee te werk aan hulle toename in onderlinge liefde
(1:9-11; 25-26; 2:2). Moontlik sit dit ook agter Epafroditus se verlange na al die gemeentelede. Omdat Paulus en
Timoteus nie op die oomblik na Filippi kan gaan nie, stuur hy nou vir Epafroditus om in die gemeente te gaan werk.

Daarby was Epafroditus baie ontsteld (adêmonōn) dat die gemeente wat hom gestuur het gehoor het van sy siekte en dat
hy nie vir Paulus kon help nie, en dus self versorging nodig gehad het.

2:27 ‘Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God was hom barmhartig, en nie net vir hom nie, maar ook vir my,
sodat ek nie verdriet op verdriet sou ervaar nie.’

Die gemeente het wel gehoor dat Epafroditus siek was, maar het blykbaar nie geweet hoe ernstig dit was nie.
Epafroditus was so siek dat hy amper gesterf het (paraplêsion thanátō amper dieselfde as dood). Hy was siek (in die
verlede tyd) en is blykbaar nou gesond, want God was hom barmhartig (ook ’n verwysing na iets in die verlede). Vir
Paulus was Epafroditus se siekte ’n verdriet (lúpê droefheid, smart, kwelling, bekommernis). As hy sou sterf sou dit vir
Paulus nog ’n groter verdriet beteken het. Maar God se barmhartige genesing van Eapafroditus het Paulus van ’n nog
groter verdriet gespaar.

2:28 ‘Daarom het ek hom nog gouer (spoudaiotéros met meer spoed, gouer, nog ernstiger, nog gretiger) gestuur,
sodat julle hom kan sien en weer bly kan wees, en ek minder bekommerd.’

Paulus se eint doel met die stuur van Epafroditus is die blydskap van die gemeente oor sy volkome genesing, om hom
weer te sien, en dat Epafroditus kan gaan meewerk aan die vreugde van die gemeente deur die eenheid wat die Here
onder hulle kan bewerk. Paulus kan dan minder bekommerd wees oor die gemeente se besorgdheid oor Epafroditus se
gesondheid, en minder bekommerd oor hulle gebrek aan eenheid waaraan Epafroditus as Paulus se medewerkwer kan
gaan werk. Paulus wil self baie graag na hulle toe kom om mee te werk aan die vermeerdering van hulle onderlinge
liefde (1:8-11). Omdat sy gevangenskap dit nog nie moontlik maak om gou te kom nie (2:24), Timoteus nie op die
oomblik spoedig kan gaan nie (2:23), stuur hy Epafroditus nog gouer om aan die taak te gaan werk.

2:29 ‘ Ontvang (prosdéchomai ontvang met vriendelikhed, verwelkom) hom dan in die Here met alle blydskap en
respekteer sulke mense.’

Hulle moet Epafroditus verwelkom met dieselfde nederige gesindheid as Christus wat homself prysgegee het (2:5-8). In
Romeine 16:2 het Paulus die gemeente van Rome ook versoek om Febe, die dienares in die gemeente Kenchree, te
verwelkom/ontvang (prosdéchomai) ‘in die Here, soos dit die heiliges/gelowiges betaam.’ ‘In die Here’ beteken om
iemand op te neem in die gemeenskap van God se kinders, sulkes as gelowiges te aanvaar, mense wat in diens van die
Here is. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Wie julle ontvang (dêchomai), ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom
wat My gestuur het’ (Matt 10:40). Die Filippense moet Epafroditus met blydskap ontvang omdat hulle in hom die Here
Jesus ontvang wat in hom bly en deur hom werk. Een van die redes waarom hulle sulke mense moet respekteer word in
vers 30 aangedui:

2:30 ‘want deur die werk van Christus het hy na aan die dood gekom: Hy het sy lewe gewaag om die gebrek/tekort
van julle diens (leitourgía) aan my aan te vul’
(vgl. 1 Kor 16:17 waar die koms van Stefanus, Fortunatus en Agaïkus by Paulus in Efese die
gemeente van Korinthe se afwesigheid aangevul het).

Die Filippense het die gelowige Epafroditus na Rome gestuur, as ’n broer, medewerker, medestryder en helper in Paulus
se nood (2:25). Paulus noem dié werk van Epafroditus ‘die werk van Christus,’ want hy sien alles wat Epafroditus vir
hom gedoen het as die werk van Christus deur Epafroditus.

Deur dié werk het Epafroditus na aan die dood gekom. Waarskynlik met sy siekte tot die dood toe 2:27). Paulus
bestempel Epafroditus se dodelike siekte as ’n risiko, dat hy sy lewe ‘in gevaar gestel het’ (paraboleusámenos roekeloos
in gevaar stel).

Daarmee het Epafroditus die Filippense se gebrek/tekort (hustérêma) in hulle diens aangevul. Leitougía ‘diens’ word
ook vir ‘diens aan die Here gebruik. Paulus sien die diens wat Epafroditus namens die gemeente in Filippi aan hom
gedoen het, as ’n diens aan Christus.

Dit was ’n afskynsel van Christus wat sy lewe tot in die dood gegee het om ons gebrek aan reinheid, heiligheid en liefde
ten volle aan te vul. Daarom moet aan sulke mense respek betoon word, respek vir hulle toewyding aan Christus en sy
voorbeeld van nederige diens tot die dood (Fil 2:5).

Hoofstuk 2 begin met Paulus se pleitrede by die gemeente vir groter eenheid onder hulle met nederigheid en
selfverloëning teenoor mekaar (2:1-4); hy wys op die voorbeeld van Christus se selfprysgawe, selfvernedering en
gehoorsaamheid (2:5-8) en sy gevolglike verhoging deur God tot Heerskappy oor die hele skepping (2:9-11); daarna
wys Paulus na Timoteus en Epafroditus as toonbeelde van hoe Christus se voorbeeld van nederige gehoorsaamheid en
selfverloëning toegepas word in hulle diens saam met Paulus; tussenin word verwys na Paulus se planne vir die
bearbeiding van die gemeente in afwagting op die leiding van die Here (2:19-30).v




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:19 – 24) – Francois Malan

Paulus stuur Timoteus (Fil 2:19-24).

Die Filippense is blykbaar meer bekommerd oor hulle eie belange as oor dié van ander (2:4). Paulus spreek die
probleem aan deur hulle te wys op die voorbeeld van Christus in die gestalte van ’n slaaf (doúlos 2:6-11), deur sy eie
bediening as die uitstort van sy lewe vir ander as ’n drankoffer aan God (2:18) en hier met die voorbeeld van Timoteus
wat saam met Paulus die evangelie as slaaf bedien het (douleuō) en hom opreg oor húlle omstandighede sal bekommer
(2:20,22; vgl. 1:1 slawe van Christus), so anders as van die ander helpers wat hulle eie belang soek (2:21).

2:19 ‘Ek hoop in die Here om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan wees
wanneer ek julle omstandighede leer ken.’

Terwyl Paulus nog in gevangenskap is, maak hy gebeurlikheidsplanne: hy hoop in/op die Here dat hy Timoteus sal kan
stuur, en hy vertrou in/op die Here dat hy self gou na hulle sal kom (2:24). Sy vertroue in die Here dat hy self na hulle
toe sal gaan, word sterker gestel as sy hoop op die Here dat hy Timoteus sal moet stuur (vgl. 2:23). Albei, vertoue en
hoop, is egter ‘in die Here’ om die Filippense te verseker dat Paulus se planne nie op sy eie insig berus nie, maar in die
wete dat die Here sy sake reël en dat hy homself aan Jesus as sy Here, die Eienaar van sy slaaf Paulus, se besluit en
leiding oorgee in alles wat sy lewe, sy gedagtes, planne, omstandighede, doen en late betref.

‘ek ook’ – sê eintlik twee goed en is ’n verskuilde opdrag. Dit impliseer dat Timoteus gestuur word om die Filippense te
gaan bemoedig en na Paulus sal terugkom met goeie nuus oor die gemeente se omstandighede. Dit kan moontlik verwys
na die Here se aanwysings oor die eenheid in die gemeente wat Paulus aan hulle met hierdie brief stuur, wat daarna
moontlik deur Timoteus se werk onder hulle bevestig word. As hulle die aanwysings van die Here ter harte sou neem sal
hulle lewe die evangelie van Christus waardig wees (1:27), en sal Paulus en die gemeente saam bly kan wees (2:18).
Die woorde is tegelyk ’n fyn onopvallende teregwysing en ’n uitdrukking van ’n hartlike solidariteit tussen Paulus en
die gemeente.

2:20 ‘Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie.’

Hier volg nou ’n getuigskrif vir Timoteus waarin Paulus hom met hoë lof by die gemeente aanbeveel. Paulus hoop hy
kan Timoteus gou na Filippi stuur, ‘want hy het niemand met dieselfde gesindheid (isópsuchon – ísos dieselfde, psuchê
wese, denke, wil en gevoel) wat hom opreg oor die omstandighede van die gemeente in Filippi bekommer
nie’ (merimnáō besorg te wees oor ’n toestand; ‘opreg’ gnêsíōs egte, werklik – in 1 Tim 1:2 noem Paulus Timoteus ook
sy gnêsiōs‘egte’ kind in die geloof; vgl. Titus 1:4)

Timoteus is dié helper onder Paulus se medewerkers wat opreg belangstel in wat in Filippi gebeur en die meeste besorg
is oor hulle omstandighede. Daarom is hy ook die medeskrywer van die brief (1:1). Dit is duidelik dat die Here die
gemeente in Filippi op Paulus en Timoteus se harte gelê het. In 2 Kor 11:28 noem Paulus sy kommer (mérimna) oor al
die gemeentes wat daagliks op hom druk. As lidmate in gelyke mate oor mekaar besorg is (merimnáō) hou dit die
gemeente as liggaam van Christus gesond en lewenskragtig, volgens Paulus in 1 Korinthiërs 12:25.

2:21 ‘Almal soek hulle eie belang, nie dié van Jesus Christus nie.’

Die harde oordeel van Paulus oor sy mede-gelowiges beteken dat nie een van die Christene in Rome bekwaam is om dit
wat in Filippi kortkom te gaan regmaak nie. Soos die Filippense na hulle eie belange omsien (2:4), soek almal hulle eie
belange. Die groot leemte in die gemeentelewe van die Filippense is ook waar van al die gelowiges in Rome. Timoteus
moet juis vir die Filippense gaan wys en hulle leer om in nederigheid teenoor mekaar die belange van die nederige
Christus te soek. Dit is Christus wat sagmoedig en nederig van hart is, wie se juk hulle moet opneem en van Hom leer
om rus te vind vir hulle gemoed (Matt 11:29). Wie Hom wil navolg moet homself verloën en sy kruis opneem en Hom
volg (Matt 16:24). Wie nie sy kruis opneem en Hom volg nie, is Hom nie waardig nie (Matt 10:38). Om die evangelie
van Christus waardig te wees vereis eenheid in die gemeente, wat blykbaar juis kortkom onder die Filippense (Fil 1:27).

2:22 ‘Maar julle ken sy (Timoteus se) waarde, hoe hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my
nederig gedien het in belang van die evangelie.’

Die Filippense is bekend met Timoteus se waarde deur persoonlike kontak (dokimê waarde wat getoets en bewys is en
duidelik is). Volgens Handelinge 16:3-4,12 het Paulus vir Timoteus saamgeneem op sy tweede sendingreis wat na
Filippi gelei het en hom moontlik daar gelaat het om met die werk voort te gaan. Volgens Handelinge 17:14 het hy saam
met Paulus en Silas uit Filippi vertrek; hy het Paulus later na Korinthe gevolg (Hand 18:5). Volgens 1 Korinthiërs
16:10-11 het Timoteus ook in Korinthe die werk van die Here gedoen. Hy word na Thessalonika gestuur met die brief 1
Thessalonisense om die gemeente te gaan versterk in hulle geloof (1 Thess 1:1; 3:2; vgl. 2 Thess 1:1).

Die Filippense weet hoe Timoteus soos ’n getroue en gehoorsame kind (téknon geliefde volgeling) van Paulus, saam
met sy geestelike vader as slawe van Christus nederig gewerk het (douleúō) in die verkondiging en uitlewe van die
goeie nuus oor Christus. Paulus en Timoteus skryf die brief ook as slawe van Christus (1:1). Hulle soek deurgaans nie
hulle eie belange nie, maar die belange van Christus. Dit kwalifiseer Timotheus om deur die Heilige Gees gebruik te
word om die Filippense te gaan leer om meer soos Christus Jesus te word (Fil 2:5; 2 Kor 3:18).

2:23 ‘Ek hoop dus om hom te stuur, sodra (eksautês onmiddellik) ek uitvind (aforáō om inligting te kry) wat my
omstandighede sal wees.’

Daar is verskil van mening onder verklaarders oor wat die sin beteken, omdat aforáō ook kan beteken ‘om jou aandag
op iets te vestig, soos in Hebreërs 11:26; 12:2, as sou Paulus eers sy eie sake in orde moes bring met Timoteus se hulp.
Die konjunktief wat hier gebruik word dui tot ’n mate op die onsekerheid van wanneer die inligting oor sy
omstandighede verkry sal word. Daarom is dit meer waarskynlik dat hy verwys na sy verskyning voor die keiser.

‘my omstandighede’ verwys dan waarskynlik na sy gevangenskap as verhoorafwagtende, en nie na sy eie sake wat
reggestel moet word nie.

Sodra hy egter seker word dat hy nie gou vrygelaat sal word nie, stuur hy dadelik vir Timoteus na hulle toe om die werk
daar te gaan doen soos hy in 2:19 gehoop hom om te doen.

2:24 ‘Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou sal kom.’

Die paragaaf wat met hoop in die Here begin het (2:19), sluit af met vertroue in die Here. Die vers bevestig sy vertroue
in 1:24-25 dat hy in die lewe sal bly omdat dit noodsaaklik is vir hulle vordering in die geloof en vir hulle vreugde. Al
Paulus se planne vir die toekoms is egter afhanklik van sy Meester en Eienaar se wil en wense. Hy hoef hom nie te
bekommer oor sy toekoms nie, dit is in sy Here se hand. Aan die Romeine het hy geskryf: ‘Ons weet dat alles ten goede
meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is. (Rom 8:28).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:14-16) – Francois Malan

2:14 ‘Doen alles sonder kla of teenpraat,’

Die wyse en gesindheid waarmee die gelowiges gehoorsaam moet saamwerk word onderstreep. ‘Sonder kla’ (chōrìs
gongusmõn: sonder om jou misnoeë met ’n geknor of murmerings te kenne te gee). Dit bevorder slegte gevoelens in
plaas van goedgesindheid. ‘Sonder teenpraat’ (chōrìs dialogismõn sonder om te argumenteer oor verskille van mening,
twisgesprekke). Dit kan die gemeenskap uitmekaar skeur, by gebrek aan nederigheid. ‘Alles’ – die gemeentelede moet
nie loop en kla of in vrugtelose argumente verval oor enige saak wat hulle saamlewe in die gemeente kan benadeel nie.
In 2:3 het Paulus verwys na selfsug en ydelheid in die gemeente, teenoor 2:12 se vrees en bewing voor God. Dit gaan
oor die eenheid van God se gemeente in die wêreld.

In 1 Korinthiërs 10:10-11 verwys Paulus na die Israeliete wat in die woestyn gemurmureer het en deur die vernietiger
verdelg is, wat as voorbeeld en waarskuwing vir ons opgeteken is (vgl. Numeri 14:2,36 en 16:41-49) Israel se
murmurering word ook in Ps 106:25-27 aangehaal.

2:15 ‘sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ’n krom en
ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos ligte in die kósmos (heelal, die wêreld van mense).’

Paulus beskryf die lewe van die gelowiges met drie woorde wat in Grieks begin met die voorvoegsel ‘a’ (sonder, soos
Arikaans se ‘on’), wat aandui van watter slegte eienskappe hulle vrygemaak kan wees: amemptoi, akeraioi, amōma –
onbevlek/blaamloos, onskuldig/rein, onbesmet/sonder gebrek of vlekke.

Paulus beskryf in 2:15-16 die doelwit van wat die Christene behoort te word (génêsthê, die vorm van die werkwoord
beskryf iets wat nog moet gebeur), en hoe hulle in die wêreld behoort te lewe as mense wat in die genade van God lewe.

Hulle behoort blaamloos te wees (ámemptoi wat nie deur mense blameer of gekritiseer kan word van selfsug, leë roem,
arrogansie, murmurerings en twisgierigheid nie, 2:3-4,14);
      onskuldig (akéraioi soos wyn wat nie gemeng is met iets anders nie, of ’n suiwer metaal wat nie deel van ’n
allooi is nie, hier: sonder ’n mengsel van boosheid, rein) onskuldig ten opsigte van die kwaad (Rom 16:19) sonder enige
kwaad wat hulle sou gedoen het;

      onbesmet – ámōma sonder gebrek of vlekke soos Christus, wat soos ’n lam is, wat vlekkeloos en sonder
liggaamsgebrek is. 1 Petrus 1:19 sê Hy is sonder sonde. As kinders van God wat die karakter van hulle Vader het, moet
hulle sy waardige verteenwoordigers wees. God het hulle bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word
(Rom 8:29). In Christus is hulle reeds rein (Joh 13:10), maar hulle moet ook in die lig van God se woord lewe. 1 Joh
1:7: ‘as ons in die lig lewe soos wat God in die lig is, is ons aan mekaar verbonde en reinig die bloed van Jesus, sy
Seun, ons van elke sonde.’

‘te midde van ’n krom (skoliá beginselloos, gewetenloos) en ontaarde (diestramménês verdraaide, misleide) geslag’-
LXX Deuteronomium 32:5 beskryf Israel as ’n valse en korrupte geslag (geneà skolià kai diestramménê). Daarmee
verwys Paulus nie net na Jode nie, waarvan daar min in Filippi is, maar na die hele heidense bevolking tussen wie die
gemeente lewe.

‘julle skyn onder hulle soos ligte (fōstêres in LXX Gen 1:14-6 verwys die woord ‘ligte’ na die son en die maan en nie na
die sterre astéres nie ) in die heelal’ – As die Filippense in harmonie, onselfsugtigheid en diens aan ander lewe, sal hulle
die mense van die wêreld rondom hulle as ligdraers beïnvloed soos die ligte aan die heelal wat die wêreld verlig. Dit
word eintlik as ’n uitdaging aan hulle gestel om as God se begenadigde kinders van die lig te lewe, deur te lewe volgens
die woord van die Here (2:16). As kinders van God sal Hy hulle ook bewaar teen die krom en verdraaide geslag en hulle
as sy getuies gebruik onder die ongelowiges.

Daniël 12:3: ‘die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (astéres) .’ Volgens
Matteus 5:14 het Jesus in die bergrede gesê: ‘Julle is die lig (fōs) vir die wêreld.’ In Efesiërs 5:8 sê Paulus: ‘Vroeër was
julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig (fōs). Leef as kinders van die lig!’).

2:16 ‘deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede
tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.’

‘aan die woord van die lewe vashou’ (epécho ‘om volhardend te bly glo’). Die woord wat lewe gee en wat aan ander
deurgegee kan word. Dit verwys na die lewe saam met God waaraan ons nou reeds deel kry om sinvol te lewe. Dit is die
evangelie, die goeie nuus wat Paulus verkondig, wat die Filippense gehoor het en glo, en waardeur God aan hulle die
nuwe soort lewe onder leiding van sy woord en deur sy Gees skenk. Daardeur het hulle kinders van God geword wat die
woord begin uitlewe en aan ander met woord en daad oordra om hulle te verlig soos die ligte aan die hemelruim. In
Filippense 1:21 het Paulus reeds gesê: ‘om te lewe is vir my Christus.’ In Kolossense 3:3-4 sê hy: ‘Christus is ons lewe’
en ‘ons lewe is saam met Christus verborge in God.’

Die dag van Christus is reeds na verwys in Filippense 1:10-11 as die dag waarop rekenskap gegee word aan die Here
oor ons rentmeesterskap, of ons innerlik suiwer en onberispelik is; of ons vervul is met die vrug van geregtigheid wat
ons deur Christus ontvang het tot verheerliking en lof van God.

As die Filippense volhardend vashou aan die lewegewende woord en dit bly aanbied aan ander sal dit Paulus se rede
wees om trots te wees (kaúchêma rede om trots te wees) dat die Here hom gebruik het om die evangelie aan hulle te
verkondig; dat hy nie verniet gehardloop het nie – die woord ‘hardloop’ (trechō) saam met ‘die woord’ verwys na die
woord van die Here wat vinnig versprei; dat hy hom nie vergeefs ingespan het nie (kopiáō om hard te werk onder
moeilikhede en moeite vgl. Jesaja 49:4; die profeet het gedink hy het hom tevergeefs vermoei en hom heeltemal verniet
afgesloof. In die nuwe hemel en nuwe aarde sal die inwoners hulle nie tevegeefs vermoei nie (Jes 65:23).

Paulus gebruik twee metafore vir sy verkondiging van die evangelie: 1 om te hardloop soos ’n atleet wat hard geoefen
het, volgens die reëls deelgeneem het en nie teleurgestel is op die groot dag van die spele nie, en van ’n arbeider wie se
werk aanvaar sal word (Gal 4:11). As Christus deur hom die Filippense kan wen vir die nederigheid van Christus en
hulle daarin kan laat volhard, sal Paulus, as slaaf van Christus Jesus (1:1) sy werk aan die Filippense se nederige
onderwerping aan Christus as sy roem aan Christus se voete neerlê (vgl. Jesus se gelykenis van die goeie en getroue
slaaf (Matt 25:21,23).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:12-18) – Francois Malan

Ligdraers in die wêreld (Fil 2:12-18)

2:12 ‘Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was, nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook
nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle (as gemeente se) eie verlossing.’

Met ‘daarom’ verbind Paulus die vermaning in hierdie gedeelte aan die hele gedeelte 1:27-2:11: aan die vermaning in
1:27-30 om hulle die evangelie waardig te gedra in eenheid en bereidheid om te ly, en 2:1-11 om die nederige voorbeeld
te volg van Jesus se prysgawe van Homself vir ons, en sy verhoging deur God.

Paulus spreek hulle aan as sy geliefdes, deur Christus se liefde aan mekaar verbind. Hy maak die gevolgtrekking
(‘daarom’) van hulle bestaan in Christus, die nederige Christus wat gehoorsaam geword het tot die dood aan die kruis
en deur God verheerlik is (2:45). Om in Christus te wees beteken dat ons soos Hy, onsself in nederigheid sal prysgee om
aan God gehoorsaam te wees in die uitlewing teenoor mekaar van die liefde van God in elke gelowige.

Die gemeentelede was altyd aan Paulus gehoorsaam om, deur God se genade, in Christus te glo. Die Here het
byvoorbeeld in Filippi Lidia se hart oopgemaak om Paulus se woord te aanvaar om in die Here te glo (Hand 16:14-15);
vir die tronkbewaarder het Paulus gesê: ‘Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.’

‘nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid…’ Paulus moedig hulle aan om
soos hulle gehoorsaam was aan die woord wat hy verkondig het, hulle tot ’n baie groter mate daarmee moet voortgaan
in sy afwesigheid. Die woord vir gehoorsaamheid hupakoúō om te gehoorsaam op grond van aandag wat gegee is, wys
na die hoor van die woord van die Here wat verkondig is en die onderwerping aan die woord.

Die hoofwerkwoord van 2:12 is katergázomai om iets deeglik te doen. Die teenwoordige tyd van die opdrag beteken dat
die gemeente dit deeglik moet toepas en uitlewe. ‘Werk aan julle eie verlossing – ‘eie’ heautōn in die meervoud verwys
na die wedersydse verhouding tussen die gemeentelede waaraan deeglik gewerk moet word om verlos te word van
hoogmoed, onenigheid en selfsugtigheid onder mekaar, wat skynbaar in die gemeente voorkom. Soos Christus homself
prysgegee het (2:5-8), moet die gelowiges hulleself ook prysgee, saam met Christus sterf aan hulleself, en hulle toewy
aan Christus. Hy kom na ons in ons medemens. Gaan voort daarmee met fóbos vrees/respek en trómos bewing, met die
grootste respek en bewende ontsag voor God. Dit gaan om gehoorsaamheid aan sy opdrag tot liefdevolle eenheid onder
gemeentelede.

Bewus van ons verlossing deur die Almagtige Skeppergod wat alles in sy skepping en herskepping vir ons bewerk deur
sy Seun, wat alles vir ons opgeoffer het, moet die gemeente verlos word van hulle onenigheid. Die verlossing wat God
in ons bewerk, moet ons daagliks uitlewe in ons afhanklikheid van Hom en soos Hy dit wil hê. Hy wil dat ons as
gemeente in eenheid en as gelowiges in nederigheid met mekaar moet saamlewe. Oor die liefdeseenheid van die
gemeente stem Johannes met Paulus saam:

Jesus het in sy laaste gebed in Johannes 17:21-22 vir almal wat in Hom sal glo, tot sy Vader gebid: ‘Ek bid dat hulle
almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo
dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net
soos Ons een is. In Joh 17:26 sê Jesus: ‘Vader, Ek sal U Naam verder aan hulle bekendmaak, sodat die liefde waarmee
U My liefgehad het in hulle kan wees, en Ek in hulle.’ Dit doen Jesus elke dag deur sy Gees in ons.

2:13 ‘Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

‘want’ gee die rede aan vir die oproep aan die gemeente tot hulle verlossing uit selfsug, om in nederigheid die eenheid
van die gemeente uit te werk met vrees en bewing.

‘want dit is God wat steeds in julle werksaam is’ – energéō ‘om ’n spesifieke funksie moontlik te maak en te laat
geskied.’ Dit is ’n ander woord vir ‘werk’ as 2:12 se katergázomai ‘om iets deeglik te doen.’ Energéō, is waar ons
woord energie vandaan kom. Paulus gebruik die woord 20 maal in sy briewe van die 23 maal wat dit in die Nuwe
Testament voorkom, byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 12:6,11 en Efesiërs 3:20. Die woord energéō beklemtoon die
effektiwiteit van God se genadewerk in die gemeente. Dit is ‘n teenwoordige deelwoord wat wys dat God steeds aan die
werk is in sy gemeente. In 1:6 het Paulus gesê hy is oortuig dat Hy wat ’n goeie werk in hulle begin het, dit sal voltooi
tot op die dag van Christus Jesus (se wederkoms).

‘sodat julle gewillig is en optree soos Hy dit goedvind’ letterlik: ‘beide om te wil en te werk (energéō) volgens wat
(Hom) behaag.’ Die sin begin met God en eindig met God. Hy skep in die gemeente die wil om saam te werk vir die
Here. Deur sy woord en sy Gees bring Hy sy volgelinge tot selfverloëning om mekaar in nederigheid te dien. God skep
behae in ’n gemeente wat nederig met mekaar saamlewe as ’n eenheid. Hulle eenheid sal ook Paulus se blydskap
volkome maak (2:2).