18 Mei: Kies jy gif of liefde?. – Jan van der Watt

Hand 2:14-47 (fokus 2:41-47)

 ʼn Man het by die dominee gaan kla dat hy vermoed sy vrou wil hom vergiftig. Die dominee bel toe die man se vrou dadelik. Vir ‘n paar oomblikke luister hy na die vrou wat aan die ander kant lostrek en toe hy verskrik die telefoon neersit, sê hy vir die man: “Drink liewer daai gif”.

Sonder dat ons dit dikwels agterkom maak ons dit baie moeilik vir mense rondom ons. Ons is so in ons eie sake en belange verweef dat ons min tyd vir ander oor het en nog minder vir hulle omgee. Daarom word hulle dikwels maar deur ons skerp kante lelik gesny. Hulle voel dalk ook of hulle liewer “gif wil drink” as om verder met ons opgeskeep te sit. En dan wonder ons baie keer waarom ons so alleen voel.

In die familie van God is daar geen gif nie. Daar word nie gif uitgedeel nie en daar is nie mense wat liewer gif wil drink nie. Dit is hoe God dit beplan het (2:44-45). En die rede is eenvoudig: God se mense moet vir mekaar omgee. As die een se las te swaar word, moet die ander een dit dra. Dit maak dat jy van jouself af wegkyk en ander begin raaksien… nie om vir hulle “gif” te gee nie, maar God se liefde. En waar liefde is wil mense ook graag wees.

Watter raad gaan die dominee vir die mense gee wat saam met jou leef?




17 Mei: Moenie net die helfte van die waarheid raaksien nie. – Jan van der Watt

Hand 1:1-2:13 (fokus 2:5-13)

Wonders sien ʼn mens nie met die blote oog raak nie, maar met die geloofsoog van die hart. Dit is soos die ou wat hulle na ʼn ernstige ongeluk na die ambulans toe wou dra. Die hele tyd wou hy in sy half bedwelmde toestand van die draagbaar afklim en weghardloop. Toe hulle hom later vra wat gebeur het, het hy gesê dat die ongeluk langs ʼn vulstasie was. Al wat hy gesien het was “hell”, want iemand het voor die “S” van die Shell bord gestaan.

Ons sien ook partymaal net die helfte van die werklikheid raak, soos daardie ongelowiges op Pinksterdag – hier was een van die grootste wonders in geskiedenis besig om voor hulle af te speel en hulle dink dit is maar net mense wat dronk is (2:13). Dis hoe ons is. Ons sal vir elke wonder in die lewe ʼn ander verklaring kry, net om nie te erken dat dit n wonder was nie: “Dis toevallig”, “Ek was gelukkig”, of “Ek weet nie mooi wat gebeur het nie, maar…”. Ons weier om die “S” raak te sien en daarom eindig ons waar ons nie wil wees nie… mense wat nooit God se wonders of God self in hulle lewens kan raaksien nie.

Kyk ʼn slag met jou hart na dinge wat rondom jou gebeur. Soek die “S”, oftewel God se teenwoordigheid in jou lewe. Verwag dat Hy jou op wonderlike maniere sal help en verras… en jy sal die wonders in jou lewe begin raaksien.




16 Mei: God meet jou hart nie jou kop nie. – Jan van der Watt

Joh 20:24-21:25 (fokus 20:24-29)

 As God ʼn mens meet, meet Hy die afstand om jou hart en nie om jou kop nie.

Tomas wou nie glo nie, want sy kop het vir hom gesê dat Jesus nie kon opstaan uit die dood nie. Toe die lewende Here Jesus egter aan hom verskyn en het alles verander. Toe het sy hart begin praat. Oorweldig het hy gesê: “My Here en my God” (20:28).

Ons koppe kan partymaal so swaar weeg dat dit ons hart dooddruk. Ons wil so graag soveel slimmer wees as wat ons regtig is. Ons wil God uitpluis en uitredeneer, want ons dink ons kan.

Niemand het dit nog ooit reggekry nie, want jy sal God nooit kan “uitpluis” nie. Hy is immers God en ons is maar net mense. Daarom sal ons ook nooit die opstanding van Jesus met ons koppe kan uitredeneer nie. Dit is iets wat ons met ons harte moet omhels… mits ons swaar koppe die hart net ʼn kans wil gee.

God is nie bereikbaar net met die verstand nie. Ons het die hart ook nodig. Dit is as ons hart vol word van geloof in God dat God begin glimlag oor wat sy “maatband” vir Hom vertel.




God sien ons – Francois Malan

Francois vra:

“Hoe moet Eksodus 24:10 “Hulle het die God van Israel gesien” en 24:11 “God het geen hand teen hulle gelig nie” verstaan word? Word dit nie algemeen in die Bybel geleer, soos byvoorbeeld in Eksodus 33:23 “Niemand mag my gesig sien nie”

Antwoord

Prof Francois antwoord:

Die tema van die boek Eksodus is: Die Teenwoordigheid van die Here (Jahweh, die Ek is) by Israel daar by Sinai. Hoofstuk 24 verteenwoordig die ideale einde van die verbondsluiting in hoofstukke 19-23, teenoor die teleurstellende einde daarvan in hoofstukke 32-33. Hoofstuk 24 vertel dat die Here sy verbond met Israel verseël.

Terwyl die verbondsluiting van hoofstuk 20 met die hele volk was, het hulle uit vrees vir die Here gevra dat Moses namens hulle moet optree (20:18-21). In hoofstuk 24 bevestig die Here die verbond wat Hy met Israel gemaak het deur ’n herhaling van die gebooie en bepalings van die Here wat in hoofstukke 20-23 gegee is. en die plegtige aanvaarding daarvan deur die leiers van die volk, by ’n altaar met 12 klippilare wat die volk verteenwoordig, as die ontmoetingsplek met die Here. Die helfte van die bloed van die offerdiere is op die altaar en die ander helfte op die verteenwoordigers van die volk gesprinkel. Die bevestiging van die verbond word afgesluit met ’n ete van die God van Israel saam met die leiers van die volk soos gebruiklik by verbondsluitings waar ’n gesamentlike maal ’n teken is van die gemeenskapllike band wat gelê is met die verbond tussen die bondsgenote. Tydens die ete het hulle Hom gesien (ra’ah met oë sien) en het nie gesterf nie, letterlik: ‘teenoor die leiers van die volk van Israel het Hy nie sy hand uitgesteek nie, en hulle het God aanskou (chazah sien, aanskou) en geëet en gedrink.’

Maar wat het hulle van God gesien? In 24:1 het God gesê: as julle nog ver is, moet julle al voor My buig. In 24:10 word beskryf wat hulle van Hom gesien het: onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. In Jesaja 6:1 sê Jesaja: ek het die Here gesien. Maar wat beskryf hy van sy gesig van die Here? Die hoë troon waarop Hy sit, en slegs die onderste van sy kleed wat die tempel gevul het. So beskryf Eks 24:10 dat die leiers slegs gesien het wat onder God se voete is, wat lyk soos die hemelgewelf.

Toe die Here aan Abraham verskyn het (Gen 18:22-33), het die Here hom in die gestalte van ’n mens besoek. Twee ander mans het saam met die Here Abraham se ete geniet (Gen 18:2). In Gen 19:1 word gesê dat die twee ander mans engele was.

Ná die teleurstellende reaksie van die volk op die Here se verbond met hulle, deur hulle aanbidding van die goue kalf  (Eks 32), laat die Here slegs sy voortreflikheid by Moses alleen verbygaan. Sy voortreflikheid is sy ewige naam Die Here/Jahweh (‘die Eks is,’ die ewig persoonlik teenwoordige werkende God van Eks 3:14-15) wat Hy uitroep, en dat Hy genade betoon aan wie Hy wil, en Hom ontferm oor wie Hy wil (Eks 33:19-20). En dat niemand sy gesig mag sien nie (Eks 33:23), wat verander met Jesus se koms.

God se bevestiging van sy verbond met Israel word vervul met Jesus, die Seun van God, se instelling van die Nuwe Verbond tydens sy Paasmaal/Nagmaal saam met sy dissipels, met die kruis as sy altaar, met die wyn as teken van sy bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes (Matteus 26:28), om as die Lam van God die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29), om ons verhouding met God te herstel, sodat elkeen wat in Jesus en sy offer glo, kinders van God kan wees (Rom 8:16-17). Oor sy teenwoordigheid by ons het Jesus die Vader gevra om die Heilige Gees te stuur om vir ewig by ons te wees (Joh 14:15-17) en as iemand Hom liefhet sal hy ter harte neem wat Jesus sê en sy Vader sal hom liefhê en Jesus en die Vader sal na hom toe kom en by hom woon (Joh 14:23).

Oor die sien van God het Jesus vir Filippus gesê: Wie My gesien het, het die Vader gesien (Joh 14:9). En vir ons wat 2000 jaar later leef, het Jesus gesê: Geseënd is hulle wat nie gesien het nie en tog geglo het dat Jesus ons Here en ons God is (Joh 20:28-29). Die tekens wat Jesus gedoen het is in die Bybel opgeteken, ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê’ (Joh 20:31).

Skrywer:  Prof Francois Malan