26 April: Sien God se wolkies van genade raak. – Jan van der Watt

Joh 5:17-47 (fokus 5:17-29)

Die Smokeyberge is die gewildste natuurpark in Amerika (90 miljoen besoekers per jaar!). Die berge se naam kom van die mistigheid af wat gedurig teen die toppe van die berge hang. Jy kan ook nie tot bo ry nie. Die laaste sowat kilometer moet jy maar stap… en dis steil!

Terwyl ons so geswoeg het om bo te kom, vra ʼn pa vir sy seuntjie van so vyf: “Kom jy reg of wil jy omdraai?” “Nee, Pa”, kom die antwoord, “ Ek hou daarvan om so tussen die wolkies te loop”.

Johannes 5 is vol van die wolkies waarmee God jou elke dag as sy kind toevou. As gelowige hoef jy nie bang te wees vir wat wag nie (5:24), want jou lewe is God s’n. Hy vou dit toe in die wolkies van sy genade. As jy opstaan, weet jy jy staan saam met Hom op en as jy die aand jou oë sluit is Hy dáár. Sy teenwoordigheid vou jou soos wolkies toe. Dit behoort jou moed te gee om soos daai vyfjarige verder te kan gaan. Daar is geen rede waarom jy moet gaan sit of hoef om te draai nie.

Die seuntjie kon so anders geantwoord het… gekla het oor die steil berg, sy voete wat seer is, die pad wat te lank is. Dan sou hy beslis nie die top van die berg gemaak het nie. Tog was dit die wolkies wat hy raakgesien het en dit het sy staptog die moeite werd gemaak. Sien jy God se wolkies van genade, liefde en teenwoordigheid raak as jy so teen die berg van die lewe voortbeur? Ek hoop so.




25 April: Jou lewe kan nooit doelloos wees nie. – Jan van der Watt

Joh 4:27-5:16 (fokus 4:27-42)

 Een van die “langste” togte in my lewe – of so het dit in alle geval gevoel – was van die plaas af Amalia toe op ʼn trekker – Amalia is so ver as wat dit klink, glo my. Die mielies moes koöperasie toe en ek, toe juis ‘n brawe tienjarige – is bo-op die mieliesakke agter op die sleepwa saam. Onnodig om te sê, vier ure agter op die sakke op ‘n stofpad is ‘n oneindigheid. Tog onthou ek een ding duidelik – mieliepitte het van die geskud hier en daar van die wa afgeval. Sou hulle ooit groei of is daai saad sommer net gemors?, het ek gewonder.

Ironies genoeg het daai mielies my bygebly. Dikwels voel ʼn mens se lewenspad leeg, en ‘n soort doelloosheid oorweldig jou. Die lewe voel nie vir jou meer as net ‘n oneindige lang stofpad nie. Maar in die oë van God is sy kinders se lewe nooit leeg of doelloos nie. Vir God is dit genoeg dat daar “saad” lê waar ons pad verbygegaan het, al is dit net hier en daar. ʼn Glimlag, ʼn mooi woord van bemoediging, ʼn stukkie getuienis aan iemand wat van God vergeet het… en as die tyd ryp is, sal daai saad groei, daar waar jy dit laat val het!

Jou lewe kan nooit doelloos wees nie, nie solank jy ‘n glimlag het, of ‘n bietjie geduld, of ‘n bemoedigende woord vir iemand anders nie. Dit is die saad wat in God se hand honderdvoudige oes oplewer, maak nie saak waar dit geval het nie. Probeer dit.




24 April: God se baie spesiale geskenk. – Jan van der Watt

Joh 3:11-4:26 (fokus 3:11-21)

 God het bewys hoe lief Hy die wêreld het… Hy het sy Seun op reis gestuur (3:16) om vir ons ‘n baie spesiale geskenk te bring.

Wie van ons ken dit nie? Voor jy op reis gaan is dit ʼn groot geskarrel om geskenkies te soek vir die mense by wie jy gaan kuier. Dit moet iets spesiaals wees, iets wat hulle sal laat voel dit kom uit jou hart, al is dit partymaal klein (omdat jou bagasie al klaar te swaar vir die vliegtuig is).

Toe God sy Seun na ons toe gestuur het, het Hy ook vir hom iets spesiaals gegee om vir ons saam te bring. Dit was nie ietsie kleins wat Hy in die hoekie van sy tas kon indruk nie; allesbehalwe. God se geskenk was “lewe”, ware lewe. Dit is ‘n geskenk wat vir ewig gaan hou en net joune is. Dit is ‘n uitnodiging om die res van jou lewe saam met Hom te reis. Saam met Hom kan jy die avontuur van jou lewe weer voor begin, maar hierdie keer in die krag en deur die genade van God. Dit is wat Jesus uit sy reistas vir jou wil gee: die voorreg om God se kind te wees. Dit is soos om weer gebore te word (3:1-8), op sy skoot te klim en sy liefdevolle hartklop van naby te hoor.




23 April: Op reis na Jesus. – Jan van der Watt

Joh 2:13-3:10 (fokus 2:13-22)

Paastyd was reistyd vir die ou Jode. Dan is hulle Jerusalem toe, want die tempel was daar. By die tempel het hulle naby God gevoel; kon hulle hulle sondes soveel beter bely; soveel meer seën ontvang. Daarom het hulle gereeld op reis gegaan, tempel toe.

Ons hoef nie meer na ver geboue te reis om by God uit te kom nie. Ons hoef nie te wag vir Sondag dat ons kan kerk toe ry om God se nabyheid en seën te ervaar nie. Daarvoor het Jesus gesorg.

Lank terug het Jesus alles verander toe Hy gesê het: “Breek die tempel af… en na drie dae bou ek ʼn nuwe” (2:19-20). Hy het van Homself gepraat wat na drie dae uit die dood sou opstaan (2:21). Die opgestane Here het God se “nuwe tempel” geword, dáár waar God spesiaal naby aan ons kom en ons sy liefdevolle teenwoordigheid kan ervaar. Hierdie “Tempel” hoef jy nie iewers in ʼn kerk of katedraal te gaan soek nie, want Hy laat Hom nie in kerke of katedrale toesluit nie. Jy hoef nie op reis te gaan soos die Jode van ouds om iewers in ‘n gebou nader aan God te voel nie. Nee, Jesus is nou by jou; om die waarheid te sê, Hy is in jou. Of jy agter die stuurwiel van jou kar, op die sitplek van ʼn trein of die stilte van ʼn hotelkamer is, Jesus is daar. Jy hoef nie ‘n lang reis aan te pak om Hom te vind nie. Al reis wat jy moet maak is na die binnekamer van jou hart. Daar sal jy Hom kry. Kyk nou met die oë van geloof en jy sal Hom daar by jou sien.

Jou reis na Hom is nou net ‘n gebed ver. En dit is ‘n reis wat jy gereeld moet maak.