21 Mei: Mense lees jou – sorg dat dit goeie nuus is. – Jan van der Watt

Hand 5:12-42 (fokus 5:27-32)

Wat ons glo kom gewoonlik die duidelikste na vore as ‘n krisis ons tref. As dit goed gaan kan almal mooi praat. Maar die werklike toets kom wanneer die lewe ons begin druk en ons begin swaarkry en spartel. Dit is ook dan dat mense fyner begin luister en ons begin “lees”.

Dit is juis in krisisse dat Christene se optrede vir baie ongelowiges die enigste plek word waar hulle ooit sal kan agterkom watter verskil God in mense se lewens kan maak. Hulle sien dit in gelowiges se optrede. En sulke geleenthede moet gelowiges nie laat verbygaan nie. Jy moet jouself gedurig daaraan herinner dat jy as gelowige die enigste “Bybel” mag wees wat baie mense ooit in hulle lewens gaan “lees”. Al wat hulle van God gaan agterkom of weet gaan wees wat hulle in jou lewe sien. Petrus-hulle se optrede en woorde was byvoorbeeld die naaste wat die Joodse Raad ooit aan Jesus se boodskap sou kom (sien byvoorbeeld 5:29-32).

ʼn Goeie Christenvrou het aan kanker gely. Sy het haar hele lewe deur nie ʼn geheim van haar Christenskap gemaak nie. Toe die kanker egter begin vreet, het dit ook aan haar siel begin vreet en merke van opstand en swartgalligheid begin agterlaat… tot iemand eendag vir haar gesê het: “Nou is die tyd dat jy kan wys watter verskil Jesus in jou lewe maak… en almal sal dit kan sien”. Die vrou het van daardie oomblik af verander en baie se lewens geraak deur die innerlike krag wat God vir haar gegee het.

Mense lees jou! Ek hoop hulle lees sommer baie goeie nuus.




20 Mei: Hoe doen jy met die kniebuigtoets. – Jan van der Watt

Hand 4:13-5:11 (fokus 4:13-22)

 Dit moes ʼn wonderlike ervaring gewees het om die gebou te voel skud nadat die dissipels “Amen” gesê het (4:31). God het hulle gehoor en hulle het Hom gehoor! Ja-nee, gebed werk wondere. Ons as Christene sê mos dat gebed die sluise van God se krag op ons ooptrek. Maar ek wonder dikwels of ons onsself regtig glo? Hoeveel bid ons regtig?

As Pietie by die huis kom en 10% vir sy wiskundetoets gekry het, wat sal Ma sê? Waarskynlik dat Pietie dadelik kamer toe moet gaan en gaan leer, want hy het omtrent niks vir sy toets gekry nie. Nou ja, hoeveel is 10% van ʼn dag? Twee en ʼn half uur. Wie van ons bid twee en ʼn half uur per dag, of volgens Pietie se Ma, omtrent niks nie?

Hierdie eenvoudige voorbeeld moet ons laat vra of ons regtig glo dat God deur gebed die geboue kan laat skud en die sluise kan laat oopgaan? Of praat ons sommer maar net? As ons God regtig vir ons lewens vertrou, sal ons Hom ook in gebed moet vertrou. Ons sal minder alleen moet probeer doen en God meer geleentheid moet gee om deel van ons lewens te word deur gebed. As ons krag kortkom en verwag dat God iets moet doen, sal ons eers vir Hom daarvan in gebed moet vertel. As ons wonder waarheen ons volgende tree moet wees, moet ons maar vir God vra… in gebed.

Hoe gaan jy doen met die kniebuig toets?




19 Mei: Omdat God dáár is, kán jy. – Jan van der Watt

Hand 3:1-4:12 (fokus 3:12-16)

“Geloof laat die onmoontlike gebeur”, staan daar in 3:16. Dit is woorde wat dikwels misbruik word deur mense wat dink hulle kan God met die krag van hulle geloof manipuleer: “Glo net en God sal alles doen”. Maar aan die ander kant moet ons God ook nie weer onderskat nie. Soms verras Hy ons wel en doen Hy regtig die onmoontlike.

Maar God verkies om dinge saam met ons te doen. As ons so saam met God die pad stap gebeur daar dinge wat ons nie gedink het moontlik is nie. Omdat Hy dáár is, kán ons. Hy gee ons die moed om op te staan en te doen wat ons nie gedink het ons kan nie. Die feit dat ons op Hom kan vertrou inspireer ons om ons vleuels wyer te sprei as wat ons alleen sou waag om te doen.

Kolonel Sanders (van KFC faam) het op 65 jaar oud alles verloor. Hy net sy aftreetjekkie in die hand gehad. Hy het egter nie moed opgegee nie. Nee! Hy het van dorpie na dorpie en later van land tot land gereis om sy resep vir Kentucky fried chicken te verkoop. ʼn Paar jaar later was KFC die grootste koskettingwinkel in die wêreld – dit alles met ʼn aftreetjekkie! Hy het God vertrou en opgestaan en sy resepte gaan verkoop!

Onthou, omdat God dáár is, kán jy! Maak net seker dat waar jy wil gaan, God sal wil saamgaan.




Romeine 9 – Francois Malan

Leser vra

 Wat wil Romeine vir ons hier vertel in: 1-30? bv. Versoekers en ‘n naby skat?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Romeine 9-11 is ’n eenheid waarvan die  tema in 9:6a aangedui word. Die uitdaging word gestel: Dit is tog nie asof die woord van God gefaal/ongeldig geword het nie! Dit gaan oor die Here se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3, en die Jode se geloof dat hulle God se uitverkore volk is. In Romeine 3 het Paulus reeds daarna verwys dat niemand, Jode ingesluit, regverdig voor God is nie, en dat niemand met sy eie goeie werke voor God regverdig kan word nie, maar dat die enigste manier om jou verhouding met God reg te maak is om in Jesus Christus te glo, en dat God sy vryspaak van sonde sonder onderskeid gee aan almal wat in Jesus glo.

Na Rom 9:6a se uitdaging word elke bewys vir God se doel om te red van twee kante af beredeneer. Dit word uit die Ou Testament geboekstaaf. Die aanhalings uit die Ou Testament maak 30% van die drie hoofstukke uit. Daar word veral uit Jesaja aangehaal. Uit die Ou Testament spreek dit duidelik dat God as getuie vir Israel optree en ook as aanklaer teen Israel.

Dit lyk asof God se roeping en belofte aan Abraham nie vervul is onder Paulus se volksgenote, die Jode, nie. Dit word stap vir stap verduidelik vanuit God se doel om te red en mense se verwerping daarvan.

(1) Eers word gefokus op die twee kante van God se keuse: slegs sommige van Abraham se nageslag is draers van die belofte en keuse van God (9:6-10), en ondervind sy barmhartigheid (9:15-18,23) wat deur dié wat nie glo nie as die toorn van God belewe word (9:13-23; vgl. Joh 3:36) – Verkiesing uit genade – die doel van God se toorn. Uit Genesis 21:12 word dit bewys dat God vir Abraham gesê het dat sy geseënde nageslag uit Isak gebore sal word; en uit Maleagi 1:2-3 word dit bewys dat God gesê het dat Hy uit die tweeling van Rebekka vir Jakob liefgehad het en vir Esau gehaat het. In Maleagi staan Esau eintlik vir die goddelose Edom wat vir Israel in Maleagi se tyd vyandig behandel het.

(2) Die uitwerking van God se keuse van Jakob is eerstens die vervulling van God se belofte aan Abraham onder heidene en ’n Joodse oorblyfsel (9:24-29) – heidene word ook geroep, maar slegs ’n oorblyfsel van Israel word geroep. Met die voorbeeld van die pottebakker word gesê dat God die voorwerpe van sy toorn laat sien en met groot geduld verdra, en die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies. Dit lei tot:

(3) ’n vergelyking van die tweeledige reaksie op God se woord: Israel wat die pad van God verloor het (9:30-10:5; 5:18-21) en heidene wat sy woord in geloof aangeneem het (9:30; 10:6-17) – die Jode soek regverdiging voor God deur wetsonderhouding – regverdiging word slegs van God verkry deur Jesus Christus,  die goddelike Verlosser, deur die verlossing wat Hy vir ons bewerk het, deur geloof te aanvaar.

(4) Israel se reaksie op God se roeping word opgesom as: slegs ’n oorblyfsel is gekies (11:1-6) en die res is verhard (11:7-10).

(5) Die positiewe gevolg van Israel se val is die verlossing van die heidene (11:11-16), maar vir gelowiges uit die heidendom is dit ’n konstante waarskuwing om nie dieselfde fout as Israel te maak nie (11:17—24) – die Jode faal, en die rede daarvoor word gegee; die heidene faal – en ’n waarskuwing daarteen word gegee.

(6) Die klimaks is die openbaring van God se oorhoofse doel om Israel se val te gebruik as ’n opening van die evangelie vir die heidene, naamlik om Israel daardeur jaloers te maak en hulle terug te bring na die Here toe (11:25-32) – Israel se verharding laat heidene inkom – die volheid van die heidene lei tot Israel se verlossing.

Die hele bespreking van hoofstukke 9-11 draai rondom die sentrale motief van die boek Romeine wat in 1:16 gestel is: die evangelie is ’n krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek (as verteenwoordiger van die heidene). Maar omdat die Jode weier om in Jesus Christus te glo, plaas hulle hulleself ná die heidene.

Die hooftema van hoofstukke 9-11 is God en Israel. Die kerk staan nie apart van Israel nie, maar is ’n wilde olyf wat tussen die takke van die mak olyfboom Israel (Jer 11:16; Hos 14:7) ingeënt is en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel (naamlik Israel se God) deel gekry het (Rom 11:17). In 9:1-5 beklemtoon Paulus vir sy Romeinse lesers uit die heidendom dat hulle deel gekry het aan God se seëninge aan Israel, om ook kinders van God te wees deur in Jesus Christus te glo.

Aan die einde van hoofstuk 11 besing Paulus die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God wat uit sy hele plan met Israel spreek, dat Hy sy belofte aan Abraham uitgewerk het, naamlik dat in Abraham al die volke van die aarde geseënd sal wees, maar ook dat Hy dié sal seën wat vir Abraham seën, en dié vervloek wat vir Abraham vervloek (Gen 12:3). Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Skrywer: Prof Francois Malan