11 Mei: Moenie jou voorregte opmors nie. – Jan van der Watt

Joh 16:1-33 (fokus 16:1-5-18)

Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons as Christene is nie. Ons lees byvoorbeeld baie maklik mis wat daar in 16:16 staan: “Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is”.

Kinders kon destyds nie sommer by hulle pa’s instap en gesels nie. Die reëls was anders. Gewoonlik het die ma of ʼn gunsteling (oudste) seun namens die kinders gaan vra as daar iets te vra was. Daarom is daar gevoel dat ‘n mens nog minder sommer met God aan die gesels kon raak. Dit priesters was veronderstel om dit te doen, nie jy nie. Hulle moes offer en met God praat. Self kon jy dit nie doen nie.

Jesus het dinge kom verander. Hy sê: julle kan maar reguit met die Vader praat… Wat ʼn gewone kind nie eers behoorlik met sy eie pa kon doen nie, kan jy nou met God doen. Jy kan na Hom toe gaan en gesels; op sy skoot sit en praat; in sy oë kyk en hulp vra… sommer so reguit.

Dit is wat Jesus vir sy vriende bring: ʼn Vader met oop arms wat na jou toe uitgestrek is. Dan wonder ek hoeveel keer God vir my sit en wag om met Hom te gesels, en ek nie dáár is nie? Dit is darem nou om ‘n voorreg te mors.




10 Mei: So naby…. – Jan van der Watt

Joh 15:1-27 (fokus 15:1-8)

Ons gebruik baie uitdrukkings en woorde om oor ons geestelike verhouding met Jesus te praat. Ons sê Hy sit op die troon van ons hart, of ons volg Hom, of ons gee ons hele lewe vir hom… en so kan ons aangaan.

Dit is nogal interessant om te luister wat Jesus sê as Hy daaroor praat. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan ʼn druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby julle bly – soos ʼn druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies” (4). Wat kan nader aan ʼn druiwestok wees as ʼn takkie. Om die waarheid te sê, sonder die druiwestok is die takkie dood. Alleen as die takkie sy lewensap dag vir dag uit die druiwestok kry, kan die takkie bly leef en vrugte dra. Die druiwestok is die takkie se bestaan; hulle is onafskeidbaar.

Dit is hoe Jesus oor sy verhouding met jou praat. Jy moet geestelik so aan Hom vasgegroei wees dat Hy elke deeltjie van jou bestaan met sy lewenskrag deurspoel word. Elke gedagte van jou hart, elke beweging van jou hande moet uit Hom kom.

Niks mag tussen jou en Jesus kom staan nie, anders gaan die vrug maar min wees.




9 Mei: ‘n Gebed soos ‘n simfonieorkes. – Jan van der Watt

Joh 14:1-31 (fokus 14:1-12)

 ʼn Grassnyer en ʼn simfonieorkes maak altwee geluide, maar hulle klink nie dieselfde nie. ʼn Mens kan die verskil duidelik hoor, dis verseker. Op die maat en melodie van die simfonieorkes kan jy wals, dans en sing. Die grassnyer lawaai net.

Gebed kan soos ʼn grassnyer wees. Ons kan bid, maar dit kan net ʼn hinderlike lawaai wees. Ons gebed kan egter ook die simfonieorkes wees wat ons geestelike lewe laat wals en draai en sing. Waar lê die verskil? In ons gehoorsame afhanklikheid van Jesus (14:13-14). Eers moet ‘n mens die regte “note” van God se wil soek. Voor jy bid moet jy eers luister. Dan eers kan jy reg vra. Om in die naam van Jesus te bid beteken eintlik om te bid soos Hy sou gebid het. Daarom moet jy eers sy wil soek. So sal jou lewe en gebed op die ritme van Jesus se wil begin dans en sing. Jou woorde sal sy woorde word, jou hande sy hande, jou liefde sy liefde (14:12,21).

ʼn Grassnyer-gebed is ʼn gebed waarin jy van God “vergeet” en net aan jouself dink. Kies liewer die simfonieorkes-gebed.




8 Mei: God sien jou by die voete van ander die duidelikste raak. – Jan van der Watt

Joh 13:1-38 (fokus 13:1-20)

Wat tel regtig in God se boeke? Hoe styg jy op God se gewildheidsleer? Om dit te kan beantwoord, moet ‘n mens eers agterkom waarin God belangstel of wat Hy eerste raaksien. Wel, God se oë sit by die voete van ander. Hoe laer ons in diens by ander se voete buk om dit te was, hoe helderder sien God ons raak. Ja, die mense na wie die Here die graagste na kyk is hulle wat die gretigste is om ander te DIEN.

Om jouself belangrik te hou beïndruk niemand in God se koninkryk nie. Om te dien kry die tonge in die hemel los. Om die belangrikste te probeer wees staan nie op God se lys van “wat jy vandag moet doen nie”. Wat wel daar staan is dat Christen-wees jou weer en weer by die voete van ander gaan uitbring; ja, jy sal moet kniel en voete was. As God vra vir ʼn “kruk” vir ʼn sukkelaar moet jy jou skouer aanbied. As God jou dalk vra om te gaan waar jy eintlik nie wou wees nie, omdat daar mense is wat hulp nodig het, moet jy die “bak met water om hulle voete te was” nie wegstoot nie.

Om te dien beteken om te kniel om voete te was, ja, om die minste te wees en om te doen wat dit van jou vra… Daar, laag by ander se voete, sal jy God sien en jy kan maar weet, Hy sal jou ook sien.